Hierdie artikel is 'n bespreking van verskillende soorte tradisionele literatuur. Daar word gefokus op tradisionele literatuur as kernletterkunde vir die multi-kulturele klaskamer sowel as mondelinge en orale letterkunde.

Verder is die soorte verhale wat behandel word fantasie, volksverhale (soos sprokies), mites, legendes, fabels, sages, diereverhale, bedrieërverhale en verhale met ekologiese perspektief.

Inleiding

Kernletterkunde vir die multi-kulturele klaskamer In 'n veelvolkige land soos Suid-Afrika behoort harmonie tussen die verskillende bevolkingsgroepe nagestreef te word. Een metode om harmonie te bereik, is om die hedendaagse kind voor te berei dat hy in harmonie met sy landgenote sal wil saamleef en kulturele sensitiwiteit te ontwikkel. Hierin het die opvoeder 'n besondere taak, en die onderrig van 'n kernliteratuur kan nuttig in beide die Afrikaans Huistaal- en die Afrikaans Eerste Addisionele Taalklaskamer aangewend word.

Met kernliteratuur word bedoel daardie aktiwiteite en ervarings van menswees wat gedeel word deur al die mense in 'n gemeenskap, en wat dieselfde is vir alle volke, taalgroepe, godsdienstige oortuigings, geslagte en stande. Dit sluit in ervarings van die mens wat spreek van sy basiese behoeftes, die vermoë om te groei, te voel, te kommunikeer, die werklikheid deur sy verstand te beheers en om 'n geestelike dimensie te beleef. Kortom: 'n kernliteratuur kom uit 'n kernkultuur. Dit sluit uit spesifieke geloofsoortuigings, spesifieke voorkeure en vooroordele, voorregte en ongelykheid – met ander woorde: daardie dinge wat die omgewing toegevoeg het aan die mens se bestaan. Sommige skrywers noem dit dié dinge wat alle mense gemeen het en wat kom uit die kollektiewe menslike onderbewuste. 'n Kernliteratuur sal dus die verwoording wees van hierdie dinge wat inherent aan die mens as spesie is.

Die tipe literatuur wat hierdie inherente deel van menswees verwoord, is volksverhale en veral volksprokies. Die luister daarna of die lees daarvan is een van die min plekke waar alle mense mekaar kan ontmoet en hulle humaniteit realiseer.

Mondelinge / orale letterkunde Baie van die verhale in ons Afrika-volksverhaalskat en volkskuns het mondelinge oorsprong – dit is van geslag tot geslag oorvertel. Orale kulture het mooi en ryk mondelinge uivoerings van hoë estetiese waarde geproduseer. Ongelukkig het baie van die waarde daarvan verlore gegaan met die opteken daarvan, omdat die ontwikkeling van wetenskap, geskiedenis, filosofie, ander kunste, taalwetenskap en die begrip van geskrewe letterkunde daarmee ingemeng het.

In enige mondelinge kultuur is die gehoor baie belangrik – daar moet iemand wees om na die stories te luister. Daarom word die orale voordragkunstenaar beïnvloed deur die teenwoordigheid van die gehoor en hy/sy ekploiteer hierdie teenwoordigheid. By tye betrek hy/sy die luisteraars direk deur openings-formules wat die gehoor se belangstelling en aandag stimuleer. In baie gevalle word van die gehoor verwag om deel te neem in die liedere of refreine in die verhale.

Fantasieverhale

Definisie In voor-Christelike tye was mense al bewus van die bestaan van fantasie. En hulle was nie net intuïtief daarvan bewus nie – hulle het 'n woord gehad om die verskynsel te beskryf. Die woord fantasie is afgelei van die Latynse phantasticus, en dit gaan selfs nog verder terug na 'n Griekse woord wat beteken: dit wat sigbaar gemaak word.

Fabels en mites het reeds in die vroeë Griekse tyd hul beslag gekry – verhale oor groothede wat nie sintuiglik of wetenskaplik fundeerbaar is nie en as fantasie omskryf kan word.

Kenmerke 'n Wanbegrip van die ware aard van die fantasieverhaal kom by baie mense voor. Daar bestaan die wanopvatting by mense dat enigiets in die fantasieverhaal moontlik is. Dit kan onlogies wees, inkonsekwent, en die aard van die fantasiekarakters kan so onbeperk wees as wat die verbeelding van die skrywer toelaat. As dit die geval was, dan sou die fantasieverhaal vir die leser geen betekenis gehad het nie.

Elemente uit die sigbare werklikheid word (dikwels humoristies) verander in die droom wat terselfdertyd fantasie is – grense word opgehef en nuwe vryhede word geskep. Daarna kan die mens sinvol terugkeer na die realiteit – nadat die lewenswaarhede deur middel van fantasie verhelder en probleme van die lewe opgelos is.

1. Enige woordskepper neem die primêre werklikheid as afspringplek en omskep dit met behulp van verbeelding of fantasie. Die primêre wêreld bly die verwysingsraamwerk, en alles waarmee die woordskepper omgaan, het uiteindelik weer daarmee te doen. Maar binne hierdie raamwerk word geskep: wesens wat nog nooit bestaan het nie, gebeurtenisse wat nie kan gebeur nie, met kreature wat die woordskepper self vir die eerste keer laat leef.

Die sigbare, sintuiglike en wetenskaplik meetbare werklikhede kan nie al wees waaruit die skepping saamgestel is nie. Dis te min. Dit sluit die menslike gees met alles wat dit behels en wat sigbaar gemaak kan word, in. Fantasie gaan dus om die mens self, al is dit net 'n sekondêre werklikheid wat geskep word om verligting te ervaar, om verheldering en insig te gee as gevolg van distansiëring wat plaasvind.

Die fantasie moet met die werklikheid ooreenstem, dit wil sê dit moet aanvaarbaar, logies, konsekwent en moontlik wees. Die skeidslyn tussen werklikheid en fantasie is baie dun. Die mens is 'n wese met geestelike vermoëns en daarom is sy verbeeldingswêreld 'n werklikheid. Dit vorm 'n wesenlike deel van sy lewe waarsonder hy nie ten volle mens kan wees nie. Daar kan dus gepraat word van die reële werklikheid en 'n fantasiewerklikheid. Dit is belangrik om te onthou dat albei werklik-hede is. Vir die kind is daar dikwels 'n vaer onderskeid tussen die twee werklikhede as wat daar vir volwassenes is. Dit is verder belangrik om te besef dat die fantasie gedurig deur die mens getoets word aan die reële werklikheid. Vrae soos: Is dit waar? Het dit werklik gebeur? Is daar iets soos 'n … ? kom spontaan voor by veral kinders wat fantasieverhale lees. Dit is juis omdat sulke vrae gevra word, dat hierdie toetsing plaas-vind en dat dit nodig is dat die fantasieverhaal die nodige beperkinge moet hê.

2. Die tweede element van fantasie is drome en die skakeling daarvan met die onderbewuste. Die mens se drange en begeertes en ook pogings om probleemoplossings te vind, word uit die bewuste oorgeplaas na die onderbewuste en deur drome simbolies uitgesorteer. Daar is ook trekke van die absurde en surrealisme wat 'n nagmerriekwaliteit het en nie van fantasie losgemaak kan word nie. Hier is kreatiwiteit en oorspronklikheid van belang.

Oorspronklikheid is 'n belangrike vereiste. In die fantasieverhaal gaan dit om die verbeeldingswêreld en dus is dit nie aan die stereotiepe gebonde nie. Oorspronklikheid by die outeur stimuleer weer die verbeelding van die leser. Daar moet beklemtoon word dat met oorspronklikheid nie bedoel word dat die tradisionele fantasiefigure soos kabouters, hekse en towenaars nie meer in verhale mag voorkom nie. Wat wel belangrik is, is dat hulle deur die outeur op 'n oorspronklike, nuwe wyse gehanteer moet word. Die outeur van 'n geslaagde fantasieverhaal doen dit só dat die kind met nuwe oë na die fantasiekarakter kyk en sodoende geprikkel word deur die andersheid daarvan.

3. 'n Element wat algemeen aanvaar word as onlosmaaklike bestanddeel van fantasie is towery, die toweragtige of magiese. As mag is dit onpersoonlik, maar dit word in werking gestel (uitgebeeld) deur 'n karakter – met goeie of slegte gevolge vir die held/heldin.

Towery vorm dikwels die fokuspunt in 'n fantasieverhaal: daardeur word die positiewe in staat gestel om te oorwin, of die goeie karakter moet daarteen veg om die uiteindelike wenner te wees. As die rol daarvan uitgespeel is, kan die verhaal terugkeer na die primêre werklikheid en die storie kan eindig.

Toorkrag is onderworpe aan streng wetmatighede en kan alleen plaasvind binne die woordwerklikheid wat geskep word. Slegs een karakter het byvoorbeeld die mag om te toor en kan dit net onder bepaalde omstandighede doen. Of dit is 'n gawe wat eenmalig, of moontlik drie keer aan die karakter toegesê word. Die getal drie is in die letterkunde altyd betekenisvol/simbolies en in 'n fantasieverhaal speel dit dikwels 'n magiese rol.

'n Belangrikele element wat na vore kom in towery, is die spel met die onmoontlike, waar andersheid uitgedruk word deur die breek van aanvaarde grense van die realiteit d.m.v. metafore en simbole.

4. Taalgebruik is die instrument waarmee die woordkunswerk geskep word. Daarom skuil daar poëtiese krag in fantasie. Elke effektiewe en selfs evokatiewe woord help mee om 'n nuwe wêreld voort te bring waarin magiese vryheid en toweragtige grense harmonies gekombineer word.

Inkantasies kom dikwels voor en kan terselfdertyd as motief 'n fantasieverhaal tot eenheid bind. Dit kan ook saamhang met 'n toor-element: om towerkrag in werking te stel, moet sekere woorde of 'n rympie byvoorbeeld presies nagesê of gesing word.

Ook retoriese vrae of beskrywings wat kort-kort opnuut voorkom kan 'n sterk rol speel in 'n verhaal en indruk maak op die hoorder/leser. Die herhaling van woorde aksentueer die mag van die woord.

5. Karakters in fantasieverhale word nie baie genuanseerd en vol geteken nie, omdat dit nie eerstens om húlle gaan nie. Sowel karakters as gebeure illustreer 'n dieper waarheid of lewensiening wat op onderbewuste vlak aan die leser/hoorder deurgegee word. Tog is hulle nie blote figurante wat vlak en vervelig is nie. Veral die hoofkarakter moet oortuig en duidelike skakels hê met die primêre wêreld – of dit nou 'n mens met of sonder een of meer fantasie-eienskappe is, of 'n volledige fantasie-personasie of dalk 'n dier. Wat noodsaaklik is, is dat die karaktertrekke funksioneel moet wees ten opsigte van die geheel – dit moet 'n doel hê, al is dit net om humor te bewerkstellig of te bewys dat logiese menswerklikheid opgehef kán word.

'n Volledig fantasiematige karakter kan lyk soos hy wil en op enige wyse optree – en tog is hy ook gebonde aan inherente wetmatighede. Daar moet konsekwensie en oortuigingskrag wees in wat hy doen. Ook moet daar assosiasies wees met die mens, omdat die verhaal vir volwassenes of kinders bedoel is.

Karakters in fantasieë ontwikkel min, hoewel daar uitsonderings is. Daar kom gewoonlik tog verheldering of verdieping van insig – al is dit nooit 'n vereiste nie. Dit moet egter altyd oortuigend wees en nie dwangmatig nie.

6. Vertellerperspektiewe word in die geslaagde fantasieverhaal gegee om universele waardes in die regte lig te stel. In die reële werklikheid is daar nie net uiterstes nie. Daar is talle tussenstadia en die skeidslyne tussen die stadia is ook baie vaag. In die fantasie-werklikheid val die klem meer op absolute waardes sodat daar veel minder tussenstadia bestaan.

Die fantasiekarakters verteenwoordig in die eerste plek hierdie absolute waardes. 'n Lelike feetjie en 'n mooi heks is ondenkbaar omdat elkeen juis 'n verteenwoordiger van die teenoorgestelde waarde is. Waar dit egter wel voorkom (soos by Liewe Heksie) dien die teenstellende eienskap juis om die normale eienskap te beklemtoon. Die andersheid van die een lê die klem op die eendersheid van die ander. ln die tweede plek gee ook die handeling perspektief. Die handeling of gebeure word in die fantasieverhaal gereduseer tot die essensiële. Dit wat goed of sleg en mooi of lelik is, vind ook uiting in die handeling en word daardeur beklemtoon.