Enrico Fermi (29 September 1901 – 28 November 1954) was 'n Italiaanse kernfisikus. Hy is in Rome gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Pisa en word in 1924 aangestel as lektor in fisika aan die Universiteit van Florence. In 1926 aanvaar hy 'n pos as professor in Teoretiese Fisika aan die Universiteit van Rome. In 1938 word die Nobelprys vir fisika aan hom toegeken, hy verhuis na die VSA en aanvaar 'n lektorspos aan die Universiteit van Columbia.
Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog is hy aktief besig met kernenergieprojekte en in Februarie 1940 maak president Franklin D. Roosevelt VS$6 000 beskikbaar vir verdere navoring. Dit was die begin van die Manhattan-projek. Aan die einde van 1941 is die projek oorgeplaas na die Universitiet van Chicago.
Op 2 Desember 1942 is die eerste beheerde en selfonderhoudende kettingreaksie suksesvol voltooi onder die beheer van Fermi. Dit was die eerste kernreaktor. Dit gee aanleiding tot verdere ontwikkeling en die eerste kernkragontploffing. Ná die oorlog aanvaar Fermi 'n pos as professor in Fisika aan die Universiteit van Chicago in 1946. Op 16 November 1954 ken die Amerikaanse Atoomenergiekorporasie 'n prys van $25 000 aan hom toe uit erkenning vir sy werk op die gebied van kernfisika. Hy is op 28 November 1954 in Chicago oorlede.
Verwysings
Bron Collier's Encyclopedia, Vol. 9 , bladsy 663. Crowell-Collier Educational Corporation. 1971
Eksterne skakels
Kategorie:Amerikaanse akademici Kategorie:Amerikaanse fisici Kategorie:Amerikaanse uitvinders Kategorie:Italiaanse akademici Kategorie:Italiaanse fisici Kategorie:Italiaanse uitvinders Kategorie:Kernfisici Kategorie:Nobelprys vir Fisika wenners Kategorie:Teoretiese fisici Kategorie:Geboortes in 1901 Kategorie:Sterftes in 1954 Kategorie:Manhattan-projek