duimnael|regs|300px|Die NG kerk Riebeek-Kasteel is ontwerp deur Folkert Wilko Hesse. Ds. Pieter de Waal het die hoeksteen gelê op 30 Oktober 1913.
Die NG gemeente Riebeek-Kasteel is ’n gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland met sy middelpunt op die Swartlandse dorpie Riebeek-Kasteel.
Stryd tussen Riebeek-Wes en -Kasteel In 1854, op 'n vergadering aan die huis van oudouderling J.A. Loubser van Allesverloren, het die ingesetenes van die omtrek van die teenswoordige Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes (die Riebeekvallei), besluit om op eersgenoemde plek 'n hulpkerk te bou. Ouddiaken N. Walters van Twist het 'n stuk grond van 271 vierkante treë vir 'n kerkgebou gegee en die mense in die omtrek het tot die boufonds bygedra. Toe die hoeksteenlegging op 8 Augustus 1855 plaasvind, het by verskillende lidmate van die omgewing van Riebeek-Wes die vrees ontstaan, dat die hulpkerk die middelpunt kon word van 'n afsonderlike gemeente, en aangesien hulle dit onwenslik geag het, het hulle die boukommissie, na die fondament reeds gelê is, £37 10s. aangebied tot skadeloosstelling van gemaakte onkoste, op voorwaarde dat die werk gestaak word.
Toe hierdie aanbod van die hand gewys word, het 'n aantal lidmate van Riebeek-Wes in 1856 by die Ring van Tulbagh aansoek gedoen om die stigting van 'n gemeente in hul omgewing. Volgens 'n brief van ds. J.C. Moorrees namens die kerkraad van die gemeente Swartland aan die Ringsvergadering voorgelê in 1855, blyk dit dat daar toe reeds onenigheid was onder die twee partye en dat die ontevredenes reeds op die dag van die hoeksteenlegging besluit het om die volgende dag aan die huis van oudoudl. J.A. Loubser byeen te kom om te besluit oor die aanlê van 'n dorp en kerk wat die naam Riebeek sou dra.
Toe hierdie aansoek voor die Ringsvergadering gelê word, was daar ook 'n memorie teen afskeiding en gevolglik is 'n kommissie bestaande uit di. R. Shand van Tulbagh en J.H. Neethling van Hopefield en oudll. H. van der Westhuyzen van Worcester en C. Bosman van Piketberg benoem om die saak te ondersoek en rapport uit te bring. As gevolg van die rapport is die saak van die hand gewys, maar oudoudl. J.A. Loubser het kennis gegee dat hulle die saak in appèl voor die Sinode sou bring.
'n Sinodale Kommissie bestaande uit di. J.F. Reitz van Somerset-Wes, Kuys van Napier, Bamberger van Fraserburg en oudl. S. Minnaar van die Paarl het die saak ondersoek en rapport uitgebring. Die verslag is op 23 Oktober 1857 in behandeling geneem en die Sinode het die afstigting goedgekeur. Op 6 Januarie 1858 is die NG gemeente Riebeek-Wes gestig deur 'n sinodale kommissie bestaande uit ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl, oudl. O.J. Truter, Hollandse konsul in Kaapstad, en dr. S.P. Heyns, predikant van Kaapstad.
Hierdie korte oorsig van die gemeente Riebeek-Wes is nodig, daanegsien daardie gemeente en die gemeente Riebeek-Kasteel onafskeidelik aanmekaar verbind was, soos ook blyk uit 'n voorstel van oudl. J.A. Loubser om aan die kerkraad van Swartland mee te deel dat ds. J.C. Moorrees van Swartland die gewoonte het om sonder verlof van die kerkraad van Riebeek-Wes op Riebeek-Kasteel diens te hou, en die kerkraad versoek om dit te belet aangesien Riebeek-Kasteel deel was van die gemeente Riebeek-Wes. Aangesien ds. Moorrees geweier het om die kerkraad van Riebeek-Wes te ontmoet, het genoemde kerkraad die saak voor die Ring van Tulbagh gebring en die Ring het besluit dat ds. Moorrees die reg het om daar diens te hou. Die afgevaardigdes van Riebeek-Wes het kennis gegee dat hul hulle in appèl op die sinodale kommissie sou beroep. Later het die kerkraad besluit om die kennisgewing van appèl terug te trek, en dit blyk dat ds. Moorrees opgehou het om dienste op Riebeek-Kasteel te hou, want kort hierop het die direkteure van die hulpkerk gevra dat die Ring bepaal dat ds. J.C. Moorrees vier Sondae in die jaar op Riebeek-Kasteel moet diens hou. Volgens die ou notule boek van die hulpkerk het ds. Moorrees gereeld gekom, en die versoek was om by geleentheid van gevraagde vier besoeke die Nagmaal te bedien.
Aanloop tot stigting duimnael|regs|300px|Die eerste kerk (hulpkerk) op Riebeek-Kasteel is op 4 Mei 1856 (volgens Ons gemeentelike feesalbum 5 Mei, wat onwaarskynlik is aangesien dit 'n Maandag was) ingewy. Nadat die nuwe kerk ingewy is in 1915 (op 12 of 13 Januarie), is die ou kerk tot minstens omstreeks 1940 as kerksaal gebruik, al meld Die Burger omstreeks 2000 dit het vanaf 1915 40 jaar lank as pakskuur vir boumateriaal gedien. Die oud-Springbok Piet du Toit het die ou kerkgebou in 1988 aan die dorp geskenk, waarna die museumkomitee die gehawende gebou herstel en verbeter het teen 'n koste van R75 000. Van 1989 af het dit as museum gedoen en in 1991 is dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
duimnael|links|300px|Die vorige kerkie huisves nou die dorpsmuseum.
Ten spyte van die stigting van Riebeek-Wes en die gemeente aldaar – wat in 1858 'n selfstandige gemeente geword het – het plaaslike lede met die aanbou van 'n hulpkerk volgehou, en hoewel die kerk nog nie voltooi was nie, is dit Sondag 4 Mei 1856 ingewy onder die direkte verklaring dat die kerkraad van Malmesbury dit nie as presedent wil beskou hê dat daar in die toekoms op Sondae deur die leraar sal diens gehou word nie, maar wel af en toe dan in die week volgens die oorspronklike bestemming van die kerk. Benewens ds. Moorrees was teenwoordig 'n deputasie uit die Swartlandse kerkraad – omdat op Riebeek-Kasteel indertyd geen dienende kerkraadslede was nie – en ds. A.F. du Toit van Wellington.
By geleentheid is die doop bedien aan 'n dogter van die heer S.W. van der Merwe en in die namiddag het ds. Du Toit die diens waargeneem. Op versoek van die lede hier het die kerkraad besluit dat in die toekoms elke eerste Woensdag in die maand diens in die hulpkerk gehou sou word. Op 25 April 1857 het die direksie vergader en besluit om voortaan te vergader elke Vrydag voor die Nagmaalsbediening en dat die heer P. van Santen 'n lys sou hou en gawes sou ontvang vir 'n preekstoel. Op 19 Desember 1857 het die direksie besluit om met die aanbou van 'n konsistoriekamer te begin en om aan die Swartlandse kerkraad te vra om plaaslike kerkraadslede aan te stel. In Oktober 1858 is die kerk op Malmesbury afgebreek en vergroot. Die susters van die hulpkerk het dus die kerkraad gevra om aan hulle, ingeval 'n nuwe preekstoel aangeskaf word, die oue teen 'n billike prys te verkoop, vir gebruik in die hulpkerk. In antwoord hierop is die preekstoel as geskenk aan die hulpkerk gegee. Die versoek om die ou preekstoel van die gemeente Swartland aan te koop vir die hulpkerk op Riebeek-Kasteel is onderteken deur die volgende susters: Elizabeth Walters (née du Toit), Magdalena le Roux (née Hamman), Magdalena Booysen (née Reyneke), wed. J.H. Redelinghuys (née Hamman) en Wilhelmina van Santen (née Walters).
Op 14 November 1858 het drie kinders – H.J.F. Redelinghuys, P. van Santen en H.P. Walters – aan ds. Moorrees 'n Bybel oorhandig vir gebruik op die preekstoel van die hulpkerk. Op 26 Desember 1858 is die eerste Nagmaal hier bedien deur ds. Moorrees (daarna is dit gereeld gedoen) en die dag daarna is die eerste huwelik voltrek, en wel tussen Matthys Machiel Adriaan Basson en ’n nooi De Vlaming (voornaam vergete). In Julie 1860 het die direksie 'n stuk grond met fonteine daarop van B.G. Booysen gekoop vir 9 000 Kaapse gulde en in Oktober het N. Walters van Twist nog 'n stuk grond aan die direksie gegee op voorwaarde dat hulle die geld vind vir die koopskat van die grond van B.G. Booysen.
Gemeentestigting In Oktober 1862 is 'n versoek aan die Sinodale Vergadering gerig om 'n afsonderlike gemeente hier te stig. 'n Kommissie van ondersoek is aangestel en in Augustus 1863 het sy haar rapport ingedien, na aanleiding waarvan in Oktober 1863 die gemeente Riebeek-Kasteel afgestig is van die Swartlandse gemeente (Malmesbury met ds. J.C. Moorrees as konsulent. In Desember is die eerste kerkraadslede, deur die Ringskommissie benoem, deur ds. J.C. Moorrees aan die gemeente voorgestel, naamlik as ouderlinge: N. Walters en D.S. le Roux. As diakens: J.P. Maree, J.P. Louw, C.J. Grobbelaar en S.J. van der Merwe.
Uit die notule van die vergaderings van die kommissie wat hulle beywer het vir die stigting van 'n hulpkerk op Riebeek-Kasteel blyk dit duidelik dat die voorstanders die volgende was: J.H. Redelinghuys, J.P. Maree, P. van Santen, C. Grobbelaar, H.P. Walters, M.G. Smuts, J.N. Redelinghuys, A.A. Smit, N. Walters, S.W. van der Merwe, D.S. le Roux, H. de Waal, J.J. le Roux, P. Jordaan, B. Booysen en M. Reyneke.
Vroeë konsulente
regs|180px|duimnael|Ds. A.J. Louw, Riebeek-Kasteel se konsulent van 1885 tot 1888.
duimnael|links|270px|Ds. en mev. G.J. Hugo, Riebeek-Kasteel se konsulent van 1895 tot 1903.
duimnael|180px|regs|Ds. G.S. Malan, konsulent van 1903 tot 1911.
duimnael|links|160px|Ds. Jacobus van Huyssteen, van 1911 tot 1930 die gemeente se konsulent.
duimnael|regs|270px|Ds. G.P. van den Berg was die konsulent van 1931 af.
As konsulent is aangestel ds. J.C. Moorrees van Swartland en hy het dit gebly tot Junie 1881 toe hy sy emeritaat aanvaar het. Hoewel die gemeente Riebeek-Kasteel selfstandig geword het, is daar geen beroep uitgebring voor Oktober 1880 nie en gedurende al dié jare het ds. Moorrees gereeld elke drie maande hier diens gehou en die sakramente bedien. By geleenthede is die kerkraadsvergaderings gehou en ds. Moorrees het self die notule gehou. Hoewel die notule geen melding daarvan maak dat die direksie van die hulpkerk opgehef is nie, is dit tog duidelik dat dit gedoen is en dat alle kerkboeke, dokumente, ens. in hande van die kerkraad gekom het.
Ná die dood van ds. Moorrees het die predikante van Riebeek-Wes hier as konsulente gedien. Die eerste konsulent, ds. J.C. Moorrees is op 24 Augustus 1807 in Kaapstad gebore en daar het hy sy eerste onderwys ontvang. Sy teologiese opleiding het hy in Utrecht, Holland, ontvang. In September 1833 is hy aan die Kaap gelegitimeer en kort daarop is hy aangestel as predikant van Swartland en in Februarie 1834 deur dr. Abraham Faure van Kaapstad bevestig. In Junie 1881 het hy om gesondheidsredes van sy gemeente afskeid geneem, dog hy het in die ou pastorie bly woon, waar hy in Junie 1885 ontslaap het.
Ds. A.J. Louw was konsulent van die gemeente tydens sy ampsbediening op Riebeek-Wes (1885–’88). Hy is in Januarie 1859 in Paarl gebore. Nadat hy sy teologiese opleiding aan die Teologiese Seminarie op Stellenbosch voltooi het, is hy gelegitimeer en na Riebeek-Wes beroep, waar hy deur sy swaer prof. N.J. Hofmeyr bevestig is. (Sewe van ds. Louw se swaers was predikant in die NG Kerk en 'n broerskind, Wynand Louw, die eerste Afrikaanse argitek.)
Ds. C.D. Bam, opvolger van ds. Louw was die volgende konsulent. Hy is in Desember 1856 op Stellenbosch gebore. Nadat hy in 1876 die matrikulasie-eksamen daar afgelê het, het hy hom tot 1884 aan die onderwys gewy. In 1888 het hy sy teologiese studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voltooi en in 1889 is hy op Riebeek-Wes georden en bevestig deur ds. C. Rabie van Swartland. In 1894 het ds. Bam Riebeek-Wes verlaat en nadat hy nog enige gemeentes bedien het, het hy in 1920 sy emeritaat aanvaar en hom metterwoon in Noorder-Paarl gevestig.
Van 1895 tot 1903 het ds. G.J. Hugo van Riebeek-Wes hierdie gemeente as konsulent gedien. Ds. Hugo is in 1864 in Daljosafat, Wellington, gebore. Nadat hy die matrikulasie-eksamen daar afgelê het, is hy aan die Kweekskool op Stellenbosch vir die evangelie-bediening opgelei. Hy is in 1889 gelegitimeer en het agtereenvolgens op Sutherland, Riebeek-Wes, Vredenburg, Colesberg, Tulbagh, Porterville en Vandermerwe (Bonnievale) gearbei. Hy het die Kerk jare lank as moderator gedien. Nadat hy sy emeritaat aanvaar het, is hy onverwags en skielik oorlede aan Die Strand, waar hy, ná sy tweede huwelik, vir sy wittebroodsdae gegaan het.