duimnael|Simboliese voorstelling van die verowering van Jerusalem (12de–14de eeu) duimnael|Die Franse koning Filips Augustus land in Palestina (14de eeuse miniatuur) duimnael|Richard I, genoem Richard Leeuehart, Engeland se grootste kruisridder

Die Kruistogte was 'n reeks godsdiensoorloë wat in die Middeleeue deur die Christelike Latynse Kerk begin, gesteun en soms aangevoer is. Die bekendste van dié militêre veldtogte was dié in die tydperk tussen 1095 en 1291 na die Heilige Land met die doel om Jerusalem en die omringende gebied van Moslemse heerskappy te bevry. In die Eerste Kruistog, wat gelei het tot die oorwinning van Jerusalem in 1099, is dosyne militêre veldtogte gereël wat eeue lank die fokuspunt van Europese geskiedenis was. Die veldtogte het ná die 15de eeu skerp gedaal.

Die term "kruistog" is tydens die Middeleeue nog nie gebruik nie; dit dateer uit 'n later tydperk en verwys na die kruise, wat deelnemers van die kruistogte op hulle kleding aangebring het nadat hulle die kruisvaarderseed afgelê het. In eietydse bronne word ander terme gebruik – soos die Latynse expeditio ("veldtog"), iter ("reis") en peregrinatio ("pelgrimsvaart"). Deelnemers aan kruistogte het na hulself dikwels as peregrini verwys om die beweegrede van 'n gewapende pelgrimsvaart te beklemtoon.Adrian Boas (red.): The Crusader World. Abingdon, Oxon: Routledge Taylor & Francis Group 2016 Die godsdienstige pelgrimskarakter word ook bevestig deur die feit dat die gemiddelde kruisridder die inkomste van vier tot vyf jaar moes bestee om aan 'n kruistog te kan deelneem.Die Presse, 24 Junie 2013: US-Autor: „Die Kreuzzüge waren Notwehr“. Besoek op 19 Julie 2018

Franse kruisridders het hul optogte na die Heilige Land in neutrale terme beskryf wat die reiskarakter daarvan beklemtoon het – as voyage de Jérusalem, voyage vers la Terre sainte, passage of voyage d'outre-mer. Die Franse term croisade dateer van die 15de eeu. Die Oksitaanse crozada kom egter reeds in bronne van omstreeks 1250 voor.Encyclopédie Larousse en ligne: les croisades. Besoek op 19 Julie 2018 Ooreenkomstige Duitse, Nederlandse en Afrikaanse terme (respektiewelik Kreuzzug, kruistocht en kruistog) het eers in die moderne tyd gebruiklik geraak.

'n Krities-historiese ondersoek van die Kruistogtydperk vereis 'n noukeurige onderskeiding tussen die godsdienstige en politieke beweegredes vir die grootskaalse Middeleeuse militêre en logistieke ondernemings wat ons vandag as kruistogte in die nouer sin beskryf, en geloofsoorloë in die algemeen. As besondere historiese verskynsels sou kruistogte in die nouer sin ondenkbaar wees sonder die spesifieke godsdienstige, politieke en maatskaaplike konteks van die Hoë en Laat Middeleeue, veral die Middeleeuse Christelike geloofswêreld waarin verlossing 'n sentrale rol speel. Vanuit hierdie konteks het die Latynse Kerk en die kruisridders hulle beperk tot die bevryding en beskerming van Christelike heiligdomme in die Heilige Land, met name Jerusalem – die stad waar die wederkoms van Jesus Christus verwag is. Die tydperk van geloofsoorloë het klaarblyklik nie geëindig met die laaste kruistog en die begin van die vroeë moderne tyd nie.Martin Kaufhold: Die Kreuzzüge. Wiesbaden: Marixverlag 2012, voorwoord

Onomstrede is die grootskaalse impak wat die Kruistogte op die Westers-Christelike beskawing gemaak het. Aansienlike toegewings is aan Italiaanse stadstate gemaak vir die bystand wat hulle aan Kruisvaarders verleen het. Hulle kon kolonies en handelsposte in die oostelike Middellandse See vestig waardeur florerende handelsbetrekkinge met oosterse markte tot in die Ottomaanse tydperk gewaarborg is. Twee van Italië se seerepublieke of Repubbliche Marinare, Venesië en Genua, het as nuwe Europese moondhede begin optree. In godsdienstige opsig is die gemeenskaplike identiteit van die Westerse Latynse Kerk onder leierskap van die pous gekonsolideer. Op kultureel-literêre gebied was die Kruistogte die historiese bron vir verhale van heldedom, ridderlikheid en vroomheid wat diep spore sou laat in die Middeleeuse literatuur en filosofie. Op maatskaplike en politieke gebied is die nou verbintenis tussen Westerse Christendom, feodalisme en militarisme verstewig.

Wyer betekenis In die breër sin word kruistog soms retories en metafories gebruik om 'n oorlog, wat 'n godsdienstige oogmerk het, te regverdig. Kruistogte word dus dikwels as heilige oorloë teen groepe of volkere, wat as interne of eksterne teenstanders van die Christendom beskou is, gedefinieer. Hierdie teenstanders het naas Moslems ook ortodokse Griekse en Russiese Christene, heidense Slawiese volkere, Mongole, ketters soos die Kathare, Bogomiele en Hussiete en die politieke opponente van die pousdom ingesluit.

Party ywerige aktiviste mag egter ook na hulle bedrywighede verwys as kruistogte soos die kruistog teen ongeletterdheid, ensovoorts. 'n Meer algemene moderne gebruik van die term is wanneer daar tipies op sarkastiese of verkleinerende wyse na dwepers verwys word.

Geskiedkundige agtergrond Die oorsprong van die kruistogte lê in die ontwikkelings in die weste in die vroeë Middeleeue, sowel as die agteruitgang van die Bisantynse Ryk. Die agteruitgang van die Karolingiese Ryk in die latere 9de eeu tesame met die relatiewe stabiliteit van plaaslike Europese grense na die kerstening van die Wikings, Slawiërs en die Magjare het gepaard gegaan met toenemende geweldpleging deur adellikes wat mekaar in vetes (privaat oorloë) beveg het. Naas burgerlike landelike bevolkings en kooplui is ook die kerk en sy besittings deur die oorlogsvoering bedreig.

Die kerk het probeer om die geweld stop te sit deur die sogenaamde Godsvredebeweging (Pax Dei) en 'n tydelike staking van vyandeklikhede (Treuga Dei), een van die vroegste Europese vredebewegings wat aanvalle op ongewapende persone (geestelikes, boere en reisende handelaars), geboue (kerke, kloosters, openbare pleine, strate en paaie) asook vee verbied en 'n algehele wapenstilstand gedurende vastetye en op feesdae verklaar het. Oortreders kon uit die kerk geban word. Dit was ietwat suksesvol, maar opgeleide vegters het altyd na 'n manier gesoek om uiting te gee aan hulle gevegslus. Vertoë vir hulp vanaf die Bisantynse Keiser Alexius I om weerstand te bied teen die Moslem-aanvalle is dus gretig ontvang.

duimnael|Kruisvaarders (Larousse 1922) 'n Latere geleentheid om uiting aan hierdie gewelddadigheid te gee het hom ook voorgedoen met die Reconquista in Spanje wat Spaanse ridders en huursoldate vanuit ander dele van Europa betrek het in die stryd teen die Islamitiese More. In 1063 het Pous Alexander II sy pouslike seën aan die Spaanse Christene gegee in hul oorlog teen die Moslems.

Die agtergrond in die Christelike Weste moet ook gesien word in die lig van die ontwikkelinge in die Islamitiese ooste. Die teenwoordigheid van Moslems in die Heilige Land strek terug tot die oorspronklike Arabiese oorname van Palestina in die 7de eeu. Dit het nie baie met die pelgrimstogte na die heilige plekke van die Christendom ingemeng nie en Wes-Europeërs was toe nie so besorg oor die verlies van die verre Jerusalem toe hulle self invalle deur Moslems en ander vyandiggesinde nie-Christene soos die Wikings en die Magjare in die gesig gestaar het nie. Die suksesse van die Moslem-magte was egter besig om ernstige druk op die Oos-Ortodokse Bisantynse Ryk te plaas.

'n Keerpunt in westerse houdings jeens die ooste het in die jaar 1009 gekom toe die Fatimidiese kalif van Kaïro, al-Hakim bi-Amr Allah, die Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem, een van die belangrikste heiligdomme van die Christendom, saam met die rotsgraf van Jesus Christus laat vernietig het. Sy opvolger het die Bisantynse Ryk toegelaat om die Kerk van die Heilige Graf te laat herbou onder streng voorwaardes en het pelgrimstogte ook weer toegelaat, maar baie gerugte het die rondte begin doen oor Moslem-wreedheid teenoor Christen-pelgrims; hierdie gerugte het 'n belangrike rol gespeel in die ontstaan van die kruistogte later in daardie eeu.

'n Ander belangrike kenmerk van die Kruistogte is die kerklike propaganda, wat 'n religieuse regverdiging vir die militêre optrede teen die Moslems gee. Die tradisionele Christelike pelgrimstog na die Heilige Graf is nou tegelykertyd as 'n oorlog teen heidense volke gepropageer.

In Europa begin die verhoudings tussen die Christelike meerderheid en nie-Christelike minderhede dramaties versleg. Die klein Joodse gemeenskappe, wat glad nie nie by die Christelik-Islamitiese konflik betrokke is nie, is nogtans die eerste slagoffers van die Christelike magte, wat orals in Wes-Europa opgesweep raak deur die Kruistog-retoriek van die klerus. Die vyandbeeld, wat aanvanklik op die Turkse Moslems as die teenstanders van die Oos-Romeinse Christendom beperk is, sluit vinnig die hele Islamitiese wêreld in en uiteindelik elkeen wat as 'n vyand van Christus beskou is. Dit is nou veral Joodse burgers wat in afgryslike pogroms vermoor word. Destydse klerici het anti-Joodse pogroms egter skerp veroordeel.

Oorlogvoering in Islam Militêre geweld het van begin af 'n sentrale rol in die uitbreiding van Islam gespeel. Die profeet Mohammed was self betrokke by 'n reeks veldtogte waarmee die bewoners van Mekka tot oorgawe gedwing is. Ook word aan hom 'n hadith (uitspraak) oor die samehang tussen swaard en paradys toegeskryf: "Die poorte van die paradys is onder die skadu van die swaard".Thomas Asbridge: The Crusades. The War for the Holy Land. London: Simon & Schuster 2012, bl. 24-25

Die vinnige uitbreiding van die Islamitiese geloof in die 7de en 8ste eeue was die resultaat van veroweringsveldtogte en die godsdienstige ywer van Moslem-stryders. Om nuwe gebiede onder Islamitiese beheer te bring, is as 'n godsdienstige verpligting beskou. So het die eenheid van geloof en geweldpleging in Islam vroeër en vinniger na vore gekom as in die Latynse Kerk waar godsdienstige redes net geleidelik as regverdiging vir geweld aanvaar is.

Geskiedkundige verband duimnael|Die koepel van die herboude Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem. Die vernietiging van die oorspronklike kerk, een van die belangrikste heiligdomme van die Christendom, deur 'n Islamitiese heerser was 'n ongekende provokasie. Eietydse Arabiese bronne bied moontlik 'n oortuigende verklaring vir sy gedrag – hy word as geestessiek beskryf en het later ook gewelddadig teen sy eie geloofsgenote opgetree duimnael|Die biskopsinode van die Latynse Kerk in Clermont het tussen 18 en 28 November 1095 onder leiding van pous Urbanus II plaasgevind. Die pous se toespraak, waarin die konsep van 'n geregte en 'n heilige oorlog verduidelik is as oproep tot 'n kruistog teen Moslemmagte, is nie in sy oorspronklike vorm oorgelewer nie. Merkwaardig is dat Christelike Europa die Islamitiese konsep van 'n kalifaat en 'n umma (die gemeenskap van gelowiges) oorgeneem het deur 'n gemeenskap van Christelike nasies te vorm wat deur hul geloof verenig is. Met 'n ander uitslag van die kruistogte sou ook 'n ander politieke ontwikkeling in Europa denkbaar gewees het – met ongekende godsdienstige en wêreldlike mag in hande van die pousR. Scott Peoples: Crusade of Kings. Rockville, MD: The Wildside Press 2008, bl. 16 In 1071 het Islamitiese Seldjoeke-magte (die Seldjoeke was 'n Islamitiese heerserhuis van Turkse stamme in Sentraal-Asië) Palestina binnegeval en Jerusalem, wat destyds deel uitgemaak het van die Bisantynse Ryk, ingeneem. Vervolgens het kleiner Moslem-magte, wat in destydse bronne as "wilde hordes" beskryf is, steeds weer aanvalle op Christene geloods en kerke en altare vernietig. Die Bisantynse keiser Alexios I Komnenos was nie meer in staat om die toenemende militêre bedreiging deur Seldjoeke met eie troepe en middele af te weer nie. In 1095 was die keiser genoodsaak om die militêre bystand deur Wes-Europese magte aan te vra. Sy versoek is aan Pous Urbanus II gerig.