duimnael|links|320px|Die Gereformeerde kerk Colesberg, die naasoudste kerkgebou van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat vandag nog as sodanig in gebruik is. Oudl. I.D. du Plessis het die kerk se hoeksteen op 15 Maart 1862 onder ds. Dirk Postma se toesig gelê.
duimnael|160px|regs|Ds. P.J. Viljoen, 1869–1879.
duimnael|regs|160px|'n Baanbreker van die Colesbergse kerk, Andries Jacobus van der Walt, gebore Colesberg, 23 September 1816 en oorlede hier op 21 Augustus 1873.
duimnael|regs|160px|Ds. L.J. du Plessis, 1880–1896.
duimnael|regs|160px|Ds. A.J. Coetsee, leraar van 1961 tot 1968.
Die Gereformeerde kerk Colesberg is die derde oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die destydse Kaapprovinsie en is gesetel op die Noord-Kaapse dorp Colesberg.
Ds. Dirk Postma het die gemeente op 8 Desember 1860 op die plaas Hamelfontein in die distrik Colesberg gestig. Die eerste dienste op die dorp is in 'n pakhuis gehou wat later die slaghuis van die heer Rosenberg sou word. Later het 'n pakhuis van die firma Draper en Plewman, in latere jare die motorhawe van die heer Kocks, as plek van samekoms gedien. Hierna is 'n privaat woonhuis, later die eiendom van die heer I.S. du Plessis en geleë langs die teenswoordige kerkgebou, as plek van aanbidding ingerig.
Die kerkraad kon nie op 18 Mei 1861 besluit of hulle die kerk op die dorp of op 'n plaas sou bou nie. 'n Sakeman, D. Sluiter, het daarop £1 000 van die nie-Gereformeerdes vir die boufonds beloof as die kerk op die dorp self gebou sou word. Hy het self kontrakteur vir die bouwerk geword en dit met groot moeite voltooi. 'n Kerk in die distrik sou tot 'n groot afname in sakebedrywighede op die dorp lei en die stigting van 'n nuwe kerkdorp beteken. Ds. Postma het die lidmate aangeraai om dit vir eers op die dorp te beproef. Die NG kerkraad het 'n erf geskenk aangrensend tot dié wat Douw. G. Steyn reeds geskenk het en selfs hul lidmate opgewek om tot die Gereformeerde boufonds by te dra. Iewers in die middelveld, oorkant die Seekoeirivier, sou dan 'n hulpkerk vir buitedienste gebou word. Teen Augustus 1861 kon met die beplanning van die kerkgebou begin word en die hoeksteenlegging is op 15 Maart 1862 onder ds. Postma se leiding deur oudl. I.D. du Plessis waargeneem. Hy en sy vrou, Hester Venter, was medestigters van die gemeente saam met onder andere haar vader, J.A. Venter.
Die kerkgebou is reeds in die jaar 1862 voltooi, maar blykbaar ná dié van die gemeente Middelburg, Kaap, aan wie se kerkgebou 'n plaket aangebring is wat lui: "Hierdie gebou, in gebruik sedert 1862, is die oudste kerkgebou van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika." Die preekstoel was 'n regte kunswerk vir sy tyd en het £200 gekos.
In die eerste jare het ds. Postma self die gemeente as konsulent bedien. Later tree ds. Johannes Beijer, destyds predikant van die Gereformeerde kerk Reddersburg, as konsulent op. In 1869 is die eerste leraar in die persoon van prop. Petrus Viljoen beroep. Hy was toe reeds 'n man van gevorderde leeftyd en dien die gemeente tot sy aftrede in 1879. Hy is opgevolg deur ds. L.J. du Plessis, wat 17 jaar hier gearbei het en toe 'n beroep na Petrusburg aanvaar het.
In 1883 het die Gereformeerde kerk Philippolis uit Colesberg afgestig, en daarna volg die uittog na Griekwaland-Wes vanweë die ontdekking van diamante waardeur die gemeente se ledetal met amper die helfte afgeneem het en die gemeente finansieel so swak geword het dat, ten einde in die lopende uitgawes te voorsien, jaarliks 'n sommetjie bygeleen moes word sodat, toe ds. Du Plessis vertrek, die kerkraad nie in staat daartoe was om dadelik weer 'n leraar te beroep nie. So het Colesberg vakant gebly van 1896 tot 1910. In laasgenoemde jaar het prop. P.W. Bingle die beroep hierheen aangeneem en die gemeente bedien tot in 1921.
Die bediening van ds. L.J. du Plessis, 1880–1896 Die koms van ds. Du Plessis duimnael|links|220px|Ds. Du Plessis, waarskynlik in sy eerste jare op Colesberg. Onder leiding van die konsulent, ds. Jan Lion Cachet, het die kerkraad so gou moontlik aandag geskenk aan die moontlikheid om weer te beroep. Op sy vergadering van 11 Julie 1879 het die kerkraad besluit om dadelik oor te gaan tot beroep en ook besluit om die volgende dag met die gemeente daaroor te spreek. Aandag is ook geskenk aan die traktement waarvoor beroep sou word. Die gemeente het die gedagte van die kerkraad eenparig gesteun sodat die diakens hulle opdrag kon uitvoer om die gemeente deur te gaan en te laat teken vir die bedrag wat as traktement aangebied sou word.
Op die volgende vergadering van die kerkraad het dit geblyk dat die uitslag van die werk van die diakens ietwat teleurstellend was, want waar die gedagte was om vir £350 te beroep, was die bedrag wat geteken was maar £253 sodat daar dus amper £100 kort was. Die konsulentvoor-sitter het aan die diakens gevra of al die wyke na vermoë geteken het, waarop verskeie diakens geantwoord het dat dit beter kon gewees het.
Met hierdie toedrag van sake het die kerkraad besluit om die gemeente te raadpleeg oor die vraag of met die beroep voortgegaan moet word. Met 'n groot meerderheid is deur die gemeente ja geantwoord met die gevolg dat die beroep dadelik uitgebring is en wel op ds. L.J. du Plessis van Rustenburg, 'n seun van die stigters I.D. en Hester du Plessis. Tot 'n mate was hierdie antwoord van die gemeente misleidend, want van die begin van die bediening van ds. Du Plessis is gesukkel met die insameling van die. Vir hierdie beroep het ds. Du Plessis bedank en toe op 8 November 1879 weer beroep is, is ds. Du Plessis andermaal beroep.
Op die vergadering van 13 Desember 1879 moes die kerkraad aandag skenk aan 'n versoek van hom om sy antwoord op die beroep later bekend te maak. Hierdie uitstel is gegee en eers op die kerkraadsvergadering van 9 Februarie 1880 het die antwoord voorgekom dat hy die beroep aanvaar, en tegelykertyd die versoek dat hy op 24 April 1880 op Colesberg in die amp bevestig word.
Hierdie gunstige antwoord het die kerkraad aangespoor om dadelik te begin met sy reëlings vir die afhaal en ontvangs van die nuwe leraar. Nog op dieselfde vergadering is besluit om waens na Rustenburg te stuur om die predikant met sy gesin en sy hele trek na Colesberg te bring. Twee waens moes gevind word, naamlik ’n tentwa met trekdiere ens., kompleet en een bokwa met teerseil en trekdiere kompleet. Een ouderling en een diaken is aangewys om die waens te vergesel en die predikant by Rustenburg te gaan haal.
Op 17 Februarie sou die kerkraad weer vergader om te sien of alles in die haak was sodat die waens kon vertrek. Op hierdie vergadering is besluit dat die bevestiging sou waargeneem word deur die konsulent en ingeval hy verhinder sou word, sou prof. Dirk Postma gevra word. Ook is besluit op die vergadering van 26 Februarie dat die hele kerkraad ds. Du Plessis op die plaas Brandwacht sou gaan ontmoet. In verband met die reëlings vir die ontvangs is ook besluit om die predikant van die plaaslike Nederduitse Gereformeerde kerk, ds. W.A. Alheit (1875–1888), saam met die kerkraadslede wat teenwoordig sou wees op die dorp, ook na die bevestiging uit te nooi. Dit is iets opvallends, want tydens die ontvangs van ds. Viljoen is sodanige besluit nie geneem nie en blykbaar het die besluit gedui op 'n kentering in die verhouding tussen die twee gemeentes.
Op die vasgestelde tyd het die predikant aangekom en al die reëlings het vlot verloop behalwe dat ds. Cachet verhinder was om te kom sodat prof. Postma dus die bevestiging moes waarneem. Op die vergadering van 23 April 1880 het dit geblyk dat al die stukke wat volgens Sinodale bepalings nagegaan moes word, in orde was sodat daar geen hindernis voorgekom het nie. Op hierdie vergadering het dit ook geblyk dat die vorige predikant, ds. Viljoen, verhinder was om teenwoordig te wees. Dit was die begin van 'n sestienjarige verbintenis tussen ds. Du Plessis en die gemeente Colesberg.
Ds. Du Plessis afgevaardig na Humpata duimnael|links|420px|Colesberg in 1870, 10 jaar voor die koms van ds. Du Plessis. duimnael|regs|240px|Ds. Du Plessis (regs) sou die trekboere in die omgewing van Humpata in 1881 saam met ds. M.P.A. Coetsee jr. (middel) van Steynsburg besoek, waarna hulle na Europa sou gaan, maar die besoek aan Angola het toe nie gebeur nie. Hier is hulle in Rotterdam saam met prof. H. de Cock afgeneem.
Vroeg die volgende jaar (1881) moes die kerkraad aandag skenk aan 'n brief van die kommissie wat die geestelike belange van die Trekboere na Humpata moes behartig, waarin bekendgestel was dat gemelde kommissie besluit het om di. Du Plessis en M.P.A. Coetzee jr. van Steynsburg af te vaardig na Angola om die trekkers te gaan besoek. Waarom juis hierdie twee broeders afgevaardig was, is nie bekend nie, maar die keuse van ds. Du Plessis kon moontlik voortgespruit het daaruit dat hy vroeër as predikant van Rustenburg die trekkers geken het en hulle ook besoek het voor hulle die wildernis ingetrek het.
Die kerkraad sou hierdie benoeming moes bekragtig want die kommissie het verder gevra dat ds. Du Plessis tydens sy afwesigheid sy traktement moes behou. Voor die kerkraad hieroor besluit het, het ds. Du Plessis die vergadering meegedeel dat hy nog nie besluit het of hy daarheen sal gaan nie; daarom het die kerkraad besluit om eers sy beslissing af te wag. Op die volgende vergadering, 14 Mei 1881 het hy toe bekendgestel dat hy besluit het om te gaan as dit met die kerkraad gereël kon word. Die kerkraad het die nodige verlof geskenk en ook bewillig om die traktement te bly betaal. Hierdie bespreking het in afwesigheid van die predikant geskied onder leiding van ds. H.B. Venter van Barkly-Oos.
Die goedkeuring van die kerkraad was nog onderhewig aan die van die gemeente, maar ook dit is gegee. Nadat die besluit van die kerkraad aan ds. Du Plessis bekendgemaak is, het hy met 'n ander versoek vorendag gekom. Hy het reeds lankal die plan gehad om besoek aan Europa te bring en aangesien daar blykbaar nou 'n gunstige geleentheid daarvoor aangebreek het, wou hy die kerkraad vra om hom verlof te gee om ná voltooiing van sy werk by die trekmense, na Europa te gaan. Ook hierdie versoek is gunstig oorweeg en toegestaan deur sowel die kerkraad as die gemeente. Die hele afwesigheid sou min of meer sewe of agt maande duur, maar dit het die kerkraad en gemeente nie afgeskrik nie.
Op die vergadering van 4 Junie 1881 moes die kerkraad weer aandag skenk aan die aangeleentheid, maar nou in gewysigde vorm. Op hierdie vergadering het die voorsitter meegedeel dat die plan was om op 13 Junie van Steynsburg af te vertrek, maar het hy daarby gevoeg die gewenste informasie om met sekerheid die trekmense te kan bereik, het nog nie gekom nie. Hierop het hy toe gevra dat ingeval die hele sending na Humpata op 'n teleurstelling sou uitloop, of hy nogtans verlof sou hê om na Europa te gaan? Ook hierdie gewysigde versoek is deur sowel kerkraad as gemeente toegestaan. Sake is verder gereël dat tydens die afwesigheid van die predikant die dienste van tyd tot tyd deur ander predikante waargeneem sou word.