Die kuns van Antieke Griekeland het ’n groot invloed op die kultuur van baie lande regoor die wêreld gehad, veral op die gebied van beeldhouwerk en argitektuur. In die Weste is die kuns van die Romeinse Ryk grootliks van die Griekse model afgelei. In die Ooste het Alexander die Grote se verowerings etlike eeue van wisselwerking tussen die kulture van Griekeland, Sentraal-Asië en Indië tot gevolg gehad, wat gelei het tot Grieks-Boeddhistiese kuns, met implikasies tot in Japan. Ná die Renaissance in Europa, het die humanistiese estetika en die hoë tegniese standaarde van Griekse kuns geslagte van Europese kunstenaars geïnspireer. Tot diep in die 19de eeu het die klassieke tradisie afkomstig uit Griekeland die kuns van die westerse wêreld oorheers.

Die kuns van Antieke Griekeland word gewoonlik stilisties in vier tydperke verdeel: die Geometriese, Argaïese, Klassieke en die Hellenistiese. Die Geometriese tydperk word gewoonlik gereken vanaf ongeveer 1000 v.C. Hoewel daar in werklikheid min bekend is oor kuns in Griekeland gedurende die voorafgaande 200 jaar (wat tradisioneel bekend staan as die Griekse Donker Eeue), het die tydperk vanaf die 7de eeu v.C. die stadige ontwikkeling gesien van die Argaïese styl, soos toegelig deur swartfiguurstyl van vaasskilderkuns. Die aanvang van die Persiese oorloë (480 v.C. tot 448 v.C.) word gewoonlik beskou as die skeidslyn tussen die Argaïese en Klassieke tydperk, en die heerskappy van Alexander die Grote (336 v.C. tot 323 v.C.) word beskou as die skeiding tussen die Klassieke en Hellenistiese tydperk.

Daar was in werklikheid geen waarneembare oorgang van die een tydperk na die ander nie. Kunsvorme het in verskillende dele van die Griekse wêreld teen verskillende tempos ontwikkel, en soos in enige tydperk het party kunstenaars in meer innoverende style as ander gewerk. Sterk plaaslike tradisies, konserwatief van aard, en die vereistes van plaaslike kultusse, het geskiedkundiges in staat gestel om die oorsprong selfs van verplaaste kunswerke vas te stel.

Erdewerk Die Antieke Grieke het erdeware vir daaglikse gebruik gemaak, nie vir die vertoon nie. ’n Uitsondering daarop is die trofeë wat by wedstryde gewen is, soos die Panatheneïese amfore (wynhouers). Die meeste erdewerk wat behoue gebly het, bestaan uit drinkhouers soos amfore, kraters (bakke om wyn en water in te meng), hydriae (waterbakke), bakke vir drankoffers, bekers en koppies. Geverfde begrafniskruike is ook gevind. Miniature is ook in groot getalle gemaak, hoofsaaklik vir gebruik as offers by tempels. Gedurende die Hellenistiese tydperk is ’n groter verskeidenheid erdewerk gemaak, maar die meeste daarvan is van min belang op kunsgebied.

Aan die einde van die Geometriese fase is die abstrakte geometriese ontwerpe gedurende die Oriëntaliserende fase van vaasskilderkuns vervang deur die meer geronde, realistiese vorme van Oosterse motiewe, soos die lotus, palmet, leeu en sfinks. Versiering het meer en komplekser geword.

In vroeëre tydperke het selfs betreklik klein Griekse stede erdewerk vir hulleself vervaardig. Dit het grootliks verskil in styl en standaarde. Kenmerkende erdewerk wat as kuns beskou kan word, is in party van die Egeïese eilande, in Kreta en in die ryk Griekse kolonies van Suid-Italië en Sisilië vervaardig. Teen die latere Argaïese en vroeë Klassieke tydperk het die twee groot handelsmoondhede, Korinthe en Athene, egter oorheersend geword. Hulle erdewerk is na die hele Griekse wêreld uitgevoer en het die plaaslike variëteite verdring. Potte van Korinthe en Athene is tot in Spanje en Oekraïne gevind en is so algemeen in Italië dat hulle aanvanklik in die 18de eeu as "Etruskiese vase" beskou is. Baie van hierdie potte is massageproduseerde produkte van lae gehalte. Trouens, teen die 5de eeu v.C. het erdewerk ’n bedryf geword en was vaaskilderkuns nie meer ’n belangrike kunsvorm nie.

Die geskiedenis van Antieke Griekse erdewerk word stilisties in vyf tydperke verdeel: die Protogeometriese tydperk vanaf ongeveer 1050 v.C. die Geometriese tydperk vanaf ongeveer 900 v.C. die Laat-Geometriese of Argaïese tydperk vanaf ongeveer 750 v.C. die Swartfiguurtydperk vanaf die vroeë 7de eeu v.C. en die Rooifiguurtydperk vanaf ongeveer 530 v.C. Die verskeidenheid kleure wat op potte gebruik kon word, is beperk deur die tegnologie van die brandproses: swart, wit, rooi en geel was die algemeenste. Tydens die drie vroeëre tydperke is potte in hulle natuurlike ligte kleur gelaat en is dit met slib versier wat in die oond swart geword het.

Die ten volle ontwikkelde swartfiguurtegniek, met rooi en wit detail bygevoeg en snywerk vir buitelyne en detail, het gedurende die vroeë 7de eeu v.C. in Korinthe ontstaan en is omtrent ’n geslag later in Attika ingevoer. Dit het tot die einde van die 6de eeu v.C. gefloreer. Die rooifiguurtegniek, wat in ongeveer 530 v.C. uitgevind is, het hierdie tradisie omgekeer. Die potte is swart geverf en die figure is in rooi geverf. Rooifiguurvase het die swartfiguurstyl geleidelik vervang. Soms is groter houers gegraveer sowel as geverf.

Gedurende die Protogeometriese en Geometriese tydperk is Griekse erdewerk met abstrakte ontwerpe versier. In latere tydperke, namate die kunssin verander het en die tegniese vaardigheid van pottebakkers verbeter het, het versierings die vorm van mensefigure aangeneem, en het dit gewoonlik die gode of die helde van Griekse geskiedenis en mitologie uitgebeeld. Oorlog- of jagtonele was ook gewild, aangesien die perd, wat deur die Grieke hooggeag is, daarin verskyn het. In latere tydperke het erotiese temas algemeen geword.

Griekse erdewerk is gewoonlik onderteken, soms deur die pottebakker of die meester van die pottebakkery, maar selde deur die skilder. Honderde skilders kan egter uitgeken word aan hulle kunstige persoonlikheid: waar hulle handtekening nie oorleef het nie, word hulle onthou weens hulle keuse van onderwerp, soos "die Achilles-skilder", weens die pottebakker vir wie hulle gewerk het, soos die Laat-Argaïese "Kleofrades-skilder", of selfs weens hulle hedendaagse ligging, soos die Laat-Argaïese "Berlyn-skilder".

regs|duimnael|116x116px|Die Vix-krater, ’n laat-Argaïese monumentale bronshouer

Metaalhouers Veral gedurende die Geometriese en Argaïese fases was die produksie van groot metaalhouers ’n belangrike uitdrukking van Griekse kreatiwiteit en ’n belangrike stadium in die ontwikkeling van bronswerktegnieke, soos gietwerk en bosseleerwerk. Vroeë heiligdomme, veral Olimpia, het honderde van hierdie houers opgelewer, wat as dankoffers daar geplaas is. Hoewel groot metaalhouers gedurende die Argaïese en Klassieke tydperk minder belangrik geword het, is daar nie heeltemal opgehou om hulle te maak nie. Die Vix-krater is ’n beroemde voorbeeld wat uit c. 530 v.C. dateer.

Beeldjies

Terracottabeeldjies regs|duimnael|180px|Klokafgod, 7de eeu v.C., Louvre Klei is ’n materiaal wat dikwels gebruik is om dankofferbeeldjies te maak, van lank voor die Minoïese beskawing tot die Hellenistiese tydperk en daarna. Gedurende die 8ste eeu v.C. vind ’n mens in Beosië vervaardigde "Klokafgode", vroulike beeldjies met beweegbare bene: die kop, klein in vergelyking met die res van die liggaam, is bo-op ’n lang nek, terwyl die liggaam baie vol, in die vorm van ’n klok is. Aan die begin van die 8ste eeu v.C. ontvang grafte wat as dié van helde bekend staan, honderde, selfs duisende, klein beeldjies met eenvoudige versiering, wat gewoonlik karakters uitgebeeld het met opgehefte arms, d.w.s. karakters wat vergoddelik word.

In latere tydperke het die terracottabeeldjies hulle godsdienstige aard verloor en daarna karakters uit die daaglikse lewe voorgestel. Vanaf die 4de en 3de eeu v.C. toon ’n soort wat as Tanagra-beeldjies bekend staan ’n mate van verfyning. Tanagra-beeldjies behou dikwels baie oorblyfsels van verf op die oppervlak. Terselfdertyd het stede soos Alexandrië, Smirna of Tarsus ’n oorvloed groteske beeldjies opgelewer, wat mense uitgebeeld het met misvormde ledemate, uitpeuloë en in verwronge liggaamsposisies. Sulke beeldjies is ook van brons gemaak.

Metaalbeeldjies regs|duimnael|100px|8ste-eeuse v.C. dankofferperd uit Olimpia (Louvre) Beeldjies van metaal, hoofsaaklik brons, is besonder algemeen by vroeë Griekse heiligdomme soos Olimpia, waar duisende sulke voorwerpe, wat meestal diere uitbeeld, gevind is. Hulle is gewoonlik geproduseer met behulp van die verlorewastegniek en kan gereken word as die vroeë stadium van die ontwikkeling van Griekse bronsbeeldhoukuns. Die algemeenste onderwerpe gedurende die Geometriese periode was perde en bokke, maar honde, beeste en ander diere is ook uitgebeeld. Menslike figure kom soms voor. Die produksie van klein dankofferbeeldjies van metaal het deur die hele Griekse antieke tyd voortgeduur. Gedurende die Klassieke en Hellenistiese tydperk het meer ingewikkelde brons beeldjies, wat nou verband hou met monumentale beeldhoukuns, ook algemeen geword.

Monumentale beeldhoukuns Beoefenaars van die visuele kunste, insluitende beeldhoukuns, is nie in antieke Griekeland hooggeag nie en bloot as arbeiders beskou. Plutarchus (Lewe van Perikles, II) het gesê: "Ons bewonder die kunswerk, maar verag die skepper daarvan." Dit was ’n algemene beskouing in die antieke wêreld. Antieke Griekse kuns word vandag dikwels in drie tydvakke ingedeel: "Argaïes", "Klassiek" en "Hellenisties".

Materiale, vorme Antieke Griekse beeldhouwerke is meestal van twee soorte materiaal gemaak. Klip, veral marmer of ander duursame kalkstene, is gebruik en met die hand deur middel van metaalgereedskap gekerf. Klipbeeldhouwerke kon vrystaande wees, of was slegs gedeeltelik gekerfde reliëfs wat nog aan 'n agtergrondplaat vas was, byvoorbeeld in argitektoniese friese of grafsteles.

Bronsstandbeelde het hoër status geniet, maar baie minder daarvan het behoue gebly weens die herbruikbaarheid van die metaal. Hulle is gewoonlik deur middel van die verlorewastegniek vervaardig. Chryselefantyn-, of goud-en-ivoor-, standbeelde was dikwels in tempels en is as die hoogste vorm van die beeldhoukuns beskou, maar bykans geen daarvan het behoue gebly nie. duimnael|150px|Laat-Argaïese terracottastandbeeld van Zeus en Ganimedes, Argeologiese Museum van Olimpia Terracotta is gewoonlik vir groot standbeelde gebruik. Min voorbeelde hiervan het behoue gebly, waarskynlik weens die breekbaarheid van hierdie standbeelde. Die beste bekende uitsondering hierop is 'n standbeeld van Zeus wat Ganimedes dra en by Olimpia gevind is, wat uit ongeveer 470 v.C. dateer. In hierdie geval is die terracotta geverf.

Argaïes duimnael|299x299px|Kleobis en Biton, kouroi van die Argaïese tydperk, c. 580 v.C., by die Delfi- Argeologiese Museum Geïnspireer deur die monumentale klipbeeldhouwerk van Egipte en Mesopotamië het die Grieke gedurende die Argaïese tydperk beeldhouwerk in klip begin doen. Vrystaande figure deel die stabiliteit en frontale houding wat kenmerkend is van Oosterse modelle, maar hulle vorm is meer dinamies as dié in Egiptiese beeldhouwerk, soos byvoorbeeld die Dame van Auxerre en die Torso van Hera (Vroeg-Argaïese tydperk, c. 660-580 v.C., albei in die Louvre, Parys). Ná ongeveer 575 v.C. het figure soos dié, manlik sowel as vroulik, die sogenoemde argaïese glimlag gehad. Hierdie uitdrukking, wat nie noodwendig gepas het by die persoon of situasie wat uitgebeeld is nie, was moontlik 'n manier om die figure 'n kenmerkende menslike eienskap te gee.