Uruguay (Spaans: [uɾuˈɣwai̯], ), amptelik die Republiek Oos van die Uruguay (República Oriental del Uruguay), is 'n klein land in Suid-Amerika. Dit word begrens deur Brasilië in die noorde, Argentinië met die Uruguayrivier in die weste, die Río de la Plata in die suidweste en die Atlantiese Oseaan in die suidooste. Omtrent die helfte van die bevolking is in die hoofstad Montevideo saamgetrek.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Uruguay Dié land is die naaskleinste in Suid-Amerika, en een van die mees stabiele. Dit het vir 'n lang tydperk 'n soort bufferstaat tussen die gebiede van die koloniale moondhede Portugal en Spanje gevorm. Met sy onafhanklikheidwording in 1828 het interne geskille tot 'n fase van politieke magstryd en burgeroorloë gelei, maar uiteindelik het dié land danksy grootskaalse Europese immigrasie uit veral Italië en Spanje tot 'n welvarende land ontwikkel, wat in Europa as 'n modelstaat of die "Switserland van Suid-Amerika" bekend gestaan het. Die Zeit, nommer 33 (2002): Gaby Weber – Das Kartenhaus in Montevideo

Die vleisverwerkingsbedryf, wat in die 1860's met 'n eerste aanleg in die stad Fray Bentos gevestig is, en die uitvinding van vragskepe met koelingsgeriewe het van dié land een van die grootste vleis-, vel- en woluitvoerders ter wêreld gemaak.

Die landbou vorm nog steeds die ekonomiese basis van dié land, terwyl die toerisme danksy bekende bestemmings soos Punta del Este en die Costa de Oro 'n groot bydrae tot die vinnig groeiende dienstesektor lewer. So word van die aantreklikste sandstrande en strandoorde in Suid-Amerika hier aangetref en word een van die langste karnaval-seisoene op aarde veertig dae lank in Montevideo gevier. Tim Burford: Bradt Travel Guide Uruguay. Derde uitgawe. Chalford St Peter: Bradt Travel Guides 2017, bl. vii

Desondanks is honderdduisende Uruguane gedwing om 'n heenkome in die buiteland, veral in Argentinië, te vind. 'n Ander probleem bly die oorheersende rol van die hoofstad Montevideo, wat nog steeds meer as die helfte van die bevolking huisves.

Amptelike naam en etimologie Die naam van die gelyknamige rivier het sy oorsprong in die Spaanse uitspraak van die plaaslike Guaraní-woord vir dié rivier. Daar is verskeie interpretasies, insluitende "voël-rivier" ("die rivier van die urú", via Charruaans, urú, 'n algemene naamwoord van enige wilde hoender).

Die naam kon ook ná 'n rivier-slak met die naam uruguá (Pomella megastoma) verwys wat volop in dié water was. El País newspaper: "Presentan tesis del nombre Uruguay"

Die volledige amptelike naam van Uruguay is República Oriental del Uruguay (Afrikaans: Republiek Oos van die Uruguay) en afgelei van sy geografiese ligging oos van die Uruguayrivier. Uruguay beteken in die taal van die Guaraní-Indiane letterlik "Rivier van voëls". Die digter Juan Zorilla de San Martín het 'n minder akkurate, maar meer poëtiese vertaling gedoen: "Rivier van bont voëls".

Geografie Ligging duimnael|Kaart van Uruguay Uruguay is aan die noordoostelike oewer van die Río de la Plata tussen Brasilië, Argentinië en die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is die tweede kleinste land in Suid-Amerika ná Suriname – met 'n oppervlakte van sowat 176 000 vierkante kilometer (waarvan 2 600 km² water en 87,6 persent geskik vir landboudoeleindes is) is dit net effens groter as die Suid-Afrikaanse provinsie Oos-Kaap. Uruguay deel grense met Brasilië in die noorde (1 068 kilometer) en Argentinië in die weste (579 kilometer).

Die kuslyn het 'n lengte van 670 kilometer, waarvan sowat 220 kilometer oos van Punta del Este langs die Atlantiese Oseaan en 450 kilometer wes daarvan langs die monding van die Río de la Plata. Twee derdes van die Uruguaanse bevolking en sy besighede is langs die kuslyn saamgetrek. Uruguay het twee navorsingstasies in Antarktika gevestig, een op die Antarktiese Skiereiland en een op die nabygeleë Koning George-eiland (Isla Rey Jorge), maar maak nie aanspraak op enige deel van Antarktika nie.

Landskapsvorme duimnael|Cerro Batoví (departamento Tacuarembó) In geografiese opsig is Uruguay 'n uitbreiding van die Argentynse Pampas. Die suide van die land bestaan dus uit vlaktes met 'n steil helling langs die kus. Langs die Uruguayrivier lê uitgestrekte moerasvlaktes wat dikwels oorstroom word.

Die hartland van Uruguay word deur 'n plat plato oorheers; sy heuwelreekse bereik 'n maksimale hoogte van 501 meter bo seevlak. Die landskap van die suidoostelike kusgebiede word deur vlaktes en strandmere met vlak water gekenmerk. Sandduine word langs die Rio de la Plata en die Atlantiese kus aangetref.

Noord-Uruguay is 'n heuwelland met klein bergreekse soos die Cuchilla de Haedo in die noorde of die Cuchilla Grande in die ooste met 'n maksimumhoogte van 500 meter bo seevlak. Die hoogste bergpieke in dié land is die Cerro Catedral (514 meter), die Cerro Ventana (420 meter) en die Cerro Colorado (299 meter). Die laagste gebiede van dié land lê op seevlak en net sowat tien persent van Uruguay se totale oppervlakte verrys tot hoogtes van meer as 200 meter.

Uruguay beskik oor vrugbare grond sodat die hele land vir landbou geskik is. Slegs sowat vyf persent van die oppervlakte is bosgebiede.

Klimaat duimnael|Rambla de Piriápolis Uruguay behels twee klimaatsones – 'n subtropiese gebied in die noorde en 'n gematigde sone in die suide met 'n Mediterreense klimaat en vier seisoene. Aangesien daar geen bergreekse is wat as 'n natuurlike versperring sou kon dien nie, word Uruguay se klimaat deur weerskommelinge gekenmerk. Veral ná lang droogtes sak swaar neerslae oor dié land uit.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 17,5 °C. Januarie is die warmste maand met 'n gemiddelde van 22 °C, terwyl die kwik in Julie, die koudste maand van die jaar, tot sowat 10 °C daal. Reënval word dwarsdeur die jaar aangeteken, met 'n jaarlikse gemiddeld van sowat 1000 millimeter in die suide en 1400 millimeter in die natste noordelike gebiede. Maart is die natste maand, terwyl daar in die winterseisoen minder reën val.

Die relatiewe lugvogtigheid beloop tussen 70 en 75%, met uiterstes van 80% in Julie en 65% in Januarie. Dikwels daal die humiditeit van sowat 90% tydens sonop tot by 45% in die namiddag.

Tydens die winter waai sterk en koue suidwestelike winde, die sogenaamde Pampero's, wat veral in die kusgebiede skade kan berokken.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Indiane in die Rio Plata-streek. Tekening uit die reisjoernaal van Hendrick Ottsen (1603) Die eerste mense in die gebied van die huidige Uruguay het hulle omstreeks 7000 v.C. as klein nomadiese groepe in die gebied van die huidige Uruguay gevestig. Omtrent 1000 n.C. was die Charrúa, 'n Indiaanse volk, die grootste etniese groep in die gebied van die huidige Uruguay.

Die Spaanse seevaarder Juan Díaz de Solis was in 1515 die eerste Europeër wat in Uruguay voet aan wal gesit en met die verkenning van die monding van die Río de la Plata begin het. Die Spaanse naam van die rivier – "Silwerrivier" – dui aan dat die Spanjaarde gehoop het om in die omgewing silwer te vind. 1526 het Sebastiano de Caboto die verkenningswerk voortgesit en die takrivier Paraná stroomop geseil.

Onder hewige verset van die Charrúa-volk het die Spanjaarde en Portugese met die verowering van die gebied begin, en alhoewel Uruguay reeds in 1516 'n Spaanse kolonie geword het, het die eerste nedersettings nie voor die 17de eeu ontstaan nie. Aangesien tegelykertyd setlaars vanuit Buenos Aires en Portugal dié land binnegedring het, was die gebied 'n twispunt tussen Spanje en Portugal.

In 1724 het Spanjaarde die hoofstad Montevideo gestig, terwyl die posisie van die Portugese in Uruguay begin verswak het. In 1776 is die gebied van Uruguay as die "Banda Oriental" (oostelike oewer of land oos van die Uruguayrivier) by die Spaanse Onderkoninkryk Río de la Plata (die historiese voorloper van die huidige Argentinië) ingelyf. Die inheemse Charrúa-bevolking is reeds in die vroeë 19de eeu uitgeroei. Duitse Departement van Buitelandse Sake: Uruguay – Geskiedenis

Onafhanklikheid duimnael|Die klein vuurtoring van José Ignacio Die politieke betrekkinge tussen Argentinië en Brasilië is ná hulle onafhanklikwording steeds vertroebel deur strydpunte wat uit die koloniale tydperk oorgeërf is – soos die geskil tussen Spanje en Portugal oor die beheer van die sogenaamde banda oriental, die oostelike landstrook as toegangspoort tot die La Plata-bekken. Hierdie gebied, tans die staatsgebied van Uruguay, was van groot belang vir skeepvaart en vrye handel.

In Uruguay het die onafhanklikheidsbeweging onder leiding van José Gervasio Artigas in 1810 begin om die Spaanse juk af te werp. Maar net een jaar later het die land 'n twispunt tussen Argentinië en Brasilië geword. Oor die jare het dit verskerp en in die 1820's uiteindelik in 'n militêre konflik ontaard. In 1821 het Brasilië daarin geslaag om die gebied as Provincia Cisplatina te annekseer. Danksy die militêre ingryping van Argentinië het Uruguay in 1825 sy onafhanklikheid verwerf. Brasilië het die taktiese fout begaan om toegang tot die La Plata-hawens deur middel van 'n seeblokkade af te sny – 'n stap waardeur die handelsbelange van die Verenigde Koninkryk in Suid-Amerika geraak is. In 1828 is die geskil vreedsaam besleg nadat die Britse regering druk op die oorlogspartye uitgeoefen en uiteindelik self as bemiddelaar opgetree het.

Op 4 Oktober 1828 is die República Oriental del Uruguay (Republiek oos van die Uruguayrivier) uitgeroep as selfstandige staat. Sy onafhanklikheid is deur Argentinië en Brasilië gewaarborg. Ook het die twee lande hul reg op vrye toegang tot die Río de la Plata en sy takriviere wedersyds erken.

Die teenstellings tussen Argentyns- en Brasiliaansgesinde politieke groeperings het desondanks in Uruguay voortbestaan en tot 'n gewelddadige binnelandse konflik gelei. Die sogenaamde "Blancos" (die Wittes), veral konserwatiewe eienaars van groot landgoedere, wat deur die Argentynse diktator Juan Manuel Rosas ondersteun is, het teen die "Colorados" (Rooies), sosiaal-liberaalgesinde nyweraars en koopmanne, geveg.

In 1838 het diktator Rosas 'n veldtog teen Paraguay, Uruguay en Brasilië begin; Uruguay is deur Argentynse troepe beset. Frans-Britse troepe het in 1845 ingegryp en Argentinië gedwing om sy buurland weer te ontruim. Met die oorwinning van die Colorados in 1851 het die politieke situasie begin stabiliseer.

In 1864 het Paraguay in die Paraguaanse Oorlog sy buurlande Argentinië, Uruguay en Brasilië aangeval, maar dié land het 'n vernederende neerlaag gely. Een jaar later het die Partido Colorado (PC) die nuwe regering gevorm, maar kort daarna besluit om saam met die opposisieparty, die Partido Nacional (of Blancos, PN), te regeer. Hierdie magsdeling, die sogenaamde kollegiale stelsel, het verseker dat Uruguay tot 'n stabiele demokrasie ontwikkel het.

"Switserland van Suid-Amerika" duimnael|Die vlag van Uruguay waai by 'n huis in Colonia del Sacramento Uruguay is uiters geskik vir landbou en veeteelt, en tussen 1830 en 1930 het sowat 700 000 immigrante uit Spanje, Italië, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Switserland hulle in dié land gevestig. Sy welvarende landbou en die uitvoer van vleis was die basis vir 'n grootskaalse ekonomiese opbloei. Uruguay het een van die rykste state in Latyns-Amerika geword.

Die beleid van president José Batlle y Ordóñez, wat 1903 as staatshoof verkies is, het van Uruguay 'n moderne staat met 'n gevorderde welvaartstelsel gemaak. Hy het staat en kerk van mekaar geskei en met die uitbou en modernisering van die pad- en spoorwegnet begin.