Hans du Plessis (15 Januarie 1945, Pretoria – 25 Oktober 2024, Potchefstroom) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en digter. Van die boeke wat hy geskryf het is "Die pad na Skuilhoek", "Verbrande paradys", "Inboekeling" en "Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou"Steenberg, Elsabe “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 33 no. 1, Maart 1993 en nog meer. Du Plessis was 'n lid van PEN Afrikaans.
Lewe en werk alt=Boeke deur Hans du Plessis geskryf.|duimnael|Boeke deur Hans du Plessis geskryf. Hans Georg Wilhelm du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore as een van vier seuns. Hy word in Silverton groot waar hy vanaf 1951 sy skoolopleiding aan die Laerskool Silverton ondergaan, waarna hy in 1962 matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Na voltooiing van sy B.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria, met Geskiedenis en Noord-Sotho as hoofvakke, begin hy in 1966 vir ses jaar skoolhou. In 1966 gee hy onderwys in Noord-Sotho aan Roodepoort Hoërskool en in 1967 is hy Afrikaans onderwyser aan Athlone Boys High School. Vir vier jaar hierna gee hy onderwys aan die Hoërskool Evander, eers in Geskiedenis en later ook in Afrikaans.
Eers tydens sy skoolhoujare voltooi hy Afrikaans III en verwerf hy later al sy nagraadse grade in Afrikaans-Nederlands. Hy skryf in as deeltydse student aan die Universiteit van Suid-Afrika en behaal in 1969 die Universiteits Onderwysdiploma (met onderskeiding in Afrikaans) en in 1970 die B.A. Honneurs-graad (met lof). In 1971 word die Magisterbeurs deur die Universiteit van Suid-Afrika aan hom toegeken en in 1972 verwerf hy die M.A.-graad (met lof) met ’n verhandeling oor “Die deeltjiewerkwoord in Afrikaans”. In 1975 word die D.Litt. et Phil.-graad in Afrikaanse Taalkunde aan hom toegeken op grond van sy proefskrif “Komplementwerkwoorde en werkwoordkomplemente: ’n beskrywing van die struktuur van die werkwoord-komplement-konstruksie in Afrikaans”.
Hy ontvang in 1976 die seniorbeurs van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en studeer hiermee verder aan die Harvard Universiteit onder die taalkundige Susumu Kuno en aan MIT in Amerika onder die wêreldbekende Noam Chomsky, grondlegger van Transformasioneel Generatiewe Grammatika (TGG). In 2005 is hy gasprofessor in Afrikaans aan die Universiteit van Antwerpen in België. Hy is op 5 Oktober 1968 getroud met Maria Magdalena Potgieter en die egpaar het vier seuns, Barend Rudolph, Johannes Lodewicus (Louis), Hans Georg Wilhelm (Hansie) en Tjaard. Al vier seuns is getroud en daar is nege kleinkinders.
Na ses jaar in die onderwys word hy in 1972 as lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika aangestel en vanaf Julie 1977 tot 1980 is hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In Januarie 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. In sy intreerede, “Die Afrikaanse taalwetenskap as besondere taalwetenskap”, bepleit hy ’n instituut vir eietydse Afrikaans, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Griekwa-Afrikaans en Johannesburgse Afrikaans noodsaaklik is. Sedert 1980 doen hy dan self intensief navorsing oor dialektologie en werk onder leiding van Christo van Rensburg mee aan ’n omvattende navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas. Hierna publiseer hy verskeie artikels en handboeke oor die sogenaamde Oranjerivier-Afrikaans, waarvan Griekwa-Afrikaans een subdialek is. Hy skryf ’n verslag hieroor aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in 1983 en is ook leier van ’n projek oor die Afrikaans van Namibië in 1985. Uit hierdie studieveld verskyn later sy Griekwapsalms en Griekwagedigte, wat onder andere deur Randall Wicomb getoonset en gesing word. Sy belangstellingsveld lei ook in 1983 tot ’n aanstelling as ’n Direkteur van die Instituut vir Taal en Letterkundige Navorsing.
Sedert 1985 is hy saam met die Departement Afrikaans van die Potchefstroomse Universiteit betrokke by skryfkursusse van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en wanneer die universiteit in 1989 besluit om ’n skryfskool te stig, word hy aangestel as eerste direkteur. Hierdie skool bied sy eerste kursusse in 1990 aan en staan bekend as die ATKV-Skryfskool. Hy beklee hierdie pos tot aan die einde van Desember 2011, waarna hy aftree. Sedert die vroeë negentigerjare het hy las van ’n oorerflike oogsiekte wat meebring dat hy nie meer motor kan bestuur nie en met behulp van tegnologie moet lees. Benewens sy huis in Potchefstroom besit hy ook ’n vakansiehuis op Eersterivier-strand in die Oos-Kaap en ’n huisie op ’n stuk grond van elf hektaar in die Vredefortkoepel.
Hy woon in 1991 kursusse in kreatiewe skryf in die Verenigde State van Amerika by. By die Oklahoma Arts Institute word hy onderrig in die skryf van fiksie en daarna deurloop hy ook Syd Field se kursus in draaiboekskryf. Sy professionele lidmaatskappe sluit in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Taalkommissie, die Linguistiese Vereniging van Suid-Afrika, die redaksionele komitee van Literator en hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy dien ook op die direksies van die ATKV (en word onder andere in 2000 verkies tot ondervoorsitter van hierdie organisasie, ’n pos wat hy tot 2008 beklee), Lapa Uitgewers (ook as voorsitter) en die Aardklop Nasionale Kunstefees. Hy was ook voorsitter van die FAK se Taalkomitee, een van die trustees van die Arts and Culture Trust van die President en trustee van die Kanselierstrust van die Potchefstroomse Universiteit.
By verskeie geleenthede gee hy belangwekkende openbare redes. By ’n FAK-byeenkoms in 1977 op Sasolburg sê hy reeds dat die bruin mense deel is van die Afrikaanse gemeenskap, ’n baie polities onpopulêre stelling tydens die apartheidsbewind. Tydens 2000 se Aardklop-Kunstefees lewer hy ’n lesing oor “Sol Plaatje en Totius”, waarin hy die ooreenkomste tussen hierdie twee uiteenlopende figure uitlig, wat albei in 1877 gebore is en albei doktorsgrade verwerf het. In 2002 lewer hy die Hoërskool D.F. Malherbe se sewende gedenklesing onder die titel “Afrikaanses en Afrikaans: van Malherbe tot Mbeki”. Hierin bepleit hy dat Afrikaans inklusief moet wees van almal wat hom praat, ook vir daardie mense vir wie dit ’n tweede of derde taal is. Op 18 Junie 2014 skryf hy saam met Bernard Odendaal, Christo van Rensburg en J.C. Steyn ’n brief aan die pers, waarin hulle pleit vir die bestaan van ’n Afrikaanse universiteit wat sonder druk Afrikaans as onderrigtaal kan gebruik. Daar hoef nie diskriminasie te wees nie en anderstaliges is welkom, solank hulle aanvaar dat die ankertaal vir onderrig Afrikaans is. Oor die jare lewer hy ook gereeld rubrieke vir koerante en tydskrifte, veral vir die Potchefstroom Herald, en ’n keur hieruit word later gebundel as “Splinters”. Hy lewer die eerste Christo van Rensburg-gedenklesing in Mei 2018 getiteld "Taalverskeidenheid en die dekolonisering van Afrikaans".
Skryfwerk
Poësie Hy maak ’n bydrae tot die poësie, die prosa en ook op dramagebied. Sy eerste gedigte word in letterkundige tydskrifte gepubliseer, soos Kol in 1969 en daarna ook in Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte. Sy eerste digbundel is “Kleinwild”,Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 19 no. 3, September 1979; Slabbert, Annelize “Beeld” 2 April 1979 wat getrou aan die titel ’n aantal korter (“klein”) gedigte bevat, met die natuur ’n oorheersende tema. Die drie afdelings bevat onderskeidelik gedigte oor die skepping en die eerste dae, wat opgevolg word deur natuurgedigte en verse van verwondering oor die skepping, met die laaste afdeling wat meer mensgerig is. “Gewete van glas”Brink, André P. “Rapport” 2 Desember 1984; Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 23 no. 2, Mei 1985 bevat verse oor jeugherinneringe, die digkuns self en ’n aantal ander temas. ’n Deurlopende motief is die mens se strewe om op te diep en te ontgin en samehangend hiermee is die diepgang wat God bied. Die besondere taalvermoë is ’n besliste aanwins vir die bundel. Die bundel sluit af met ’n hele aantal gedigte geskryf in die Griekwa-idioom, insluitende ses Griekwapsalms. Hier is die herskryf van Psalm 121 ’n hoogtepunt.
Hierna publiseer hy self die bundel “Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt”, wat die voorloper is vir die bundel “Innie skylte vannie Jirre”.Britz, Etienne “Rapport” 24 Junie 2001; Cilliers, Cecile “Beeld” 14 Mei 2001 Hierdie bundel is gebaseer op Bybelgedeeltes uit veral die Psalms en Spreuke maar ook uit ander Bybelboeke, wat hy self in Griekwa-Afrikaans verwerk. In 2002 ontvang “Innie skylte vannie Jirre” die prys vir die beste Algemene Christelike Boek van die CBSA (die Christian Booksellers Association of Christelike Boekhandelvereniging). Die sukses van hierdie bundel word opgevolg met die soortgelyke “Boegoe vannie liefde” (omdigting van Hooglied in Griekwa-Afrikaans) en “Hie neffens my”. “Karos orie dyne”Van Rensburg, Christo “Beeld” 30 Julie 2012 verplaas weer die Bybelse agtergrond na die wêreld van die Griekwas, waar hierdie dialek se treffende uitsprake en beelde in knap verse geboekstaaf word. Die gedigte bevat die Dawidpsalms en ander Bybelgedeeltes, insluitende gelykenisse. Randall Wicomb toonset verskeie van Hans se Griekwa-gedigte, bied landswye konserte aan en verewig die liedjies ook op CD. “Boegoe vannie liefde” word in ’n musiekproduksie verwerk en by die Stellenbosch Woordfees opgevoer in 2011, waar dit spesiale vermelding kry met die toekenning as die beste musiekproduksie. Die produksie Boegoe vannie Liefde, getoonset en uitgevoer deur Lize Beekman was deel van Radio Sonder Grense se Kunstefees op die lug. Kruis van Liefde, saam met Bernard Odendaal, is 'n Paasspel van 'n bundel gedigte wat in 2020 verskyn en wat as oratorium deur Franco Prinsloo gekomponeer is en deur Lizanne Barnard getoonset word as musiekteater onder die titel Barabas by die Kruis. Sy gedigte word opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Goudaar”, “Digters en digkuns” en die “Versindaba” bundels wat jaarliks na hierdie fees uitgegee word.
Prosa Op prosagebied debuteer hy met die roman “Grensgeval”,Brink, André P. “Rapport” 16 Februarie 1986 wat wentel rondom ’n Potchefstroomse taalnavorser, Jan Adamse. Jan is in Namibië op soek na sy verlore oupa Isak, ten einde sin te maak van sy wortels en bestaan, as wit Afrikaner met bruin voorouers. Terselfdertyd doen hy navorsing oor taaloorspronge en hou interne debatte met sy verbeelde reisgenoot, oom AE. Intussen is sy huwelik besig om te verbrokkel. Die roman “Skuiwelinge”Hambidge, Joan “Insig” Augustus 1990 se titel verwys na die tragiek van die Groepsgebiedewet verskuiwings, asook na die nuwe insigte wat die hoofkarakters gaandeweg ontwikkel. Dit handel oor drie Suid-Afrikaners (Hosea, Ben en Ester) vanaf uiteenlopende agtergronde wat in ’n kamer in ’n parkeergarage vasgekeer word wanneer politieke geweld die stad teister. Die drie is bang vir die geweld en bang vir mekaar, maar praat tog met mekaar om die nag te probeer omkry. So beleef elkeen sy verlede en vrese om daarvan en van die huidige krisis en moontlike dood sin te maak. Dit wat hulle sê is belangrik, maar dit wat ongesê bly net so belangrik. Geweld en die impak daarvan op hulle uiteenlopende lewens is die kerntema. Hierdie boek word in 1990 genomineer vir die Rapportprys en dit word ook in 1991 deur die beoordelaars van die ATKV-prosaprys uitgesonder as ’n boek met besondere meriete.