duimnael|regs|190px|Ds. A.P. Meiring.
Ds. Albertus Petrus Meiring (Beaufort-Wes, 4 Augustus 1832 – Edenburg, 28 Mei 1892) was ’n predikant in twee gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, naamlik St. Stephen's in Kaapstad en Edenburg in die Vrystaat.
Meiring is ’n afstammeling van die Arnoldus Mauritius Meiring, stamvader van die Meirings in Suid-Afrika en in lewe predikant van Tulbagh. A.P. Meiring het grootgeword op Beaufort-Wes en was baie verskuldig aan die geestelike leiding wat hy geniet het van die destydse predikant, ds. Colin Fraser. Ná voorbereidende opleiding in Kaapstad, het hy op jeugdige ouderdom na ’n hoërskool gegaan in Utrecht, Holland. Sy tydgenote was onder andere di. Charles Murray, Colin McKenzie Fraser (seun van Beaufort se predikant), Alexander Daneel en A. D. Lückhoff. As student is hy gekenmerk deur getrouheid in die voorbereiding van sy studies en in nougesetheid in sy Christelike wandel. Nadat hy sy kandidaatseksamen in die Godgeleerdheid met goeie gevolg afgelê het, het hy na sy vaderland teruggekeer.
St. Stephen's Nadat hy die proponentseksamen afgelê het en gelegitimeer is, is hy aangestel as waarnemende leraar van die gemeente St. Stephen's in Kaapstad, gedurende die afwesigheid weens krankheid van die plaaslike predikant, ds. H.G. Faure, en as sodanig is hy op 16 Oktober 1862 georden. Die bevestigingsrede is uitgespreek deur prof. John Murray, met wie se dogter hy later in die huwelik getree het. Aan die begin van 1864 is hy vestig as predikant van die gemeente, nadat ds. Faure sy ontslag aangevra en verkry het. Die gemeente St. Stephen's aan wie hy besonder geheg was, het veral bestaan uit slawe wat in 1837 vrygemaak is en hul nasate. Terwyl hy hier werksaam was, het hy beroepe ontvang na Sutherland, Maclear, Knysna en Franschhoek, wat hy egter almal van die hand gewys het.
Na Edenburg Op 20 Januarie 1866 is hy na die toe vier jaar oue NG gemeente Edenburg beroep. Hierdie beroep, hoewel die aanname daarvan vir hom baie opofferings beteken het, kon hy nie van die hand wys nie. Met 'n wa en esels het hy en sy gesin die lang en afmattende reis van Kaapstad na Edenburg onderneem. Hy is hierheen beroep vir £350 per jaar (die goewermentstoelaag ingesluit) en sy slagvee is op 'n vergadering van 10 November 1866 op 110 hamels vir 'n jaar vasgestel "om daarmede te doen en te handelen naar eigen goedvinden".
Op 10 Junie 1866 is hy as herder en leraar van Edenburg bevestig. Ds. Meiring was nie net 'n gawe van God aan hierdie gemeente van die Vrystaat nie, maar ook aan die hele Vrystaatse kerk, volgens ds. J.H. van Loggerenberg, latere leraar van Edenburg en skrywer van die gemeente se 75-jarige gedenkboek.
Sy werk op Edenburg duimnael|regs|300px|Die pastorie op Edenburg, ingewy in 1867 en herbou in 1889. Met die grootste ywer en toewyding het ds. Meiring sy werk op Edenburg begin. Hoewel reeds op 8 Julie 1864 besluit is om 'n Pastorie te bou, moes hy die werk nog self kom voltooi en afrond. Oneindig veel moes in die nuwe gemeente tot stand gebring word. Die geestelike belange het by hom die swaarste geweeg. Die kerkie het spoedig geblyk heeltemal ondoelmatig te wees, en aan die bou van 'n nuwe kerk moes daar gedink word. Die sendingbelange het hy ook baie na aan die hart gedra en reeds op 'n vergadering van 15 Junie 1868 is besluit om, met die oog op die beter behartiging van die geestelike belange van gekleurdes, dadelik te kollekteer vir die oprigting van 'n kerkgebou vir hulle. Wat die saak ook nog meer verhaas het, was die feit dat daar met die koms van ds. Meiring ook twee kleurlinge was wat lede van die blanke gemeente was. Aan hulle is Nagmaal in die konsistorie bedien die Sondagaand na afloop van die feesviering.
Die plaaslike leraar sou self vir die boufonds kollekteer en die lede van die kerkraad sou verantwoordelik wees vir die vervoer van die leraar op sy kollektetoer. Oral was daar tekens van geestelike lewe, soos blyk uit dié aanhalings uit die godsdiensverslag wat in 1869 voor die Sinode op Winburg gelê is: "Er bestaat geen oorzaak van Klachte, wat de opkomsten naar de openbare erediensten betreft. Dat met 't oog op het geestelike leven in de gemeente, het kennelik meer en meer openbaar wordt wie des Heren zijn en wie des Heren niet zijn. Dat de belangstelling in de zaak der zending zich allengskens meer en meer openbaart, en dat voor Godsdienstoefeningen, des Zondagsavonds voor gekleurden is gezorgd. Dat in de bidstonden de ondervinding werd opgedaan van des Heeren tegenwoordigheid." In daardie kerkjaar is daar 15 pare getroud, 62 kindertjies gedoop en 62 aangeneem tot lidmate.
Kerkbou
duimnael|regs|270px|Die ou NG kerk op Edenburg, opgerig volgens die plan van die Vrystaat se eerste argitek, Richard Wocke en ingewy op 10 Januarie 1877. Van Loggerenberg beskryf die ou kerk op Edenburg as die "groot monument van ds. Meiring", wat dit soveel te meer onbegryplik maak dat dié gebou in die 1950's gesloop is om plek te maak vir ’n kerk van siersteen.
Op 'n gemeentevergadering gehou op 12 Oktober 1872 is besluit om 'n nuwe kerk te bou. Die lede wat teenwoordig was was besonder geesdriftig en deur die 50 manslidmate daar is onmiddellik 'n bedrag van £2 500 vir die boufonds belowe. 'n Boukommissie is benoem, wat uit die volgende lede bestaan het: ds. A.P. Meiring, A. Strauss, F.J. du Toit, G.P. Snyman, J.A. Griessel en S.W. van der Merwe. Op 'n kerkraadsvergadering van 14 Oktober 1872 is besluit om by die gemeente aan te beveel dat 'n kruiskerk, met nie minder as 600 sitplekke nie, gebou sal word, en voorts dat met die bou daarvan nie begin sal word nie voordat "ten minste nagenoeg de geheele bouwsom zal zijn gewaarborgd". Vir die verwesenliking van hierdie ideaal het die gemeente op inisiatief van ds. Meiring vir hulle grootliks beywer, sodat met die bou van die nuwe kerk in 1874 'n begin gemaak kon word. In 1873 is 'n basaar gehou en met die geleentheid het een Kaapse hamel die reusebedrag van £104.14s. 0d. ingebring. Die skaap is 19 maal teruggegee.
Die boumeester van die kerk was Richard Wocke, "in den Oranje Vrystaat, by de kerk zowel als by den Staat ten gunstigste bekend". Die messelaars, wat onder hom gewerk het, was Doyer, Wall en Pritchard. Die heer Wiid was verantwoordelik vir die timmerwerk en hy persoonlik het die sierlike kansel gemaak, wat baie jare in die kerk gebruik is. Die werk aan die nuwe kerk het mooi gevorder en op 4 Mei 1874 het die kerkraad besluit dat die hoeksteen op 10 Julie 1874 gelê sou word. Verder is daar ook besluit: (a) dat die lede van die kerkraad net na die legging van die hoeksteen saam met die rustende kerkraadslede en met die boukommissie 'n sosiale dinee sou hê; (b) dat met uitsondering van die voorsitter, as lid van die boukommissie, elke kerkraadslid uit sy privaat beurs £1 sal bydra ten einde by geleentheid van die hoeksteenlegging aan die drie messelaars van die kerk 'n geskenk te gee, en voorts aan die handlangers vir rekening van die gemeente van vier tot ses skape, en aan die argitek "'n matig dronk wyn of brandewyn, door hem zelven aan zyn volk op gepasten tyd uit te reiken, en die uit de kerkkas te vergoeden". Op die "liefdemaal" wat daar gehou is, is ses flesse wyn en 12 flesse bier verbruik.
Die bou van die kerk het betreklik stadig gevorder en eers op 10 Januarie 1877 het die plegtige inwyding daarvan plaasgevind. Dit was 'n buitengewone feesviering, wat van 9 tot 14 Januarie geduur het. Die verrigtinge het die Dinsdagaand begin met 'n bidstond in die ou kerk en het op Sondagaand in die nuwe kerk geëindig met 'n konferensie met die gemeente. Die uitgangspunt van hierdie konferensie was Psalm 66 vers 16. "Kom luister en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het." Uit die verslag wat voor die gemeente gelê is, die volgende aanhaling: Die kontrak vir die bou van die kerk is op 9 Junie 1873 geteken. Die gebou moes afgelewer word vir die som van £11 500. By die aflewering sou die laaste paaiement van £1 100 betaal word. Die ekstras wat bygekom het, het die totale koste op £12 901 gebring. By sy inwyding het daar nog 'n skuld van £4 804.12s.0d. op die kerk gerus. Hierdie bedrag is egter deur beloftes gewaarborg en die "intekeninge op die tweede aanvraag zijn nog onbetaald". Die gemeentelede het almal baie ruim bygedra. Daarby het die broers Bastiaan en Jan Tromp die pragtige groot orrel aan die kerk present gegee, wat dekades lank uitstekende diens aan die gemeente gelewer het. Die familie van der Merwe het nog £54.2s.0d. bygedra vir die klok en vir die uurwerk, en die susters en dogters van die gemeente het die lampe aan die kerk gegee. Diaken C.W. van Zyl het die kanselkleed gegee, en die lede van die kerkraad die Kanselbybel en -gesangboek. By geleentheid van die inwyding het die kerkraad uit die volgende broeders bestaan: R. Robinson, G. van Niekerk, S.W. Dippenaar, B. Liebenberg, S.W. van der Merwe, G.P. Snyman, D.J. Ackerman, J.A. Griessel, F.P. Viljoen, O. Rahl, W. van den Heever en W. Strauss. Ds. A.P. Meiring het by hierdie geleentheid 'n baie indrukwekkende rede uitgespreek. Hy het onder meer gesê: "De gemeente van Edenburg heet allen met hare feestvierenden van elders, bij deze gelegenheid van harte welkom, zij nodige tevens allen met haar bij deze feestgelegenheid opgekomen, bij deze minzaam uit zich met haar te verenigen in dankzegging tot God. Allereerste zeggen wij Gode, den drieënigen God, in welks naam dit gebouw zo straks geopend werd, dank voor deze gelegenheid en deze feestdag. Toen de gemeente den drang der noodzaaklikheid gevoelde tot de grootse onderneming eene kerk te bouwen, een bedehuis waar zij zelven en hare kinderen mogten opgaan tot de openbare erediensten, stelde zij zich tot die taak met de geloofsleuze 'De Heere zal het voorzien'. Deze dag is getuige hoe de Heere God aan haar genadiglik boven bidden en denken heeft gedaan. Zij bedenke dit, opdat haar de moed niet ontzinke waar zij door geen geringe schuld op dit Huis, nog gedrukt gaat, en dit in zo 'n drukkende tijd als tans. De gemeente zondige niet door wankelmoedigheid of ongeloof, maar worde ook door de blijde uitkomsten van heden gesterkt in haar geloofsvertrouwen, gevende God de eer. Deze gemeente geve den een den ander de broederhand en danke de broeder den broeder, de echtgenoot zijner gade, de Vader zijnen Zoon, het kind zijnen oudsten, want in der waarheid: God heeft de harten gewillig gemaakt. De gemeente zou echter niet gedaan' hebben, hetgeen zij heeft, indien zij niet zich bewust of onbewust gehandekl had naar de zinspreuk: 'Eendracht maakt Macht'. Maar ook hier steke een ieder de hand in eigen boezem.