Gonggong (kleinplaneetnaam 225088 Gonggong) is ’n dwergplaneet in die verstrooide skyf. Dit het 'n hoogs eksentriese wentelbaan met 'n groot baanhelling wat wissel tussen 34 en 101 AE van die Son af. In 2019 was dit 88 AE ver en was dit die sesde verste voorwerp in die Sonnestelsel. Gonggong is in 'n baanresonansie van 3:10 met Neptunus – dit beteken dit voltooi drie wentelbane in die tyd waarin Neptunus 10 voltooi. Gonggong is in Julie 2007 deur die Amerikaanse sterrekundiges Megan Schwamb, Michael Brown en David Rabinowitz ontdek en die ontdekking is in Januarie 2009 aangekondig.

Met 'n deursnee van sowat 1 230 km is Gonggong omtrent so groot soos Pluto se maan Charon en is dit die vyfde grootste bekende voorwerp in die Sonnestelsel anderkant Neptunus. Sy groot massa maak 'n dun atmosfeer van metaan moontlik, hoewel so 'n atmosfeer langsamerhand in die ruimte sal ontsnap. Die voorwerp is genoem na Gònggōng, 'n Chinese watergod wat vir chaos, vloede en die helling van die Aarde verantwoordelik is. Die ontdekkers het die naam in 2019 gekies ná 'n opname onder die publiek.

Gonggong is rooi, waarskynlik vanweë die teenwoordigheid van organiese verbindings op sy oppervlak wat tolien genoem word. Waterys is ook op sy oppervlak teenwoordig, wat dui op 'n kort tydperk van kriovulkanisme in die verre verlede. Met 'n rotasieperiode van sowat 22 uur draai Gonggong stadiger om sy as as ander trans-Neptunus-voorwerpe, wat gewoonlik rotasieperiodes van minder as 12 uur het. Dié stadige rotasie kan wees as gevolg van getykragte van sy maan, Xiangliu.

Geskiedenis Ontdekking Gonggong is ontdek deur sterrekundiges van die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie as deel van die Ph.D.-tesis van Meg Schwamb, wat toe ’n student van Michael E. Brown was.

Naam Die liggaam is genoem na 'n Chinese watergod, Gònggōng. Hy word uitgebeeld met 'n menslike koper-en-yster-kop met rooi hare en die liggaam of stert van slang. Hy was verantwoordelik vir die skepping van chaos en katastrofes, vloede en die helling van die Aarde, totdat hy verban is.

Voordat dit 'n amptelike naam gekry het, was Gonggong die grootste bekende voorwerp in die Sonnestelsel sonder 'n naam. Brown het dit aanvanklik "Snow White" genoem met die veronderstelling dat dit wit was omdat dit baie groot of baie helder moes gewees het om deur hulle waargeneem te kon word. Dit was ook die "sewende dwerg" wat Brown se span ontdek het – ná Quaoar in 2002, Sedna in 2003, Haumea en Orcus in 2004, en Makemake en Eris in 2005. Gonggong het egter geblyk een van die rooiste voorwerpe in die Kuiper-gordel te wees, en daarom is dié naam laat vaar.

Simbool Simbole vir hemelliggame buiten die Son en Aarde word selde in moderne sterrekunde gebruik. Astroloë gebruik egter dikwels die simbool 24px|🝽 vir Gonggong. Dit is deur Denis Moskowitz ontwerp: Dit kombineer die Chinese karakter 共 gòng met die stert van 'n slang.

Wentelbaan thumb|links|'n Pooluitsig van die wentelbane van Gonggong (geel), Eris (groen) en Pluto (magenta).

Gonggong wentel gemiddeld 67,5 AE ver om die Son en voltooi 'n volle omwenteling in 554 jaar. Sy wentelbaan is baie skuins met betrekking tot die sonnebaan, met 'n helling van 30,7 grade. Die wentelbaan is ook hoogs eksentries (0,50), en daarom wissel Gonggong se afstand van die Son tussen 101,2 AE by afelium, sy verste punt van die Son af, en sowat 33,7 AE by perihelium, sy naaste punt. Gonggong was in 1857 by perihelium en beweeg op die oomblik verder weg van die Son af op pad na sy afelium.

Die periode, helling en eksentrisiteit van Gonggong se wentelbaan is almal taamlik ekstreem in vergelyking met dié van ander groot liggame in die Sonnestelsel.

Absolute magnitude Die grootte van ’n voorwerp kan bereken word uit sy absolute magnitude (H) en albedo (die hoeveelheid lig wat dit weerkaats). Gonggong het ’n absolute magnitude van 1,92, wat dit die vyfde helderste bekende Trans-Neptunus-voorwerp maak, ’n bietjie dowwer as Sedna (H=1,6; D≈1 000 km) en helderder as Orcus (H=2,3; D≈800 km).

Dit is een van die rooiste voorwerpe bekend. Dit is waarskynlik vanweë metaanryp, wat rooi word van sonlig en kosmiese strale.

Satelliet thumb|Hubble-foto's van Gonggong en Xiangliu, in 2009 en 2010. Ná die ontdekking in Maart 2016 dat Gonggong baie stadig roteer, is die moontlikheid geopper dat dit vanweë 'n natuurlike satelliet se getykragte is. Foto's wat op 18 September 2010 geneem is, is weer bestudeer en hulle het 'n dowwe satelliet onthul wat op 'n afstand van minstens 15 000 km van die liggaam af lê. Die maan is sowat 100 km breed en het 'n wentelperiode van 25 dae. Op 5 Februarie 2020 is die satelliet amptelik "Xiangliu" gedoop: na die giftige, negekoppige monster wat Gonggong in die Chinese mitologie vergesel het.

Verkenning Daar is uitgewerk dat 'n verbyvlugsending na Gonggong minstens 20 jaar sal neem met huidige vuurpylvermoëns. Met 'n Jupiter-swaartekragslinger kan dit in net korter as 25 jaar voltooi word as 'n lanseringsdatum van 2030 of 2031 veronderstel word. Gonggong sal sowat 95 AE van die Son af wees wanneer die ruimtetuig dit bereik.

Verwysings

Eksterne skakels Wentelbaansimulasie van die JPL (Java) / Horizons Ephemeris 2007-beelde van die ontdekking "The redemption of Snow White (Part 1)" (Mike Brown se blog van 9 Augustus 2011)

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Dwergplanete Kategorie:Dubbele Trans-Neptunus-voorwerpe