Ds. Lodewicus Johannes (Louis) du Plessis (Colesberg, 23 Desember 1844 – Reddersburg, 25 Desember 1918) was ’n predikant in drie gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Lewensoorsig duimnael|links|220px|Ds. Louw as seun by sy moeder, Hester Venter-du Plessis. Dié portret is geneem toe sy hom skool toe in die Kaap geneem het.

duimnael|240px|regs|Al drie die Gereformeerde kerk Rustenburg se eerste predikante verskyn op dié foto van die eerste studente aan die Teologiese Skool op Burgersdorp. Voor: proff. Dirk Postma (1859-'66) en Jan Lion Cachet (1868-'69). Agter M. Pelser, S. Venter, L.J. du Plessis (1872-'80), M.P.A. Coetsee jr. en W.J. Snyman.

duimnael|regs|300px|Ds. L.J. du Plessis en sy vrou, Maria Gerbrechta Sophia (gebore Smit) en hul gesin. Prof. Jacobus du Plessis staan in die middel agter en ds. Willem Postma sit links. Links agter staan Dirk, ook later 'n predikant.

Die latere ds. Du Plessis was een van die eerste vyf studente wat onder proff. Dirk Postma en Jan Lion Cachet aan die Teologiese Skool Burgersdorp studeer het. Sy opleiding aan die skool was van korte duur, want dit is einde 1869 gestig en skaars twee jaar later het hy sy eerste beroep ontvang, hoewel ds. Postma vooraf privaat onderrig aan teologiese studente gebied het, van wie Du Plessis waarskynlik een was. In sy eerste gemeente en ook die oudste in die Gereformeerde Kerkverband, Rustenburg, is ds. Du Plessis in 1872 bevestig as opvolger van prof. Jan Lion Cachet, wat die gemeente van 1868 tot 1869 bedien het, toe hy 'n beroep aanvaar na die Gereformeerde kerk Burgersdorp om terselfdertyd hoogleraar aan die Teologiese Skool te word. Die eerste leraar van die gemeente se stigting in 1859 tot 1866 was ook die stigter van die Gereformeerde Kerk, ds. Dirk Postma, prof. Lion Cachet se medeleraar op Burgersdorp en saam met hom een van die eerste tweede hoogleraars daar. In ds. Du Plessis se tyd in Rustenburg het die gemeente 'n terugslag beleef toe hy op 15 April 1875 van 'n groot groep Doppers afskeid moes neem wat deur die Kalahari na Portugees-Wes-Afrika sou trek in wat bekend sou word as die Dorslandtrek.

In 1880 aanvaar hy 'n beroep na Colesberg. In 1883 het die Gereformeerde kerk Philippolis uit Colesberg afgestig, en daarna volg die uittog vanweë die ontdekking van diamante na Griekwaland-Wes waardeur die gemeente se ledetal met amper die helfte afgeneem en die gemeente finansieel so swak geword het dat, ten einde in die lopende uitgawes te voorsien, jaarliks 'n sommetjie bygeleen moes word sodat, toe ds. Du Plessis in 1896 vertrek, die gemeente nie in staat daartoe was om dadelik weer 'n leraar te beroep nie. So het die gemeente vakant gebly tot 1910.

In 1896 het ds. Du Plessis ’n beroep na sy laaste gemeente, Petrusburg, aanvaar. Die oorlogsjare van 1899 tot 1902 was 'n bittere tyd vir die gemeente weens die vernieling van die kerkeiendomme. Hoewel die kerkgebou van die vlamme gespaar gebly het (dit het wel in 2004 afgebrand), is die pastorie heeltemal afgebrand. Die stoflike skade vir die gemeente was groot. Maar ná die oorlog is alles herstel en is die bediening van ds. Du Plessis voortgesit tot hy in 1912 weens liggaamswakte eervol emeritaat toegeken word.

Ds. Du Plessis, 'n seun van Isaac (of Izak) David du Plessis (1808–1884, op wie se plaas Hamelfontein die Gereformeerde kerk Colesberg op 8 Desember 1860 gestig is deur sy toedoen) en Hester Venter (1811–1868, 'n prominente leidster in die vroeë Gereformeerde Kerk) van Colesberg, is op Burgersdorp getroud met Maria Gerbrechta Sophia (gebore Smit of Smith). Een van hul seuns, Jacobus Albertus, was ’n hoogleraar aan die Teologiese Skool op Potchefstroom. Nog een, Dirk Postma, was predikant in drie Gereformeerde kerke tot sy dood in 1941. Prof. Wicus du Plessis (1897–1968), 'n seun van prof. J.A. du Plessis, het sy oupa se name gekry. Hy was 'n akademikus, regsgeleerde, ekonoom en politieke denker. Prof. Hugo du Plessis, nog een van prof. J.A. du Plessis se seuns, was ook 'n Gereformeerde predikant en hoogleraar aan die Teologiese Skool. 'n Dogter uit prof. Du Plessis se eerste huwelik, Willemina, was getroud met die ekonoom François du Toit.

Sy bediening op Colesberg, 1880–1896 Sy koms duimnael|links|210px|Ds. Du Plessis, waarskynlik in sy eerste jare op Colesberg. Onder leiding van die konsulent, ds. Jan Lion Cachet, het die kerkraad so gou moontlik aandag geskenk aan die moontlikheid om weer te beroep. Op sy vergadering van 11 Julie 1879 het die kerkraad besluit om dadelik oor te gaan tot beroep en ook besluit om die volgende dag met die gemeente daaroor te spreek. Aandag is ook geskenk aan die traktement waarvoor beroep sou word. Die gemeente het die gedagte van die kerkraad eenparig gesteun sodat die diakens hulle opdrag kon uitvoer om die gemeente deur te gaan en te laat teken vir die bedrag wat as traktement aangebied sou word. Op die volgende vergadering van die kerkraad het dit geblyk dat die uitslag van die werk van die diakens ietwat teleurstellend was, want waar die gedagte was om vir £350 te beroep, was die bedrag wat geteken was maar £253 sodat daar dus amper £100 kort was. Die konsulentvoorsitter het aan die diakens gevra of al die wyke na vermoë geteken het, waarop verskeie diakens geantwoord het dat dit beter kon gewees het.

Met hierdie toedrag van sake het die kerkraad besluit om die gemeente te raadpleeg oor die vraag of met die beroep voortgegaan moet word. Met 'n groot meerderheid is deur die gemeente ja geantwoord met die gevolg dat die beroep dadelik uitgebring is en wel op ds. L.J. du Plessis van Rustenburg. Tot 'n mate was hierdie antwoord van die gemeente misleidend, want van die begin van die bediening van ds. Du Plessis is gesukkel met die insameling van die. Vir hierdie beroep het ds. Du Plessis bedank en toe op 8 November 1879 weer beroep is, is ds. Du Plessis andermaal beroep.

Op die vergadering van 13 Desember 1879 moes die kerkraad aandag skenk aan 'n versoek van hom om sy antwoord op die beroep later bekend te maak. Hierdie uitstel is gegee en eers op die kerkraadsvergadering van 9 Februarie 1880 het die antwoord voorgekom dat hy die beroep aanvaar, en tegelykertyd die versoek dat hy op 24 April 1880 op Colesberg in die amp bevestig word.

Hierdie gunstige antwoord het die kerkraad aangespoor om dadelik te begin met sy reëlings vir die afhaal en ontvangs van die nuwe leraar. Nog op dieselfde vergadering is besluit om waens na Rustenburg te stuur om die predikant met sy gesin en sy hele trek na Colesberg te bring. Twee waens moes gevind word, naamlik ’n tentwa met trekdiere ens., kompleet en een bokwa met teerseil en trekdiere kompleet. Een ouderling en een diaken is aangewys om die waens te vergesel en die predikant by Rustenburg te gaan haal.

Op 17 Februarie sou die kerkraad weer vergader om te sien of alles in die haak was sodat die waens kon vertrek. Op hierdie vergadering is besluit dat die bevestiging sou waargeneem word deur die konsulent en ingeval hy verhinder sou word, sou prof. Dirk Postma gevra word. Ook is besluit op die vergadering van 26 Februarie dat die hele kerkraad ds. Du Plessis op die plaas Brandwacht sou gaan ontmoet. In verband met die reëlings vir die ontvangs is ook besluit om die predikant van die plaaslike Nederduitse Gereformeerde kerk, ds. W.A. Alheit (1875–1888), saam met die kerkraadslede wat teenwoordig sou wees op die dorp, ook na die bevestiging uit te nooi. Dit is iets opvallends, want tydens die ontvangs van d. Viljoen is sodanige besluit nie geneem nie en blykbaar het die besluit gedui op 'n kentering in die verhouding tussen die twee gemeentes.

Op die vasgestelde tyd het die predikant aangekom en al die reëlings het vlot verloop behalwe dat ds. Cachet verhinder was om te kom sodat prof. Postma dus die bevestiging moes waarneem. Op die vergadering van 23 April 1880 het dit geblyk dat al die stukke wat volgens Sinodale bepalings nagegaan moes word, in orde was sodat daar geen hindernis voorgekom het nie. Op hierdie vergadering het dit ook geblyk dat die vorige predikant, ds. Viljoen, verhinder was om teenwoordig te wees. Dit was die begin van 'n sestienjarige verbinding tussen ds. Du Plessis en die gemeente Colesberg.

Ds. Du Plessis afgevaardig na Humpata 320px|links|duimnael|Die Algemene Vergadering gehou te Burgersdorp, 1897. Eerste ry: (vyfde van links) prof. Stephanus Postma, (sewende van links) ds. J.A. van Rooy, ds. Taetse Hamersma, ds. P.S. Snyman, ds. L.J. Vorster. Tweede ry: Di. Martinus Postma, J.L. Maury, Dirk Postma, (moontlik Petrus Viljoen), prof. Jan Lion Cachet, ds. A.J.J. de Klerk Coetsee, Maarten Pelser, M.P.A. Coetsee sr., Petrus Postma, L.J. du Plessis, W.J. Snyman.

duimnael|regs|240px|Ds. Du Plessis (regs) sou die trekboere in Humpata in 1881 saam met ds. M.P.A. Coetsee jr. (middel) van Steynsburg besoek, waarna hulle na Europa sou gaan, maar die besoek aan Angola het toe nie gebeur nie. Hier is hulle in Rotterdam saam met prof. H. de Cock afgeneem. Hy was die geskiedskywer dr. Anna Böeseken se oupa.

Vroeg die volgende jaar (1881) moes die kerkraad aandag skenk aan 'n brief van die kommissie wat die geestelike belange van die Trekboere na Humpata moes behartig, waarin bekendgestel was dat gemelde kommissie besluit het om di. Du Plessis en M.P.A. Coetzee jr. van Steynsburg af te vaardig na Angola om die trekkers te gaan besoek. Waarom juis hierdie twee broeders afgevaardig was, is nie bekend nie, maar die keuse van ds. Du Plessis kon moontlik voortgespruit het daaruit dat hy vroeër as predikant van Rustenburg die trekkers geken het en hulle ook besoek het voor hulle die wildernis ingetrek het.

Die kerkraad sou hierdie benoeming moes bekragtig want die kommissie het verder gevra dat ds. Du Plessis tydens sy afwesigheid sy traktement moes behou. Voor die kerkraad hieroor besluit het, het ds. Du Plessis die vergadering meegedeel dat hy nog nie besluit het of hy daarheen sal gaan nie; daarom het die kerkraad besluit om eers sy beslissing af te wag. Op die volgende vergadering, 14 Mei 1881 het hy toe bekendgestel dat hy besluit het om te gaan as dit met die kerkraad gereël kon word. Die kerkraad het die nodige verlof geskenk en ook bewillig om die traktement te bly betaal. Hierdie bespreking het in afwesigheid van die predikant geskied onder leiding van ds. H.B. Venter van Barkly-Oos.

Die goedkeuring van die kerkraad was nog onderhewig aan die van die gemeente, maar ook dit is gegee. Nadat die besluit van die kerkraad aan ds. Du Plessis bekendgemaak is, het hy met 'n ander versoek vorendag gekom. Hy het reeds lankal die plan gehad om besoek aan Europa te bring en aangesien daar blykbaar nou 'n gunstige geleentheid daarvoor aangebreek het, wou hy die kerkraad vra om hom verlof te gee om ná voltooiing van sy werk by die trekmense, na Europa te gaan. Ook hierdie versoek is gunstig oorweeg en toegestaan deur sowel die kerkraad as die gemeente. Die hele afwesigheid sou min of meer sewe of agt maande duur, maar dit het die kerkraad en gemeente nie afgeskrik nie.

Op die vergadering van 4 Junie 1881 moes die kerkraad weer aandag skenk aan die aangeleentheid, maar nou in gewysigde vorm. Op hierdie vergadering het die voorsitter meegedeel dat die plan was om op 13 Junie van Steynsburg af te vertrek, maar het hy daarby gevoeg die gewenste informasie om met sekerheid die trekmense te kan bereik, het nog nie gekom nie. Hierop het hy toe gevra dat ingeval die hele sending na Humpata op 'n teleurstelling sou uitloop, of hy nogtans verlof sou hê om na Europa te gaan? Ook hierdie gewysigde versoek is deur sowel kerkraad as gemeente toegestaan. Sake is verder gereël dat tydens die afwesigheid van die predikant die dienste van tyd tot tyd deur ander predikante waargeneem sou word.