duimnael|links|Die Serengeti Die Serengeti is 'n geografiese streek van Afrika wat uit savannes en boslandskappe bestaan. Die streek strek oor die noorde van Tanzanië en die suide van Kenia en beslaan 'n oppervlakte van ongeveer 30 000 km². Tagtig persent van die gebied lê in Tanzanië, die gedeelte in Kenia staan ook as die Maasai Mara bekend. Die naam "Serengeti" is afgelei van die Masai-taal (Siringet), en beteken letterlik "eindelose vlaktes".

Daar leef ongeveer 1,6 miljoen plantetende diere en duisende roofdiere in die gebied. Die volopste diere in hierdie streek is blouwildebeeste, Thomson-gaselle, bontkwaggas en buffels.

Die streek is bekend vir die migrasie wat jaarliks om en by Oktober plaasvind. Tydens hierdie migrasie trek miljoene plantetende diere vanaf die noordelike heuwels na die suidelike vlaktes. Hiertydens steek die diere die Mararivier oor. Na die reëns van April, trek hulle met 'n westelike ompad terug. Die verskynsel word 'n sirkelvormige migrasie genoem.

Die argeologies-belangrike Olduvaikloof, waar van die oudste bekende menslike fossiele gevind is, is ook in die Serengeti geleë.

Die Serengeti omvat (in Tanzanië) die Serengeti Nasionale Park, die Ngorongoro-krater en die Maswa Wildreservaat en (in Kenia) die Masai Mara Nasionale Park.

Verwysings

Eksterne skakels

Amptelike webtuiste

Kategorie:Landvorme van Kenia Kategorie:Landvorme van Tanzanië Kategorie:Wêrelderfenisgebiede in Afrika