thumb|240px|links|’n Ivoorkunswerk uit Assirië van ’n leeu wat ’n man eet, 9de tot 7de eeu v.C.

Mesopotamië (Arabies: بِلَاد ٱلرَّافِدَيْن, Bilād ar-Rāfidayn; Grieks: Μεσοποταμία; Siries: ܐܪܡ ܢܗܪ̈ܝܢ, Ārām-Nahrīn, of ܒܝܬ ܢܗܪ̈ܝܢ, Bēṯ Nahrīn) is ’n historiese streek van Wes-Asië, tussen die Eufraat- en Tigrisrivier in die noordelike deel van die Vrugbare Halfmaan. Die woord "Mesopotamië" is van Grieks afgelei en beteken letterlik "land tussen die riviere". Die grootste gedeelte van die gebied is vandag in Irak geleë, maar dele daarvan is in Koeweit, Oos-Sirië, Suidoos-Turkye en Iran.

Die Sumeriërs, Akkadiërs, Assiriërs en Babiloniërs het Mesopotamië van die begin van die opgetekende geskiedenis (omstreeks 3100 v.C.) oorheers tot met die val van Babilon in 539 v.C., toe dit deur die Achaemenidiese Ryk verower is. Alexander die Grote het dit in 332 v.C. verower en ná sy dood het dit deel van die Griekse Seleukidiese Ryk geword. Later het die Arameërs groot dele van Mesopotamië oorheers (omstreeks 900 v.C. – 270 n.C.).

Belangrike stede was Uruk, Nippur, Nineve en Babilon. Van die belangrikste Mesopotamiese leiers was Ur-Nammu (koning van Ur), Sargon (wat die Akkadiese Ryk begin het), Hammoerabi (wat die Ou Babiloniese staat ingestel het) en Tiglat-Pileser I (wat die Assiriese Ryk gestig het).

Omstreeks 150 v.C. was Mesopotamië onder beheer van die Partiese Ryk. Die streek het die gevegsterrein van die Romeine en Parte geword, met westelike dele van Mesopotamië wat onder kortstondige Romeinse beheer beland het. In 226 n.C. is die oostelike streke van Mesopotamië deur die Sassanidiese Perse verower. Die verdeling van die streek tussen Rome (van 395 n.C. af die Bisantynse Ryk) en die Sassanidiese Ryk het geduur tot in die 7de eeu, toe die Moslems Persië van die Sassanidiese Ryk en die Levant van Bisantium afgeneem het. ’n Paar hoofsaaklik Nieu-Assiriese en Christelike state het tussen die 1ste eeu v.C. en die 3de eeu n.C. bestaan, insluitende Adiabene, Osroene en Hatra.

Die gebied word dikwels die "bakermat van die beskawing" genoem. Dit word vereenselwig met die vroegste ontwikkelings van die Neolitiese Omwenteling vanaf omstreeks 10000 v.C. Die ou skryfstelsel wigskrif, of spykerskrif, is vir die eerste keer omstreeks 3000 v.C. hier deur die Sumeriërs gebruik. Hulle het in stadstate gewoon (stede met ’n onafhanklike regering). Volgens Genesis in die Ou Testament het Abraham in Mesopotamië gewoon voordat hy na Kanaän getrek het.

Die antieke Sumeriërs en Mesopotamiërs het aansienlike tegnologiese vooruitgang bewerkstellig, onder andere besproeiing, vloedbeheer en die gebruik van riviere vir handel. Volgens die vroegste rekords het die Mesopotamiërs landbou beoefen en mak diere, of vee, aangehou. Babilon is waarskynlik die eerste stad wat deur gevestigde mense gebou is. Mesopotamië is ook die plek waar die wiel die eerste keer gebruik is. Aanvanklik is dit vir pottebakkery aangewend; later het die Sumeriërs dit vir vervoer aangepas.

Die Mesopotamiërs was ook verantwoordelik vir die vroegste sterrekunde en wiskunde.

Geografie duimnael|260px|Die twee riviere van Mesopotamië. Mesopotamië omvat die streek tussen die Eufraat- en Tigrisrivier, wat albei uit sytakke oor ’n groot gebied in die Taurusberge gevoed word. Roetes oor land in Mesopotamië volg gewoonlik die Eufraat, aangesien die Tigris se oewers dikwels steil en moeilik begaanbaar is. Die streek se klimaat is halfdroog, met ’n groot woestyn in die noorde en ’n streek van van moerasse, lagunes en moddervlaktes in die suide. In die verre suide vloei die Efraat en Tigris saam en loop hulle in die Persiese Golf in.

Die droë omgewing wissel van die noordelike dele, met landbou wat deur reën moontlik gemaak word, tot die suidelike dele, waar besproeiing nodig is. Die besproeiing word aangevul deur ’n hoë grondwatervlak en smeltende sneeu op die hoë pieke van die noordelike Zagrosberge en die Armeense hooglande.

Landbou dwarsdeur die streek is aangevul deur nomades wat skape en bokke (en later kamele) in die droë somermaande langs die riviere laat wei het en in die nat wintermaande aan die rand van die woestyn. Boustene, edelmetale en hout ontbreek in die streek en bewoners was tradisioneel van handel met verre streke afhanklik om dié goedere te bekom. In die moerasse suid van die streek het ’n komplekse hengelkultuur sedert prehistoriese tye bestaan en tot die kultuur bygedra.

Periodieke tussenposes in die kultuurstelsel het om verskeie redes voorgekom. Die aanvraag na werkers het van tyd tot tyd gelei tot ’n groot toename in die bevolking, wat te hoë eise aan die ekologie gestel het. Wanneer ’n tydperk van klimaatsonstabiliteit dan ontstaan het, kan regerings ineengestort en die bevolking afgeneem. Die militêre kwesbaarheid vir invalle deur bergbewoners en nomades het ook tot tydperke gelei wanneer daar ’n onderbeking in handel en onderhoud aan besproeiingstelsels was.

thumb|links|150px|’n Standbeeld van Gudea van Lagasj, omstreeks 2090 v.C. Stadstate het ook kortstondig beheer oor die gebied oorgeneem en die mag is daarna weer gefragmenteeer in stam- of streekseenhede.Thompson, William R. (2004) "Complexity, Diminishing Marginal Returns, and Serial Mesopotamian Fragmentation" (Vol 3, Journal of World-Systems Research)

Geskiedenis Die voorgeskiedenis van die antieke Nabye Ooste begin in die vroeë Ou Steentydperk. In dié tyd het skryfwerk begin met ’n piktogramskrif tydens die Uruk IV-tydperk (omstreeks die 4de millennium v.C.). Die aantekening van ware historiese gebeure – en die antieke geskiedenis van Laer Mesopotamië – het in die middel van die 3de millennium v.C. begin met wigskrifrekords van vroegdinastiese konings.

Die streek was een van die vier riviervalleibeskawings waar skrif ontdek is; die ander was die Nylvallei in antieke Egipte, die Indusvallei op die Indiese subkontinent en die Geelriviervallei in antieke China. In Mesopotamië was daar histories belangrike stede soos Uruk, Nippur, Nineve, Assur en Babilon, sowel as groot state soos die stad Eridu, die Akkadiese Ryk, die Derde Dinastie van Ur en die verskeie Assiriese state.

Van die belangrikste Mesopotamiese leiers was Ur-Nammu (koning van Ur), Sargon (wat die Akkadiese Ryk begin het), Hammoerabi (wat die Ou Babiloniese staat ingestel het) en Tiglat-Pileser I (wat die Assiriese Ryk gestig het).

Wetenskaplikes het die DNS van die 8 000 jaar oue oorskot van vroeë boere vergelyk met dié van moderne beskawings en ontdek daar is ooreenkomste met die DNS van mense wat in die hedendaagse Turkye en Irak woon.

Tydperke thumb|260px|Ná 'n vroeë begin in Jarmo (rooi kol regs middel) omstreeks 7500 v.C. was die beskawing in Mesopotamië in die vroeë voorgeskiedenis gesentreer om die Hassuna- (geel), Samarra- (pers), Halaf- (groen) en Obeid-kultuur (oranje). Prehistories Voor-erdeware-Neolitikum A (10000-8700 v.C.) Voor-erdeware-Neolitikum B (8700-6800 v.C.) Jarmo (~ 7000 v.C. - ~ 6000 v.C.). Hassuna- (~ 6000 v.C. - ? v.C.), Samarra- (~ 5700 v.C. - 4900 v.C.) en Halaf-beskawing (~ 6000 v.C. - 5300 v.C.) Obeid-tydperk (~ 5900 v.C. - 4400 v.C.) Uruk-tydperk (~ 4400 v.C. - 3200 v.C.) Jemdet Nasr-tydperk (~ 3100 v.C. - 2900 v.C.) Vroeë-Bronstydperk Vroeë Sumeriese stadstate (~ 2900 v.C. - 2350 v.C.) Elam (2700 v.C. - 570 v.C.) Akkadiese Ryk (~ 2350 v.C. - 2193 v.C.) Derde Dinastie van Ur ("Sumeriese Renaissance" of "Nieu-Sumeriese tydperk" genoem) (~ 2119 v.C. - 2004 v.C.) Middel-Bronstydperk Vroeë Babilonië (20ste eeu v.C. - 18de eeu v.C.) Vroeë Assiriese koninkryk (20ste eeu v.C. - 18de eeu v.C.) Eerste Babiloniese dinastie (18de eeu v.C. - 17de eeu v.C.) Laat Bronstydperk Kassitiese Dinastie (16de eeu v.C.- 12de eeu v.C.) Brandkatastrofe / einde van bronstydperk (12de eeu v.C. - 11de eeu v.C.) Ystertydperk Nieu-Hetiete of Siro-Hetiete (11de eeu v.C. - 7de eeu v.C.) Nieu-Assiriese Ryk (10de eeu v.C. - 7de eeu v.C.) Galdea, Nieu-Babiloniese Ryk (7de eeu v.C. - 6de eeu v.C.) Klassieke Oudheid Persiese Babilonië, Achaemenidiese Ryk (6de eeu v.C. - 4de eeu v.C.) Seleukidiese Mesopotamië (4de eeu v.C. - 3de eeu v.C.) Partië, toe Asuristan (3de eeu v.C. - 3de eeu n.C.) Osroene (2de eeu v.C. - 3de eeu n.C.) Adiabene (1ste eeu n.C. - 2de eeu n.C.) Romeinse Mesopotamië, Romeinse Assirië (2de eeu n.C.) Laat Oudheid Sassanidiese Asuristan (3de eeu n.C. - 7de eeu n.C.) Arabiese verowering van Mesopotamië (7de eeu n.C.)

Voorgeskiedenis Die oudste argeologiese bewyse van nedersettings dateer van die middel van die 11de millennium v.C. in die streek om die middel van die Eufraat in die hedendaagse Noord-Sirië, waar bulskedels wat begrawe is, in ronde huise ontdek is. Daar kan met sekerheid aanvaar word dat soortgelyke toestande in naburige streke bestaan het, aangesien dié soort vondste algemeen in Mesopotamië is. Van die 10de millennium v.C. af is vroulike figure uit klei gemaak. Obsidiaan (lawaglas) in klein hoeveelhede dui op handel met Kappadosië. Obsidiaanlemme wat ontdek is, is ’n bewys van vroeë handel.

Teen 8700 v.C. was daar argitektoniese vordering. Die vorige ronde huise het plek gemaak vir reghoekige wonings met verskeie kamers. Oorblyfsels van graan in silo's dui op die eerste landbouaktiwiteite. Van omstreeks 7700 v.C. was alle huise waarin menslike skedels gevind is, hoekig. Die oudste bewyse van keramiek kom uit die 7de millennium v.C. Die voorwerpe toon veranderende motiewe en tegnieke, wat dui op ’n lang ontwikkeling oor etlike eeue. Van die 6de millennium v.C. is gebakte klei die eerste keer te bespeur.

Die belangrikste Mesopotamiese state Sumeriese stadstate duimnael|160px|links|’n Kleitablet met Sumeriese wigskrif.

Die eerste geskrewe dokumente in die suide van Mesopotamië kom uit Sumer. Aan die einde van die 4de millennium v.C. is die tegnologie vir die doeltreffender besproeiing van landerye ontwikkel, sodat groter stede vir die eerste keer kon ontstaan. Die wydverspreide kanaalstelsel is deur tempelpriesters georganiseer en gebou (tempelekonomie).

Handwerk en handel het al hoe belangriker en die stede al hoe voorspoediger geword. Elkeen van hierdie nedersettings was polities onafhanklik. Die toenemende eise van organisasie en ook die tempelekonomie het die ontwikkeling van ’n soort skryfstelsel begin vereis. Aanvanklik is die wigskrif wat ontstaan het slegs vir boekhouding gebruik.

Die belangrikste stad van die Sumeriërs was Uruk, wat deur Gilgamesj regeer is. Die helededig van dié held word beskou as die oudste letterkundige werk wat bestaan. Ondanks hulle politieke fragmentasie het die stadstate van dié tyd ’n relatief homogene materiaalkultuur gedeel. Stede soos Uruk, Ur, Lagasj, Umma en Nippur in Laer Mesopotamië was baie magtig en invloedryk. In die noorde en weste was stadstate soos Kisj, Mari, Nagar en Ebla. Teen 2700 v.C. was wigskrif sterk gevestig.

Van 3000 v.C. het nomades van die noorde na die suide van Mesopotamië geïmmigreer. Die Sumeriese Koningslys, wat ook oor ’n vloed berig, toon dié migrasies deur die voorkoms van Semitiese name. Geskiedkundiges verwys na dié tydvak as die Vroegdinastiese Tydperk; dit het in die 23ste eeu v.C. geëindig.

Van omstreeks 2210 v.C. tot 2004 v.C. is Sumer regeer deur die Goeteërs, Indo-Europese veroweraars uit die noorde van Mesopotamië.

Ander uitvindings in Sumer wat deurslaggewend vir die ekonomie was, was die wiel en die pottebakkerswiel (laat Uruk-tydperk). Kleikoppies en eetgereedskap wat in die dorpie Jarmo ontdek is, dateer van omstreeks 5000 v.C.

Akkadiese Ryk

thumb|200px|’n Bronskopbeeld van ’n Akkadiese heerser wat in 1931 in Nineve ontdek is, van óf Sargon óf sy kleinseun Naram-Sin (’n kopie in die Roemer- und Pelizaeus-Museum Hildesheim).