Litaue (ook Litoue; Litaus: Lietuva, [lʲɪɛtʊˈvɐ]), amptelik die Republiek Litaue (Lietuvos Respublika), is ’n Noordoos-Europese land en ten opsigte van sy oppervlakte sowel as sy bevolking die grootste van die drie Baltiese lande. As die suidelikste van hierdie drie lande vorm Litaue volgens metings van die Franse Nasionale Instituut vir Geografie ook die middelpunt van Europa – net 26 kilometer noord van die Litause hoofstad Vilnius dui ’n wit granietsuil met vonkelende sterre hierdie geografiese punt aan en versinnebeeld ook die onafhanklike Republiek Litaue se lidmaatskap in die Europese Unie. Net soos Estland en Letland word Litaue dikwels 'n Baltiese Tier genoem.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Litaue Die Litause landskap met sy saggies golwende heuwels, donker woude en eensame mere het aanleiding tot die ontstaan van ’n ryk erfenis van sprokies, mites en liedere gegee wat onder meer die belangstelling van Duitse digters en filosowe soos Johann Wolfgang von Goethe en Johann Gottfried von Herder gewek het. Sangfeeste is steeds ’n belangrike deel van die kulturele lewe in Litaue, en sowat ’n kwart van die totale bevolking is lede van koorgroepe.
Vandag is Litaue ’n moderne Europese land wat sy regmatige plek in die Europese en wêreldekonomie inneem, terwyl sy bewoners danksy die uitgestrekte en dikwels ongerepte landskappe een van die mees natuurverbonde volke op die Europese vasteland gebly het. Litaue is sedert 1 Mei 2004 een van die lidlande van die Europese Unie en op 1 Januarie 2015 is die Euro as geldeenheid ingevoer. Op 5 Julie 2018 het Litaue by die OESO aangesluit.
Etimologie duimnael|Die eerste verskyning van die woord "Litua" in 1009 Die eerste bekende verwysing na Litaue dateer uit 'n veral deur Sint Bruno in die Quedlinburg-annale op 9 Maart 1009. Dié annale verwys na 'n gelatiniseerde weergawe van die naam Litaue: Litua. Vilnius. Key dates . Besoek op 18 Januarie 2007. Weens die gebrek aan betroubare bewyse bly die ware betekenis van die naam vaag. Deesdae debatteer geleerdes steeds oor die betekenis van die woord en daar is 'n aantal geloofwaardige weergawes.
Aangesien Lietuva 'n agtervoegsel (-uva) het, sou die oorspronklike woord geen agtervoegsel hê nie. 'n Moontlike kandidaat is Lietā. Omdat baie Baltiese etnonieme hul oorsprong in hidronieme het, het taalwetenskaplikes gesoek na sy oorsprong onder plaaslike hidronieme. Gewoonlik het sulke name ontwikkel deur middel van die volgende proses: hidroniem → toponiem → etnoniem. Zigmas Zinkevičius. Kelios mintys, kurios kyla skaitant Alfredo Bumblausko Senosios Lietuvos istoriją 1009-1795m. Voruta, 2005. Lietava, 'n klein rivier naby Kernavė, die kerngebied van die vroeë Litause staat en dalk die eerste hoofstad van die latere Groothertogdom Litaue, word algemeen as die oorsprong van die naam beskou. Die rivier is egter baie klein en sommige vind dit onwaarskynlik dat so 'n klein en plaaslike voorwerp sy naam aan 'n hele staat kon verleen het. Aan die ander kant is so 'n naamgewing nie onbekend in die wêreldgeskiedenis nie.
Artūras Dubonis het in 'n ander hipotese voorgestel dat Lietuva verwant is aan die woord leičiai (die meervoud van leitis). Van die middel van die 13de eeu af het leičiai verwys na 'n bepaalde sosiale krygergroep in die Litause sosiale samelewing ondergeskik aan die Litause heerser of self die staat. Die woord leičiai is in die 14de tot 16de eeue in historiese bronne gebruik as 'n etnoniem vir Litauers (maar nie vir Samogitiërs nie) en dit word steeds gebruik in Lets wat nou verwant is aan Litaus, veral poëties of in 'n historiese konteks.
Geografie Ligging duimnael|Kaart van Litaue. Bron: CIA, The World Factbook Litaue grens in die noorde aan Letland en in die ooste en suidooste aan Belarus. Die grenslyn met Pole in die suide is slegs sowat 100 kilometer lank, maar vorm nogtans die belangrikste verbinding na Sentraal- en Wes-Europa. Die Russiese oblast Kaliningrad sluit in die weste aan, waarby die Nemunas- of Memel-rivier gedeeltelik die grenslyn tussen Litaue en die Russiese Federasie vorm. In die weste beskik Litaue oor ’n kuslyn langs die Oossee met ’n totale lengte van sowat 100 kilometer. Hier lê die belangrikste Litause seehawe Klaipėda (Duits: Memel) wat in die winter ysvry bly.
Die totale lengte van Litaue se grens beloop 1 724 kilometer. Die land strek in noord-suidelike rigting oor ’n maksimale afstand van 276 kilometer en in oos-westelike rigting oor ’n maksimale afstand van 373 kilometer.
Landskappe duimnael|links|Die Nemunas-rivier naby die Suid-Litause dorp Graužėnai Litaue se huidige landskappe is gedurende die laaste ystydperk – omstreeks 1100 v.C. – gevorm toe reusagtige gletsers begin afsmelt het. Hul eindmorenes (of gletserpuine) het in die noordooste en suidooste saggies golwende heuwellandskappe met lemerige en sanderige sedimente geskep, terwyl die binneland deur bos- en meerryke vlaktes, moerasagtige grond en barre sandformasies oorheers word.
Die Pajūris-vlakte, wat tussen 15 en 20 kilometer wyd is en sowat 50 meter bo seevlak geleë is, strek langs die Litause kus. Sommige gebiede by die Koerse Haf is selfs benede seevlak geleë. Die Žemaičių-hoogland oos van die kusvlakte behels heuwellande met ’n maksimale hoogte van 234 meter, terwyl die Sentrale Vlakte met ’n hoogte van tussen 30 en 90 meter die hartland van Litaue vorm. Die Baltiese Hoogland suid en wes daarvan bestaan uit uitgestrekte woude, mere, moerasgebiede en berge met ’n maksimale hoogte van 282 meter.
Die Medininkų-hoogland langs die oostelike grens met Belarus behels die hoogste berg van Litaue, die Aukštojas (294 meter). Die Švenčionių-hoogland met sy talle mere en die Nasionale Aukštaitija-park is eweneens in Oos-Litaue geleë. Sowat ’n derde van die totale oppervlakte is met bosgebiede bedek, die res word deur weivelde, grasland en beboude gebiede beslaan.
Mere, moerasse en riviere duimnael|links|’n Moeras in die Čepkeliai-natuurbewaringsgebied duimnael|Die Lūšiai-meer naby Palūšė – een van 2 830 mere in Litaue met 'n oppervlak van meer as 0,5 ha Litaue se visryke mere – wat op sowat 5 300 geskat word (waarvan egter net sowat 2 800 groter is as 0,5 hektaar Litauen Infobasis. Besoek op 14 Desember 2016 ) – is gedurende die laaste ystydperk deur gletsers in die sanderige morenebodem gegrawe. Dikwels beskik plase en erwe op die platteland oor hul eie meer wat as baaiplek benut word. Die Taurgagnas-meer in die Nasionale Aukštaitija-park is die diepste meer in Litaue met 60,5 meter.
Moerasgebiede beslaan sowat vyf persent van Litaue se oppervlakte. Die mees uitgestrekte van hierdie gebiede (50 vierkante kilometer) is in die Suid-Litause natuurbewaringsgebied Čepkeliai geleë en mag net met die begeleiding van opgeleide veldgidse betree word.
Die langste en beduidendste rivier van Litaue, die Nemunas (Duits: Memel), vloei oor ’n afstand van 500 kilometer deur die land en mond in die Koerse Haf uit. Sy mondingsgebied is ’n uitgestrekte rivierdelta met talle riviertakke, moerasse en eilandvlaktes. Die rivier se middelloop word deur slangvormige kronkels gekenmerk.
Die Neris, ’n takrivier van die Nemunas, is met ’n lengte van sowat 250 kilometer die tweede langste rivier in Litaue wat deur die hoofstad Vilnius vloei en naby Kaunas in die Nemunas uitmond. Altesaam agttien rivier is langer as 100 kilometer, en meer as 750 riviere vloei oor ’n afstand van meer as tien kilometer. Litaue is een van min lande in Europa wat oor uitgestrekte ondergrondse varswaterbronne beskik wat ’n groot deel van die land van drinkwater voorsien. Heiko Meyer en Christiane Bauermeister: Litauen. Ostfildern: Dumont 2007, bl. 18
Etnografiese geweste duimnael|Die etnografiese geweste van Litaue: Die hoogland van Aukštaitija (pers kleur), Žemaitija (liggroen), Suvalkija (ligbruin) en Dzūkija (geel). Klein-Litaue (Mažoji Lietuva, ligblou) word nie as ’n selfstandige etnografiese gewes beskou nie duimnael|Kerstyd in 'n dorp in Žemaitija Litaue word tradisioneel in vier etnografiese geweste verdeel wat ten opsigte van hul dialek, tradisionele kleredragte en gebruike asook die mentaliteit van hul bewoners van mekaar verskil.
Aukštaitija Aukštaitija of Bo-Litaue is die grootste van hierdie geweste en strek van Sentraal-Litaue tot in die noordooste waar dit aan Letland en Belarus grens. Reeds in die 13de eeu het Aukštaitija tot Litaue se politieke en kulturele sentrum ontwikkel, met die stad Panevėžys as sy histories beduidendste nedersetting. Ook Kaunas, tans Litaue se tweede grootste stad, is in hierdie gewes geleë. Hoog-Litaue staan bekend vir die suiwer Litaus wat hier gepraat word en sy groot aantal bekende digters en denkers.
Žemaitija Žemaitija, dikwels ook Samogisië of Neder-Litaue genoem, is die tweede grootste gewes in die noordweste van Litaue. Dit strek vanaf die Oosseekus tot by die grens met Letland en die stad Šiauliai in die ooste. Met sy hoofstad Telšiai het Neder-Litaue vroeër ’n onafhanklike grensgebied tussen die Duitse Ordensstaat en die Grootvorstedom Litaue gevorm wat verskeie kere aan die Duitse Ridders verkoop is. Die inwoners was die laaste heidene in Europa wat eers in die 15de eeu die Christelike geloof aangeneem het. Die kenmerkende Neder-Litause dialek toon baie ooreenkomste met Lets.
Suvalkija Suvalkija (Sūdova) is die kleinste van die vier geweste en het vroeër deel uitgemaak van die Poolse gebied Suwaŀki rondom die gelyknamige stad. Die gewes is in die suidweste van Litaue tussen die Nemunas-rivier en die grens met die Russiese Oblast Kaliningrad geleë, met Marijampolė as sy vernaamste nedersetting.
Dzūkija Die bosryke gewes Dzūkija (Dainava) met sy hoofstad Alytus in Suidoos-Litaue was oor ’n lang tydperk die armste in Litaue. Dit staan onder meer bekend vir sy sangtradisies.
Geologie duimnael|links|Die Oosseestrand te Palanga teen sononder duimnael|Sandduine naby die kusdorp Nida Litaue maak deel uit van die Oos-Europese Vlakte, ’n gebied wat in tektoniese opsig al lank ’n rustige geologiese periode deurloop. Die huidige oppervlak is tydens die ystydperk verskeie kere deur binnelandse ysmassas oorvorm wat na die gebied beweeg het. Sodoende is daar net enkele oorblyfsels van ouer gesteentes op die aardoppervlak. Die huidige Litause landskappe maak oorwegend deel uit van die morenegebied wat tydens die laaste koueperiode met ys bedek was. Sowat 20 000 jaar gelede, toe die sogenaamde Weichsel-koueperiode sy hoogtepunt bereik het, het slegs ’n smal strokie land in die uiterste suidooste van die huidige Litaue ysvry gebly.
In die weste grens Litaue met sandstrande aan die Oossee. Die Neder-Litause Heuwelreeks in die westelike gedeelte van die land maak deel uit van die Baltiese Heuwelreeks. Die hoogste bergpieke van Litaue, Aukštasis kalnas en Juozapinės kalnas (294 meter), is in die suidoostelike heuwellande geleë wat deel uitmaak van die Belarussiese Heuwelreeks.
Die twee grootste Litause riviere, Nemunas (Duits: Memel) en Neris, het hulle oorsprong albei in Belarus. Die mereplato van Hoog-Litaue is in die noordooste van die land geleë, alhoewel ook in Suid-Litaue talle mere aangetref word. Die mere van Litaue beslaan byna 1,5 persent van die totale oppervlakte. Ook die Koerse Haf en die Koerse Skoorwal is gedeeltelik in Litaue geleë.
Landbougebiede beslaan sowat die helfte van Litaue se oppervlakte, 30 persent is bosgebiede en drie persent van die land is moerasgebiede.
Litaue is nie ryk bedeel met natuurlike hulpbronne nie. Naas klein voorkomste van bruinkool, leisteen (leiklip) en ruolie word veral turf, kieselsteen, kwartssand, gips, kalk, leem, dolomiet en sand ontgin. Barnsteen word tradisioneel langs die Oosseekus opgetel, terwyl die Litause binneland oor enkele mineraalbaddens beskik. Günther Schäfer: Litauen. Bielefeld: Peter Rump 2009, bl. 100
Klimaat duimnael|Winter in Litaue: bevrore velde