duimnael|regs|240px|Die eerste Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal. Die argitek was Jan Koelewyn. Mev. ds. J.H. van Wyk het die tweede kerk se deure oopgesluit op 21 Mei 1972 nadat die hoeksteen onthul is op 14 November 1971. Die argiteksfirma was Colyn en Meiring se Jackie van der Lecq en ene Kieswetter.

Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in, soos die naam aandui, die middestad en omstreke van die Goudstad.

Weens die drastiese afname in die getal Gereformeerdes in die westelike, sentrale en oostelike gebiede van Johannesburg het die gemeentes Johannesburg-Sentraal, Johannesburg-Mayfair en Johannesburg-Oos in die stad se eeufeesjaar (1986) saamgesmelt as Johannesburg (herstig). Dié gemeente het in 1997 met Johannesburg-Noord saamgesmelt en tot 2003 as Johannesburg-Melville bekendgestaan, toe dit ontbind en deel geword het van Randburg-Oos, wat die volgende ingelyf is by Randburg.

Stigting duimnael|links|320px|Ds. C. Hattingh, van 1952 tot 1953 die eerste predikant (in kombinasie), en die kerkraad.

duimnael|regs|170px|Dr. Jan Harm (Amie) van Wyk, medeleraar van 1965 tot 1973.

duimnael|regs|170px|Ds. P.G. Geertsema, leraar van 1967 tot 1973.

Die gemeente is op Sondag 30 Maart 1952 van Johannesburg-Noord (met sy kerkgebou te h.v. Eerstelaan en Derdestraat, Melville) en -Wes (Putneyweg 35, Brixton) afgestig. Die gedagte was dat die Johannesburg-Sentraal deur middel van evangelisasie sou uitgroei tot ’n selfstandige gemeente. Die grense is so getrek dat dit die volgende stadsgebiede sou insluit: New Canada in die weste, Langlaagte, Crown Mines, Mayfair, Goedehoop, Vrededorp, die middestad (Braamfontein, Hillbrow, Doornfontein) en ver in die noorde, Norwood. In die middestad was Eloffstraat die grens.

Aanvanklik is eredienste op twee plekke gebou: die skoolsaal in Mayfair en in die ATKV-saal op die hoek van Eloff- en Wolmaransstraat, Braamfontein. Aan die begin was die opkoms maar swak, maar geleidelik het dit verbeter, veral toe Klassis Johannesburg besluit het dat die Mayfair-deel van die gemeente weer hul eredienste in die ou kerk van die gemeente Johannesburg-Mayfair in Brixtonweg, Brixton, kon hou. In die eerste Almanak waarin Johannesburg-Sentraal se gegewens aangedui word (1953), het die dooplidmate 80 getel en die belydende lidmate 206, maar volgens die eerste leraar, ds. C. Hattingh (1952–'53), wat die gemeente in kombinasie met Johannesburg-Mayfair bedien het, het die lidmate net 80 by afstigting einde Maart 1952 getel. Johannesburg-Mayfair was einde 1952 die naaskleinste gemeente in die klassis met ’n ledetal van 527, vergeleke met Johannesburg-Wes se 1 285 en –Noord se 1 035. Johannesburg-Mayfair is net die jaar vantevore, 1951, van Johannesburg-Wes afgestig nadat die grense tussen laasgenoemde en die ou Johannesburgse gemeente (gestig in 1896) in 1943 opgehef is en die saamgestelde gemeente agt jaar lank as Johannesburg-Johannesburg-Wes bekendgestaan het. Ná die skeiding het albei gemeentes egter hul oorspronklike stigtingsdatum teruggekry: 1896 en 1930.

Ds. Hattingh meld Johannesburg-Sentraal se gedenkblad van 1977: "Daar was ... groot vreugde toe ons daardie Sondagmiddag in die NG kerksaal (hy meld nie watter een nie) saamgekom het vir die afstigting. Prof. dr. B.J. de Klerk het die Woord by die geleentheid bedien. Veral sy gebed vir die kerk het ’n diep indruk gemaak. Die twee gemeentes wat so ontstaan het, het ’n kombinasie gesluit. Nou kon elke gemeente self beplan volgens die aard en behoefte. Evangelisasie was ons groot opdrag. Daaraan het ons dan ook baie aandag gegee ... maar nie ten koste van die bewaring van die kerk nie. Die lidmate is gereeld besoek ... selfs onder moeilike omstandighede ... Daar was nie genoeg ouderlinge nie. Ons het selfs ouderlinge probeer 'leen' van Johannesburg-Noord en ander naburige gemeentes. Dit beteken dat ouderlinge, wat uit die gemeente getrek het, vir ’n lang tyd voortgegaan het met hulle werk in die gemeente, natuurlik met die toestemming van die ander kerkrade."

Beginjare duimnael|links|170px|Ds. Christiaan Hattingh, Johannesburg se leraar van 1951 af en van die stigting van Johannesburg-Sentraal in 1952 tot 1953 ook van dié gemeente. Ander gemeentes het goed met Johannesburg-Sentraal saamgewerk omdat hulle die besonderse omstandighede van die gemeente begryp het. Daar was ’n tekort aan ampsdraers in die beginjare, skryf ds. Hattingh, maar dié wat daar was, het getrou gearbei. "Die gemeente was besonder geseënd om dr. W. Hovy as ouderling, skriba en kassier te kon gehad het. Hy was toe reeds diep in die 70, maar hy het met ’n entoesiasme gewerk wat aansteeklik was ... Oudl. Hovy wou die kerk, en daarmee die Evangelie, terughê in die middestad met die duisende woonstelle. Daarom is die grond in Hoofdstraat wat, volgens sy opinie, te ver van die sentrum van die stad geleë was en ook moeilik (bereikbaar) was, verkoop en is die grond in Lovedaystraat, met ’n ou losieshuis daarop, aangekoop."

Dié grond was nader aan die stasie en busdiens geleë. Ondanks die klein getal werkers het die gemeente onder ds. Hattingh se leiding evangelisasiewerk met mening aangepak. Hulle het woonstelblokke deurkruis op soek na "afgedwaaldes" – volgens die predikant die beste metode – om te gaan soek en persoonlik kontak te maak. Algaande het dié poging die Gereformeerde Kerk ál meer bekend gemaak in die middestad. Lidmate het meer gereeld kerk toe gekom en dikwels het belangstellendes ook eredienste bygewoon. Diegene is dadelik opgemerk en "opgevang", en sommige het later lidmate geword. Oudl. J. van Dyk het gereeld saans nuwe lidmate gaan besoek, want volgens ds. Hattingh kon ’n besoek in die middestad nie uitgestel word nie. Op inisiatief van oudl. Jaap Malan (vader van die Gereformeerde predikante dr. Chris Malan en ds. Peet Malan) is ’n kamer gehuur in die middestad wat ook as evangelisasiekantoor moes doen. Daarin het hy so te sê manalleen evangelisasielektuur afgerol, versprei en dikwels ook self geskryf.

Ds. Hattingh het in 1977 geskryf: "Die gemeentetjie was klein en sal seker ook so bly vanweë die gedurige wisseling. Dit het sy probleme maar ook sy uitdaging ... Onder die druk moes die kerkraad werk. Daar was nie tyd vir onderlinge krakeel nie. Ons moes worstel om kop bo water te hou en die lidmate bymekaar te hou."

Ds. Ph. Snyman, 1954–'55 duimnael|links|170px|Ds. Flippie Snyman, van 1954 tot 1955 die tweede leraar. Ds. Flippie Snyman, sy vrou en oudste kind, Wiida, het die pastorie by Dittonlaan 43, Auckland Park, in die winter van 1954 betrek. Skaars ’n maand later is hul twee kind, Danie, wat later predikant sou word, gebore. Ds. Snyman het nog huisbesoek in die ou Braamfontein gedoen waar baie van die woonstelblokke kort daarna gesloop is om plek te maak vir die "nuwe Braamfontein". ’n Groot persentasie van die lidmate van die gemeente was behulpsaam met die evangelisasiewerk onder die afgedwaaldes van die middestad en omgewing, maar talle lidmate het self ernstige bearbeiding nodig gehad. Ds. Snyman sou in 1977 skryf: "Huweliksprobleme en drankmisbruik het die grootste persentasie 'probleemgevalle' uitgemaak. En die grootste enkele struikelblok op die weg van die bediening was die voortdurende verwisseling van lidmate en kerkraadslede."

In sy tyd is die een woonstelblok ná die ander deurgegaan deur die lede van die Evangelisaskommissie, onder wie ook jong mense van die gemeente, om kerkloses op te spoor. Hospitaalbesoek is georganiseerde gedoen, nie net deur ds. Snyman nie, maar deur ’n uitgebreide kommissie vir dié doel in samewerking met die vrouelidmate (susters). Die skriba en kassiers, oudl. Willem Hovy, was toe reeds sowat 80 jaar oud, maar kon ’n woonstelgebou se trappe flink tot drie of vier verdiepings op- en afklim. Ook in hospitale het sy ywer en geesdrif geen perke geken nie, aldus ds. Snyman.

In sy tyd is eredienste steeds in die ATKV-saal in Braamfontein gehou. Hy skryf: "Dikwels moes ek op pad na die kateder langs kaste en kaste leë drankbottels verbystap nadat die konsistoriegebed in die voorportaal gedoen is omdat in dieselfde saal die vorige aand soms samekomste van ’n heel ander aard gehou is en die spore daarvan nie altyd betyds verwyder kon word nie."

Ds. Snyman was as jong man self nie gesond nie weens ’n chroniese blindedermontsteking waarvan hy eers onbewus was, en herhaalde mangelontsteking het hom so uitgeput dat hy verplig is om in November 1955 ’n beroep na Hennenman te aanvaar, waar hy sy gesondheid volkome herwin het.

Ds. P.G.W. du Plessis, 1956–'61 regs|180px|duimnael|Ds. P.G.W. du Plessis toe hy vierdejaarstudent was aan die Teologiese Skool Potchefstroom.

Die derde leraar was ds. P.G.W. du Plessis, van Januarie 1956 tot Augustus 1961. Hy sou later skryf hy was bang vir stad en vir die bediening wat daar op hom gewag het toe hy op 24 November 1955 as jong predikant met skaars drie jaar ervaring die beroep na Johannesburg-Sentraal kry. Hy is in Julie 1957 getroud en hul eerste twee kinders, Pieter en Marilette, is in Johannesburg-Sentraal gebore.

Soos sy voorganger het ds. Du Plessis te kampe gehad met die uitdagings van ’n klein gemeente met ’n geweldig vinnige wisselende lidmaattal wat hoofsaaklik uit jong mense bestaan het. Omdat dit as’t ware ’n gemeente van nuwe intrekkers was, was daar ’n gedurige tekort aan kerkraadslede en ’n gedurige van vooraf begin met nuwe lede. Sy voorganger, ds. Flippie Snyman, het hom voor dié se vertrek uit die gemeente bemoedig deur hom te vertel van die span wakker diakens, want hy gewens het hy met hom saam Hennenman toe kon neem. Skaars vyf maande nadat ds. Du Plessis in die gemeente bevestig is, was daar van dié 10 net een oor, naamlik Jan Davids. Die lidmate het ewe vinnig gewissel, want in die tweede predikant se tyd het tussen 600 en 700 lidmate in die gemeente gewoon, maar nooit meer as 200 op enige gegewe tydstip nie.

Die grootste uitdaging vir ds. Du Plessis was egter dat die gemeente geen eie aanbiddingsplek gehad het nie. Die akkommodasie wat die gemeente kon bekom, was nie altyd bevorderlik vir eredienste, katkisasie, kerkraadsvergaderings, evangelisasiewerk of susters- en jeugaktiwiteite nie. Sonder ’n vaste adres moes die lidmate maar altyd weer op pad. Ds. Du Plessis skryf: "Dit het selfs een Sondagaand terwyl die preek aan die gang was, gebeur dat die ligte op ’n onverklaarbare wyse uitgegaan het en die gemeente na ’n ander saal, op die eerste vloer van die gebou moes gaan, waar die diens toe maar voortgesit is asof niks gebeur het nie. Die dinge het stremmend gewerk; moedeloosheid en afval was ’n dreigende gevaar."

Die gemeente kon nie met middele uit sy eie geledere tot kerkbou oorgaan nie, want die bydraes van die minder as 200 belydende lidmate was nie eens genoeg om die lopende uitgawes te dek nie en moes jaarliks aangevul word uit die Gereformeerde Kerk se Eeufeesbedieningsfonds. Die pastorie in Auckland Park was toe reeds afbetaal, maar op die kerkperseel was nog die helfte van die koopsom verskuldig.

Kerkbou duimnael|links|320px|Die kerkraad afgeneem by die hoeksteenlegging van die kerkgebou in Lovedaystraat, 27 Augustus 1960. Agter: J. Dorland, L.J. van Rensburg, J.J. van der Walt, J.J. Davids, L. Venter. Middel: J. van der Graaff, P. Venter, C. Ham, J.H.L. Pretorius, K. Touwen, L. Venter en W. Booysen. Voor: J.H. Grobler, ds. P.G.W. du Plessis, J.J. van Wyk en J.J. Breedt. Afwesig: D.H.J. venter, N.S. Kruger en P.N.J. Buys.