duimnael|links|240px|Die Gereformeerde kerk Lydenburg. Ds. N. Malan het die hoeksteen gelê op 24 Februarie 1962. Die argitek was Hendrik Vermooten. duimnael|300px|Die kerkgebou wat in gebruik was van 1886 tot 1961.

duimnael|regs|300px|Ds. G.H.J. Kruger was in 1902 as student aan die Teologiese Skool Burgersdorp leier van die “Vioolband”. Hy sit in die middel, tweede van links. Voor: D.J. du Plessis, L. du Plessis. Middel: A. Pienaar, G.H.J. Kruger (dirigent), J. du Plessis (pianiste), J.J.A. Coetsee, H.J.J. van der Walt. Agter: N. van der Walt, J.C. van der Walt, P. Lion Cachet en J. Buys.

Die Gereformeerde kerk Lydenburg is die oudste gemeente in die gelyknamige Klassis van die GKSA. Einde 2015 toe hier 240 belydende en 82 dooplidmate was, was dit die vierde grootste van die 16 gemeentes in die Klassis. Buiten die hoofdorp, Lydenburg, sluit die gemeente ook dorpe soos Burgersfort, Ohrigstad en Steelpoort in.

Ds. Dirk Postma, die grondlegger van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, het die gemeente Lydenburg in Augustus 1859 gestig, net ses maande ná die eerste gemeente, Rustenburg. Op 5 Junie 1886 is die hoeksteen van die eerste kerkgebou gelê wat 20 m lank en 6,5 m breed was. Dit is op 29 Oktober daardie jaar ingewy. Later is hierdie gebou vergroot met die aanbou van ’n syvleuel. Die oorspronklike muurbalke is met osrieme vasgebind.

Die kerkraad het reeds in die 1930’s die begeerte uitgespreek om ’n nuwe kerkgebou op terig en in 1943 is £150 in ’n afsonderlike boufonds gestort. Nadat ds. Nico Malan in 1955 bevestig is, het die planne om ’n nuwe kerk op te rig vorm begin aanneem. Die vrouelidmate het ywerig pannekoek en koeksisters vir die boufonds gebak terwyl spesiale kollektelyste in die gemeente gesirkuleer is.

Ten spyte van dié geesdrif was daar verdeelheid onder die lidmate oor waar die kerk gebou moes word. Omdat pres. Paul Kruger, ’n stoere lidmaat van die Gereformeerde Kerk, die grond geskenk het waarop die bestaan kerk gebou is, het sommige lidmate sterk gevoel die nuwe kerk moes ook daar opgerig word. Dit het daartoe gelei dat eers op 25 September 1961 tydens ’n gemeentevergadering besluit is om die kerk dan wel elders op te rig. Die ou gebou sou gesloop word, soos alte dikwels destyds die gebruik was, terwyl net die orrel en preekstoel behou sou word en die meeste kerkbanke aan die sendingkerk geskenk sou word.

Nelspruit 1201 Bouers se tender van £35 9850 is aanvaar en die plan van die argitek Hendrik Vermooten goedgekeur. Die hoeksteenlegging is gehou op 24 Februarie 1962 en op 18 Augustus 1962 kon die gemeente haar nuwe kerkgebou in gebruik neem toe boodskappe van gelukwensing oorgedra is deur verteenwoordigers van plaaslike kerke en die dorpsraad. Die argitek, Vermooten, het die sleutels aan mev. ds. Malan oorhandig wat die gebou oopgesluit het. Theunis du Plessis het die Kanselbybel die kerk binnegedra. Met die ingebruikneming was die gebou amper reeds ten volle betaal terwyl die vrouelidmate vir die orrel betaal het.

Predikante Coetsee, Maarten Petrus Albertus, 1889–1903 (in kombinasie met Wakkerstroom; aanvaar sy emeritaat) Kruger, Gert Hendrik Jacobus, 1903–1905 (in kombinasie) Postma, Ammi, 1928–1940 (in kombinasie) Van der Walt, Dirk Jacobus, 1942–1944 (in kombinasie) Van der Walt, Johannes Christiaan, 1945–1949 Lessing, Johannes Christiaan, 1951–1953 Malan, Nicolas Johannes, 1955–1963 Van der Walt, Philippus Johannes Jacobus, 1963–1969 Buys, Gert Hendrikus, 1970–1975 Van der Merwe, dr. Carel Nicolaas, 1975–1982 Ten Haaf, Wouter, 1982–1992 (aanvaar sy emeritaat) Van Dyk, Philippus Daniël, 1992–2001 Steyn, Abel Hendrik, 2001 – hede

Galery

Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika