Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) is 'n publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met spelreëls, 'n woordelys, afkortingslys en verskeie bylaes vir Afrikaans. Die eerste uitgawe het in 1917 verskyn en word sedertdien gereeld bygewerk. Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel hierdie publikasie op met die primêre doel om leiding te gee ten opsigte van spelling.

Die afdeling oor spelreëls is onderverdeel in afdelings wat spelreëls vir Standaardafrikaans verduidelik aan die hand van sekere onderwerpe: Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, wisselvorme, klanke (vokale, diftonge en konsonante), meervoudsvorme, skryftekens (afkappingsteken, aksent, kappie, deelteken, koppelteken), hoofletters, verkleiningsvorme, trappe van vergelyking, leestekens, en los en vas skryf van woorde.

Die woordelys bevat 'n versameling Afrikaanse woorde om die korrekte skryfwyse ten opsigte van spelling, wisselvorme, gebruik van koppeltekens, hoofletters, en skryftekens aan te dui. Dit is geensins 'n volledige lys van Afrikaanse woorde nie, maar poog eerder om probleemgevalle uit te lig, of om minder algemene woorde as aanvaarbaar aan te dui.

Die afkortingslys bevat afkortings en ooreenstemmende volledige vorms wat in algemene gebruik voorkom. Riglyne vir die gebruik van afkortings word ook gegee.

Talle bylaes met nuttige inligting word ook agter in die AWS aangebied.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig om hulle te beywer vir Afrikaanse en Nederlandse taal en letterkunde, die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oudheidkunde en kuns. Die Akademie het vanaf 1914 begin met die opstel van die spelreëls vir Afrikaans, en die eerste woordelys (toe genoem "Woordelijs") is in 1914 in Jaarboek V van die Akademie opgeneem. Die eerste spelreëls (toe genoem "Spelregels") is op 8 September 1915 goedgekeur deur die Akademie (Jaarboek VI van 1915), waarna dit saam met die woordelys in 1916 in pamfletvorm uitgegee is. Die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls is in 1917 in boekvorm uitgegee, met 'n tweede, hersiene druk wat in 1918 verskyn het.

Uitgawes van die spelreëls Daar het tot dusver (2017) elf uitgawes van die AWS verskyn, waarvan die tweede uitgawe bloot 'n herdruk van die eerste was – dus in wese tien uitgawes.Die oorsig oor die AWS-uitgawes kom oorspronklik uit Samuel Murray se nieamptelike AWS-webwerf. Oorgeneem met toestemming.

Die 1917-AWS (eerste/tweede uitgawe) duimnael|Voorblad van die 1917-AWS Die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls van 1917 is geskryf deur T.H. le Roux, D.F. Malherbe en Johannes J. Smith, in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Wetenskap en Kuns. Ander lede van die spellingkommissie sluit Jan F.E. Cilliers, J.D. du Toit, C.J. Langenhoven en Gustav Preller in.

Die voorwoord is in eenvoudige taal geskryf. Dit stel dat die AWS die vrug is van die werk van die Genootskap van Regte Afrikaners (gestig 1875). Dit is egter 'n vreemde stelling, aangesien die spelreëls grootliks verskil van dit wat deur die GRA gebruik is. Hierdie stelling word verder deur die vierde grondbeginsel van die 1917-AWS in twyfel getrek.

Die Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling word soos volg uiteengesit:

Elke klank word deur 'n aparte letter voorgestel en geen onnodige letters word gebruik nie. Dieselfde woord, voor- of agtervoegsel word so ver moontlik dieselfde gespel. Die geskiedenis word net in ag geneem waar dit prakties moontlik is. Daar moet so weinig moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling (VHS) afgewyk word. Die gebruiklikste uitspraak word as norm aanvaar.

Die GRA-spelling (ook genoem die Patriotsisteem) is kenmerkend in die wyse wat dit juis van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling (VHS) afwyk. Vergelyk byvoorbeeld die GRA-spelling briif en briwe met die VHS brief en briewe, of waarhyd met waarheid. Dat daar so ver moontlik nie van die VHS afgewyk moet word nie, word verduidelik deur die stelling dat Afrikaans en Nederlands mekaar moet aanvul.

Die term "beskaaf" word so verduidelik: Dit wat gewoon is, is beskaaf, en dit wat ongewoon is, is onbeskaaf.

Die woordelysgedeelte bevat 15 680 inskrywingsEksteen, L.C. 1985. Die rol van die Akademie in die standaardisering van die Afrikaanse spelling. SPIL plus, 10:169-200. en 48 reëls.

Spelling en spelreëls duimnael|Uittreksel uit die 1917-AWS (pp. 4-5) Reeds uit die voorwoord is dit duidelik dat hierdie Afrikaans redelik verskil met hedendaagse Afrikaans, sover dit die spelling betref. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die gebruik van ij in plaas van y (vergelyk "Woordelijs" hierbo). Ander voorbeelde sluit in:

bajang (baie), als (as), sie (sien), hòm (hóm), daadlik (dadelik), solang (solank), ter goeder trouw, opbouwing.

Met die verskyning van die AWS het daar reeds vele wisselvorme vir sekere woorde bestaan. Die AWS maak duidelik onderskeid tussen aanvaarbare en onaanvaarbare vorme:

soveel x *suffel vinnig x *vinnag kinders x *kinners nuws x die Nederlandse *nieuws

Die spelreëls van die AWS het veel te sê oor hoe vreemde en Nederlandse woorde verafrikaans moet word.

Vir die onderskeid tussen hypotese en simpatie geld die reël dat woorde van vreemde herkoms die y behou, maar ingeburgerde, alledaagse woorde 'n i kry. 'n Soortgelyke reël geld vir au x ou in woorde soos automaties. Die c, x en z word in vreemde woorde en eiename behou, byvoorbeeld café en Alexander.

Waar die VHS 'n th het wat as [t] uitgespreek word, verval die h in Afrikaans: *thee x tee, en *thermometer x termometer; maar thuis (tuis) word so gebou, omdat dit aan huis herinner.

Die ei naas ij word slegs as wisselvorme erken waar die VHS dit ook erken, dus slegs waar 'n betekenisverskil voorkom, byvoorbeeld leiden x lijden.

'n Vreemde reël is dat die verbuiging van breed breë is maar in die geval van 'n meervoud tree treeë. Nog 'n vreemde reël is die erkenning van drieklanke (naas tweeklanke of diftonge): eeu x eeou soos in leeou en sneeou.

Behalwe vir vreemde woorde soos dinee, word die i-klank as ie geskryf, byvoorbeeld wiel en artiekel.

'n Vreemde reël wat op verkleinwoorde van toepassing is, is die weglating van ë of e van sekere woorde, byvoorbeeld voël x vooltjie, reël x reeltjie, waens x waantjies, en leuen x leuntjie.

Verskeie wisselvorme word erken:

mogentlik x moontlik x molik baiang x baje môre x more nôi x nooi

Volgens T.H. le Roux het die 1917-AWS ook 'n reël bevat wat lui dat die medeklinker na 'n swak beklemtoonde klinker nie verdubbel nie, byvoorbeeld bobiaan en frikedel. Hierdie reël het teen 1921 verval.

Die GRA-spellings *seuwe, *twede en *soveul word verwerp ten gunste van sewe, tweede en soveel. Hierby kan dus met reg gevra word op die AWS dan enigsins aanhang geniet het. Volgens C.J. Langenhoven word tweede in 1926 nog *twede gespel. Volgens die voorwoord van die 1918-AWS was daar baie kritiek op die 1917-AWS.

Die 1921-AWS (derde uitgawe) duimnael|Voorblad van die 1921-AWS Dieselfde skrywers as aan die 1917-AWS het aan die 1921-AWS gewerk, saam met D.B. Bosman. Die spelreëls het nie veel verander nie.

Lesers van die 1917-AWS het veral twee besware teen die werk gehad. Eerstens is daar gevoel dat daar te veel vryheid ten opsigte van vreemde woorde bestaan het. Tweedens is daar gevoel dat daar te veel wisselvorme is. Die rede vir hierdie beswaar hang saam met die standaard wat in skole probeer handhaaf is.

Spelling en spelreëls Die taal in die voorwoord begin al lyk soos hedendaagse Afrikaans. Die enigste sake wat opval, is die gebruik van klae in plaas van kla, en 'n hoofletter- 'N aan die begin van 'n sin in plaas van 'n kleinletter- 'n.

In antwoord op die eerste beswaar val die stom w weg, sodat *opbouw (1917-spelling) byvoorbeeld nou as opbou geskryf word. Die ij word deurgaans met y vervang, en y in vreemde woorde word met i of ie vervang, soos byvoorbeeld *hypotese (1917-spelling) wat hipotese word.

Verder is die reëls oor deeltekens vereenvoudig. Die Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling is presies soos dit in 1917 was.

Die 1931-AWS (vierde uitgawe) duimnael|Voorblad van die 1931-AWS Hierdie uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls lyk al meer soos die jongste uitgawe. Die woord *Suidafrikaanse word in hierdie uitgawe Suid-Afrikaanse gespel. Die 1931-AWS is saamgestel deur S.P.E. Boshoff, D.B. Bosman, T.H. le Roux en D.F. Malherbe.

In 1926 kry die Taalkommissie die opdrag om 'n nuwe AWS op te stel. In hierdie werk sou:

al die inkonsekwensies van die vorige AWS verwyder moes word; meer tegniese en wetenskaplike terme opgeneem moes word; en meer vryheid gegun moes word oor kwessies waar daar meningsverskil heers.

Interessant is dat punt 3 juis die teenoorgestelde gees weergee as wat in die 1921-AWS voorkom, naamlik dat persoonlike vryheid ten opsigte van verskille tot die minimum beperk moet word. Die skrywers lewer self kommentaar op punt 3 deur te sê dat 'n jong taal wel vryheid gegun moet word, maar dat dit nie in 'n bandeloosheid moet ontaard nie.

Die nuwe Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling is soos volg:

Spelling berus op die algemeenste en gebruiklikste uitspraak in beskaafde Afrikaans. Die spelling moet by die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling aansluit en nie sterk daarvan afwyk nie. Dit moet so ver moontlik gelykvormig wees.

Let op dat daar nie meer van die VHS gepraat word nie, maar van Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS). Hiermee word bedoel die vereenvoudigde spelling, aanvanklik deur R.A Kollewijn voorgestel, en in Januarie 1904 deur die ZA Taalbond in Suid-Afrika aanvaar.

Spelling en spelreëls Sakemense het besware gehad teen wisselvorme – hulle het eenvormigheid voorgestaan. Om hulle tegemoet te kom, het die skrywers besluit dat hulle slegs die minder bekende variant van 'n wisselvorm sal aanvaar. Om te illustreer:

eksamen x *examen eksaminator x *examinator eksamineer x *examineer maar eksaminandus en examinandus word albei aanvaar.

Die reël het gesê dat vreemde woorde hul vreemde spelling mag behou, maar dat volkseie woorde verafrikaans moet word. Geskille het ontstaan oor wat presies met "vreemde" en "volkseie" woorde bedoel word. Om dit duideliker te probeer maak, het die AWS woorde in drie kategorieë opgedeel:

Woorde in alledaagse gebruik. Wildvreemde woorde. Woorde wat moeilik verafrikaans.

Woorde in klas 1 moes volgens spelling verafrikaans word, en woorde in klas 2 moes hul oorspronklike spelling behou.

Die 1931-AWS is juis vertraag as gevolg van die kwessie wisselvorme. Vroeër het die destydse Minister van Onderwys met die Spellingskommissie oorleg daaroor gepleeg. Sake wat uitgeklaar moes word was die keuse tussen au x ou, th x t, v x w, x x ks, en i x ie.

Dis interessant om te let dat in die voorwoord se taalgebruik tradiesie en in die woordelys famielies met ie geskryf word, maar grammatika met net 'n i. Ook interessant is dat beide botanikus en botanicus erken word, maar van historiesie x historici word gesê dat eersgenoemde 'n bastervorm is. Ander eienaardige inkonsekwensies sluit in dat die Nederlandse *slaven moes wyk vir die Afrikaanse slawe, maar dat die Nederlandse slavin steeds aanvaar word.

Weereens word verskeie wissevorme steeds erken, onder andere:

kin x ken, deuntjie x duintjie, bied x bieë x bie, droog x droë x dro, terg x terge x têre, giegel x giggel, skielik x skierlik, kriebel x kriewel, siklus x cyclus, nors x noors, novice x novise, Nu-Engels x Niew-Engels

By die spelreëls was ook vir die eerste keer 'n bylae oor leestekens. Hierdie bylae is deur A.C. Bouman opgestel.

Die 1937-AWS (vyfde uitgawe) duimnael|Voorblad van die 1937-AWS Die 1937-AWS is saamgestel deur S.P.E. Boshoff, D.B. Bosman, L.W. Hiemstra, T.H. le Roux en D.F. Malherbe.

Die 1953-AWS (sesde uitgawe) duimnael|Voorblad van die 1953-AWS