duimnael|Draakvrugte duimnael|'n Heel en deurgesnyde draakvrug met wit vlees. duimnael|'n Geskilde draakvrug met rooi vlees, net reg om geëet te word. Pas op, dit sal maklik klere vlek. duimnael|Draakvrugte op 'n mark in Taiwan.
'n Draakvrug of pitaja is die vrug van verskeie spesies kaktusse in die genus Hylocereus. Die vrug is helderpienk met stekelrige skubbe, wat tot die naam aanleiding gee. Dit is inheems aan Sentraal- en Suid-Amerika, maar word ook in Asië en Noord-Australië verbou. In Suid-Afrika word draakvrugte soms by winkels en markte aangetref, hoewel dit nie geredelik beskikbaar is nie.Eksotiese draakvrug kan ook in SA aard, Beeld, 8 Maart 2013
Beskrywing Draakvrugte het 'n romerige, wit vlees vol klein, swart pitjies soos sesamsaad. Daar is ook kultivars met pienk vlees of ’n geel skil. Hierdie vrug het 'n ligte soet smaak, wat verbeter as dit koud geëet word. Die tekstuur daarvan is tussen dié van 'n kiwivrug en 'n appel.
Die plant is 'n epifitiese slingerplant, wat beteken dat dit in ’n nie-parasitiese toestand op ander plante, of teen ’n stellasie of gebou groei. Soos ander kaktusse kan die plant deur sade of steggies gekweek word. Dit het geurige, wit blomme wat slegs in die nag oopgaan en meestal deur motte of vlermuise bestuif word. Soggens verwelk die blomme. Sowat 40 dae nadat die plant geblom het, begin die vrugte vorm. Dit kan tussen vyf en ses oeste per jaar lewer.Kortliks: Draakvrug vul subtropiese mandjie aan, Landbouweekblad, Februarie 2015
Voedingswaarde Draakvrugte is ryk aan vitamien C, vesel, fosfor en kalsium, asook antioksidante. Die blomme kan ook geëet of as ’n tee getrek word.Vrugte van die wêreld, Beeld, 14 Februarie 2010
Voedingswaarde per 100 gram: 240 kJ (57 kkal) 16 g koolhidrate 0 g vet 0 g proteïen 8,8 mg kalsium 0,65 mg yster 0,045 mg vitamine B1 9 mg vitamine C 0,9 g vesel
Spesies Drie spesies draakvrugte word op kommersiële basis vir hul vrugte verbou: Hylocereus undatus, wit vlees en 'n roosrooi skil Hylocereus polyrhizus, rooi vlees en 'n roosrooi skil Selenicereus megalanthus, wit vlees en 'n geel skil
Bibliografie Landbou. Die Burger, 26 Maart 2021.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Vrugte Kategorie:Tropiese vrugte