duimnael|regs|300px|Die NG kerk Heidelberg, Gauteng. Die Klipkerk is op 5 Mei 1971 deur die Historiese Monumentekommissie tot 'n historiese gedenkwaardigheid verklaar.
Die NG gemeente Heidelberg (Gauteng) is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die dorp Heidelberg, Gauteng, wat tot omstreeks 1994 as Heidelberg, Transvaal, bekendgestaan het om dit te onderskei van die Wes-Kaapse gemeente met dieselfde naam.
Stigting duimnael|regs|170px|Ds. N.J. van Warmelo.
links|170px|duimnael|Ds. A.J. Louw het van 1893 af 39 jaar lank in die gemeente gestaan.
Die NG gemeente Heidelberg is op 27 Junie 1865 gestig. Reeds aan die einde van daardie jaar kon die kerkgebou ingewy word. In 1891 is die bestaande sierlike en uitstaande gebou ingewy en deur die gemeente betrek. Die ou kerk is afgebreek en die materiaal is gebruik om die pastorie in Van der Westhuizenstraat te bou. Blykbaar was die bouwerk aan die kerktoring nie na wense nie, want weens 'n besonder nat reënseisoen in 1909, stort hierdie struktuur tydens die besige katkisasieweek, toe talle lidmate om die kerk kampeer, ineen. Dit was nadat ds. A.J. Louw en enkele kerkraadslede 'n paar uur vantevore in die toring opgeklim het om ondersoek in te stel. Deur die genade gebeur dit gedurende die etensuur toe niemand naby is nie, en val die toring weg van die kerk af sodat die hoofgebou nie beskadig is nie. Die slag kon duidelik twee straatblokke ver in, onder andere, die pastorie in Van der Westhuizenstraat gehoor word sodat ds. Louw aan tafel opmerk: "Daar val die toring." In 1911 is die herboude toring ingewy met ds. J.D. Kestell van Ficksburg wat die inwydingsdiens waarneem het.
Op 18 Julie 1867 is ds. N.J. van Warmelo tot eerste leraar van die Hervormde gemeente bevestig en in 1885 het hy met die vereniging tussen die NH en NG Kerk saamgegaan en leraar geword van die NH of G gemeente Heidelberg. Hy is opgevolg in 1893 deur die onvergeetlike ds. A.J. Louw, wat 39 jaar lank met seën hier gearbei en onuitwisbare spon nagelaat het. Na hom het ds. P.J. Viljoen hier gestaan van af 1932 tot 1951. In 1951 het ds. A.M. Meiring die bediening aanvaar.
Die gemeente en die opvoeding In 1951 skryf die medewerker van Ons gemeentelike feesalbum: “Hierdie gemeente is een van die gemeentes van ons Kerk wat die Here tot 'n besondere taak geroep het. Ds. Louw was volksman in murg en been. Hy kon nie anders as om die opvoeding van die jeug van ons volk op Christelik-nasionale grondslag van die uiterste belang te beskou en met alle mag daarvoor te ywer nie. Hierdie oortuiging is by hom gesterk en deur die gebeurtenisse kort ná die Tweede Vryheidsoorlog tot rypheid gelei. In die ontredderde toestand van daardie dae moes die gemeente verantwoordelikheid aanvaar vir 28 weeskinders uit die konsentrasiekamp naby Heidelberg.”
Die enigste skool wat hierdie kinders kon besoek, was die staatskool, gehuisves in 'n gebou wat voor 1900 deur die gemeenskap opgerig is, wat onteien is deur die Milner-regime en tot vandag toe nog in hande van die staat is, alhoewel die transportakte daarvan nog altyd (1951) in besit is van die kerkraad van hierdie gemeente. Die vooropgestelde doel van hierdie staatskool, sowel as van al die ander van daardie skole, was om die Afrikaanse kind te verengels. Die enigste taal van onderrig was Engels, en onderrig in die gods-diens was heeltemal op die agtergrond geskuiwe. Baie ouers het die grootste beswaar gemaak om hul kinders in so 'n skool te laat onderrig, maar bo alles was die gedagte ondraaglik om daardie 28 weeskindertjies, wie se ouers alles op die altaar van vryheid opgeoffer het, daarheen te stuur.
Met groot geesdrif is onder leiding van ds. A.J. Louw besluit om 'n onafhanklike CNO-skool op Heidelberg te stig, met die 28 weeskinders as kern. In die begin was die hoofklaskamer van hierdie skool die kelder onder die kerk, in daardie dae bekend as die grot van Adullam. Hieruit het die opvoedingsinrigtings van Heidelberg gegroei: die Volkskool, die Hoër-Volkskool en die Onderwyskollege. Rondom hierdie skole het die kosinrigtings van Heidelberg verrys: Transvalia, Concordia, Excelsior en vier kleiner koshuise in aangekoopte geboue, waarin byna 500 leerlinge 'n Christelike tuiste gevind het. Hierdie geboue het die kerkraad ongeveer £70 000 gekos.
“Daar is reeds besluit om voort te gaan met hierdie taak en eerlang sal by 'n tagtigduisend pond gevind moet word om meer koshuise te bou,” aldus Ons gemeentelike feesalbum. “Die Kerklike Koshuise van Heidelberg is alom bekend. Al meer en meer lei die Here hierdie gemeente om in en deur hierdie koshuise reddingswerk te doen. Uit Kenia, Tanganjika, die Rhodesiës en Natal stuur die ouers hul kinders hierheen om in Christelike nasionale gees opgelei en gehuisves te word. Uit die groot stede kom hulle na ons om hulle te beskerm teen die gevare van die stad. Kinders van geskeie ouers klop gedurig smekend by ons aan om opname. Ouers wat albei moet werk, stuur graag hul kinders hierheen. Die werk waartoe die Here hierdie gemeente geroep het, gaan voort en sal tot in die verre toekoms moet voortgaan.”
In later jare het die gemeente se belangrike rol in die onderwys gekwyn ná die sluiting van die Heidelbergse Onderwyskollege en die afname in die skoolkoshuise se getalle van 500 in 1970 tot minder as 100 in 2004. Dis onbekend wat dit nou (2015) is.
Ds. Louw se koms Voordat die kerkraad van die gemeente Heidelberg, Tvl., op 3 Desember 1892 'n beroep kon uitbring in die plek van wyle ds. Van Warmelo, moes die waarborglyste wat uitgestuur is, eers nagegaan word om vas te stel of die gemeente die salaris van die predikant wat beroep sou word, kon waarborg. Dit het geblyk dat die totale bedrag van £423-16-6 gewaarborg kan word. Aangesien die salaris van die predikant op £400 p.j. vasgestel is, kon die kerkraad toe 'n beroep uitbring. Op die tweetal uit die groslys het die name van ds. A.J. Louw van Vryheid en ds. D.P. Ackerman van Wakkerstroom gekom en eersgenoemde is gekies. Die beroepsbrief is in gereedheid gebring en aan hom afgestuur. Ds. Louw het egter nog om uitstel van twee weke gevra. In sy antwoord van 9 Januarie 1893 neem hy die beroep aan en skryf onder meer soos volg: “Het is nauwelijks noodig u te zeggen dat hoe vereerend ook, het voor mij zwaar uiterst zwaar was tot eene beslissing in deze zaak te komen. Een arbeidsveld te verlaten waarop de zegen des Heeren zoo kennelijk heeft gerust, eene gemeente op te geven met wier wording en leven wij op 't nouwst vereenzelvigd zijn geworden van vele en dierbare zielen afscheid te nemen, die door heilige banden aan ons verbonden zijn, dit alles, en veel meer nog vaarwel te zeggen, heeft geen geringen strijd gekost. Maar de stille overtuiging kwam langzamerhand over ons dat de stem uit Heidelberg die des Heeren was.”
Op ontvangs van hierdie brief is daar toe 'n kommissie benoem om die nodige stappe vir ’n behoorlike ontvangs vir ds. Louw op 8 April 1893 te reël. Ds. Louw sou gevra word om self 'n wa te vind wat sy goed van Vryheid af na Heidelberg kon vervoer, terwyl die kerkraad die transportkoste sou betaal. Ds. Louw het egter vereers alleen oorgekom, maar eers nadat hy saam met die gemeente die kerkgebou ingewy het. Aangesien mev. Louw nie gesond was nie, het hy die gesin Kaap toe geneem. Hy het al die huisraad op Vryheid verkoop en sou in Kaapstad of Johannesburg nuwe meubels aankoop. Die wa het net sy boeke vervoer.
Heidelbergse kerkstryd duimnael|regs|240px|Ds. en mev. Louw en hul oudste twee kinders. Ds. Louw sou in die hitte van 'n kerkstryd op Heidelberg aankom. Op 17 Julie 1893 moes daar 'n buitengewone Algemene Kerkvergadering gehou word “van wegen den hachelijken toestand waarin de Kerk gedompeld is”, en daar sou benewens die predikant nog vier afgevaardigdes van Heidelberg dié vergadering bywoon. Die stryd het veral gegaan tussen die Verenigde Kerk en die herstelde Hervormde Kerk om die kerkeiendomme. Op Heidelberg was die toestande nie rooskleuriger nie. Die gesin van ds. Louw wat intussen aangekom het, het geen woning gehad om in tuis te gaan nie. Hulle moes 'n heenkome in 'n hotel vind. Die gevoelens teen ds. Louw in sommige kringe het so hoog geloop dat een van die boere met 'n geweer sou rondgeloop het om na ds. Louw te soek met die dreigement om hom te skiet. Intussen het die Hervormde kerkraad geweier om die sleutels van die pastorie aan die Verenigde Kerkraad af te gee. Die eintlike probleem in verband met die pastorie het op 'n buitengewone vergadering van 3 Julie 1893 sy ontstaan gehad. R.P. Ueckermann deel aan die vergadering mee dat hy gedurende daardie week die sleutels van die pastorie by mev. Van Warmelo gevra het. Maar sy het op aandrang van die Hervormde kerkraad geweier om dit te oorhandig. Die vergadering besluit toe om 'n kommissie van drie persone te benoem om as afgevaardigdes met mev. Van Warmelo te gaan onderhandel, terwyl die vergadering intussen sou verdaag. Mev. Van Warmelo weier egter volstrek om die sleutels te oorhandig aangesien sy skriftelik daartoe gelas om dit nie te doen nie.
Regsadvies is vervolgens van die heer Ahrbeck ingewin. In die daaropvolgende bespreking van die saak is “besloten by meerderheid dat de pastorie in bezit genomen zal worden." Terwyl die vergadering weer verdaag, sou die broeders R.P. Ueckermann en P. Venter die taak gaan afhandel. “Maar zulks zal geschieden met alle bedaardheid, terwijl niemand anders toegelaten zal worden tegenwoordig te zijn; en indien eenig tegenstand of verzet zich voordoet, dan niet meer tegenstand te bieden." Ná 'n uur het die betrokke persone teruggekeer en gemeld dat hulle die pastorie sonder enige teenstand oopgemaak het. Die besittings van mev. Van Warmelo wat nog in die huis was, kon vir 'n week in die studeerkamer gelaat word.
By geleentheid van die volgende vergadering, op 31 Julie, doen Ueckermann verder verslag oor dié aangeleentheid: mev. Van Warmelo het intussen haar meubels verwyder. Maar 'n kriminele dagvaarding is deur die staat namens die Hervormde kerkraad teen Ueckermann uitgereik. Die voorlopige ondersoek het toe reeds plaasgevind, en sonder sy medewete is 'n borgtog van £150 aan hom toegestaan. Die Hervormde kerkraad het beweer dat, volgens 'n beëdigde verklaring van ene timmerman A. Owen verkry, Ueckermann met sy hulp die deur met 'n vals sleutel oopgemaak en die pastorie in besit geneem het. Op dieselfde vergadering is ook kennis geneem van 'n protesgeskrif waarin 'n ouderling en diaken namens die Hervormde gemeente beswaar aanteken teen die handelswyse van die kerkraad. Daar het egter niks van die hofsaak gekom nie omdat die waarnemende staatsprokureur geweier het om stappe te doen.
Nuwe pastorie duimnael|links|300px|Ná 'n bittere stryd met die Hervormde Kerk oor eiendom, moes Heidelberg 'n nuwe NG pastorie bou wat ingewy is op 5 November 1897.