duimnael|regs|250px|Die NG kerk Sutherland is ontwerp deur die argitek Charles Freeman. Van sy ander kerkontwerpe is die Metropolitan-Metodistekerk op Groentemarkplein, Kaapstad, opgerig in 1876, die vergroting van die NG kerk Swartland op Malmesbury in 1899 en die ontwerp van die toring van die NG kerk Wellington in 1891, asook die toring van die NG gemeente Worcester.

Die NG gemeente Sutherland is 'n gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland, hoewel die dorp waarop dit gesetel is, Sutherland, sedert 1994 in die provinsie Noord-Kaap val. Dit is in 1855 van Worcester afgestig as die 65ste gemeente in die NG Kerk. In dieselfde jaar is ook die gemeentes Jansenville, Ceres, Murraysburg, Aberdeen, Heidelberg, Kaap, en Vishoek gestig. Sutherland se stigting van tussen dié van Murraysburg en Aberdeen. Tot 2015 was Sutherland deel van die Ring van Calvinia, maar nadat dié ring ophou bestaan het, het Sutherland by die Ring van Worcester ingeskakel terwyl die ander vier (Calvinia, Calvinia-Hantam, Nieuwoudtville en Loeriesfontein) deel geword het van die Ring van Clanwilliam.

Voorspel tot afstigting Vroeë geestelike bearbeiding Die leraar van die NG gemeente Worcester kon voor die afstigting van die Roggeveldse gemeente hoogstens een maal per jaar in die geselskap van 'n kerkraadslid die groot moeite, ongerief en gevare van 'n besoekreis na die verre streke van die Swartberg, Karoo en Roggeveld 'n eeu en meer gelede trotseer. Reeds uit die Worcesterse doopregister vir 1827 kan ons ds. Henry Sutherland op so 'n reis volg. Die eerste kerkraadsbesluit daaromtrent lui dat die leraar in 1837 vergesel sou word deur diaken Willem van der Merwe – wat vroeër in dieselfde jaar die vader geword het van 'n seuntjie wat byna 40 jaar later as ds. H.W. van der Merwe ook na die Roggeveld sou kom. So 'n besoekreis het om begryplike redes nie besoeke van plaas tot plaas beteken nie, maar “op zekere daartoe vooraf bepaalde en geschikte plaatzen" het die leraar die mense van die omgewing ontmoet, vir hulle dienste gehou en die sakramente bedien. Gewoonlik is hierdie reise in die lente en in oorleg met die plaaslike kerkraadslede van die Roggeveld gereël.

Plaaslike kerkraadslede Reeds in 1836 het ouderling Willem Myburgh, wat spesiaal met die behartiging van die belange van die Roggeveldse deel van die gemeente Worcester belas was, vanweë afnemende liggaamskragte die Kerkraad versoek om 'n diaken te benoem wat hom “tot assistentie in zynen omtrek" kon wees. Die keuse het toe op Jacob Theron, 'n heelwat ouer broer van die latere diaken Jasper Theron geval. Ouderling Myburgh was weer in alle waarskynlikheid die grootvader van die Mullergeslag van Phisanterivier. Ander Roggeveldse kerkraadslede was Hendrik Pieter Jooste, Nicolaas Johannes Vlok ('n oom van Nicolaas Vlok van Klipfontein), Hendrik Olivier, Willem Adriaan Visser, Jan Abraham du Plessis, Elias Johannes Jacobus Nel (laasgenoemde drie sedert 1850), Nicolaas Vlok en Jasper Theron (albei sedert 1851). In Oktober 1854 is ouderlinge Du Plessis en Visser sowel as diakens Vlok en Theron herkies en die toneel in gereedheid gebring vir die afstigtings.

’n Lank gekoesterde ideaal duimnael|links|240px|Met die gemeente eeufeesviering in 1955 is 'n boog bokant die ingang na die kerkperseel aangebring. Daaraan is in 2005 die syfer "150" gehang.

Die Worcesterse notule lui dat die plaas Kruisrivier van die oudveldkornet J.G. Coetzee reeds in Oktober 1841 deur die ingesetenes aldaar as die geskikste plek vir 'n kerk in die Roggeveld beskou is. 'n Jaar later stel ouderling David Naudé voor “dat het wenschelyk ware, dat er een Kerk gesticht zoude worden in de Roggeveld". Maar ander lede van die kerkraad het besware van die ingesetenes self voorgedra waarop besluit is dat “het dus nog vooreerst niet als noodzakelyk door hen beschouwt wordt in de Roggeveld een Kerk opterichten" en die hele saak dus vir die teenwoordige kon “blyven berusten". In stede van die saak egter lank te laat “berus", beweeg oudl. Naudé die kerkraad in Januarie 1845 om die Roggeveldse kerkraadslede skriftelik aan te raai om “niet nalatig te blyven om de noodige maatregelen te nemen" om 'n nuwe gemeente gestig te kry nie, “daar zulk verzuim anders grootelyks tot nadeel der Ingezetenen van de Roggeveld zoude kunnen strekken by aldien er geene geschikte plaats voor een Kerk aldaar gekozen wordt".

In die brief wat hierop aan diaken N.J. Vlok geskryf is, staan dat sy pogings om die plaas Rietfontein van die baster Hans Botes te koop, misluk het. Verder was Vlok van meing dat die plaas van Gerrit Visser – moontlik Driefontein – meer geskik was, “terwyl dezelve meer in de Algemeene Weg is gelegen". Twee jaar later was oudl. Naudé weer op die been om die kerkraad te wys op “de dringende noodzaakelykheid der Gemeente van Roggeveld, om een Leeraar aldaar te doen plaatsen; terwyl die Menschen en vooral de Jonge opkomende Ledematen van die Gemeente ontstooken zyn, niet alleen van de toegang tot eene geregelde openbaare Godsdienst op den dag des Heeren; maar ook van 't gebruikmaken van het Heilige Nagtmaal onzes Heeren, en veeler hunner den Middelbaarigen Ouderdom bereiken, zonder in die geleegenheid gesteld te zyn, van die Heilige Sacramenten te kunnen profiteeren".

Die ernstige beraad kon egter nou ook nog nie die struikelblok van “een geschikte plaats ter daarstelling van een Kerk Gebouw uit te vinden" uit die weg ruim nie. Op die volgende Ringsvergadering sou egter aanbeveel word dat 'n leraar op die Roggeveld geplaas word “die geduurende de Zomer Maanden op de Roggeveld Godsdienst zal houden, en des verkiezende in die Winter Maanden, wanneer de Menschen van Roggeveld in de Caro aftrekken, hen als dan te vergezellen, ten einde zyn Herderlyke Pligt onder hen te volbrengen". Nog meer as ses jaar later sou daar eindelik op 3 Oktober 1853 in die Worcesterse kerkraad “een Memorie van de Ingezeetenen van de Groote en Klein Roggeveld" ter tafel kom “behelsende verzoek aan Kerkenraad, om by de Ringsvergadering hun verzoek te ondersteunen, om een Kerk op Roggeveld te willen helpen stigten".

Die Kerkraad se besluit was “om de Voormelde Memorie by de Ringsvergadering hartelyk te zullen ondersteunen". Dit was juis 'n tyd waarin die Ring van Tulbagh hom oor die stigting van nuwe gemeentes verheug het en die Roggeveldse memorie word dus in die vergadering op Malmesbury in Oktober 1853 gunstig ontvang. 'n Kommissie sou afgevaardig word “tot het oprigten eener nieuwe Parochie in die gewesten". Indien hierdie kommissie dadelik gestuur is, sou Sutherland dus sy eeufees 'n jaar vroeër kon gevier het, maar eers by die volgende Ringsvergadering, “in de Stad Worcester", op 19 Oktober 1854 is die kommissie benoem. Dit was net nadat aan die inwoners van die Koue en Warm Bokkeveld 'n nuwe gemeente toegestaan is, sodat Ceres en Sutherland dus byna tweelingsusters is. Die kommissie sou bestaan uit ds. N.J. Hofmeyr en oudl. Joachim E.P. Nel (albei van Calvinia) en oudl. Philippus P. du Plessis (Tulbagh). Toe oudl. Du Plessis geen doekies om sy ”zwarigheid . . . om alleen door de Karroo te reizen" gedraai het nie, het diaken Vos van Malmesbury aangebied om hom te vergesel. Hy word toe by die kommissie gevoeg “onder voorwaarde dat de reiskosten der Commissie daardoor niet zullen worden verhoogd".

Die kinderjare van die gemeente Redes vir stigting Die regstreekse aanleiding tot die versoekskrif om afstigting waarmee 'n groot aantal Roggevelders hul kerkraad op Worcester in 1853 genader het, was die heimlike vrees dat hulle onder die nuutgestigte gemeente Fraserburg (1851) gesny sou word. Selfs nog ’n eeu later het die Roggevelders altyd aansluiting by Worcester en Ceres gesoek en nie by die diepere Karoo nie. In die versoekskrif kon hulle nou ook as middelpunt vir die gemeente van 400 persone uit die veldkornetskappe Komsberg, Vischrivier, Karikarivier en Rietrivier die plaas De List aanbied. Ruim die helfte van hierdie mense was lidmate. Die redes vir hul verlange na 'n eie gemeente kan kortliks soos volg saamgevat word: Die meeste van hulle woon van 30 tot 40 en selfs 50 uur te perd van die kerk op Worcester en hulle kan dus die eredienste nie meer as een of twee keer per jaar bywoon nie. Ten spyte van die pogings van die leraar en die kerkraad om hulle deur besoekreise die seëninge van die openbare godsdiens te laat toekom en die Bondseëls binne hul bereik te stel, het daar nog groot behoefte aan godsdienstige onderwys onder hulle bestaan. 'n Eie gemeente sou ook “het nodig Onderwys aan het aankomend geslacht laten toekomen, die het den Ondergeteekenden leed doet te zeggen daarvan met weinige uitzondering thans geheel verstoken is". Vroeër het hul planne altyd op die moeilikheid gestuit dat hulle nie oor 'n kerkplaas ooreen kon kom nie, maar nou het hulle uit vrees dat hulle by Fraserburg ingeskakel kon word, dadelik De List aangekoop wat vir 'n kerk en magistraatsetel geskik was.

Konsulent benoem duimnael|links|180px|Jacob Francois Cloete (1835–1894), in 'n stadium voorsitter van die munisipale raad. Hy en sy vrou, Johanna Susanna Maria Vlok, die eerste paartjie wat in 1855 in die gemeente in die huwelik bevestig is. Hy was ook lid van die boukommissie van die eerste kerk.

duimnael|regs|180px|Ds. N.J. Hofemyr van die NG gemeente Calvinia was Sutherland se eerste konsulent.

Dit was vir die nuwe gemeente 'n gelukkige dag toe ds. N.J. Hofmeyr van Calvinia met haar stigting tot konsulent benoem is. Om so 'n persoon as grondlegger te hê kan as 'n groot voorreg beskou word, aldus ds. H.C. Hopkins in Sutherland se eeufeesgedenkboek. Hy het met sy werk in die gemeente begin op 10 Februarie 1855 deur op Kransvallei die kinders te doop wie se name die eerste in die Sutherlandse register is. 1. Neeltje Kruger (gebore 15 Januarie 1854), dogter van J.H. Hough en Neeltje Vermeulen. 2. Elizabeth Jannetta (3 Mei 1854), dogter van O.C. Vermeulen en M.J.H. Stadler. 3. Christina (20 November 1852) en 4. Sara Jacoba (20 September 1854), dogters van J.G. Coetzee en C.G. Kruger. 5. Ockert Johannes (17 Januarie 1855), seun van W.S. Nel en H.C. Coetzee. 6. Anna Arnolda Christina (20 Junie 1854), dogter van G.P. Louw en C.E.M. Theron. 7. Ockert Cornelis (geboortedatum onbekend), seun van G.J. en G.R. Vermeulen.

Twee dae later is op Koornlandskloof die huwelik bevestig van Alexander John Elder, 'n wewenaar-onderwyser van 42 jaar, met Geertruida Hester Margaretha Kruger, 28 jaar. Op 15 Februarie 1855 is agt kinders op De List gedoop en die huwelik bevestig van Jacob Francois Cloete met Johanna Susanna Maria Vlok. Die bruidegom van dié dag sou later 'n vername rol in Sutherland speel.

Eerste kerkraadsvergadering Die eerste vergadering van die “Kerkeraad der Middel en Kleinroggeveldsche Gemeente" is op 28 April 1855 gehou. Die konsulent en al die lede van die raad was teenwoordig en ná die openingsgebed en 'n kort toesprakie deur die konsulent kon die broeders uit die verslag van die kassier-diaken verneem dat daar 'n saldo van £13 8s. 61d. in die kas was. Die blye tyding dat die voorstel ten gunste van die sogenaamde vrywillige beginsel deur die Kaapse Wetgewende Vergadering verwerp is, het dit vir die gemeente moontlik gemaak om uit die staatskas geldelike hulp vir die onderhoud van 'n leraar te vra.

Grense