Noorweë (Bokmål: Norge, ; Nynorsk: Noreg, ; Noord-Samies: Norga; Lule-Samies: Vuodna; Suid-Samies: Nöörje), amptelik die Koninkryk Noorweë (Bokmål: Kongeriket Norge; Nynorsk: Kongeriket Noreg; Noord-Samies: Norgga gonagasriika; Lule-Samies: Vuona gånågisrijkka; Suid-Samies: Nöörjen gånkarïjhke), is 'n Noord-Europese land. Dit is in die weste van die Skandinawiese Skiereiland geleë en strek oor 'n afstand van meer as 1 600 kilometer van die Noordkaap na Lindesnes in die suide. Dit grens in die Arktiese noorde aan die Russiese Federasie en Finland, en vanaf Lapland in die noorde tot by die Skagerrak in die suide aan Swede.
duimnael|links|'n Satellietbeeld van die vastelandse Noorweë in die winter van 2003 By sy wydste punt strek die land oor 'n afstand van sowat 430 kilometer in wes-oostelike rigting, terwyl die Arktiese hawestad Narvik slegs agt kilometer van die Sweedse grens af lê. Sowat 'n derde van die land lê binne die Noordpoolsirkel, maar trek in klimatiese opsig voordeel uit die warm Golfstroom se matigende effek: Die seehawens van die Arktiese kuslyn soos Hammerfest en Kirkenes bly in die meeste winters ysvry.
Noorweë is die sesde grootste land in Europa, maar ook een van sy ylbevolkstes met slegs 14 inwoners per vierkante kilometer. Die bevolking is oneweredig oor die land versprei, met groot konsentrasies in die kusgebiede van Suid- en Wes-Noorweë. Die hoofstad van Noorweë is Oslo. Ander belangrike stede is Bergen, Trondheim en Stavanger. Hierdie vier stedelike sentra behels sowat 'n kwart van die Noorse bevolking, terwyl groot dele van die sentrale berggebiede en die noordelike landsdele ongerep en byna onbewoon is.
Noorweë is 'n grondwetlike monargie. Die huidige koning is Haakon VIII en die eerste minister is Jonas Gahr Støre. Noorweë was 'n selfstandige koninkryk van die 9de eeu tot 1397, waarna dit in die Unie van Kalmar opgeneem is saam met Denemarke en Swede. Toe Swede in 1521 die Unie verlaat het, het Noorweë 'n provinsie van Denemarke geword. Dit het onder Deense gesag gebly tot dit in 1814 in Sweedse hande oorgegaan het. Noorweë het daarmee 'n eie grondwet en meer selfbestuur gekry. In 1905 het Noorweë weer 'n onafhanklike staat met koning Haakon VII as staatshoof geword.
In teenstelling met sy buurlande Swede en Finland het Noorweë nie by die Europese Unie aangesluit nie, maar is nogtans 'n lidstaat van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO). Die samewerking met ander Skandinawiese lande in die Nordiese Raad is veral op sosiale welvaart en opvoeding gemik.
Noorweë se geskiedenis en tradisionele bedrywe weerspieël sy verbintenis met die see. Sowat 1 000 jaar gelede het Wiking-seevaarders uit Noorweë die noordelike oseane verken en nedersettings langs die kuslyne van Brittanje, Ysland, Groenland en selfs Noord-Amerika gestig. Vissery, skeepsbou en skeepvaart het sindsdien 'n belangrike ekonomiese rol gespeel, en die land beskik nog steeds oor 'n groot handelsvloot.
Volgens die Menslike Ontwikkelingsindeks (MOI), wat jaarliks deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram uitgegee word, behoort Noorweë tot die lande met die hoogste lewenskwaliteit.
Etimologie duimnael|links|Eerste stel van Ohthere se Oudengelse rekening, wat vertaal as: "Ohthere het aan sy heer koning Ælfrede gesê dat hy noord van alle Noorweërs woon" duimnael|Noorweë se Noordkaap is die noordelikste punt van Europa duimnael|'n Yslandse kaart van Noord-Europa uit die jaar 1599 Na die seeroete vanaf Karmøy en verder noordwaarts is vroeër verwys as Norðrvegr of "Roete na die Noorde". Hierdie benaming, wat oorspronklik deur Gote en Dene gebruik is, het net soos Vestrvegr, Austrvegr of Suðrvegr geleidelik tot 'n geografiese naam vir die gebied ontwikkel wat ook in tale soos Engels, Duits en Frans gebruik is om na die Wes-Skandinawiese land te verwys.
Op 'n later tydstip is die skeepsroete se naam gebruik om na die land te verwys wat aan die oostelike kant geleë was. Dit is nie presies bekend wanneer Østlandet gebruik is om na die land langs die Norðrvegr te verwys nie, aangesien hierdie gebied in die 12de eeu meestal aan die Deense konings belastingpligtig was.
In Ottar se verslag vir die Engelse koning Alfred, wat omtrent 880 geskryf is, word die terme Norðweg en Norðmannaland gebruik. Die rune-inskrifte op een van die Deense Jelling-stene, wat omstreeks 980 ontstaan het, gebruik die akkusatief Nuruiak wat van die nominatief Norvegh afgelei is. Middeleeuse Yslandse handskrifte verwys na die land as Noreg(h)r of Norveg(h)r.
In die 14de eeu is die naam saamgetrek tot die nominatief-vorms Noreg(h)e, Norig(h)e en Norg(h)e. Ná hierdie eeu het nominatiewe soos Norie en Nories ontstaan waarby die i as 'n j-klank uitgespreek is (soos in die huidige Sweedse benaming vir Noorweë). Vanaf 1450 kom die variant Noreg(h) nog skaars voor, terwyl Norg(h)e ál meer gebruiklik raak, as 'n gevolg van die nasionale gemeenskap Denemarke-Noorweë en dus die invloed van die Deense taal.
Ivar Aasen het die dialektiese vorm Norig gebruik toe hy in die 19de eeu die Noorse skryftaalvariant Landsmål geskep het. In 1917 het die variante Norig en Noreg gelyke status in Landsmål gekry, maar met die spellingshervorming van 1938 het Noreg die eenheidsvorm in Nynorsk geword. In Bokmål en Riksmål was Norge steeds die enigste woordvorm.
Geografie Geologie duimnael|Die hoogste vertikale rotswand in Europa, Trollveggen en Trollryggen oor die rivier Rauma in die vallei van Romsdalen Die landmassa van Noorweë is in geologiese opsig baie oud – die bergreekse van die land is reeds meer as 400 miljoen miljoen jaar gelede, teen die einde van die geologiese Siluur- en die begin van die Devoon-tydperk, aan die westelike kant van die Baltiese Skild gevorm. Hierdie bergvorming of orogonese het deel uitgemaak van die Kaledoniese bergvorming wat na die Latynse naam vir sy uitgangspunt Skotland (Caledonia) vernoem is. Galli, Max en Johannes Holzleiter: Norwegen. Augsburg: Weltbild 2008, bl. 18
Die Skandinawiese bergreeks loop oor 'n afstand van byna 1 700 kilometer deur die land, en tussen Kaap Lindesnes teen die 57ste noordelike breedtegraad in die suide tot by die Noordkaap teen die 71ste breedtegraad in die noorde is die grootste deel van hierdie bergreeks op Noorse gebied geleë – waaronder die hoogste bergspitse in Noord-Europa: Galdhøppigen (2 469 meter bo seevlak) en Glittertind (2 465 meter) in die Jotunheimenreeks en Snøhetta (2 286 meter) in die Dovrefjell.
Sowat die helfte van Noorweë se oppervlakte is gebiede met 'n hoogte van meer as 500 meter bo seevlak, en sowat 'n kwart van die land is selfs teen 'n hoogte van meer as 1 000 meter geleë.
Landskapsvorme duimnael|Die berglandskap van die Nasionale Jotunheimenpark duimnael|Hierdie satellietfoto van Suid-Noorweë met vals kleure (sneeu word in rooi vertoon) verduidelik die topografiese struktuur van die land. Die Sogne- en Hardangerfjord is duidelik sigbaar aan die linkerkant van die beeld Noorweë is 'n ruwe, bergagtige land, en sy klimaat en topografie, wat die lewe in baie gebiede steeds moeilik gemaak en eeue lank ook die oorsaak van honger en armoede was. Dit bemoeilik nog steeds kommunikasie en vervoer. Die landskap van Noorweë word deur golwende plato's, die sogenaamde vidda, met 'n gemiddelde hoogte van 300 tot 900 meter bo seevlak oorheers, alhoewel sommige bergspitse tot hoogtes van tussen 1 500 en 2 500 meter rys, veral in die gebied tussen Oslo, Bergen en Trondheim. Die pieke in Noord-Noorweë bereik daarenteen net hoogtes van minder as 2 000 meter.
Die hoogste berggebiede, soos byvoorbeeld die Jotunheimen bo-oor die Sognefjord, is met permanente ysvelde bedek. Die Noorse bergreekse het gedurende die laaste 400 miljoen jaar in drie verskillende periodes van bergvoming ontstaan en bevat gesteentes uit die vroegste geologiese tydperke. Tydens die bergvorming is ook vulkaniese materiaal by die gesteentes gevoeg wat veral uit groot hoeveelhede graniet en gneiss bestaan. Hierdie gesteentes bevat Noorweë se mineraalrykdomme.
Daar is min lae vlaktes in die land, alhoewel in die ooste diep riviervalleie in die viddas ingesny het. Die riviere vloei na die laer geleë gebiede van Suidoos-Noorweë.
Gedurende die glasiale periodes van die Ystydperk was die hele gebied van Noorweë met die groot noordelike yskap bedek. Toe die ys sowat 10 000 jaar gelede afgesmelt het, het dit groot afsettings agtergelaat, die sogenaamde glasiale morenes waarvan die Raa-morenes in die omgewing van Oslo die bekendstes is.
Gebiede met sanderige of gruiserige grond is gewoonlik bebos, terwyl die Noorse landbou die beter grond in ander streke vir akkerbou of veeteelt gebruik.
Die kusgebiede en eilande Selfs as die fjorde nie ingereken word nie, strek Noorweë se kuslyn oor 'n lengte van 2 650 kilometer – die fjorde se oewers vertiendubbel hierdie syfer sodat die Noorse kuslyn net so lank is as dié van Australië. Mits al sy eilande ingereken word, beloop die Noorse kuslyn selfs sowat 60 000 kilometer. As Noorweë om Oslo geroteer sou word, sou die Noordkaap (die noordelikste punt van die land) by Rome geleë wees.
Die kenmerkende kuslandskap het 'n sterk invloed op Noorweë se historiese ontwikkeling tot 'n seevaardersnasie uitgeoefen. Nou fjorde met steil rotswande aan weerskante, wat deur die glasiale yskap gevorm is, sny diep in die viddas van die Wes-Noorse kus in. Die Sognefjord is met 'n lengte van 203 kilometer en 'n wydte van minder as vyf kilometer die grootste van hierdie fjorde. Die smal strepies land langs die fjorde word vir landboudoeleindes gebruik, terwyl die hoër geleë berghange gedurende die somermaande as weivelde vir beeste en skape dien. Die plaaslike waters is belangrike visgronde.
Langs die Noorse kus lê honderde eilande. Die Lofoten-eilande noord van die Arktiese of Noordpoolsirkel is die grootste argipel van hierdie eilandwêreld wat die vastelandse kusgebiede teen die sterk branders van die Noorse See beskerm. Veer- en vissersbote trek sodoende voordeel uit veilige waterweë langs die kuslyn.
Die nabygeleë Arktiese Svalbard- en Jan Mayen-eilandgebiede val onder Noorweegse heerskappy en word sedert die 1920's as deel van die Noorweegse koninkryk beskou, terwyl die Bouvet-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan en die Peter I-Eiland in die Suidelike Stille Oseaan as Noorweegse besittings, wat nie deel is van die Noorweegse koninkryk is nie, gesien word. Noorweë maak verder ook aanspraak op Dronning Maud Land in Antarktika.
Die steenkoolmyne in Svalbard word deur Noorweë en Rusland gemeenskaplik ontgin. Die seegebied bevat daarnaas ruolie- en gasvelde, terwyl Jan Mayen ook as 'n belangrike basis vir die uitsaai van radioprogramme en weerkundige doeleindes gebruik word.
Die klein eilandjies langs die Suid-Noorse kus word skere genoem. Hulle is die hoogste spitse van 'n kusplato wat tydens die koueperiodes van die Ystydperk deur die beweging van ysmassa's sy huidige gestalte gekry het en in die latere warmer periodes deur seewater oorstroom is. Slegs die hoogste spitse rys tans tot by sestig meter bo die seevlak. Net 'n klein gedeelte (sowat 2 000) van die altesaam 150 000 skere is bewoon.
Die fjorde duimnael|Geirangerfjord-uitsigplatform In die koue periode van die Pleistoseen, wat tussen twee en drie miljoen jaar lank voortgeduur en eers sowat 10 000 jaar gelede geëindig het, het Noorweë onder 'n dik yslaag gelê. As gevolg van die swaartekrag het die gletsers se magtige ysmassa's stadig van die bergreekse na die see beweeg. Die bestaande V-vormige kerfdale was natuurlike paaie vir die ys en is deur die geweldige gewig van die gletsers, asook grint en rolstene, wat hulle meegevoer het, tot benede die seevlak tot U-vormige trogdale uitgegrawe.
Vanweë die verskillende vloeisnelhede van die gletsers en hardheidsgrade van die gesteentes het elkeen van die valleie sy eie spesifieke karakter ontwikkel. By die vorming van die Sognefjord is 10 000 kubieke meter se gesteente geërodeer. Galli/Holzleiter (2008), bl. 32