duimnael|Antjie Krog wys 'n prentjie vir kinders tydens 'n boekleessessie in Bloemfontein, 2009. Antjie Krog (getroude van Samuel) (gebore 23 Oktober 1952 te Kroonstad) is 'n prominente Afrikaanse digteres, akademikus en skryfster. Sy publiseer meeste van haar werke onder haar nooiensvan, Krog.
In 1970, op die hoogtepunt van die apartheidsjare van John Vorster, het sy hierdie moedige en idealistiese woorde vir haar skoolkoerant geskryf, wat haar konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap geskok het en die aandag van die nasionale media getrek het:NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/2076
Gee vir my 'n land waar swart en wit hand aan hand vrede en liefde kan bring in my mooi land.
Give me a land where black and white hand in hand Can bring peace and love to my beautiful land.
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Anna Elizabeth Krog is in 1952 op die plaas Middenspruit in Kroonstad gebore as die oudste van vyf kinders, twee dogters en drie seuns. Haar ouers is die boer Willem Krog en Susanna Jacoba Serfontein (die skryfster Dot SerfonteinEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Krog,_Antjie_(Anna_Elizabeth)). Haar oupagrootjie aan moederskant, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad na die Anglo-Boereoorlog.
Opleiding Sy word groot op haar geboorteplaas en gaan skool op Kroonstad, waar sy in 1970 aan die Hoërskool Kroonstad matrikuleer. In matriek veroorsaak haar gedigte in die skooljaarblad groot ophef oor die seksuele eksplisietheid en politieke verligtheid daarvan en sy is oornag bekend na 'n belangwekkende berig in die Rapport hieroor – ’n gebeurtenis wat lei tot haar vroeë debutering as digter.
Daarna studeer sy vanaf 1971 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal in 1973 die B.A.-graad met Engels, Wysbegeerte en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Tydens haar studentejare dien sy op die redaksie van die studentekoerante Irawa en Shimla.
Begin van loopbaan en verdere studie Sy ontmoet die pianis Albie van Schalkwyk aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en volg hom na Kaapstad, waar sy ’n tyd lank in die kunsredaksie van Die Burger werk voor haar troue. Uit dié huwelik word ’n seun, Andries, gebore. Sy woon ook in hierdie tyd as gas D.J. Opperman se lesings in die digkunde en Lina Spies se lesings oor die drama aan die Universiteit van Stellenbosch by.
Ná haar egskeiding vroeg in 1976 keer sy terug na Kroonstad, waar sy later daardie selfde jaar trou met die argitek John Samuel, ’n jeugliefde. Uit hierdie huwelik word drie kinders gebore, Susan, Phillip en Willem.Poetry International: http://www.poetryinternationalweb.net/pi/site/poet/item/5372 Hulle bly vir ’n paar jaar in Pretoria en verhuis dan terug na Kroonstad.
In 1976 verwerf sy die B.A. Honneurs-graad in Engels aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en in 1983 verwerf sy die M.A.-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling oor die onderwerp Familiefigure in die poësie van D.J. Opperman. Sy behaal ook ’n Onderwysdiploma met lof van die Universiteit van Suid-Afrika.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Antjie_Krog
Loopbaan as joernalis en digter Behalwe huisvrou en moeder, is sy vir ’n ruk onderwyseres by ’n hoërskool vir bruin leerlinge in Kroonstad. Wanneer sy aangestel word as redaktrise van Die Suid-Afrikaan verhuis sy in 1993 na Kaapstad, waar sy aan die begin van 1995 ’n betrekking aanvaar as politieke verslaggewer by SABC Radio. Vanaf 1996 tot 1998 doen sy verslag van die verrigtinge van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK). Van die kommissie het sy gesê: As die belangrikheid daarvan net aan amnestie en vergoeding gekoppel word, sal dit nie waarheid gekies het nie, maar geregtigheid. As dit waarheid beskou in die breedste sin van mense se waarnemings, verhale, mites en ervarings, sal dit gekies het om herinneringe te herstel en 'n nuwe mensheid te koester, en moontlik is dit geregtigheid in die volste sin van die woord.Hierdie pos het uitgeloop op die skryf van Country of my skull, eers in Afrikaans geskryf maar deur haar in Engels vertaal met die hulp van Ivan Vladislavic. Sy word later hoof van die radiospan wat hierdie verrigtinge dek en skryf ook hieroor onder die titel Brief uit Kaapstad in die Nederlandse publikasie Nieuw Wereldtijdschrift.
In 1999 bedank sy uit haar pos by SABC Radio om voltyds te kan skryf en in hierdie jaar onderneem sy saam met Breyten Breytenbach en ander Afrika-digters ’n reis op die poësiekaravaan vanaf die slawe-eiland Gorée tot by Timboektoe in Mali.
Sy word in 2001 verkies tot die komitee wat ’n taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse tersiêre sektor moet ondersoek. In 2003, terwyl sy besig is met die skryf van A change of tongue, het sy ’n ligte beroerte-aanval, maar herstel weer feitlik volkome. In 2004 word sy aangestel as Buitengewone Professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap en sy is ook ’n direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening. Sy lewer in 2004 die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing by die Universiteit van Johannesburg onder die titel Die beautiful woorde van Van Wyk Louw. Teen die einde van 2006 word sy deur die kunsliggaam “Behoud de Begeerte” genooi om vir ses weke saam met Tom Lanoye ’n reeks opvoerings in België en Nederland te hou, waartydens sy ook op televisie verskyn.
Sy spandeer in 2008 ’n jaar op uitnodiging van Deutscher Akademischer Austauschdienst (DAAD) in Berlyn aan die Wissenschaftskolleg zu Berlin, ’n sentrum vir gevorderde studie en navorsing. DAAD is ’n Duitse uitruilprogram waar gerekende internasionale skrywers die geleentheid gegee word om as gaste met mekaar te skakel en gedagtes uit te ruil en in rustigheid hulle volle aandag aan hulle skeppende werk te wy. Haar sestigste verjaarsdag vier sy in 2012 in Den Haag by ’n aandgeleentheid wat deur Writers Unlimited The Series aangebied is, waar sy van haar gedigte voorlees en Adriaan van Dis met haar gesels oor die posisie van die digter in Suid-Afrika. Sy neem in 2013 deel aan die Dansende Digtersfees wat in Mei op die Spierlandgoed buite Stellenbosch gehou word as ’n gesamentlike projek tussen Spier en die Pirogue-kollektief, ’n verlengstuk van die Gorée-instituut in Senegal. Hier tree sy op saam met Breyten Breytenbach, Petra Müller en Marlene van Niekerk en digters van lande soos China, Amerika, Suid-Korea, Duitsland, Nederland, Slowenië en Israel.
Uitgesprokenheid As volwassene is sy sterk uitgesproke teen maatskaplike onreg. Sy is gereeld in polemiek betrokke en kom dan ook gereeld in botsing met ander. In 1987 bots sy met Ton Vosloo, besturende direkteur van Nasionale Pers, oor Dene Smuts se bedanking as redakteur van die tydskrif Fair Lady. Met die Afrikaanse Skrywersgildeberaad in 1990 betig sy haar medeskrywers oor die Gilde se apatie en pleit dat Afrikaans van die Gilde bevry moet word.
Tydens ’n simposium wat in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch gehou is oor die uitdagings waarvoor die NG Kerk in ’n veranderende Suid-Afrika te staan kom, sê sy dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie ken nie en dat die kerke mense moet help om nuwe verhoudings as gelykes te bou.
Sy speel ’n prominente rol by buitelandse gesprekke met die toe nog verbode ANC, onder andere by die byeenkoms by die Victoria-watervalle in Zimbabwe in 1989, waarna sy in 1990 een van die eerste blankes is wat lid word van hierdie organisasie.
In 1990 word sy aangestel as berymer in die Psalmkommissie van die Afrikaanse Kerke, ’n betrokkenheid wat sy in 1992 bedank na die onttrekking van die Sinode van die Gereformeerde Kerk aan die Kommissie uit protes teen haar aanstelling.
Aantygings van plagiaat en kritiek teen Krog Aan die begin van 2006 beskuldig professor Stephen Watson van die Universiteit van Kaapstad haar in ’n artikel in New Contrast dat sy plagiaat gepleeg het deur die gehele konsepsie van haar digbundel met vertalings van gedigte van Sandigters, die sterre sê ‘tsau’, op sy digbundel Return to the moon te baseer en dat sy ook van Ted Hughes oorgeskryf het. Krog ontken hierdie aanklagte ten sterkste.
Kritici voer dikwels aan dat haar prosa meer oor haar persoonlike gedagtes oor haar identiteit en innelike struwelinge handel, en nie die breër sosiale kommentaar weerspieël wat haar werk glo bevat nie.
Daar is ook vrae geopper oor die gebruik van oorlewendes se getuienis tydens die WVK-verhore sonder die toestemming van daardie persone.
Skryfwerk
Poësie Antjie Krog se eerste werk verskyn in skooljaarblaaie van 1966 tot 1970 en sy wen in standerds drie, vyf en sewe die Vrystaatse Vlootbond Opstelwedstryde. In matriek kom sy tweede in ’n landswye literêre kompetisie vir skoolkinders en word van haar bydraes in die versamelbundel Drumpel opgeneem.
In die jubileumblad van die Hoërskool Kroonstad van 1970 word nege bydraes van haar gepubliseer, waarvan die opstel As die aandwindjie suis en die gedigte Wat het daar oorgebly? en My mooi land deur hulle seksuele en politieke uitgesprokenheid landswyd aandag trek na sensasionele joernalistieke beriggewing daaroor in die Sondagkoerant Rapport. Die koerantberigte lei daartoe dat die gevange ANC-leier Ahmed Kathrada My mooi land in die tronk lees, wat hom so inspireer dat hy hierdie gedig meer as twee dekades later met sy vrylating aan die skare voorlees.
’n Keur uit haar jeugverse word dan in Dogter van Jefta gebundel terwyl sy nog in matriek is, te midde van groot belangstelling ná die opspraak wat vroeër verwek is. Die titel verwys na die Bybelse gegewe in Rigters 11, met selfopoffering in die proses van volwassewording wat na aanleiding hiervan ’n deurlopende motief in die bundel word. Hoewel dit hoofsaaklik hoërskoolgedigte is wat hierdie besondere wêreld uitbeeld, spreek sy hier reeds bekende temas in haar oeuvre aan, soos liefde en seksualiteit, volk en vaderland en godsdiens. Sy beïndruk hier reeds met haar tegniese vaardigheid, knap hantering van die taal en raak beelde. Teen die agtergrond van die Bybelse geskiedenis van die dogter van Jefta word die offering van die self die sterkste bindingsmiddel in die bundel. Die bundel bevat vier afdelings.Coetzee, A.J. Standpunte. Nuwe reeks 100, April 1972
Januarie-suite word geskryf tydens haar voorgraadse universiteitsopleiding en die bundel gee dan ook hierdie milieu verandering in verskeie verse deur. In die titel kan die maand Januarie verwys na die begin van ’n nuwe jaar en dan ook simbolies op die begin van ’n vernuwing in haar digkuns. Die maand se naam kom van die god Janus, met sy twee koppe wat weerskante toe kyk, wat dan ook terselfdertyd ’n einde en aflegging impliseer. ’n Suite is twee kamers wat ineenloop en die eenwording van twee geliefdes is ’n vername metafoor in hierdie bundel. ’n Suite is ook ’n musiekkomposisie waar die wysies aan dieselfde toonsoort behoort en die vele musiekverwysings in die bundel heg dus ook die geheel tot ’n eenheid. Die hooftema is steeds liefdesverse, veral erotiese en intieme liefde. Hierdie bundel kondig egter ook die tema van verlies aan, met die daaropvolgende soeke na dit wat verlore is. Soos in haar debuut beïndruk die natuurlikheid, direktheid en eenvoud van segging, wat soms oorgaan tot verwondering.Brink, André P. Rapport, 10 Desember 1972 Vir Januarie-suite ontvang Antjie Krog in 1973 die Eugène Marais-prys. Hierdie eerste twee bundels word later saam uitgegee as Eerste gedigte.Le Roux, André. Die Burger, 30 Augustus 1984