Gamal Abdel Nasser Hussein (15 Januarie 1918 – 28 September 1970) was van 1956 tot sy dood die tweede president van Egipte. Hy het (saam met Egipte se eerste president, Mohammed Naguib) die Egiptiese Rewolusie van 1952 gelei. Dié rewolusie het die monargieë van Egipte en Soedan omvergewerp en 'n nuwe era van verandering in Egipte ingelei. Dit het Egipte 'n meer sosialistiese en moderne land gemaak. Na die rewolusie het Egipte pan-Arabiese nasionalisme deur sy beleid bevorder, insluitende 'n unie met Sirië, wat nie lank gehou het nie.
Nasser word as een van die belangrikste politieke figure in die moderne Arabiese geskiedenis en politiek beskou. Onder sy leierskap het Egipte die Suezkanaal en verskeie ander industrieë genasionaliseer, en 'n belangrike rol gespeel om imperialisme in die Arabiese wêreld en in Afrika stop te sit. Hy het ook 'n belangrike rol in die stigting van die Beweging van Onverbonde Lande gespeel. Sy pan-Arabiese nasionalisme, wat dikwels "Nasserisme" genoem is, was in die 1950's en 1960's gewild gewees in die Arabiese wêreld.
Sesdaagse Oorlog
thumb|links|President Nasser het op 22 Mei 1967 sy vlieëniers op die Sinai toegespreek en gesê: "Die Jode dreig met oorlog – ons sê vir hulle ahlan wa-sahlan (welkom)!" Die Israeliese oorwinning oor die Arabiese weermagte in die Sesdaagse Oorlog, tussen 5 en 10 Junie 1967, het Nasser se beeld beskadig. Desnieteenstaande hiervan het baie Arabiere hom steeds as 'n simbool van Arabiese waardigheid en vryheid beskou.
In Mei het president Nasser aangekondig die Straat van Tiran vir Israeliese skepe gesluit gaan word en hy het Egiptiese magte aan die grens met Israel gemoboliseer. Op 5 Junie het Israel ’n reeks lugaanvalle op Egiptiese vliegvelde uitgevoer. Die Egiptenare is onkant betrap en feitlik die hele Egiptiese Lugmag is vernietig, terwyl Israel net ’n paar verliese gely het. Die land het terselfdertyd ’n grondaanval op die Gazastrook en die Sinaiskiereiland van stapel gestuur, wat die Egiptenare ook onkant betrap het. Ná aanvanklike teenstand het Nasser gelas dat die Sinai ontruim word. Israeliese magte het weswaarts agter die Egiptenare aangestorm. Die Israeli's het hulle groot verliese toegedien en die Sinai verower.
Jordanië het ’n week voor die oorlog ’n verdedigingsverdrag met Egipte gesluit; die ooreenkoms het voorsiening daarvoor gemaak dat Jordanië in geval van oorlog nie ’n aanvallende rol sou speel nie, maar sou probeer om Israeliese magte te keer om grondgebied te verower.
Sowat ’n uur ná die Israeliese lugaanval het Kaïro die bevelvoerder van die Jordaniese weermag opdrag gegee om Israel te begin aanval; in die aanvanklik verwarrende situasie is aan die Jordaniërs gesê Egipte het die Israeliese lugaanvalle afgeweer.
Egipte en Jordanië het op 8 Junie op ’n wapenstilstand besluit en Sirië op 9 Junie. ’n Ooreenkoms is op 11 Junie met Israel onderteken. Israel het die Egiptiese, Siriese en Jordaniese weermagte verlam – hulle het meer as 20 000 soldate gedood en self minder as 1 000 verloor. Die Israeliese sukses was die gevolg van ’n goed voorbereide en uitgevoerde strategie, die swak leierskap van die Arabiese state en slegte militêre leierskap en strategie. Israel het die Gazastrook en Sanaiskiereiland van Egipte afgeneem, die Wesoewer insluitende Oos-Jerusalem van Jordanië en die Golanhoogland van Sirië. Israel se internasionale aansien het in die daaropvolgende jare baie gestyg. Sy oorwinning was ’n vernedering vir Egipte, Jordanië en Sirië, en het daartoe gelei dat Nasser verleë bedank het; hy is later in sy amp herstel ná protesoptogte in Egipte oor sy bedanking.
Bronne
Eksterne skakels
Kategorie:Egiptiese militariste Kategorie:Eerste Ministers van Egipte Kategorie:Presidente van Egipte Kategorie:Diktators Kategorie:Kolonels Kategorie:Ministers van Binnelandse Sake Kategorie:Geboortes in 1918 Kategorie:Sterftes in 1970