duimnael|regs|220px|Annie Visser.
Anna Louisa (Annie) Visser (plaas Lokshoek, distrik Jagersfontein, 6 Augustus 1876 - Fauresmith, 26 Mei 1927) was 'n mezzo-sopraan en een van die eerste Afrikaanse sangeresse wat plate van gewilde Afrikaanse liedere gemaak het.
Sy het in Londen en Nederland studeer, konsertreise deur Suid-Afrika onderneem en ook op die eerste kongres van die Nasionale Party in Bloemfontein in 1915 gesing. In haar laaste jare was sy koshuismoeder op Fauresmith, waar sy in die ouderdom van 50 oorlede is in Mei 1927. Sy het nooit getrou nie.
Herkoms en opleiding Annie was die jongste kind. Haar vader was Gert Petrus Visser, 25 jaar lid en 18 of 19 jaar lank voorsitter van die Vrystaatse Volksraad. Haar moeder was Comfort Victoria Plewman, nasaat van die 1820-setlaars. Haar oupa aan moederskant was die 1820-setlaar Thomas John Plewman van Colesberg.
Visser het haar eerste opvoeding aan die Wesleyaanse Hoër Meisieskool in Grahamstad ontvang (haar moeder was 'n boorling van die distrik Albanie waarin Grahamstad geleë is) en daarna aan die Vredenburg-Seminarie (die latere Good Hope Seminary) in Kaapstad, waar sy musieklesse ontvang het by Thomas Barrow-Dowling, orrelis van die St. George-katedraal. Hy was hoogs beïndruk deur haar stemkwaliteit en het aanbeveel dat sy na Londen gaan en gespesialiseerde opleiding aan die Royal Academy of Music ontvang. Sy verlaat die Kaap dan ook in die geselskap van 'n suster en studeer voor die Tweede Vryheidsoorlog onder Purcell. Sy het egter na Amsterdam gegaan met die uitbreek van die oorlog omdat sy nie ’n gas wou wees in die land waarteen haar broers in Suid-Afrika geveg het nie en ook weens haar sterk anti-Britse gevoelens. In Nederland het sy haar sangstudie voorgesit onder Marie Mély (die gravin Vander Heuvel).
Loopbaan Sy maak haar debuut op 28 April 1904 in Londen toe sy arias sing uit operas van Verdi en Massenet en die African Romances van Coleridge Taylor, wat haar self vir die uitvoering van sy werk begelei het. Volgens die konsertgebruik van die tyd het 'n tjellis, W.H. Squire, haar vokale nommers met sy spel afgewissel. Sowel The African World as die Tropical Times het taamlik niksseggende resensies van haar debuut-uitvoering gepubliseer, maar The Morning Post en The Standard het haar “ware intelligensie” en “diepe insig” geprys.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika, blykbaar nie lank daarna nie, het sy met die getalsterke toergeselskap van die Amerikaanse violiste Maude Powell op reis gegaan. Dit was die aanhef tot etlike konsertreise, waartydens sy in 'n paar Suid-Afrikaanse stede asook Lourenço Marques gesing het. Haar programme het gewoonlik Afrikaanse liedere ingelsuit, eers volksliedjies, maar later ook kunsliedere van onder meer Bosman di Ravelli, met wie sy dikwels saam opgetree het. Visser was bes moontlik die eerste sangeres wat Afrikaanse kunsliedere in die openbaar gesing het en ook een van die eerste Suid-Afrikaanse platekunstenaars. Toe Di Ravelli, saam met wie sy gereeld opgetree het, in 1909 sy honderdste klavieruitvoering in die operahuis in Pretoria gee, het sy hom met sangsolo's bygestaan en groot geesdrif gewerk met haar toegif, "Waar Tafelbaai begint" (pleks van die later gebruiklike "Tafelberg").
Van 1909 tot 1910 was sy weer in Londen, waar haar opname van die Zuid-Afrikaans Volkslied op dieselfde dag is as Uniewording gemaak, 31 Mei 1910. Uniewording het wêreldwye aandag geniet; waarskynlik die rede waarom die Gramaphone Concert Record Company (GCRC) besluit het om dié lied op te neem. Sy het in dié tyd ook opnames gemaak van Psalms en Gesange en Afrikaanse volksliedjies, nie net by GCRC nie, maar ook by Zonophone.
Sy het ook die komiese genre in Afrikaans en Engels beoefen en haar dikwels self op die klavier begelei. Tydens en ná die Eerste Wêreldoorlog het haar optredes minder geword, moontlik omdat haar kuns in daardie dae nie veel inslag by haar eie mense gevind het nie. Tog het sy voortgegaan om as musiekonderwyseres haar brood te verdien. Ná 1921 het sy haar in Johannesburg met kindersorg besig gehou en in 1924 het sy 'n aanstelling as huismoeder van 'n koshuis vir jong dogters op Fauresmith, naby haar geboorteplaas, aanvaar. Op dié Suid-Vrystaatse dorp is sy drie jaar later ná 'n smartlike lyding aan kanker dood.
Politieke bewustheid duimnael|regs|270px|Die voetstuk van haar ouers se grafsteen in die familiekerkhof op die plaas Lokshoek, distrik Jagersfontein.
Visser was ’n uitgesproke ondersteuner van genl. Barry Hertzog en sy Nasionale Party. Sy was goed bevriend met die Hertzogs sowel as min. Klasie Havenga en sy vrou, May. Ná die NP se stigting het sy dan ook ál meer liedere in Afrikaans en Hollands in haar programme ingesluit. In ’n onderhou met die Natal Mercury het sy gesê haar doel was “making the Dutchman proud of his language by singing about it and in it ... the Dutch people need stirring up in this way”. Haar lewe en loopbaan en haar Afrikanerpatriotisme het in die 1960’s nuwe belangstelling gewek toe artikels oor haar in Die Burger (7 September 1961) en Die Huisgenoot (15 Maart 1963) verskyn het.
Ná ’n openbare versoek vir inligting oor haar lewe, het staatspres. C.R. Swart met ’n brief gereageer waarin hy feite bekendgemaak het oor haar noue verbintenis met die Afrikaanse politieke elite van die vroeë 20ste eeu. Sy het dikwels by die Hertzogs in hul ampswoning gekuier. Sy het op die Nasionale Party se stigtingskongres in Bloemfontein in Julie 1915 gesing en is ook die eer betoon om die kleure van die nuwe party te kies, oranje en wit.
Waardering Frits Stegmann, uit wie se pen artikels oor Visser in Die Burger en Die Huisgenoot asook 'n inskrywing in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek verskyn het, skryf in laasgenoemde: "Haar stem is gekenmerk deur innige aanvoeling en 'n intelligente vertolkingsvermoë, maar Suid-Afrika was nog nie ryp vir haar kuns nie en sy geniet in haar leeftyd nie die waardering wat sy verdien het nie. Diep teleurgesteld sien sy van sang af en wend haar tot maatskaplike werk ... As mens was sy beskeie dog intens. Hoewel sy by geleentheid temperamentvol van geaardheid kon wees, was sy 'n minsame en diep gelowige mens. Haar lewe is gekenmerk deur selfopofferende liefde vir die jeug en deur 'n vurige vaderlandsliefde."
Artikel in Die Huisgenoot duimnael|220px|links|Hierdie foto van Annie Visser het in Junie 1914 in De Goede Hoop verskyn met die volgende byskrif: "Een bekwame Vrijstaatse zangeres en een warm patriot."
duimnael|regs|220px|Dié foto van Annie Visser het in 1963 by artikel in Die Huisgenoot oor haar lewe en loopbaan verskyn.
Op 15 Maart 1963 het die volgende artikel, "Annie Visser, baanbreker van die Afrikaanse lied", deur Frits Stegmann oor die lewe van Annie Visser in Die Huisgenoot verskyn:
"In 1913 het die skrywer Boet Nelie sy Afrikaanse Verjaardag-Boekie met die volgende woorde aan Sus Annie, Die Afrikaanse Sangeres, geskenk:
'Bij al wat jij doen, bij al wat jij seg, bij al wat jij skryf, bij al wat jij sing, onthou altijd, my suster, dat jij 'n afrikaanse nooi is.'
"Die skrywer van hierdie woorde was, natuurlik, ons geliefde C.J. Langenhoven, en die sangeres was Annie Visser, wat haar hele lewe aan Langenhoven se ideaal getrou gebly het. So het daar op 1 Junie 1914 'n foto van haar in J.H.H. de Waal se tydskrif De Goede Hoop met die volgende onderskrif verskyn: 'Een bekwame Vrijstaatse zangeres en een warm patriot.' Inderdaad was Annie Visser dié baanbreker op die gebied van die vertolking van Afrikaanse liedere. In haar uitvoerings het hierdie uitstekende mezzosopraan nie alleen opera-arias en Europese kunsliedere voorgedra nie, maar ook Afrikaanse liedere. Daarbenewens het sy in 1908-10 in Londen 'n groot aantal plate van ons Psalms en Gesange, sowel as van ligte Afrikaanse liedere gemaak.
"Ondanks haar belangrike pionierswerk was daar tot onlangs feitlik niks oor Annie Visser in musiekkringe bekend nie. Na 'n oproep in die pers het niemand minder nie as ons Staatspresident self die eerste waardevolle inligting oor haar verskaf. Met sy goedgunstige verlof haal ek die volgende aan uit 'n brief van mnr. C.R. Swart: "Ek het Annie Visser persoonlik geken en haar meermale in Bloemfontein hoor sing. Sy is afkomstig uit die distrik Jagersfontein – die ou familie-plaas in Lokshoek ... Sy was die suster van dr. T.C. (bekend as Tom) Visser – in lewe eers L.V. vir Vrededorp (en die eerste persoon om vir die N.P. ’n setel op die Witwatersrand te verower, daar in die twintigerjare) en later Senator. 'Een ding wat ek van haar onthou, is dat sy by die stigting van genl. Hertzog se Nasionale Party in 1914-15 op die Kongres gesing het. Toe die Kongres die kleure vir die nuwe party moes vasstel, is die keuse aan haar oorgelaat en sy het oranje en wit gekies.'
"Mnr. Swart voeg by: "'n Ligte liedjie wat Annie Visser graag gesing het en gehore mee vermaak het, was Mamma, 'k wil ’n Man hê!” Die Staatspresident het nie alleen bogenoemde waardevolle besonderhede verstrek nie, maar ook die name en adresse van verskeie van Annie Visser se familielede sodat 'n betreklik volledige lewenskets van Annie Visser opgestel kon word: My innigste dank aan vier niggies van Annie Visser, naamlik mev. (regter) Brink, mev. (dr.) Ben Havenga, en mej. Ruth Davis, almal van Bloemfontein, en mev. C.J. Laubscher van Edenburg, vir die inligtinge in hierdie artikel vervat.
"Annie Visser is op 6 Augustus 1876 gebore as die jongste dogter van Gert Petrus Visser van Lokshoek, Jagersfontein. Haar vader was vyf-en-twintig jaar lid (agttien of neëntien jaar as voorsitter) van die Vrystaatse Volksraad, terwyl haar moeder, Comfort Victoria Plewman, 'n dogter van een van die Britse setlaars van 1820 was. Van jongs af het Annie Visser besondere musiektalent, asook 'n ware kunstermarstemperament (dog innemende persoonlikheid) aan die dag gelê. Sy is aan die Wesleyaanse Hoërskool in Grahamstad opgelei, en is voor die Anglo-Boereoorlog na Europa om haar onder madame Marie Mely (gravin Van den Heuvel) in sang te bekwaam. Destyds was dit, veral vir 'n dame, 'n groot onderneming om so jonk alleen na Europa te reis en 'n hele paar jaar daar te studeer.
"Tydens haar Londense debuut op 28 April 1904, toe haar 'ware intelligensie' en 'diepe insig' reeds hoë lof ingeoes het, is Annie Visser onder meer deur die beroemde komponis, Coleridge-Taylor, in van sy African Romances begelei, terwyl die uitstekende tjellis, W.H. Squire (wat nou negentig jaar oud moet wees), haar sang met instrumentale solo's afgewissel het. By hierdie geleentheid het die Londense blad, African World, onder meer soos volg geskryf: 'Inwoners van Suid-Afrika is bewus van die feit dat baie musiektalent as 't ware sluimerend in daardie land lê, en hoewel verskeie uitstekende sangers (esse) van tyd tot tyd plaaslike roem verwerf het, was mej. Annie Visser bestem om die eerste aanval op 'n Londense gehoor te loods, wat sy verlede Donderdagaand in die Aeblian Hall met 'n aansienlike mate van welslae gedoen het.'
"Die Topical Times se resensie weerspieël 'n houding wat histories nogal interessant is: 'With an attractive personality and voice of alluring quality, Miss Annie Visser, whether she hails from South Africa or any of the other British dominions beyond the seas, is welcome in our midst . . .'