duimnael|regs|170px|Ds. Johan van Ryssen, die leraar van 1960 tot 1968.

Die Gereformeerde kerk Potgietersrus is die oudste gemeente van die GKSA op die dorp Mokopane in Limpopo en die derde oudste van die 25 gemeentes in die Klassis Limpopo. Einde 2024 het Potgietersrus 209 belydende en 45 dooplidmate gehad vir ’n sieletal van 254.

Oorsig duimnael|links|250px|Die kerkgebou, afgeneem in 1958. Dis in gebruik geneem op 9 November 1953. Die argitek was Hendrik Vermooten en die bouaannemer Frikkie van Deventer, 'n lidmaat van die gemeente.

Op die Gereformeerde kerk Waterberg (gestig in 1859 op Nylstroom) se kerkraadsvergadering van 23 Desember 1923 is besluit om aan te beveel dat die gemeente in twee gesny word ingevolge die toe nuwe grense van die distrikte Waterberg en Potgietersrus. So sou daar ook ’n gemeente op Potgietersrus tot stand kom, maar albei gemeentes sou nog deur ’n enkele predikant bedien word. Die voorneme was dat Waterberg sowel as Potgietersrus elkeen sy eie, doelmatige kerk sou oprig.

Op ’n gemeentevergadering op 27 April 1927 is toe besluit om van Waterberg af te stig. Nadat die Klassis toestemming verleen het, het die kerkraad op sy vergadering op 19 Januarie 1928 besluit die afstigting sou plaasvind tydens die Nagmaalnaweek van 3 en 4 Maart 1928 en dat die nuwe gemeente se naam Piet Potgietersrus sou wees, soos die plaaslike moedergemeente van die NG Kerk trouens vandag (2016) nog bekendstaan, net vas geskryf. Op 3 Maart het die gemeente dan ook plegtig onder leiding van ds. H.J. Venter afgestig met ’n lidmaattal van 195 belydende lede.

Eerste kerkgebou duimnael|regs|210px|Die kerkgebou, 2016.

Die kerkraad het dadelik besluit om ’n boukommissie aan te wys met die oog op ’n eie kerkgebou. Die gemeente het reeds ’n erf besit, maar dit van die hand gesit om ’n beter geleë dubbele erf elders op die dorp te koop. Die boukoste is vasgestel op £350 en die gebou sou 25 x 40 voet groot wees, volgens die kerkraad se bepaling, maar die boukommissie het dit vergroot tot 30 x 48 voet. Die Gereformeerde kerk Waterberg het sy ou preekstoel aan Piet Potgietersrus geskenk. Hierdie eerste kerk is plegtig op 9 Augustus 1931 in gebruik geneem en het altesaam £3 550 gekos, die banke ingesluit.

Tweede kerkgebou Aanvanklik het die gemeente van kombinasiebediening gebruik gemaak (wanneer ’n gemeente ’n predikant beroep in samewerking met een of meer ander gemeentes en die leraar dan sy tyd verdeel tussen die gemeentes). Eers in Januarie 1950 het die kerkraad sy weg oopgesien om selfstandig te beroep, en wel in die persoon van ds. G.B.S. Pasch, wat die gemeente bedien het tot hy op 9 Februarie 1960 in die amp oorlede is. Dit was in sy tyd dat die kerkraad besluit het om ’n nuwe kerkgebou op te rig. Dit is op 8 November 1952 ingewy en is vandag nog die gemeente se kerkgebou. Die voorkoms is tipies van die tallose kerke wat die Pretoriase argitek Hendrik Vermooten destyds ontwerp het.

Afstigtings Buitedienste is soms op plekke soos Roedtan, Saaiplaas en Limburg gehou. Eers is oorweeg om die Roedtan-wyke af te stig en ’n stuk grond is selfs vir die bou van ’n kerk daar geskenk en ’n plan opgestel vir so ’n gebou, maar later is die hele voorneme laat vaar. In 1937 het die Gereformeerde kerk Koedoesrand wel afgestig en so ook die Gereformeerde kerk Naboomspruit in 1957. Eindelik het ook die Gereformeerde kerk Potgietersrus-Wes op Mokopane self in Mei 1974 aan die beurt gekom, maar dié gemeente, wat einde 2015 ’n sieletal van net 173 gehad het, gebruik vandag nog die moedergemeente se kerk vir sy byeenkomste.

Stigting regs|320px|duimnael|Hierdie skoolportret is in die tyd van die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) in die omgewing van die latere Gereformeerde kerk Potgietersrus geneem. Die meester is Piet Steynberg. Hendrik de Beer, in 1959 lidmaat van die gemeente, sit tweede van links voor.

In 1959, met die eeufeesviering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, het ds. G.B.S. Pasch soos volg geskryf oor dié gemeente, waarvan hy die leraar was van 1950 tot 1960: “Aan die begin van 1958 was die Gereformeerde Kerk, Potgietersrus, dertig jaar oud! In die moeilike en beproewingsvolle jare van depressie en worsteling om die tydelike dinge, het die geloofsbegeerte gegroei by lidmate en ouderlinge én diakens om hier op Potgietersrus 'n eie kerk te hê met Woord- en Sakramentsbediening! Dit sou Woord en Sakramente nader bring aan 'n groeiende lidmaattal en dit sou die sterker moontlikheid daarstel om in die toekoms 'n selfstandige kerk te word met 'n eie herder en leraar.”

Die gebied wat die kerk van Waterberg, gestig in 1859, omspan het, was groot en die arbeidsterrein van sy predikant nog groter omdat by die gewone bediening ook nog dikwels konsulentsbediening van veraf kerke bygekom het. Met die daarstelling van nog 'n kerk, naamlik Potgietersrus, onder bediening van ds. H.J. Venter, het sy werk enersyds vermeerder, maar andersyds het die vooruitsig tot meerdere bediening sterker geword: 'n Nuwe kerk vra weldra 'n nuwe predikant!

In dié gees en in die geloofsvooruitsig het die afstigting van die Gereformeerde kerk Pietpotgietersrust plaasgevind op 4 Maart 1928 op Potgietersrus. Ds. Pasch skryf in 1959: “Op hierdie dag het 'n dankbare dogter van die moeder, Waterberg, afskeid geneem en die eerste spore getrap op die weg wat nou reeds dertig jaar diep en lank lê! Waterberg! Kerk van Waterberg! Honderd jaar lê bykans vir dié kerk agter die rug. Honderd jaar van heilige bemoeienis en mildadige onderhouding deur die Here, onse God. Gedrywe deur die Heilige Gees van God het die kerkherstigter, ds. Dirk Postma, in die stigtingsjaar van ons kerk op Rustenburg, ook die kerk van Waterberg gestig! Die presiese datum van hierdie kerkstigting het verlore geraak onder die sware stapeling van baie en moeilike en strydvolle jare. Maar een ding staan vas: Honderd jaar gelede het ds. Dirk Postma hier die Woord verkondig, die Sakramente bedien, nadat hy die kerk gestig het. En van toe af was daar kenmerkende en eiesoortige groei. Nooit met groot, indrukwekkende spronge nie, maar met 'n rustige voortgang langs die weg wat toe byna die enigste was: geboortes, die ernstige nakoming van doopsbeloftes, aflegging van belydenis. Uit dié groei is ook Potgietersrus gebore!”

Nadat ds. J.A. van Rooy die eerste vaste predikant van die kerk van Waterberg geword het en oor die hele Noord-Transvaal sy spore diep getrap het, het verskeie ander predikante gedien tot ds. H.J. Venter in 1923 predikant van Waterberg geword het. Met harde arbeid en met groot opoffering het ds. Venter ook die wyke wat later die kerk van Potgietersrus sou uitmaak, bearbei. Sy arbeid en dié van ouderlinge en diakens van hierdie wyke is ryklik geseën.

Die eerste kerkraadsvergadering van die kerk van Waterberg waarop daar sprake was van afstigting, was op 23 Desember 1926. In Art. XXI staan in die half-Afrikaans, half-Hollands van destyds: “In verband met kerkbou besluit de kerkeraad om te adviseren de gemeente Waterberg in twee delen te snij, volgens de nieuwe distrikslynen, Waterberg en Potgietersrust zodat er ook een gemeente Potgietersrust komt, maar onder de bediening van een predikant. Waterberg kan dan een doelmatig gebou optrek en Potgietersrust ook een. De zaak zal in de gemeente voor gelegd worden en dan oorstaan tot e.k. vergadering in April 1927.”

In die volgende artikel van dieselfde notule is dan ook 'n kommissie benoem “om de afstichting en bou, doelmatig na te gaan en planne uit te werk.” Dié kommissie het bestaan uit: H.J. Swanepoel, A. Plomp sr., J.C. Smit, A. Heystek en Z. de Beer. So het die saak dan begin en daarna is die saak op byna elke kerkraadsvergadering genoem of behandel. So is op die volgende vergadering van 27 April rapport gedoen deur die kommissie. Die kommissie beveel afstigting aan. Dié verslag het die kerkraad aangeneem en besluit om dit aan die gemeente voor te lê.

Toe die saak voor die gemeente gebring word, was daar eenstemmigheid en staan daar in dieselfde notule: “Op voorstel J. Du P. de Beer en J.J. Prinsloo word na rijpe bespreking, in beginsel afstichting aangenomen en wel op de weg aangewys door de Kerkeraad." Die bogenoemde kommissie het ook aan die kerkraad voorgelê 'n konsep ooreenkoms tussen die twee gemeentes ná die afstigting van Potgietersrus. Hierdie konsep is voorgelê en is aangeteken in bogenoemde notule en in die eerste notule van die nuwe kerk, Potgietersrus.

In hierdie ooreenkoms is onder die volgende vasgestel: Eers is gepraat oor die wenslikheid van afstigting waaronder genoem word: (1) Die besondere grote afstande – ook vir die kerkraad. (2) Die noodsaaklikheid vir 'n groter kerkgebou, en die onwenslikheid om so 'n groot gebou op Nylstroom op te rig. (3) Beter bearbeiding. Verder is onder meer bepaal: (1) Die distriksgrenslyn tussen Waterberg en Potgietersrus sal ook wees die kerklike grenslyn tussen die twee gemeentes. (2) 12 Sondae in elke jaar sal aan die nuwe gemeente Woord en Sakramente bedien word deur die leraar. (3) Die bruidskat aan die nuwe gemeente is die bedrag van £250, benewens 'n erf wat reeds vroeër aan die gemeente van Waterberg op Potgietersrus geskenk is. Dan kom die finale beklinking van die saak op die vergadering van 1 Julie 1927 toe die kerkraad besluit om die Klassis te vra om die gemeente Potgietersrust af te stig.

Daarna het die toestemming van die Klassis plaasgevind en toe moes besluit word oor geskikte datum vir afstigting. In die notule van 19 Januarie 1928 staan: “Die eerskomende Nagmaal op Potgietersrust, wanneer de afstigting sal plaasvind op 4 Maart 1928. In verband daarmee moet twee deputate gevraag word van Pietersburg. Van Waterberg word verkies de leraar en oudl. H. Smit.” Met hierdie aanhaling word 'n algemene gangbare gedagte van vroeër in die Kerk ook in die Kerkalmanak reggestel dat die stigtingsdatum van die kerk op Potgietersrus nie in 1929 plaasgevind het nie, wel op 4 Maart 1928.

Ook blyk dit dat die naam van die nuwe kerk nie Potgietersrus is soos wat algemeen gebruik word nie, maar in die notule van 29 Maart 1928, Art. XIV staan die volgende: “Kommissie doet rapport over de afstigting van de nieuwe Gemeente Piet Potgietersrust.”

Hierna het die eerste gemeentevergadering van die nuwe kerk, Potgietersrus, op Saterdag 3 Maart 1928 plaasgevind. By die opening van hierdie geskiedkundige vergadering het ds. H.J. Venter Ps. 121:1 laat sing, in die ou Hollands: Sla d'oogen naar't gebergte heen, Van waar ik dag en nacht Des hoogsten bijstand wacht. Hy lees 1 Timotheus 3 handelende oor die ouderlinge en diakens en hulle pligte. Op die vergadering was as deputate teenwoordig: oudl. Jan Last van Pietersburg en H. Smit van Waterberg.

Tipies in die gees van die tyd is daar deur broeders uit die gemeente heelwat vrae gevra, vrae wat alles noukeurig deur die eerste skriba in die eerste notule aangeteken is. So wou mnr. H. Kruger graag weet “hoe sterk die gemeente omtrent is?” En dan gee die verskillende kerkraadslede sy wyk se getalle op wat opgetel die belydende lidmate se getal bring op 195. En toe H.G. Kruger voorstel, gesekondeer deur R. Scheepers, dat die afstigting nou 'n voldonge feit sal word, staan uitdruklik sat die naam van die nuwe gemeente volgens besluit is: Die Gereformeerde gemeente van Piet Potgietersrust.