Die Unie van Suid-Afrika (Engels: Union of South Africa, Nederlands: Unie van Zuid-Afrika) het op 31 Mei 1910 in Suider-Afrika tot stand gekom toe die vier selfregerende Britse kolonies Kaap de Goede Hoop, Natal, Transvaal en Oranjerivierkolonie verenig is. Die naam Unie het tot 31 Mei 1961 voortbestaan, toe die land 'n republiek geword het en met 'n nuwe grondwet tot die Republiek van Suid-Afrika hernoem is.
Aanvanklik was die Unie 'n dominium binne die Britse Ryk. Dit beteken dat die Unie selfregerend met volle verantwoordelike bestuur was. Kortweg beteken verantwoordelike bestuur dat die regering die vertroue van wetgewende gesag van die land moes geniet. Mettertyd is die Unie se status binne die Ryk verhoog en eindelik het Suid-Afrika 'n vrygewes binne die Britse Statebond geword.
Die voormalige kolonies het provinsies geword en is Kaap de Goede Hoop, Natal, Transvaal en Oranje-Vrystaat genoem.
Ontstaan Gedagte Die gedagte om kolonies van Brittanje te verenig was nie ’n nuwe een nie. In 1867 het die Verenigde Koninkryk se parlement die British North America Act goedgekeur. Ingevolge hierdie wet is die kolonies Kanada, Nieu-Brunswyk en Nova Scotia saamgevoeg om die federale dominium Kanada te stig. In ’n federasie word die owerheidsgesag tussen die onderskeie state en ’n sentrale owerheid verdeel. Tipies word verdediging en buitelandse sake deur die sentrale gesag beheer, terwyl alle ander gesag aan die onderskeie state (oftewel bondstate) toegeken word. Australië het in 1901 gefedereer.Verloren van Themaat, Staatsreg, Butterworths, Durban, 1967, p. 44. Trewhella Cameron (red.), An Illustrated History of South Africa, Jonathan Ball, Johannesburg, 1986, p. 225.
In Suid-Afrika het sir George Grey reeds in die 1850's aan vereniging gedink, maar die "colonial office" was daarteen gekant. Gedurende die 1870's het laasgenoemde aan konfederasie in Suider-Afrika gedink, maar die ingesetenes was daarteen gekant. Na die tweede Anglo-Boereoorlog was die hele Suider-Afrika onder een vlag en sodoende is een van die struikelblokke uit die weg geruim. Toe Transvaal en die Oranjerivierkolonie ook selfregerend word, is nog ’n stap vorentoe geneem. Die Witwatersrand het weereens die gebied se ekonomiese kernpunt geword en die ou geskilpunte oor vervoertariewe en doeane-belasting het kop uitgesteek.Cameron, supra, p. 225. ’n Konferensie is byeen geroep om laasgenoemde probleme aan te spreek. Hulle het toe in Mei 1908 besluit om in Oktober 1908 in Durban ’n Nasionale Konvensie byeen te roep om die vereniging van die vier selfregerende kolonies te bespreek. Daar sou dertig deelnemers wees: 12 van die Kaap, 8 van Transvaal en 5 elk van Natal en Vrystaat.Hahlo & Kahn, The Union of South Africa, Juta & company, Ltd, 1960, p. 119
Nasionale konvensie Aanvanklik was Natal ten gunste van 'n federasie, terwyl die res van die kolonies 'n unitêre staat verkies het. 'n Kompromie is aangegaan ingevolge waarvan 'n unitêre staat geskep sou word, maar met provinsies wat meer uitgebreide magte sou hê. Die geskil oor 'n hoofstad is opgelos deur Kaapstad die setel van die wetgewende gesag te maak en Pretoria dié van die uitvoerende gesag. Die appèlhof sou in Bloemfontein wees. Die Kapenaars was nie tevrede met 'n gewone wetsbepaling dat elke provinsie sy eie stemreg kon bepaal nie. Hul aandrang dat hul stemreg verskans word, is nagekom.Cameron, supra, p. 226
Die taalkwessie was laaste netel wat uit die vuur gekrap moes word. Generaal Hertzog was 'n groot voorstander van die Hollandse taal. Sy eie politieke party, Orangia Unie, het reeds in 1908 besluit "dat de goeie samenleving en samenwerking der Hollandsch en Engelsch sprekende bevolking dezer Kolonie gebiedend vergt dat de rechten van de Engelsch, zoowel als van de Hollandsch taal, gelykelijk erkend en ge-eerbiegd word ..."J.D. Naude, Genl. J.M.B. Hertzog en die ontstaan van die Nasionale Party, Voortrekkerpers, Johannesburg, 1970, p. 30. Die gevolg was dat die bepaling oor tweetaligheid ook verskans sou word.
Die konvensie het weer in Kaapstad en Bloemfontein vergadering en in Mei 1909 'n wetsontwerp goedgekeur. 'n Referendum in Natal en die drie parlemente in die ander kolonies het dit ook onderskryf. Gewapen met die wetsontwerp het 'n afvaardiging na Engeland vertrek.Cameron, supra, p. 227
Wetgewing Die "House of Commons" en die "House of Lords" het die wetsontwerp onveranderd goedgekeur en die koning het dit op 20 September 1909 onderteken.South Africa Act, 1909, 9 Edward VII, Chapter 9. Dit kan ook gevind word by :s:en:South Africa Act, 1909 Op 2 Desember 1909 het koning Edward VII 'n proklamasie uitgereik dat die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand sou kom. Mens moet in gedagte hou dat die Unieparlement ondergeskik sou wees aan die Britse parlement, grotendeels weens die bepalings van die "Colonial Laws Validity Act" van 1865.Verloren van Themaat, supra, p. 484
Struktuur Wetgewende gesag duimnael|400px|Die Eerste Kabinet van die Unie van Suid-Afrika. Agter: J.B.M. Hertzog, Henry Burton, F.R. Moor, C. O'Grady Gubbins, Jan Smuts, H.C. Hull, F.S. Malan, David Graaff Voor: J.W. Sauer, Louis Botha, Abraham Fischer Suid-Afrika Wet, Deel IV, artikels 19-67
Wetgewende bevoegdheid beteken die bevoegdheid om reg te skep, hetsy deur die bestaande reg te verander of nuwe regsreëls tot stand te bring. Die wetgewende gesag het by die Parlement berus. Die parlement het bestaan uit die Koning, 'n Senaat en 'n Volksraad. Die wet het bepaal dat die Parlement die bevoegdheid gehad het om wette te maak vir die vrede, orde en goeie regering van die land. Dit sluit ook die bevoegdheid in om belasting te hef en te bepaal hoe die belasting bestee moet word. Die Volksraad en die Senaat was in Kaapstad gesetel.
Aanvanklik was die land in 121 kiesafdelings verdeel. Elkeen kon een Volksraadlid Parlement toe stuur. Die Kaap het 51 kiesafdelings gehad, Transvaal 36, Natal en Vrystaat 17 elk. Plattelandse kiesafdelings is altyd bevoordeel omrede hulle minder kiesers bevat het. Aanvanklik was daar 40 senatore. Elke provinsie kon 8 senatore verkies. Hierdie senatore is verkies deur 'n kieskollege bestaande uit al die lede van die Volksraad en die Provinsiale Raad van daardie provinsie. Daarbenewens kon die goewerneur-generaal-in-rade ook 8 senatore aanstel.
Uitvoerende gesag duimnael|Suidwes-Afrikaanse posseël van 1947: Die Britse prinsesse Elizabeth II en Margaret tydens hul koninklike toer deur Suid-Afrika Sien Suid-Afrika Wet, deel III, artikels 8-18.
Die uitvoerende gesag van die Unie was gevestig in die koning (en sy opvolgers). Dit kon deur hom persoonlik of deur 'n goewerneur-generaal as sy verteenwoordiger uitgevoer word. Die koning het gewoonlik die magte wat hy aan die Goewerneur-generaal afgewentel het, in 'n ope brief bekend gemaak. Die magte wat hy behou het, is prerogatiewe genoem.
Die Suid-Afrika-Wet het ook 'n Uitvoerende Raad in die lewe geroep om die Goewerneur-generaal van raad te bedien oor die regering van die land. Die lede was deur hom benoem en opgeroep. Die Goewerneur-generaal kon ook tot 10 mense aanstel om die staatsdepartemente te administreer. Hierdie ministers was dan ook die lede van die Uitvoerende Raad. Hulle moes lid van die Senaat of die Volksraad wees. In die praktyk het dit alles beteken dat die Goewerneur-generaal die leier van die sterkste party in die Volksraad versoek het om 'n kabinet van tot 10 lede voor te stel. Hulle is dan aangestel as ministers en het die land regeer. Die regering moes die vertroue van die Volksraad geniet. Wanneer die goewerneur-generaal iets doen op advies van die kabinet, is gesê die Goewerneur-generaal-in-rade dit gedoen het.
Die regering was gesetel in Pretoria.
Regsprekende gesag Sien Suid-Afrika-Wet, Deel VI, artikels 95-116
Artikel 95 het 'n Hooggeregshof van Suid-Afrika geskep met 'n Hoofregter in bevel daarvan. Die koloniale hooggeregshowe het provinsiale afdelings daarvan geword. Die howe in Johannesburg, Kimberley en Grahamstad het plaaslike afdelings geword. Die appèlafdeling sou in Bloemfontein gesetel wees. Partye kon, met verlof, van die provinsiale en plaaslike afdelings na die appèlafdeling appelleer. Daarvandaan kon hulle, met verlof, na die Geheime Raad appelleer.
Provinsies duimnael|Die vier provinsies van die Unie Sien Zuid-Afrika Wet, Deel V, artikels 68-94
Die Goewerneur-generaal-in-rade het die Administrateur, die hoof- uitvoerende beampte van 'n Provinsie, aangestel. Elke Provinsie het ook 'n verkose Provinsiale Raad gehad. Die Provinsiale Raad het dieselfde aantal lede gehad as wat die provinsie as Volksraadslede verkies het. Rade het 4 lede van 'n Uitvoerende Komitee verkies om die administrateur by te staan in die uitvoering van sy pligte.
Met uniewording het die koloniale hoofstede die provinsies se hoofstede geword.
Provinsiale Rade kon Ordonnansies maak oor: Direkte belasting, onderwys (maar nie hoër onderwys nie), hospitale, munisipaliteite, paaie en wildbewaring. Ordonnansies moes deur die Goewerneur-generaal-in-rade goedgekeur word.
Provinsie Vorige kolonie Hoofstad Oppervlakte Bevolking (1904)W.K.Hancock, Smuts, The Sanguine Years, 1870-1919, Cambridge University Press, 1962, p. 219 Bevolking (1960)S.H.Steinberg (red.), The Statesman's Year-Book, Macmillan, 104de uitgawe, p. 1405 Kaapprovinsie (1910–1994) Kaapkolonie (1795–1910) Kaapstad 721 224 km²Pears Cyclopaedia 90th Edition 1981-82. London: Book Club Associates 1981, bl. K31 2 409 804 5 362 853 Natal (1910–1994) Natalkolonie (1843–1910) Pietermaritzburg 91 385 km²Pears Cyclopaedia (1981), bl. K108 1 108 754 2 980 262 Oranje-Vrystaat (1910–1994) Oranjerivierkolonie (1902–1910) Bloemfontein 129 586 km²Pears Cyclopaedia (1981), bl. K118 387 315 1 386 547 Transvaal (1910–1994) Transvaalkolonie (1902–1910) Pretoria 288 066 km²Pears Cyclopaedia (1981), bl. K164 1 269 951 6 273 477 Mandaat Vorige kolonie Hoofstad Oppervlakte Bevolking (1913) Bevolking (1979) Suidwes-Afrika (1915–1990) Duits-Suidwes-Afrika (1884–1915) Windhoek 823 000 km² 200 000 1 000 000
Verskanste bepalings Artikel 152 het bepaal dat die Parlement, met twee voorbehoude, selfs die Zuid-Afrika Wet op die normale manier kon wysig met goedkeuring deur 'n gewone meerderheidstem in die Volksraad, die Senaat en ondertekening deur die Koning. Die uitsonderings was artikels 35 (Kaapse stemreg) en 137 (taal). Om hierdie artikels te wysig moes die wetsontwerp voorgelê word aan gesamentlike sittings van beide kamers van die Parlement en met die derde lesing daarvan, goedgekeur word deur 'n twee-derde meerderheid van stemme.
Taal Artikel 137 het soos volg gelui: "De Engelse alsmede de Hollandse talen zijn officiële talen van de Unie, en worden op een voet van gelykheid behandeld en bezitten en genieten dezelfde vrijheid, rechten en voorrechten; Alle akten, verslagen en verrichtingen van 't Parlement worden in beide talen gehouden en alle wetsontwerpen, wetten en kennisgeving en van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, worden gesteld in beide talen".Naude, supra, p. 38. In 1925 het die Parlement eenparig besluit dat die woord "Hollandse" in artikel 137 ook Afrikaans insluit.Artikel 1 van Wet 8 van 1925. Selfs na Republiekwording in 1961 was Hollands steeds een van die land se amptelike tale. Engels en Afrikaans was die amptelike tale en Afrikaans is omskryf as insluitend Hollands.Wet 32 van 1961, artikels 108 en 118(1). Hollands is eindelik gelos in die 1983-grondwet, artikel 89.
Kaapse stemreg