thumb|240px|Vandaalse juweliersware van bladgoud uit die 3de of 4de eeu. thumb|130px|'n Vandaal, geskilder deur Lucas de Heere, 16de eeu.

Die Vandale was ’n Germaanse volk wat die eerste keer in geskrewe bronne genoem word as inwoners van wat vandag Pole is, tydens die tydperk van die Romeinse Ryk. Veel later, in die 5de eeu n.C., het ’n groep Vandale onder leiding van konings Vandaalse koninkryke gevestig, eers op die Iberiese Skiereiland en daarna in die westelike Mediterreense eilande en Noord-Afrika.

Argeoloë verbind die vroeë Vandale met die Przeworsk-kultuur, wat daartoe gelei het dat sommige skrywers hulle gelykstel met die Lugiërs, ’n ander groep Germaanse volke wat met dieselfde argeologiese kultuur en streek verbind word. Tydens die Markomanniese Oorloë het die Vandale na die Romeinse Dacia uitgebrei, en tydens die Krisis van die Derde Eeu na Pannonia. Omstreeks 330 n.C. is hulle deur die Gote tot Pannonia beperk, waar hulle toestemming van Konstantyn die Grote ontvang het om hulle te vestig. Omstreeks 400 het strooptogte deur die Hunne uit die ooste baie Germaanse stamme gedwing om weswaarts na die gebied van die Romeinse Ryk te migreer. Uit vrees dat hulle volgende geteiken sou word, is die Vandale ook weswaarts gestoot en het hulle in 406 saam met ander stamme die Ryn oorgesteek na Gallië. In 409 het die Vandale die Pireneë oorgesteek na die Iberiese Skiereiland, waar die Hasdingers en die Silingers hulle onderskeidelik in Gallaecia (noordwes-Iberië) en Baetica (suidsentraal-Iberië) gevestig het.

Op bevel van die Romeine het die Wes-Gote Iberië in 418 binnegeval. Hulle het die Alane en die Silingers, wat hulself vrywillig aan die bewind van die Hasdingiese leier Gunderik onderwerp het, byna uitgewis. Gunderik is daarna in 419 deur ’n koalisie van Romeine en Suebe van Gallaecia na Baetica verdryf. In 429, onder koning Geiserik (regeer 428-'77), het die Vandale Noord-Afrika binnegegaan. Teen 439 het hulle die Vandaalse Ryk gevestig, wat die Romeinse provinsie Africa asook Sisilië, Korsika, Sardinië, Malta en die Baleariese Eilande ingesluit het. Hulle het verskeie Romeinse pogings om Africa te herower afgeweer en het in 455 die stad Rome geplunder. Hulle ryk het ineengestort tydens die Vandaalse Oorlog van 533-'34, waarin die magte van keiser Justinianus I die provinsie vir die Oos-Romeinse (Bisantynse) Ryk herower het.

Renaissance- en vroegmoderne skrywers het die Vandale as prototipiese barbare gekarakteriseer weens hulle 14 dae lange plundering van Rome, wat gelei het tot die gebruik van die term “vandalisme” om enige vorm van sinnelose vernietiging te beskryf, veral die “barbaarse” verminking van kunswerke. Sommige moderne historici het egter die rol van die Vandale beklemtoon as voortsetters van aspekte van die Romeinse kultuur gedurende die oorgangstydperk van die Laat Oudheid na die vroeë Middeleeue.Frank M. Clover en R.S. Humphreys (reds.), Tradition and Innovation in Late Antiquity (University of Wisconsin Press) 1989

Naam thumb|260px|'n Vandaalse nekring met 'n propknip (Kunsthistorisches Museum in Wene, Oostenryk).

Die naam word deur Saxo as Wandali en Wendilenses aangegee, in Oud-Noors as Vendill en in Oud-Engels as Wend(e)las. Dit gaan alles terug na die Proto-Germaanse vorm *Wanđilaz. Die etimologie van die naam is onduidelik.

Geskiedenis Oorsprong thumb|260px|Stamme van Sentraal-Europa in die middel van die 1ste eeu n.C. Die Vandale/Lugiërs word in groen uitgebeeld, in die gebied van die moderne Pole.

Vroeë klassieke bronne Die eerste keer dat die Vandale sover bekend genoem word, is deur Plinius die ouere, wat die term Vandili in 'n breë sin gebruik vir een van die groot groepe Germaanse volke. Hy noem verskeie stamme in dié groep.

Tacitus noem die Vandilii, maar net in 'n paragraaf oor die legendes van die Germaanse volke se oorsprong. Hy noem dan hulle word soms beskou as een van die oudste groepe van dié volke. Hy sê egter nie waar hulle woon of watter volke in dié kategorie val nie. Aan die ander kant gee Tacitus en Ptolemeus inligting oor die Varini, Boergondiërs en Gutone in dié tydperk, en dit dui daarop dat die Vandale in dié tyd tussen die riviere Oder en Vistula gewoon het.

Die Lugiërs, wat in vroeë klassieke geskrifte van dieselfde streek genoem word, was moontlik dieselfde volk as die Vandale. Die Lugiërs word deur Strabo, Tacitus en Ptolemeus beskryf as 'n groot groep stamme tussen die Vistula en die Oder. Strabo en Ptolemeus noem glad nie die Vandale nie, net die Lugiërs. Plinius noem weer net die Vandale en nie die Lugiërs nie. Walter Pohl en Walter Goffart het opgemerk Ptolemeus onderskei waarskynlik tussen die Silingers en die Lugiërs. In die 2de eeu word ook 'n onderskeid getref tussen die Lugiërs en die Hasdingers.Pohl, Die Germanen, p. 23; Goffart, Barbarian Tides, p. 298, footnote 47.

Taal Baie min is van die taal Vandaals bekend, maar daar word vermoed dit is van die uitgestorwe Oos-Germaanse tak, nes Goties. Die Gote het die enigste tekste van Oos-Germaans nagelaat, veral 'n 4de-eeuse vertaling van die Evangelies.

In die Romeinse Ryk In die 2de eeu het twee of drie aparte Vandaalse groepe onder die aandag van die Romeinse owerhede gekom: die Silingers, die Hasdingers en moontlik die Lakringers, wat saam met die Hasdingers voorgekom het. Net die Silingers is vroeër in Romeinse werke genoem, en hulle word verbind met Silesië.

230px|thumb|links|'n Rekonstruksie van 'n vegter uit die Ystertydperk wat 'n Vandaalse man voorstel (160 n.C.), Argeologiemuseum van Krakow, Pole. Twee volke het aan die Markomanniese Oorloë deelgeneem, wat gelei het tot wydverspreide verwoesting en die eerste inval in Italië in die Romeinse tydperk. Tydens die Markomanniese Oorloë (166-'80) het die Hasdingers (of Astinge) onder konings Raus en Rapt (of Rhaus en Raptus) suid beweeg en Dacia as bondgenote van Rome binnegegaan. Hulle het egter uiteindelik probleme in Dacia veroorsaak en verder suid beweeg, na die laer Donaugebied. Saam met die Hasdingers was die Lakringers, wat moontlik ook Vandale was.Dio Cassius, 72.12

Omstreeks 271 moes die Romeinse keiser, Aurelianus, noodgedwonge die middel van die Donau teen Vandale beskerm. Hulle het vrede gesluit en aan die oostelike oewer van die rivier gebly.

In 278 het die historikus Zosimus berig keiser Probus het die Vandale en Boergondiërs naby 'n rivier (vermoedelik die Lech) verslaan en baie van hulle na Groot-Brittanje gestuur. In dieselfde tyd is berig oor twee aparte konflikte buite die ryk waarin Boergondiërs verbind is met Alemanne en ander Vandale, moontlik Hasdingers in die Karpatiese streek.

Volgens die historikus Jordanes het die Hasdingers omtrent in die tyd van Konstantyn die Grote slaags geraak met die Gote. Die Vandale het toe gewoon in die gebied wat later deur die Gepiede bewoon is, waar hulle "in die ooste deur die Gote, in die weste deur die Markomanne, in die noorde deur die Hermandoere en in die suide deur die Hister (Donau) omring is". Die Vandale is deur die Gotiese koning Geberik aangeval en hulle koning, Wisimar, is gedood. Die Vandale het toe na die naburige Pannonia migreer, waar hulle vir die volgende 60 jaar gewoon het nadat Konstantyn die Grote omstreeks 330 grond aan die regteroewer van die Donau aan hulle gegee het.Jordanes chapter 22

Vandale het die Romeinse provinsie Raetia in die winter van 401/402 aangeval. Die historikus Peter Heather lei af die Vandale het in dié tyd in die streek om die Middel- en Bo-Donau gewoon.

Hoewel die Hasdingers reeds eeue lank aan die Middel-Donau gewoon het, is dit minder duidelik waar die Silingers gevestig was;Goffart, Barbarian Tides, ch. 5. dit kon in Silesië gewees het.The Barbarians: Warriors & Wars of the Dark Ages, Tim Newark (Blandford Press, 1985).Andrew H. Merrills, "Vandals, Romans and Berbers: New Perspectives on Late Antique North Africa", 2004, Ashgate Publishing, p. 34, (Google Books)Jerzy Strzelczyk, "Wandalowie i ich afrykańskie państwo" p. 59, Warszawa 1992.

In Gallië In 405 het die Vandale uit Pannonia opgeruk en weswaarts langs die Donau gereis sonder veel teenstand, maar toe hulle die Ryn bereik, het hulle weerstand gekry van die Franke, wat geromaniseerde streke in Noord-Gallië bewoon en beheer het. Volgens 'n dokumentfragment het ongeveer 20 000 Vandale, insluitende koning Godigisel self, in dié Vandaals-Frankiese oorlog gesterf.

Met die hulp van die Alane het hulle egter daarin geslaag om die Franke te verslaan, en op 31 Desember 405 het die Vandale die Ryn oorgesteek, waarskynlik terwyl dit gevries was, om Gallië binne te val, wat hulle heeltemal verwoes het. Onder Godigisel se seun Gunderik het die Vandale plunderend wes- en suidwaarts deur Akwitanië beweeg.

In Hispania thumb|250px|Migrasies van die Vandale af Skandinawië deur Dasië, Gallië en Iberië tot in Noord-Afrika. Grys: Romeinse Ryk. N.B.: a.C. = v.C. en d.C. = n.C. in Spaans.

Op 13 Oktober 409 het hulle die Pireneë oorgesteek na die Iberiese Skiereiland. Daar het die Hasdingers grond van die Romeine ontvang in Asturië (noordwes) en die Silingers in Hispania Baetica (suid), terwyl die Alane grond in Lusitania (wes) en die streek rondom Carthago Nova gekry het.

Die Wes-Gote, wat Iberië op bevel van die Romeine binnegeval het voordat hulle grond in Septimanië (Suid-Frankryk) ontvang het, het die Silingers in 417 en die Alane in 418 verpletter en die Wes-Alaanse koning Attaces gedood.Vasconcellos 1913, p. 551 Die oorblyfsel van sy volk en die oorblywende Silingers, wat byna uitgewis is, het daarna ’n beroep op die Vandaalse koning Gunderik gedoen om die Alaanse kroon te aanvaar. Latere Vandaalse konings in Noord-Afrika het hulleself genoem Rex Wandalorum et Alanorum (“Koning van die Vandale en Alane”). In 419 is die Hasdingers deur ’n Romeinse koalisie verslaan. Gunderik het na Baetica gevlug, waar hy ook tot koning van die Silingers uitgeroep is. In 422 het Gunderik ’n Romeinse koalisie beslissend verslaan. Dit is waarskynlik dat baie Romeinse en Gotiese troepe ná die geveg na Gunderik oorgeloop het. Volgens die skrywer Hydatius het Gunderik in die volgende vyf jaar wydverspreide verwoesting in die westelike Middellandse See gesaai. In 425 het die Vandale die Baleariese Eilande, Hispania en Mauretania geplunder, asook Cartagena en Sevilla. Die inname van die kusstad Cartagena het die Vandale in staat gestel om grootskaalse vlootaktiwiteite te ontplooi. In 428 het Gunderik Sevilla vir ’n tweede keer ingeneem, maar gesterf terwyl hy die stad se kerk beleër het. Hy is opgevolg deur sy halfbroer Geiserik wat, hoewel hy buite-egtelik was (sy moeder was ’n slaaf), ’n prominente posisie aan die Vandaalse hof beklee en die troon sonder teenstand bestyg het.

Geiserik word dikwels deur historici beskou as die bekwaamste barbaarse leier van die Migrasietydperk. Die Amerikaanse historikus Michael Frassetto skryf hy het waarskynlik meer tot die vernietiging van Rome bygedra as enige van sy tydgenote. Hoewel die barbare Hispania beheer het, het hulle steeds ’n baie klein minderheid uitgemaak binne ’n veel groter Hispaans-Romeinse bevolking – ongeveer 200 000 uit 6 000 000.

Ryk in Noord-Afrika

Stigting thumb|260px|Die Vandaalse Ryk toe dit in die 470's op sy grootste was.

Die Vandale onder Geiserik (ook bekend as Genserik) het in 429 na Afrika gekom. Alhoewel getalle onbekend is, raam Peter Heather op grond van Prokopius se bewering dat die Vandale en Alane in dié tyd 80 000 getel het, dat hulle ’n leër van ongeveer 15 000 tot 20 000 kon ontplooi.Prokopius, Oorloë 3.5.18–19 in