Ray Alexander Simons (née Alexandrowich; 1913–2004) was 'n Suid-Afrikaanse aktivis, feminis en sosialis wat 'n beduidende rol in die organisering van swart vakbonde gespeel het.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Die ANC het die Isithwalandwe-prys in 2004 aan haar toegeken vir haar bydrae tot die vryheidstryd.Ray Alexander Simons, sahistory.org.za, besoek op 6 Januarie 2015

Beknopte biografie Rachel Esther Alexandrovich is op 12 Januarie 1913 in Letland gebore. Sy kom op 6 November 1929 as 15-jarige Joodse vlugteling in Suid-Afrika aan. Vyf dae later sluit sy by die Kommunistiese Party aan.

In 1937 trou sy met Eli Weinberg, maar hulle skei en sy trou in 1941 met prof. Jack Simons, 'n toegewyde kommunis en dosent in Afrika Studies.

Sy was verbind tot die opheffing van vroue en was 'n medestigter van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) in 1954 (saam met Helen Joseph, Lilian Ngoyi en Florence Mkhize). Sy het ook met die opstel van die Vrouemanifes, wat later in die Vryheidsmanifes opgeneem is, gehelp.

Simons word in 1952 deur die destydse regering ingeperk en wyk in 1965 na Zambië uit. In 1969 word sy en haar man (as die eerste blankes) genader om by die ANC aan te sluit. Sy het opleiding by Umkhonto we Sizwe, 'n deel van die ANC se militêre vleuel, in hulle vrouebataljon ontvang. Die omvang van haar betrokkenheid in die gewapende stryd is egter onbekend. In 1990 word sy en haar man die eerste politieke uitgewekenes om na Suid-Afrika terug te keer.

Sy was 'n medeskrywer aan die boek, Class and Colour in South Africa: 1850–1950,Class and Colour in South Africa 1850–1950 deur H. J. Simons, R. E. Simons, 'n ontleding van hoe klas en ras Suid-Afrika se politieke en maatskaplike landskap gevorm het.

Simons is op 12 September 2004, op 91-jarige ouderdom, oorlede.Belangwekkende dokument, Volksblad, 29 November 2005

Verwysings

Kategorie:Letlandse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse aktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse feministe Kategorie:Suid-Afrikaanse immigrante Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse vakbondleiers Kategorie:Kommuniste Kategorie:Geboortes in 1913 Kategorie:Sterftes in 2004