__NOTOC__ duimnael|links|Die gevangenisgeboue op Robbeneiland, met Tafelberg op die agtergrond. duimnael|links|Robbeneiland, soos oor die rug van Seinheuwel in Kaapstad gesien.
Robbeneiland, voorheen Eyland Cornelia,Hondius, J. 1652. Klare Besgryving van Cabo de Bona Esperanca. 't Amsterdam. bl. 13 is 'n eiland in Tafelbaai, 6,9 km wes van die kus van Bloubergstrand en 11 km noord van Kaapstad, Suid-Afrika. Dit ontleen sy naam aan die ou Nederlandse woord vir robbe (robben). Die eiland het 'n tipiese Karooklimaat ten spyte daarvan dat dit so naby geleë is aan Kaapstad, wat 'n Mediterreense klimaat het. Die koue Benguelastroom, 'n koue seestroom in die Atlantiese Oseaan aan die suidweskus van Afrika,HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, is daarvoor verantwoordelik. As gevolg van die koue see bevat lug wat van die see na die land inwaai nie veel vog nie, en dus is reën baie skaars.
Robbeneiland is ongeveer ovaalvormig, 3,3 km lank van noord na suid en 1,9 km breed, met ’n oppervlakte van 5,08 km2. Dit is plat en slegs ’n paar meter bo seespieël as gevolg van ’n antieke erosiegebeurtenis. Dit is versterk en van die laat 17de eeu tot 1996, ná die einde van apartheid, as ’n gevangenis gebruik.
In die laat 20ste eeu is dit gebruik om politieke gevangenes aan te hou wat die naoorlogse apartheidstaat teengestaan het. Die politieke aktivis en prokureur Nelson Mandela is 18 van die 27 jaar van sy gevangenskap op die eiland opgesluit voordat apartheid tot ’n einde gekom het en volle, veelrassige demokrasie in Suid-Afrika ingestel is. Hy is later met die Nobelprys vir Vrede bekroon en is in 1994 tot President van Suid-Afrika verkies, waardeur hy die land se eerste swart president geword het. Hy het een termyn gedien, van 1994 tot 1999.
Twee ander voormalige gevangenes van Robbeneiland, benewens Mandela, is sedert die laat 1990’s tot die presidentskap verkies: Kgalema Motlanthe (2008-'09) en Jacob Zuma (2009-'18). Ander voormalige gevangenes het ’n verskeidenheid politieke posisies in die demokrasie beklee. Robbeneiland is ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenisterrein sowel as ’n Unesco-wêrelderfenisterrein.
Geskiedenis Die eiland is in 1488 deur Bartolomeu Dias "ontdek". Dit is jare lank deur Portugese seevaarders en later deur Engelse en Nederlandse matrose as ’n hervullingspunt gebruik. Lank voor dit het die Khoi van die vasteland na die eiland en terug gevaar.
In 1654 het die setlaars van die Nederlandse Kaapkolonie al hulle ooie en ’n paar ramme na Robbeneiland verskuif. Die mans het ’n groot skuur en ’n skuiling gebou. Die afsondering het die vee beter teen wilde diere beskerm as op die vasteland. Die setlaars het ook robbevelle versamel en olie gekook om in die behoeftes van die nedersetting te voorsien.History of South Africa, 1486 - 1691, G.M Theal, London 1888.
Sedert die einde van die 17de eeu is Robbeneiland gebruik vir die gevangenskap van hoofsaaklik politieke gevangenes. Die Nederlandse setlaars het dit eerste gedoen. Die eiland se eerste gevangene was waarskynlik Autshumato (Herrie die Strandloper), in die middel van die 17de eeu. Sy broerskind, Krotoa, of Eva, is as jong meisie deur Jan en Maria van Riebeeck in hulle huis in die Kaap opgeneem as speelmaat en kinderoppasser vir die Van Riebeeck-kinders.
Haar Khoi-naam was Krotoa, maar sy is deur Maria van Riebeeck tot Eva hernoem. Krotoa kon Nederlands en Portugees praat en het as tolk vir die Nederlanders aan die Kaap gewerk.Jansesnhuis Eva Krotoa , besoek op 26 Februarie
Teen dié tyd is al hoe meer gevangenes na Robbeneiland gestuur. In 1671 is vyf Khoi-gavangenes na die eiland gestuur nadat hulle geslaan is, omdat hulle vee gesteel het. Van hulle het daarin geslaag om te ontsnap. Die steel van groente was een van die ergste oortredings. In 1775 is twee slawe in kettings lewenslank na Robbeneind gestuur vir die steel van groente nadat hulle ore afgesny is. Ook sodomie is as 'n ernstige misdaad beskou.
In 1806 het die Skotse walvisjagter John Murray ’n walvisjagstasie by ’n beskutte baai aan die noordooskus van die eiland geopen, wat as Murraybaai bekend geword het. Dit was langs die terrein van die huidige Murraybaaihawe, wat in 1939-'40 gebou is.
Ná ’n mislukte opstand by Grahamstad in 1819, die vyfde van die Kaapse grensoorloë, het die Britse koloniale regering die Afrikaleier Makanda Nxele tot lewenslange gevangenisstraf op die eiland gevonnis. Hy het aan die kus van Tafelbaai verdrink nadat hy uit die gevangenis ontsnap het.
thumb|Robbeneiland soos van Tafelberg af gesien in die rigting van Saldanhabaai. Die eiland is ook as ’n melaatsekolonie en ’n dierekwarantynstasie gebruik. Van 1845 af is melaatses uit die Hemel-en-Aarde-melaatsekolonie naby Caledon, Wes-Kaap, na Robbeneiland verskuif nadat bevind is dat Hemel-en-Aarde ongeskik is. Aanvanklik is mense op ’n vrywillige grondslag verskuif, en die melaatses was vry om die eiland te verlaat. In April 1891 is die hoekstene gelê vir 11 nuwe geboue om melaatses te huisves. Ná die aanvaarding van die melaatsheidsonderdrukkingswet van Mei 1892 was opname nie meer vrywillig nie, en die beweging van die melaatses is beperk. Dokters en wetenskaplikes het nie die siekte verstaan nie en het gemeen afsondering is die enigste manier om te voorkom dat ander mense dit opdoen. Voor 1892 is gemiddeld ongeveer 25 melaatses per jaar tot Robbeneiland toegelaat, maar in 1892 het dié getal tot 338 gestyg, en nog 250 is in 1893 toegelaat. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die eiland versterk. Daarvoor is groot dele van die natuurlike veld vernietig.
In 1948 het die Nasionale Party aan die bewind gekom en ’n formele program van apartheid ingestel. Met verloop van tyd het swart Afrikane en bondgenote teen die beleid in opstand gekom. Van 1961 af is Robbeneiland deur die Suid-Afrikaanse regering as ’n gevangenis vir politieke gevangenes en veroordeelde misdadigers gebruik.
thumb|links|180px|Mandela omstreeks 1937. Nelson Mandela het in 1961 leier van die ANC se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, geword. Hy is op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem en op 25 Oktober 1962 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Op 11 Junie 1964 is hy skuldig bevind en is uitspraak gelewer betreffende sy verbintenis met terroristebedrywighede. Pres. P.W. Botha het hom verskeie kere kwytskelding van sy vonnis aangebied, mits hy geweld afsweer. Hy het dit van die hand gewys. Hy is tussen 1964 en 1982 op Robbeneiland aangehou. Daarna is hy na Pollsmoor en toe na die Drakenstein-gevangenis verskuif.
In 1969 is die Moturu-kramat, wat nou ’n heilige plek vir Moslempelgrimstogte op Robbeneiland is, gebou ter nagedagtenis aan Sayed Abdurahman Moturu, die Prins van Madura. Moturu, een van Kaapstad se eerste imaams, is in die middel van die 1740’s na die eiland verban. Hy is in 1754 daar oorlede. Moslemse politieke gevangenes het voor hulle die eiland verlaat het, by die heiligdom hulde gebring.
In 1982 het die voormalige gevangene Indres Naidoo sy boek Island in Chains gepubliseer. Dit was die eerste verslag oor die gevangenislewe op die eiland.
Die maksimumsekuriteitsgevangenis vir politieke gevangenes is in 1991 gesluit. Die mediumsekuriteitsgevangenis vir kriminele gevangenes is in 1996 gesluit. In 1997 is dit in ’n museum omskep en as ’n nasionale monument aangewys. In 1999 is dit as ’n wêrelderfenisterrein erken.
Ná die einde van apartheid het die eiland ’n gewilde toeristebestemming geword. Dit word bestuur deur die Robbeneilandmuseum (RIM), wat die terrein as ’n lewende museum bedryf. Duisende besoekers neem elke jaar die veerboot van die Victoria & Alfred-waterfront in Kaapstad vir toere deur die eiland en sy voormalige gevangenis. Baie van die gidse is voormalige gevangenes. Al die grond op die eiland behoort aan die Suid-Afrikaanse staat, met uitsondering van die eilandkerk. Administratief is Robbeneiland ’n voorstad van Kaapstad.
As ’n toeristebestemming in Suid-Afrika se nasionale bewussyn word Robbeneiland vandag deur baie swart Suid-Afrikaners as ’n simbool van onderdrukking beskou.
Toerisme en toegang tot die eiland Robbeneiland is toeganklik vir besoekers deur middel van toere wat van Kaapstad se waterfront af vertrek. Toere vertrek drie keer per dag en duur ongeveer 3,5 uur. Dit bestaan uit ’n veerbootrit na en van die eiland, asook ’n toer deur die verskillende historiese terreine op die eiland wat deel van die Robbeneilandmuseum vorm.
Dit sluit die eiland se begraafplaas, die verlate kalkgroef, Robert Sobukwe se huis, die blouklipgroef, die weermag- en vlootbunkers en die maksimumsekuriteitsgevangenis in. Nelson Mandela se sel word aan besoekers gewys.
Maritieme gevaar thumb|240px|'n Nederlandse kaart van die eiland uit 1731.
Seegaande vaartuie moet groot omsigtigheid aan die dag lê wanneer hulle naby Robbeneiland en die nabygeleë Walvisrots vaar (dit steek nie bo die seeoppervlak uit nie), aangesien dié gebiede ’n gevaar vir skeepvaart inhou. ’n Heersende, onstuimige Atlantiese deining omring die riwwe aan die kus en die eiland se gekartelde kuslyn. Vaartuie wat tussen die rotse beland, word vinnig deur die kragtige branders verpletter. Altesaam 31 vaartuie het al sover bekend om die eiland vergaan.
In 1990 het ’n maritieme argeologiespan van die Universiteit van Kaapstad met Operasie "Sea Eagle" begin. Dit was ’n onderwateropname waarin 31 km2 seebodem rondom Robbeneiland geskandeer is. Die taak is besonder bemoeilik deur die sterk seestrome en hoë golwe van dié waters. Die span het 24 vaartuie gevind wat rondom Robbeneiland gesink het. Die meeste wrakke is in waters minder as 10 m diep gevind. Die span het tot die gevolgtrekking gekom dat slegte weer, duisternis en mis die oorsaak van die sinkings was.
Maritieme wrakke rondom Robbeneiland en in die omliggende waters sluit drie Nederlandse skepe van die 17de eeu in (die Yeanger van Horne, 1611, die Shaapejacht, 1660, en die Dageraad, 1694), asook verskeie Britse brikke van die 19de eeu, insluitende die Gondolier (1836), en die Amerikaanse klipper A.H. Stevens (1866). In 1901 het die posskip SS Tantallon Castle in digte mis teen rotse langs Robbeneiland gestamp kort nadat dit Kaapstad verlaat het. Nadat noodkanonne van die eiland afgevuur is, het nabygeleë vaartuie hulle na die toneel gehaas om hulp te verleen. Al 120 passasiers en bemanningslede is van die skip afgehaal voordat dit deur die deining opgebreek is. Nog verskeie skepe het in die 20ste eeu om die eiland vergaan, waaronder Britse, Spaanse, Noorse en Taiwannese vaartuie.
Robbeneiland-vuurtoring thumb|240px|links|Die Robbeneiland-vuurtoring.
Weens die maritieme gevare van Robbeneiland en die omliggende waters het Jan van Riebeeck, die eerste Nederlandse koloniale administrateur in Kaapstad in die 1650’s, opdrag gegee dat groot vure snags bo-op Vuurheuwel, die hoogste punt op die eiland (nou Mintoheuwel), aangesteek word. Dit was bedoel om skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te waarsku dat hulle die eiland nader.
In 1865 is die Robbeneiland-vuurtoring op Mintoheuwel voltooi. Die silindriese messeltoring, met ’n vuurtoringwagtershuis aan die voet daarvan, is 18 m hoog en het ’n lanternplatform aan die bokant. In 1938 is die lamp geëlektrifiseer. Die vuurtoring gebruik ’n flitslig in plaas van ’n roterende lamp; dit skyn elke sewe sekondes vir vyf sekondes. Die ligstraal, wat tot op 44 km (24 seemyle) sigbaar is, flits wit lig weg van Tafelbaai. ’n Sekondêre rooi lig dien as navigasiehulpmiddel vir vaartuie wat suidsuidoos vaar.
Natuurlewe en bewaring thumb|240px|Uitsig oor Tafelbaai van die kus van Robbeneiland af. thumb|links|180px|'n Bedreigde brilpikkewyn op Robbeneiland, 2015 thumb|240px|Die kus van Robbeneiland met ’n uitsig oor Tafelberg.Toe die Nederlanders in 1652 in die gebied aankom, was die enigste groot diere op die eiland robbe en voëls, waaronder pikkewyne. In 1654 het die setlaars konyne op die eiland vrygelaat om ’n geredelik beskikbare bron van vleis vir verbygaande skepe te voorsien.