Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Franse.

Die Franse taal (le français [lə fʁɑ̃sɛ] of la langue française [la lɑ̃ɡ fʁɑ̃sɛz]) behoort tot die Romaanse groep binne die Indo-Europese taalfamilie. Van al die Romaanse tale het dit ten opsigte van sy struktuur en uitspraak die sterkste wegbeweeg van die oorspronklike Latyn.

Frans is naas Engels die enigste wêreldtaal wat op vyf vastelande gepraat word, en dit is die amptelike taal of verkeerstaal van meer as die helfte van die Afrikalande. Dit is ook een van die belangrikste tale van die internasionale en diplomatieke verkeer, 'n beduidende onderwystaal en die taal van internasionale organisasies soos die UPU (Wêreldposunie).

Taalgeskiedenis Keltiese invloede duimnael|links|Romeinse provinsies en stamgroepe van die Galliese gebied in die laat 1ste eeu v.C. Die oorspronklike Gallies ('n Keltiese taal) is na die Romeinse verowering van Gallië oor 'n tydperk van vyf eeue deur die Latynse taal verdring, waarby die stedelike gebiede, die administrasie, die Romeinse garnisoene en die skoolstelsel die voortou geneem het. In teenstelling met hierdie instellings het die plattelandse gebiede die Keltiese taal nog tot in die 5de eeu n.C. bewaar. Net 'n klompie woorde (soos petit "klein", lieue "myl" en brasser "brou") en plekname (met byvoorbeeld die agtersetsel -ac soos in Cognac) het tot vandag van die Galliese taal oorgebly.

Die feit dat die Kelte nie die desimale stelsel met die getal tien as basis gebruik het nie, maar die getal twintig, leef voort in die Franse woord quatre-vingts ("tagtig", eintlik "vier (keer)-twintig", naas die uit die Latynse taal oorgeërfde woord octante, wat in Kanada, België en Switserland gebruiklik is, of huitante, 'n Belgiese en Switserse term).

Frankiese invloede Met die Germaanse invalle van die Wes-Gote in Akwitanië, die Boergondiërs in die ooste en veral die Franke in die noorde van die huidige Frankryk het die verval van die Galloromeinse kulturele lewe begin. Alhoewel die Germane die verromanisering van die land veral danksy die magsposisie van die Katolieke kerk, wat as bewaarder van die antieke Grieks-Latynse kultuur opgetree het, nie meer kon keer nie, het hulle tog 'n groot invloed by die vorming van die Gallies-Franse variant van die Vulgêrlatynse taal uitgeoefen, wat later aan die Franse taal sy besondere karakter binne die Romaanse taalfamilie gegee het.

Die Franke het oorspronklik uit die gebied van die Nederryn en Weser (in die huidige Duitsland) gekom en in die tydperk van die volksverhuising verder wes- en suidwaarts getrek. Die huidige Frankiese taalgebied sluit die gewes Franken in Noord-Beiere en Noord-Württemberg, Suid-Thuringe, Hesse, Noord-Baden, Rynland-Palts, die noordelike Elsas, Lotaringe, Saarland, Luxemburg, die Rynland, die Duitstalige gebiede van Oos-België, die Nederryn-gebied, Limburg, Holland, Zeeland, Brabant en Vlaandere in. Omtrent 500 was Keulen die sentrum van die Frankiese gebied.

Vanaf die agste eeu het destydse geskiedkundiges 'n onderskeiding tussen die Saliese Franke (in die gebied van die huidige België en Nederland; die naam is afgelei van Oudfrankies sal(a) "heerskappy" of Sala "die rivier IJssel") en die Ripuariese Franke van die huidige Duitse Rynland gemaak. Die Saliese Franke het nouer bande met die Romeine gehandhaaf en was die leiers by die uitbreiding van die Frankiese magsgebied in die vierde en vyfde eeu.

Teen die jaar 500 het hulle die Loire-rivier in die huidige Frankryk bereik. Die Franke was die eerste Germaanse volk wat 'n nasionale en taalbewussyn ontwikkel het. In Duitsland het die Middel-, Ryn-, Suidryn- en Oos-Frankiese gebiede drie eeue later belangrike sentra van die Oudhoogduitse skryftaal geword.

Die Frankiese koning Clovis I het in 496 die Katolieke geloof aangeneem en sodoende die steun van die geestelikheid vir sy heerskappy verseker. Dit was veral die klerus en die Romaanstalige stede wat by die Frankiese veroweraars die gebruik van die Latyns-Romaanse taal bevorder het.

In wat tot die Franse taalgebied sou ontwikkel, is die Frankiese bevolking – 'n klein minderheid – uiteindelik geleidelik verromaniseer, maar hierdie proses was baie stadig. Die noorde van Frankryk het eeue lank tweetalig gebly; tekste van Isidor van Sevilla is in die 9de eeu in Neustrië (die gebied tussen die Engelse kanaal, die Bretagne en die Loire) nog steeds in Oudhoogduits vertaal. Ook ná die tyd van Karel die Grote tot by die splitsing van die ryk in 843 het die immigrasie van Franke voortgeduur. Die aantreklikheid en superioriteit van die Romaanse kultuur, die Latynse ampstaal van die Merowingiese Ryk en die oormag van die Romaanstaliges was die vernaamste redes vir die feit dat die Frankiese dialekte in Frankryk binne 'n tydperk van sowat driehonderd jaar uitgesterf het. Omtrent 800 was die meeste Frankiese krygers die Germaanse taal nie meer magtig nie, tog het jong Frankiese edellui uit die Wes-Frankiese Ryk in die 9de eeu dikwels 'n tyd lank in die Oostelike (Duitse) Ryk gebly om die Frankiese taal aan te leer.

Baie min tekste van die geskrewe Oudhoogduitse taal uit die Karolingiese Ryk is bewaar, onder meer twee sogenaamde geselsboekies uit Parys en Kassel wat voorbeelde gee van die Oudhoogduits-Frankiese taal: Wer pist du? Wanna quimis? Fona weliheru lantskeffi sindos? (Nieuhoogduits: Wer bist du? Woher kommst du? Aus welcher Gegend reist du an?) In die tydperk tussen 850 en 1000 het ook die Romaans-Germaanse taalgrens in die noorde verstewig, waar vanaf die 9de eeu die Nederfrankiese en uiteindelik Nederlandse dialekgebied ontstaan het.

Talle van die morfologiese en sintaktiese veranderings wat die Galloromaanse taal ondergaan het, is deur die invloed van die Frankiese taal veroorsaak. Die Oudfranse klanke het meer ooreenkomste met dié van Germaanse tale getoon as met die Vulgêrlatynse taal.

Die Frankiese ontlenings in die Oudfranse taal het natuurlik talle aspekte van die Frankiese kultuur weerspieël; dit was veral woorde uit die krygskuns soos beffroi (van Frankies *bergfrid "wagtoring"), regswese en politiek (Frans fief "leen" van Frankies *fehu "vee, fortuin"; Middellatyn feudum), hofhouding (Oudfrans maréchal "perdekneg" van Frankies *marahskalk), huisbou en huisraad (Frans malle "reiskoffer" van Frankies *malha), werktuie en gereedskap, natuurlewe (jardin "tuin" van Frankies *gard), landbou, klerasie (Frans gant "handskoen" van Frankies want), liggaamsdele en ander gebiede. Ook 'n aantal voor- en agtervoegsels is van Frankiese herkoms, soos mé- "mis-" in byvoorbeeld méconnaître en mépriser, -ard en -art uit Frankies -hart en -hard. Die agtervoegsel -ard is in die Nieufranse taal nog steeds produktief en kom voor in woordvormings soos vieillard "grysaard, ou man", canard "eend", campagnard "plattelander" en dreyfusard (histories) "aanhanger van Dreyfus".

Die omgangstaal in die suide van Frankryk is nie deur hierdie veranderings beïnvloed nie.

Oudfrans Die Oud-Franse (vieux français) taal het geleidelik uit die Vulgêrlatynse omgangstaal van Gallië (lingua rustica romana) ontstaan; die oudste Franstalige dokument van 842 is die Straatsburgse Ede (Latyn: Sacramenta Argentariae) wat deur Lodewyk die Duitser en Karel die Kale tydens die stryd teen hulle broer Lotharius afgelê is. Karel het die Germaanse (Oudhoogduitse), Lodewyk die Romaanse (Oudfranse) taal gebruik. Die skrywer van die eed wat gewoonlik net Latynse tekste moes handhaaf het gesukkel met die opskryf van die destydse spreektaal, en daar is soms twee spellings vir woorde soos "fradre" (wat ook as "fradra" voorkom). Lodewyk se woorde in Oudfrans:

duimnael|links|'n Uittreksel uit die Straatburgse Ede (Sacramenta Argentariae) van 842 Pro Deo amur et pro christian poblo et nostro commun salvament, dist di in avant, in quant Deus savir et podir me dunat, si salvaraeio cist meon fradre Karlo, et in adiudha et in cadhuna cosa, si cum om per dreit son fradra salvar dist, in o quid il mi altresi fazet; et ab Ludher nul plaid numquam prindrai, qui meon vol cist meon fradre Karle in damno sit.

Die bostaande teks in die Oudfranse taal van die 11de eeu: Por dieu amor et por del cretsiien poeple et nostre commun salvement, de cest jorn en avant, quan que Dieus saveir et podeir me donet, si salverai jo cest mine fredre Charlon, et en aiude, et en chascune chose, si come on par dreit son fredre salver deit, en ço que il me altresi façet, et a Lodher nul plait onques ne prendrai, qui mien vueil cest mien fredre Charlon en dam seit.

Die huidige Franse vertaling: Pour l'amour de Dieu et pour le peuple chrétien et notre commun salut, de ce jour en avant, en tant que Dieu savoir et pouvoir me donne, si défendrai-je mon frère Charles (et lui serai) en aide et en chaque chose, ainsi qu'un homme par droiture son frère doit défendre en chose que lui également ferait, et avec Lothaire aucun accord jamais ne prendrai qui de mon vouloir, à ce mien frère Charles à dommage soit.

Met die Verdrag van Verdun (843) het die skeiding van die Wes-Frankiese (Francia occidentalis, hiervan is ook die moderne naam France "Frankryk" afgelei) en die Oos-Frankiese Ryk (Francia orientalis), wat later as Duitsland bekend sou staan, begin.

Die Oudfranse taal (langue d'oïl; vergelyk Oksitaans, die langue d'oc) wat tussen 850 en 1350 in Noord-Frankryk gepraat is, het eintlik uit 'n handvol dialekte soos Normandies, Pikardies, Sjampanjies, Fransies en Lotaringies bestaan wat almal ook as skryftale gedien het. Langsamerhand het die streektaal van die Île-de-France rondom Parys, die Fransiese dialek, omtrent 1200 die standaardtaal van digters en ander skrywers geword.

Die Oudfranse klankstelsel het sterk van moderne Frans verskil; terwyl die huidige Franse net oor 16 kinkers beskik, was daar in die Oudfranse taal nog nege vokale, vyf nasale, twaalf diftonge, vyf nasaaldiftonge en drie triftonge. Die letter c is voor die medeklinkers e en i nog met 'n affrikaat /ts/ uitgespreek, en die g in estrange het nog soos die g in Engels gentleman geklink. Desgelyks het die uitspraak van die "j" en "ch" ook eers later versag. Die Middelengelse taal het hierdie Oudfranse klanke uit die Anglo-Normandiese dialek oorgeneem wat na die verowering van Engeland eeue lank as ampstaal gepraat is; Engelse woorde soos judge en change het die ou j- en g-klanke bewaar, terwyl die moderne Frans juge en changer met 'n sagte "j" en "ch" laat begin.

Aan die einde van die 12de eeu het ook die "s" verdwyn in gevalle waar dit deur 'n medeklinker opgevolg is: feste het geleidelik fête geword (die accent circonflexe, of kappie, dui aan dat die "s" verdwyn en die uitspraak van die "e" verander het). Ook in hierdie geval het die Engelse taal die ou klanke bewaar: fête – feast, bête – beast, tempête – tempest, hôtel – hostel (die Franse hôtel is later nog eens as hotel oorgeneem).

Die woordvolgorde was – veral in die digkuns – nog taamlik vry soos in die Latynse oorsprongstaal, terwyl die ses Latynse naamvalle verdwyn het. Die Oudfranse taal het die subjeks- en objeksnaamval (rektus en obliquus) geken en maskulina en feminina by selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde onderskei. Aangesien die kenmerkende uitgange van die werkwoorde persoons- en getalverskille aangedui het, is nog geen persoonlike voornaamwoorde benodig nie. Die dubbele ontkenning met ne... pas het nog nie in die Oudfranse taal bestaan nie, die konstruksie met ne... was voldoende. Ook die tye is gewoonlik sonder vaste reëls gebruik.