duimnael|regs|270px|Die Gereformeerde kerk op Steynsburg.

Die Gereformeerde kerk Steynsburg is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Noordoos-Kaapse dorp Steynsburg, wat deur die toedoen van die kerkraad gestig en na ouderling A.P.J. Steyn genoem is omdat hy die leiding in die stigting van die gemeente geneem het. Vanweë die gemeente se ywer vir die onderwys het dit veral tydens die eerste amper 80 jaar van sy bestaan tot omstreeks 1950 'n belangrike plek in die Gereformeerde kerkverband ingeneem. Potgieter, D.J. (ed.) 1974. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou). Spoelstra, dr. B. 1973. Beknopte Kerkgeskiedenis vir Katkisasie. Potchefstroom: Pro Rege. 'n Skool met 100 leerders is hier geopen in 1875 en in 1905 'n skool vir Christelik-nasionale onderwys ('n teenvoeter vir die staat se verengelsingsbeleid) waaruit 'n onderwyskollege ontwikkel het.

Aanleiding tot stigting duimnael|240px|links|Die kerkgebou soos dit lyk vandat die siersteenwerk aan die bestaande gebou aangebring is in 1952. duimnael|regs|240px|Die gedenkteken wat die gemeente opgerig het ter viering van sy eeufees in 1972.

In die omgewing van die huidige Karoodorp Steynsburg het 'n aantal lidmate van die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap en Burgersdorp gewoon. Die afstand na hulle tuisdorp was groot en met die oog op getroue kerklike meelewing het die behoefte aan 'n eie tuisdorp en kerkplek ál sterker geword. Ouderling A.P.J. Steyn van Middelburg, 'n broer van pres. Paul Kruger se moeder, was die siel van die onderneming. Hy was ongetwyfeld 'n man van besonderse bekwaamhede en groot invloed. Ds. J.A. van Rooy beskryf hom in sy latere herinneringe as "'n eerbiedwaardige gestalte, sy gelaat en hele liggaamsbou wys dat hy 'n oom is van President Kruger."

Dit is duidelik dat die mense van die omgewing vooraf met mekaar oorleg gepleeg het. 'n Eie organisasie begin vorm aanneem toe aan 'n kommissie van twee persone, die genoemde A.P.J. Steyn en L.S. van der Walt, opgedra word om grond te koop met die oog op die stigting van 'n nuwe dorp en 'n gemeente. Die plaas Grootvlei is aangekoop van twee eienaars. Die dorpsgrond ongeveer suid van die huidige spoorlyn is aangekoop van Andries van der Walt. Die deel hoofsaaklik noord van die treinspoor is gekoop van L.P. Vorster, grootvader van die latere ds. L.P. Vorster. Die grond vir 'n dorpsaanleg is gereed. Die begin van 'n dorp is egter ten nouste gekoppel aan die stigting van 'n nuwe gemeente. Daar word nie geredeneer oor waar nou presies die terrein en taak van die burgerlikes is en waar die van die kerk nie. Daar word nie geval oor allerlei tierlantyntjies van prosedures nie. Geen wonder nie dat ouderling Steyn op 16 Augustus 1872 die kerkraad van Middelburg nie versoek om 'n kommissie te benoem om 'n nuwe gemeente te stig nie, maar om die grens van die nuwe dorp te bepaal. Die kerkraad willig in en benoem die leraar ds. M.P.A. Coetzee sr., ouderling N. van der Walt en diakens J.H. van der Walt en J.J.A. Coetzee.

Ouderling A.P.J. Steyn laat nie gras onder sy voete groei nie. Op 30 Augustus 1872 kyk hy al weer die kerkraad van Burgersdorp in die oë. Die kerkraad word eenvoudig meegedeel dat 'n plaas gekoop is tussen Burgersdorp en Middelburg om 'n nuwe dorp te stig en hy versoek die kerkraad "om hem eene commissie te geven om de lijn tusschen dit dorp en het nieuw dorp te bepalen". Die amper outokratiese optrede van A.P.J. Steyn, en seker ook die nugtere voelhoring van ds. Jan Lion Cachet, dwing die kerkraad tot versigtigheid. Hulle benoem wel 'n kommissie, maar met die opdrag om eers met die kommissie van Middelburg hieroor te onderhandel, wat wel gedoen is.

Intussen moet die kerkraadslede, wie se wyke in die Steynsburgse wêreld geleë is, hulle lidmate pols of hulle wel ten gunste is van so 'n nuwe dorp. Die voorbereidende werk is gedoen. Die grens tussen die nuwe dorp en Middelburg is soos volg bepaal: "Brakrivier op tot Luisfontein, van daar naar Vlakfontein tot Zuurfontein en met den rand van Zuurberg naar Rietpoort." Op versoek van ouderling A.P.J. Steyn en diaken G.P.S. Venter benoem die kerkraad van Middelburg op sy vergadering van 9 November 1872 ook 'n kommissie om die gemeente te Steynsburg te stig, bestaande uit ds. M.P.A. Coetzee en ouderlinge N. van der Walt, J.C. van der Walt en D.P.J. Kruger.

Burgersdorp gaan nou meewerk. Op uitnodiging van Middelburg benoem die kerkraad op sy vergadering van 28 November 1872 ds. Dirk Postma en ouderling W. van Biljon om die stigting "der gemeente te Steynsburg" by te woon. Op versoek van lidmate uit die wyk van ouderling C. Buys om attestate, besluit die kerkraad dat hulle wel hulle name kan laat inskryf by eventuele stigting van 'n nuwe gemeente. Hier word dus voor die stigting van die gemeente in die notule van Burgersdorp al gepraat van die dorp Steynsburg. Dit is genoem na hom wat die leiding in die omgewing geneem het, A.P.J. Steyn. Met die oog op die samekoms van die belanghebbendes het diaken G.P.A. Venter die volgende kennisgewing rondgestuur: "Ik verzoek de gemeente om den 5 van December op Steynsburg te zijn om tien uur zal ons de stoelen in de kerk zetten. Vrydag den 6den van December zal vergadering zijn en ook om de gemeente in te schrijven en de 7 van December zal de gemeente gesticht worden en dan zal ons ook voorbereiding hebben, en den 8 van December zal ons Avondmaal hebben. Uw vrijwillige dienaar en Broeder Diaken G. P. A. Venter."

Gemeente gestig duimnael|320px|regs|Die kerkgebou soos dit vandag lyk nadat dit twee maal ingrypend verander is.

Die verrigtinge met die oog op gemeentestigting sou weldra begin. Die byeenkoms vind plaas in die plaashuis aangekoop van Andries van der Walt. Dit was geleë aan die voet van die rantjie naby die latere kragsentrale. Hier is ook 'n kerkgeboutjie opgerig waar voorlopig die dienste waargeneem sou word. Die geelhoutbalke wat in die eerste "kerkgeboutjie" diens gedoen het, is later ingemessel in 'n buitegebou op die plaas Fonteintjie, naby Teebus, wat met die gemeente se eeufeesviering in 1972 nog in gebruik was.

Op Vrydag 6 Desember 1872 vergader die kommissie van die kerkraad van Middelburg, onder wie se leiding die gemeentestigting sou plaasvind, op die bestemde plek. Die gedeputeerdes van Burgersdorp, ds. D. Postma en oudl. W. van Biljon, is ook aanwesig en word volle sittingsreg op die vergadering verleen. Verder is teenwoordig ds. P.J.J. Viljoen en teologiese student M.P.A. Coetsee (die latere ds. M.P.A. Coetsee jr.) Op Saterdag 7 Desember 1872 is die lidmate byeen nadat die kommissie van Burgersdorp plegtig die name van die lidmate uit die betrokke wyke van Burgersdorp oorgedra het aan die kommissie van Middelburg. Die lidmate verklaar dan eenstemming "dat zij die oudkerkeraadslede gaarne wil ontvangen als hare kerkeraad". Op die dag van stigting is 160 lidmate ingeskryf en die eerste naam in die lidmateregister is dié van Andries Petrus Johannes Steyn. Hiermee was die stigting van die Gereformeerde Kerk Steynsburg, op 7 Desember 1872 'n voldonge feit. Deur die "kerkgeboutjie" weergalm ter afsluiting van die verrigtinge Ps. 119:17.

Beginjare duimnael|regs|300px|Die hoeksteen vir die siersteenwerk aan die kerkgebou, 1952. duimnael|links|370px|Steynsburg in 1879, net sewe jaar nadat die dorp gestig is. Die Gereformeerde kerk in sy oorspronklike gedaante is die groot gebou in die middel.

Die kerkraad, bestaande uit ouderlinge A.P.J. Steyn en J.C. Buys en diakens G.P.S. Venter, J.H. Buys en L.J. Coetzee, vergader nog dieselfde dag 7 Desember 1872, onder voorsitterskap van ds. M.P.A. Coetsee sr. Die kerkraad begin om orde op sake te stel. Ds. Coetsee word verkies tot konsulent teen 'n vergoeding van £10 per kwartaal. Hy aanvaar dit. Die dienste word soos volg gereël: elke drie maande dienste deur die konsulent en elke 14 dae 'n leesdiens deur 'n ouderling. Tot eerste kassier is diaken G.P.S. Venter benoem. Die kerkraad besef 'n goeie verhouding moet met die staat gehandhaaf word en daarom word aan sy Eksellensie die Goewerneur asook aan die magistraat van Cradock kennis gegee van die stigting van die gemeente. Hulle gee ook kennis van die stigting aan die Algemene Korrespondent.

Op sy tweede vergadering (8 Maart 1873) word al besluit om die gemeente te pols oor die bou van 'n "hulpkerk" en om aandag te gee aan afbetaling van die skuld op die huidige gebou. Met instemming van die gemeente word besluit om 'n hulpkerk te bou en te kollekteer vir die bestaande skuld. Natuurlik moet die kerkraad ook pa staan vir sy ander kind, die toekomstige dorp. Die klerkraad het reeds op hierdie vergadering die voorwaardes vir die verkoop van erwe vasgestel. Iewers langs die pad is 'n "dorpscomitee" in die lewe geroep waarvan die lede op ’n openbare vergadering benoem is. Hulle moes die nodige stappe doen om die dorp aan te lê. Erwe is opgemeet deur landmeter Hopley en verkoop deur afslaer Kannemeyr. Dit alles het die kerkkas ten goede gekom, want die dorp is getransporteer op die naam van die Gereformeerde kerk Steynsburg.

Die dorpskomitee kom met 'n aanbeveling om 22 erwe te skenk aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die Gereformeerdes is jaloers op hulle monopolie. Dit is hulle dorp en hulle weier botweg om die erwe te gee. Later het hul hart tog sagter en broederliker geklop. Slegs ses maande later op 9 Januarie 1874 word besluit om wel die erwe te skenk en te transporteer sodra 'n gemeente van die NG Kerk gestig word. Die transport van die 22 erwe is op versoek van die NG gemeente Burgersdorp in 1874 gegee op voorwaarde dat geld wat daardeur ingevorder mag word, alleen ten bate van Steynsburg gebruik sal word.

Natuurlik is daar geen orrel nie. 'n Voorsanger in die persoon van B. Venter word benoem. 'n Sekere J. Venter was die eerste koster. Albei ontvang £8 per jaar. Met dié vergoeding was die Venters nie tevrede nie: Hulle wil onderskeidelik £12 en £15 per jaar hê en wen dié stryd. Ouderling A.P.J. Steyn het ’n Statebybel aan die gemeente geskenk.

Reeds op 19 Junie 1873 word besluit om 'n hulpkerk te bou van 70 x 40 voet. Naas 'n paar lede uit die kerkraad word die boukommissie uit die gemeente aangevul met: Johannes Coetzee (Strydpoort), Jacob Labuscagne (Strydpoort), Daniël du Plessis (Ouplaas) en Jacob Kruger (Vlakfontein). In Maart 1874 is die hulpkerk al klaar. Dit is gebou teen 'n koste van £828. Hierdie hulpkerk is later deur die staat aangekoop en het tot diep in die 20ste eeu gedien as landdroskantoor van Steynsburg.

Intussen moet die kerkraad ook toesien dat die sake van die dorp voortgaan. Op 10 Januarie 1874 word besluit om aansoek te doen vir 'n munisipaliteit, en drie maande later gee die kerkraad toestemming vir die oprigting van 'n markgebou. Die regulasies vir die instelling van 'n munisipaliteit is goedgekeur op 12 Junie 1874. Artikel 119 hiervan het gelui: "Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk te Steynsburg sal die reg behou om op te meet en te verkoop volgens hulle kondisies sodanige erwe van die dorp Steynsburg en die inkomste sal gebruik word vir bogenoemde Geref. Kerk." Hierbenewens het die kerkraad ontvang van die geld wat betaal is vir gebruik van leiwater vir tuine. Onder hierdie omstandighede het die besitreg van die dorp vir die kerkraad 'n taamlike inkomste verseker.

Die gemeente het sy kinderskoene ontgroei. Die dorp en gemeenskap raak ál meer gevestig. 'n Doeltreffender kerkgebou binne die dorpsgebied is betrek. Dit alles gee meer moed maar terselfdertyd 'n sterker gevoel van selfstandigheid. Dit openbaar hom in die behoefte aan 'n eie predikant, wat lei tot die beroeping van prop. M.P.A. Coetsee op 13 Junie 1874.

Bediening van ds. M.P.A. Coetsee jr., 1874–1893 duimnael|links|200px|Ds. M.P.A. Coetsee jr.