Betelgeuse (), ook bekend onder sy Bayer-naam, Alpha Orionis of α Ori, is gewoonlik die 10de helderste ster in die naglug en naas Rigel die helderste in die sterrebeeld Jagter (Orion). Dié rooi ster is ’n halfreëlmatige veranderlike ster waarvan die skynbare magnitude wissel tussen 0 en 1,6, die grootste wisseling van enige ster van die 1ste magnitude.

Betelgeuse is die helderste ster in die naglug by naby-infrarooigolflengtes en het 'n radius van tussen 640 en 764 sonradiusse. As dit in die middel van die Sonnestelsel geleë was, sou sy oppervlak tot anderkant die asteroïedgordel gestrek het en sou dit Mercurius, Venus, Aarde en Mars verswelg het.

duimnael|links|180px|Betelgeuse se posisie (links bo, in die Noordelike Halfrond) in vergelyking met dié van die digte newels van die Orion-molekulêrewolkkompleks en die Jagter se Gordel (foto: Rogelio Bernal Andreo). Berekenings van Betelgeuse se massa wissel van net onder 10 tot 'n bietjie meer as 20 sonmassas. Sy absolute magnitude is sowat . Die ster is minder as 10 miljoen jaar oud en het vinnig ontwikkel vanweë sy groot massa. Sy evolusie sal na verwagting in 'n supernova eindig, waarskynlik binne 100 000 jaar. Wanneer Betelgeuse ontplof, sal dit langer as drie maande so helder soos die halfmaan skyn, maar die lewe op Aarde sal nie geraak word nie.

Die dwaalster is gewerp uit sy ontstaanplek in die Orion OB1-assosiasie, wat die sterre in die Jagter se Gordel insluit, en beweeg teen tot deur die interstellêre medium. Dit skep 'n boegskok van meer as vier ligjare breed. Dit word ook omring deur 'n ingewikkelde, asimmetriese omhulsel van rofweg 250 keer die grootte van die ster, wat veroorsaak word deur massaverlies van die ster self. Betelgeuse is een van die hoekpunte van die Suidelike Halfrond se Somerdriehoek en is in die middel van ons Somerseshoek geleë.

Van Oktober 2019 af het Betelgeuse merkbaar begin verdof en teen middel Februarie 2020 het sy helderheid met 'n faktor van sowat 3 afgeneem, van magnitude 0,5 tot 1,7. Daarna het dit tot 'n meer normale helderheidsomvang teruggekeer en in April 2023 sy hoogste sigbare magnitude van 0 bereik. Infrarooiwaarnemings het geen aansienlike verandering in helderheid oor die afgelope 50 jaar bespeur nie, en daarom word geglo die verdowwing was te wyte aan 'n verandering in die verstrooiing van stof en gas om die ster, eerder as 'n fundamentele verandering. 'n Studie met die Hubble-ruimteteleskoop het aangedui verduisterende stof is geskep deur 'n oppervlakmassauitwerping miljoene kilometers van die ster af, en dit het die verdowwing veroorsaak.

Hoewel dit nie bevestig is nie, is daar bewyse dat Betelgeuse 'n dubbelster kan wees. Die metgeselster, Betelgeuse B of Siwarha, sal baie kleiner en dowwer as die rooisuperreus wees en wentel vermoedelik op 'n afstand van net 'n paar keer die grootte van Betelgeuse om die ster.

Waarnemingsgeskiedenis Betelgeuse en sy rooi kleur is al sedert die oudheid bekend. Die klassieke sterrekundige Ptolemeus het sy kleur as ὑπόκιρρος (hypókirrhos) beskryf: "min of meer oranje-taan"). Dié term is later deur 'n vertaler van die Persiese sterrekundige Ulugh Beg se sterkatalogus, Zij-i Sultani, as "rubedo" vertaal. Dit is Latyn vir "bloesendheid". In die 19de eeu, voor die moderne stelsels van sterreklassifikasie, het die Italiaanse sterrekundige Angelo Secchi die ster ingesluit as een van die prototipes vir sy Klas III-sterre (oranje tot rooi).

Drie eeue voor Ptolemeus het Chinese sterrekundiges Betelgeuse egter as geel beskou. As dit korrek is, kan dit beteken Betelgeuse was in dié tyd in 'n geelsuperreusfase. Dit is 'n geloofwaardige moontlikheid as huidige navorsing oor die ster se ingewikkelde sirkumstellêre omgewing in ag gneem word.

thumb|links|170px| Sir John Herschel. Moderne ontdekkings Aboriginegroepe in Suid-Australië vertel al lank verhale oor Betelgeuse se wisselende helderheid. In 1836 het sir John Herschel in Outlines of Astronomy dié wisselende helderheid beskryf. Van 1836 tot 1840 het hy aansienlike veranderings in magnitude opgemerk toe Betelgeuse in Oktober 1837 helderder as Rigel geskyn het, en weer in November 1839.

'n Kalm tydperk van 10 jaar het gevolg, en in 1849 het Herschel nog 'n kort veranderlikheidsiklus opgemerk wat in 1852 'n hoogtepunt bereik het.

Dié wisselvalligheid kan verduidelik hoekom Johann Bayer die aanwysing "alpha" aan die ster gegee het met die publikasie van sy Uranometria in 1603, want sy ligsterkte was waarskynlik net so groot soos dié van die gewoonlik helderder Rigel ("beta").

Beter foto's thumb|200px|Ultravioletfoto's van Hubble uit 1998-'99 wat die asimmetriese pulserings wys, met ooreenstemmende spektraallynprofiele.

In die 1970's het beter foto's moontlik geraak toe 'n metode ontdek is om dofheid uit te skakel. Dit het die optiese resolusie van grondgebaseerde teleskope verbeter en daartoe gelei dat Betelgeuse se fotosfeer met presisie gemeet kon word. Met verbeterings in infrarooiteleskopie het astrofisici die ingewikkelde sirkumstellêre omhulsels om die superreus begin navors, en hulle het die teenwoordigheid van groot gasborrels begin vermoed wat vanweë konveksie ontstaan. Deurbrake in die besigtiging van Betelgeuse se sigbarelig- en infrarooifoto's het egter eers in die laat 1980's en vroeë 1990's 'n werklikheid geword. Helder kolle is aan Betelgeuse se fotosfeer ontdek. Dit was die eerste optiese en infrarooifoto's van 'n stellêre skyf buiten die Son. Die helder kolle het 'n teorie van dekades tevore bevestig dat enorme konveksieselle die ster se oppervlak oorheers.

In die 2000's In 'n studie wat in Desember 2000 gepubliseer is, is die ster se deursnee geraam op (milliboogsekondes). In die tyd van die publikasie was die geraamde parallaks van die Hipparcos-sending , wat 'n geraamde radius van gee. Volgens 'n infrarooi-interferometriese studie wat in 2009 gepubliseer is, is aangekondig die ster het met 15% gekrimp sedert 1993 sonder 'n aansienlike verdowwing in magnitude.

Benewens oor die ster se deursnee, is vrae gestel oor die ingewikkelde dinamika van Betelgeuse se uitgebreide atmosfeer. Die massa waaruit sterrestelsels bestaan, word herwin as sterre wat ontstaan en verwoes word, en rooi superreuse is groot bydraers, en tog bly die proses waardeur massa tot niet gaan 'n misterie. Nuwe interferometriese metodes kan egter dié probleem help oplos. Foto's wat in Julie 2009 met die Baie Groot Teleskoop geneem en deur die Europese Suidelike Sterrewag (ESO) uitgereik is, het 'n groot pluim gas gewys wat tot 30 AE van die ster af in die omringende atmosfeer strek.

Dié massauitwerping was so ver as Neptunus van die Son af, en is een van baie gebeure in Betelgeuse se omringende atmosfeer. Sterrekundiges het minstens ses omhulsels om die ster geïdentifiseer. Deur die geheim van massaverlies in die laat stadiums van 'n ster se evolusie op te los kan die faktore onthul word wat die ontploffende eindes van dié sterreuse versnel.

Verdowwing (2019-'20) Betelgeuse is 'n pulserende, halfreëlmatige veranderlike ster en is onderworpe aan meervoudige siklusse van afnemende helderheid vanweë veranderings in sy grootte en temperatuur. Ander moontlike oorsake wat teen laat in 2019 genoem is, is 'n uitbarsting van gas of stof, of wisselings in die ster se oppervlakhelderheid.

Teen Augustus 2020 het uitgebreide studies op lang termyn, veral met ultravioletwaarnemings deur Hubble, aan die lig gebring die onverwagte verdowwing wat die ster in 2019 ondergaan het, is moontlik veroorsaak deur 'n enorme hoeveelheid superwarm material wat in die ruimte in geskiet is. Die materiaal het afgekoel en 'n stofwolk gevorm wat die sterlig van 'n kwart van Betelgeuse se oppervlak geblokkeer het.

thumb|300px|'n Vergelyking van foto's van Betelgeuse in Januarie 2019 en Desember 2019 wat die verandering in helderheid en vorm wys. Hubble het in September, Oktober en November 2019 tekens van digte, verhitte materiaal afgeneem wat deur die ster se atmosfeer beweeg voordat verskeie teleskope die merkbaarder verdowwing in Desember en die eerste paar maande van 2020 waargeneem het.

Teen Januarie 2020 het Betelgeuse met 'n faktor van 2,5 verdof, van magnitude 0,5 tot 1,5. Dit was in Februarie nog dowwer, met 'n rekordminimum van 1,614. Die ster was die "dofste en koelste" wat dit nog was in die 25 jaar van die studie, en daar was ook 'n afname in radius.

Die tydskrif Astronomy het dit as 'n "bisarre verdowwing" beskryf, en daar is bespiegel dat 'n supernova ophande kan wees. Dit het Betelgeuse laat uitsak van een van die 10 helderste sterre tot dowwer as 20ste, merkbaar dowwer as die nabyliggende Aldebaran.

Teen 17 Februarie 2020 het Betelgeuse se helderheid vir 10 dae konstant gebly en dit het gelyk of die ster weer verhelder. Op 22 Februarie het Betelgeuse dalk heeltemal opgehou verdof. Op 24 Februarie 2020 is geen aansienlike verandering oor die afgelope 50 jaar in die infrarooi waargeneem nie. Dit het gelyk of 'n naderende kerninploffing onwaarskynlik is.

Op dieselfde dag het nog studies daarop gedui dat verduisterende sirkumstellêre stof met groot korrels die waarskynlikste oorsaak van die verdowwing kan wees. 'n Ander studie sluit 'n aansienlike bydrae deur stofabsorpsie uit en sê die moontlike oorsaak is groot stervlekke.

In opvolgstudies, wat op 31 Maart 2020 in The Astronomer's Telegram gepubliseer is, is bevind daar is 'n vinnige toename in Betelgeuse se helderheid.

Betelgeuse kan feitlik glad nie tussen Mei en Augustus van die grond af waargeneem word nie omdat dit dan te naby aan die Son is. Net voor sy konjunksie van 2020 met die Son was Betelgeuse se magnitude 0,4. Volgens waarnemings met die STEREO-A-ruimtetuig in Junie en Julie 2020 het die ster weer met 0,5 verdof sedert die laaste grondgebaseerde waarnemings in April. Dit is verbasend, aangesien 'n maksimum vir Augustus/September 2020 verwag is. Die volgende minimum sou omstreeks April 2021 gewees het. Dit is egter bekend dat Betelgeuse se helderheid onreëlmatig wissel, en dit maak voorspellings moeilik.

Op 30 Augustus 2020 het sterrekundiges berig 'n tweede stofwolk is uit die ster waargeneem, en daar was 'n aansienlike gepaardgaande verdowwing van die ster. In Junie 2021 is die stof verduidelik aan die hand van 'n koel kol in sy fotosfeer. In Augustus het 'n tweede, onafhanklike groep dié resultate bevestig. Die stof was vermoedelik vanweë die verkoeling van gas wat die ster uitgeskiet het. 'n Studie in Augustus 2022 met Hubble het vorige navorsing bevestig en dui daarop dat die stof geskep kon gewees het deur 'n massauitwerping van die oppervlak af – asook dat die verdowwing 'n korttermynminimum kon gewees het wat saamgeval het met 'n langtermynminimum, en dit het 'n groot minimum veroorsaak (siklusse van onderskeidelik 416 en 2 010 dae), 'n meganisme wat die eerste keer deur die sterrekundige L. Goldberg voorgestel is.

In April 2023 het sterrekundiges berig die ster het 'n maksimum van 0 in sy skynbare magnitude bereik.

Mediaverslaggewing Weens misverstande oor berigte in 2009 oor die ster se "verkleining" was Betelgeuse daarna dikwels die onderwerp van rilstories en gerugte dat dit binne 'n jaar gaan ontplof en oor die gevolge daarvan. Dit is egter onwaarskynlik dat Betelgeuse 'n gammaflits sal skep en dit is te ver dat sy X-strale, ultravioletstraling of materiaal wat weggeskiet gaan word, 'n noemenswaardige uitwerking op die Aarde sal hê.

Ná die ster se verdowwwing in Desember 2019 was daar weer eens berigte in wetenskaplike en hoofstroommedia dat die ster op die punt is om as 'n supernova te ontplof, al dui wetenskapike navorsing daarop dat 'n supernova waarskynlik eers oor sowat 100 000 jaar sal voorkom.

Selfs bekende media, soos The Washington Post, ABC News in Australië en CNN het 'n wanindruk met hulle nuusdekking geskep. Dennis Overbye van The New York Times het gesê 'n supernova is nog lank nie ophande nie, maar "sterrekundiges het pret deur daaroor te dink."

Waarneming thumb|240px|Betelgeuse van naby gesien.