duimnael|links|280px|Die gemeente se kerkgebou in Oakdene. Die gemeente het behuising vir bejaardes rondom gebou en die Pres. Paul Kruger-tehuis aan 'n privaat skool verkoop.

duimnael|links|200px|Die gemeente het sy eredienste van 1976 tot 1980 in die Nederduitsch Hervormde kerk Johannesburg-Suid se gebou in Shirleyweg, Rewlatch, gehou. Die perseel waarop dié kerk gebou is, het eers behoort aan die NG gemeente Klipriviersberg, wat 'n kerksaal daarop gebou het.

duimnael|regs|170px|Ds. Schalk Buys, 1965 tot 1968.

duimnael|regs|170px|Ds. Lammert Stavast, leraar van 1986 tot 1991 in kombinasie met Johannesburg-Suid, waarna hy sy emeritaat aanvaar het.

Die Gereformeerde kerk Klipriviersberg was van 1964 tot 1997 ’n gemeente van die GKSA in die suide van Johannesburg met binne sy gemeentegrense voorstede soos Rosettenville, Rewlatch, Oakdene en Glenvista.

Stigting Lang gesprekke is in die vroeë sestigerjare in die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid gevoer oor die afstigting van ’n deel van die gemeente. Die uiteinde was die stigting van die Gereformeerde kerk Klipriviersberg op 19 November 1964. Destyds het die gemeente ’n sieletal van 400 gehad.

Kort ná afstigting het die gemeente vir eredienste bymekaargekom in die saal van die Laerskool W.H. Coetzer in Edgecombeweg, Klipriviersberg. Van Januarie 1976 af is die eredienste gehou in die Nederduitsch Hervormde gemeente Johannesburg-Suid se kerkgebou by Shirleyweg 15 en 17, Rewlatch. Maar praktiese probleme het daartoe gelei dat die reëling einde 1980 tot ’n einde moes kom. Vanaf Januarie 1981 was die gemeente dus terug in die skoolsaal.

Kerkbou Al het die gemeente reeds voor 1970 twee erwe van die Johannesburgse stadsraad aangekoop, het hulle nooit tot kerkbou oorgegaan nie. In 1975 is selfs aanbeveel om die erwe te verkoop en ’n kerk te huur, maar onderhandelings in 1980-'81 met die SDDS en die Johannesburgse stadsraad het daartoe gelei dat ’n kerk en pastorie gebou kon word op dieselfde erf waarop die Pres. Paul Kruger-kinderhuis geleë is. Danksy dié ontwikkeling kon die kerkraad en gemeente nuwe moed skep en eindelik, sowat 18 jaar ná sy stigting, ’n kerk bou en wel by Victoriastraat 62, Oakdene.

’n Gereformeerde lidmaat, André Venter, was die argitek en het ’n ronde, waaiervormige ontwerp voorgestel. Die bouwerk het op 18 Junie 1982 begin, maar dit het taamlik lank geduur. In die loop van 1983 het gemeentelede Saterdae hard gewerk om met die bouery te help. Van 1 Januarie 1984 af kon eredienste in die kerk gehou word, hoewel die amptelike inwyding eers op 8 September daardie jaar plaasgevind het. Dit bied sitplek aan 250 kerkgangers. Die gedenkplaat is onthul deur ds. R. Maré.

Die Gereformeerde Kerk se amptelike orgaan, Die Kerkblad, het op 12 September 1990 kleurfoto's van dié moderne gebou op sy voorblad geplaas.

Nadat die Gereformeerde kerk Klipriviersberg in 1997 ontbind het, het lidmate by die moedergemeente, Johannesburg-Suid, ingeskakel en dié gemeente het ook Klipriviersberg se kerkgebou oorgeneem omdat dit in ’n baie rustiger omgewing geleë is as die ou Johannesburg-Suid-kerk in Turffontein. Hulle orrel is ook oorgedra na die Klipriviersberg-kerk.

Predikante Buys, Schalk Petrus Bernardus, 1965 – 1968 Venter, Petrus Albertus, 1969 – 1971 Kruger, Tjaart Jan Jacobus, 1972 – 1975 Maré, Roelof, 1977 – 1982 Stavast, Lammert Hendrik, 1986 – 1991 (in kombinasie met Johannesburg-Suid; aanvaar sy emeritaat) Grobler, Johannes Hendrik, 1993 – 1996

Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Sien ook NG gemeente Johannesburg-Suid

Eksterne skakels Die kerkgebou in Victoriastraat, Oakdene, nou die tuiste van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid. URL besoek op 22 Desember 2015. Die kerkgebou van die Hervormde gemeente Johannesburg-Suid, waar Klipriviersberg 'n ruk lank byeengekom het vir eredienste. URL besoek op 22 Desember 2015.

Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika