Etienne Leroux (gebore Stephanus Petrus Daniël le Roux; 13 Junie 1922, Oudtshoorn – 20 Desember 1989, BloemfonteinNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/3309 ) was ’n internasionaal bekende Afrikaanse skrywer en een van die mees prominente Sestigers, wat die Hertzogprys meer as een keer en verskeie ander toekennings vir sy skryfwerk ontvang.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Le_Roux,_Stephanus_Petrus_Dani%C3%83%C2%AB1

Hy is gebore as Stephanus Petrus Daniël le Roux, maar verwerf bekendheid as skrywer onder die skuilnaam Etienne Leroux. Van sy bekendste werke sluit in: Sewe Dae by die Silbersteins en Magersfontein, O Magersfontein!

Lewe en werk Vroeë lewe en herkoms duimnael|180px|Le Roux se vader, min. Stephanus Petrus le Roux. Stephanus Petrus Daniël le Roux is op 13 Junie 1922 op Oudtshoorn gebore as enigste seun en oudste kind van drie kinders.Kannemeyer, J.C. Leroux: ’n Lewe. Protea Boekhuis Pretoria Eerste uitgawe Eerste druk 2008 Sy ouers is Stephanus Petrus le Roux (4 Maart 1891 – 25 Januarie 1974), minister van landbou in die Malan- en Strijdom-kabinet,Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/lerouxe.html en Elizabeth Helena Scholtz (5 Oktober 1901 – 21 Oktober 1989), wat op 21 Junie 1921 op Somerset-Wes getroud is. Hierna gaan boer die egpaar op Rietvlei naby De Rust. Stephen se susters is Anna Lilian Malherbe (Annelie) (gebore 4 Augustus 1925) en Catherina Josephina (Erna) (gebore 23 September 1928). Die skrywer C.J. Langenhoven is sy peetvader.

Opleiding Op Rietvlei, sowat veertig kilometer van Oudtshoorn, word hy groot. Sy eerste skoolopleiding ontvang hy in die plaasskool wat vir die kinders van Middelplaats gebou is en waar Jan Snyman die enigste onderwyser vir al die laerskoolkinders was. As gevolg van sy vader se politieke loopbaan moet die gesin noodgedwonge sekere maande van die jaar in Kaapstad deurbring, waar sy vader die parlementsitting bywoon. Dit bring mee dat die klein Stephen gereeld van skool moet verwissel. Soms bly hy by sy ouma en oupa Scholtz in Kuilsrivier en gaan uit hierdie huis na die plaaslike laerskool. Op die plaas Rietvlei naby De Rust bring hy ’n groot aantal van sy vormingsjare deur en gaan hier ook van tyd tot tyd by die plaasskool skool. As ’n resultaat van die gedurige verhuising ontvang Leroux vanaf 1928 sy onderwysopleiding hoofsaaklik by goewernantes. Hy begin vroeg lees in die familie se goeie biblioteek en maak hier reeds kennis met die Victoriaanse skrywers en ook William Shakespeare, Charles Dickens, Ernest Hemingway, Marcel Proust, André Gide, Jean-Paul Sartre, Fyodor Dostojefski, Evelyn Waugh en Günther Grass. In 1932 is hy in Koffiefontein in die Vrystaat op skool, waar sy oupa en ouma Scholtz intussen gevestig is en hy uit hulle huis skoolgaan. Vanaf standerd vier, wanneer sy ouers ’n huurhuis in Tamboerskloof betrek vir die duur van die parlementsitting, besoek hy die Laerskool Jan van Riebeeck.

Nadat sy vader in die dertigerjare besluit om sy boerdery na Koffiefontein in die Vrystaat uit te brei, gaan Stephen vanaf 1935 na die Grey-kollege in Bloemfontein, waar hy eers in die Murray-koshuis en later die Brill-koshuis tuisgaan. Hy matrikuleer hier in 1939, word as prefek aangewys en word eerste geplaas in die Vrystaatse eksamens van die Taalbond. In die jare 1940 tot einde 1944 is hy student aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die B.A.-graad in 1942 en die LL.B.-graad in 1944 behaal. Hier woon hy in die Dagbreek-koshuis. Barend Toerien en Elsa Joubert is in hierdie tyd van sy medestudente. In 1945 werk Stephen ’n jaar lank as ingeskrewe klerk by die prokureursfirma Daniels en Smit in Bloemfontein, waarna hy hom in 1946 op die familieplaas Wagenmakersdrift in die distrik Koffiefontein vestig. Hy boer onder andere met merino skape, saadmielies, katoen en tamaties.

Persoonlike lewe Ná sy huwelik op 13 Maart 1948 op Stellenbosch met die kunsskilderes Renée Malherbe (gebore 11 April 1927) betrek hy ’n deel van die familieplaas waaraan hy die naam Ja-Nee gee. Uit hierdie huwelik word drie kinders gebore, twee dogters (Cherié Malherbe le Roux, gebore 6 Junie 1949 en Helise Scholtz le Roux, gebore 16 Maart 1951) en ’n seun (Stephanus Petrus, gebore 15 Februarie 1955).

Stephen ontmoet vir Elizabeth Joubert (gebore 1 Julie 1938), teen die einde van 1969. Elizabeth was ’n Bloemfonteinse musiekdosent, wat in hierdie tyd bekende pianiste is en daarna amptelike begeleidster word van SUKOVS (die Streeksdiensteraad vir Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat). In September 1970 raak hulle verloof en op 14 September 1970 trou Stephen en Elizabeth.

Europese reise en vriendskappe met die Sestigers Op 1 Januarie 1954 vertrek Stephen en sy vrou met die skip die Pretoria Castle vir ’n besoek van vyf maande aan Europa. Hulle besoek Engeland (waar hulle ’n week in Londen oorbly); Nederland (waar hulle twee weke vertoef en Amsterdam en ander dele besoek); Duitsland (waar hulle die fisiese nalatenskap van die oorlog kan waarneem en ’n paar dae in Heidelberg oorbly); Oostenryk (met besoeke aan onder andere Innsbruck en Wene); Italië (waar hulle in La Spezia by Jacques en Hélène Malan aandoen en ook Venesië, Rome, Genoa en Florence besoek); en spandeer dan ongeveer ses weke aan die linkeroewer van die Seine in Parys in Frankryk. Hier maak hy kennis met skrywers soos Jan Rabie en Bartho Smit wat later saam met hom vir ’n vernuwing in die Afrikaanse letterkunde verantwoordelik is. Op 19 April 1954 keer hulle terug na Londen, van waar hulle op 29 April 1954 vanaf Southampton terugvaar na Kaapstad.

Loopbaan as skrywer In die vyftigerjare is Stephen se mentor en adviseur die Nederlandse digter Jan Greshoff wat weens sy belesenheid, sin vir tegniese vaardigheid en omgang met die literatuur ’n groot invloed op hom uitoefen. Leroux leer later ook al die Sestigers ken, veral wanneer hy jaarliks die somervakansie by Llandudno naby Kaapstad deurbring. Met sommiges, soos Jan Rabie, raak hy bevriend.

Hy kies die naam Etienne as skrywersnaam, aangesien dit die Frans is van Stephen, sy eerste naam, terwyl sy van aanmekaar geskryf word soos die spelling van sy Franse voorsate.

Stephen se eerste roman, Die eerste lewe van Colet, moet hy self borg en selfs na verskyning van sy tweede roman, Hilaria, is daar nie veel belangstelling vir sy werk nie. Dit is eers met die publikasie van Die mugu in 1959 dat die letterkundige kritici ernstig begin kennis neem van hom. In Standpunte van Februarie 1960 verskyn ’n insiggewende artikel van C.A. van Rooy oor Die mitiese patroon en sielkundige grondslag in ‘Hilaria’, waarmee die wetenskaplike verkenning van die mitiese onderbou van sy werk ’n aanvang neem. In N.P. van Wyk Louw se boek Vernuwing in die prosa, wat groot impak maak op die beskouing van die werk van die eksperimenteerders op die gebied van prosa, sonder Louw vir Leroux uit as die skrywer met die grootste belofte van vernuwing. Wanneer die tydskrif Sestiger in 1963 gestig word, dien Leroux in die redaksie tot met die staking van die tydskrif in November 1965.

Lid van die sestigers Die Sestiger-beweging in die geheel, en Leroux se werk in die besonder, word aan groot publisiteit en omstredenheid onderwerp wanneer Sewe dae by die Silbersteins in 1964 met die Hertzogprys bekroon word. Die boek word deur talle sedebewakers aangeval en as “immoreel” bestempel, met vele mense wat briewe aan die koerante skryf om die boek te veroordeel. ’n Aantal van hierdie beswaarmakers erken terselfdertyd dat hulle die boek nie eens gelees het nie. Die Sinodale Kommissie van die Vrystaatse N.G. Kerk neem byvoorbeeld ’n besluit waarin die verskyning en die bekroning van die boek betreur word en ’n beroep gedoen word aan die Akademie om nooit weer so ’n “verwarde, normlose” boek te bekroon nie. Die uitgerekte debat wat volg en etlike maande duur, noop onder andere vir N.P. van Wyk Louw om Leroux en die boek te verdedig, terwyl vele ander vooraanstaande letterkundiges dieselfde doen. Leroux laat hom slegs twee keer in die openbaar uit oor die polemiek. In ’n onderhoud met Dagbreek en Sondagnuus van 9 Augustus 1964 wys hy daarop dat ’n paar predikante in briewe aan hom die boek as ’n morele werk bestempel het. Hy sê verder dat hy oor die hele mens skryf, goed en kwaad. In ’n lesing in September 1964 by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat onder die titel Enkele probleme van die hedendaagse romanskrywer, wys hy daarop dat ’n letterkundige werk nooit satanies kan wees nie, juis omdat die letterkundige werk die lewe weerspieël en nie eensydig op die bose of die goeie fokus nie. Met die oorhandiging van die Hertzogprys doen A.P. Grové die commendatio, waarin hy die boek loof as een wat uitstaan in die Afrikaanse romanproduksie van die voorafgaande twintig jaar en een waarop hy trots is dat dit in Afrikaans kon verskyn. Een vir Azazel kry ook hoë lof van resensente, waarna Die derde oog minder entoesiasties ontvang word.Sestigers: https://diesestigers.wordpress.com/etienne-leroux/

Verhouding met Ingrid Winterbach Stephen kry in hierdie stadium baie briewe van bewonderaars, onder andere van die agtienjarige kunsstudent Ingrid Winterbach, later self baie bekende skrywer. Die langdurige briewewisseling tussen hulle gee in groot mate aanleiding tot 18-44, sy volgende roman. Nadat sy huwelik reeds etlike jare in troebel waters gevaar het, ontdek sy vrou, Renée le Roux, die briewe van Ingrid en dit is vir haar die laaste strooi. Sy skeur Ingrid se briewe op wanneer Stephen weier om die briewewisseling te beëindig. Hierna bestaan die huwelik slegs in naam en in 1969 dagvaar Renée hom vir ’n egskeiding. Vir die duur van hulle korrespondensie het Stephen en Ingrid mekaar nie ontmoet nie en ontmoet mekaar die eerste keer in November 1969 tydens ’n besoek van hom in Johannesburg.

Internasionale publikasie Sewe dae by die Silbersteins word in 1967 in Engels vertaal deur Charles Eglington en word só die eerste Sestiger-werk wat internasionaal uitgegee word en in Brittanje en Amerika verskyn, later ook gevolg deur die vertaling van Een vir Azazel. By verskyning van die Engelse vertaling spreek Graham Greene in September 1967 in ’n persoonlike nota aan Leroux sy groot waardering vir Sewe dae uit en Greene kies ook hierdie boek as sy boek van die jaar in The Observer. Dit lei tot persoonlike kennismaking tussen hulle tydens Leroux se oorsese besoek in 1968, wat hy alleen onderneem. Tydens hierdie reis, wat op 29 Maart 1968 begin, besoek Stephen Spanje (waar hy vir Robert Graves in Majorka ontmoet), Frankryk (waar hy vir André P. Brink en Breyten Breytenbach sien), Engeland (waar hy samesprekings voer met sy oorsese uitgewers), Italië (waar hy vir Graham Greene in Nice ontmoet) en Griekeland (waar hy Athene verken maar nie genoeg tyd het om by Jan Rabie en Marjorie Wallace in Kreta aan te doen nie). Hy ervaar in Frankryk eerstehands die opkoms van studentemag en opstand, toe die studente amper daarin slaag om die Franse regering omver te werp. Op 18 Mei 1968 keer hy terug na Suid-Afrika. Hierdie reis vind neerslag in sy boek IsisIsisIsis. Hy word in 1968 verkies tot lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en in 1969 word hy aanvaar as volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In Augustus 1968 verskyn die eerste uitgawe van die tydskrif Kol, waarby Leroux as medewerker betrokke is tot die tydskrif in Desember 1969 gestaak word.

Moeilike jare