Tafelberg (Engels: Table Mountain; Khoi: Huriǂoaxa of Hoerikwaggo, "Seeberg") is ’n berg van 1 km hoog in Suid-Afrika met ’n uitsig oor Kaapstad en die Kaapse Skiereiland. Dit het ’n kenmerkende plat plato, wat ’n mesa genoem word, en strek omtrent drie kilometer van punt tot punt. Die grootste deel van die berg bestaan uit 450-510 miljoen jaar oue gesteentes. Dié gesteentes beslaan ook die boonste laag van die Kaapse Plooiberge, waarvan Tafelberg deel is. Dit is uiters harde, erosiebestande kwartssandsteen, wat die Skiereiland-formasie genoem word en die steil grys kranse vorm.
’n Kabelspoor neem besoekers van ’n kabelstasie aan die westelike berghang na die kruin. Van daar is ’n asemrowende uitsig oor Kaapstad, Tafelbaai, Leeukop, Vlaeberg en Robbeneiland in die noorde, asook die Atlantiese kuslyn in die weste en suide. Op die berg is ’n restaurant en winkels.
Die gebied om Tafelberg word al baie eeue lank bewoon. Sowat 2 000 jaar gelede het die Khoi-sprekende volke uit die noorde na die Skiereiland migreer. Voorheen is die gebied deur nomadiese !Kwi-sprekers bewoon. Omstreeks 1800 is drie blokhuise op Tafelberg gebou, en tussen 1896 en 1907 vyf damme om water aan Kaapstad te verskaf. Dié damme maak nie meer deel uit van die watervoorsiening nie.
’n Groot deel van die Kaapse Skiereiland bestaan uit verskeie soorte unieke fynbos. Die Kaapse floraryk is ’n wêrelderfenisgebied met talle plante wat inheems is en nêrens anders aangetref word nie. Altesaam 1 500 van die spesies hier kom voor in die gebied van 57 km2 wat Tafelberg en die Agterberg insluit – soveel soos al die plantspesies in die hele Verenigde Koninkryk. Ná pleidooie sedert die middel 1930's vir ’n nasionale park op die Kaapse Skiereiland wat om Tafelberg gesentreer is, het oudpresident Nelson Mandela in 1998 die Skiereilandse Nasionale Park afgekondig. Dit is nou bekend as die Tafelberg Nasionale Park.
Verskeie soorte diere kom ook op die berg voor. Dit sluit in dassies, ystervarke, muishonde, slange, akkedisse, skilpaaie en ’n skaars inheemse paddaspesie, die Tafelbergse spookpadda. Roofvoëls sluit in die bedreigde witkruisarend, asook die rooiborsjakkalsvoël, dwergarend, kaalwangvalk, swerfvalk en kransvalk. Voorheen het ook leeus, tiere en kwaggas hier voorgekom.
As ’n mens suid oor die stad na Tafelberg kyk, sien jy links (oos) die driehoekige Duiwelspiek (1 000 m) en regs die ronde Leeukop (669 m) en Vlaeberg (Seinheuwel). Tafelberg se plat bokant word gereeld deur wolke bedek, bekend as die "tafeldoek". Dit is stuwingswolke wat gevorm word wanneer ’n suidoostewind teen die berghange opwaai na kouer lug, waar die vog in die wind kondenseer en wolke vorm. Volgens legende word dié verskynsel toegeskryf aan ’n rookkompetisie tussen die duiwel en ’n afgetrede seerower, Van Hunks.
Die berg se hoogste punt is by die Maclear-baken. ’n Berugte, gevaarlike ligging is die Carrel-lys, ’n ononderbroke afgrond nie ver van die Maclear-baken nie.
Die stad Kaapstad omring deesdae die berg; plaaslike inwoners gebruik die berg graag as ’n landmerk om deur die stad te navigeer. Van die aktiwiteite waaraan inwoners en besoekers op die berg kan deelneem, sluit honderde staproetes in, asook rotsklim, abseil en bergfietsry. duimnael|regs|500px|Tafelberg vanaf Leeukop gesien.
Naam António de Saldanha was die eerste Europeër wat in Tafelbaai geland het. Hy het die berg in 1503 uitgeklim en dit Taboa do Cabo ("Tafel van die Kaap") in sy moedertaal, Portugees, genoem. Hierdie naam is later vernederlands tot Tafelberg.
Tekens van die groot kruis wat die Portugese seevaarder op Leeukop aangebring het, kan steeds gesien word.
Sterrebeeld Mensa Tafelberg is die enigste natuurlike formasie op aarde waarna ’n sterrebeeld genoem is: Mensa, wat "tafel" beteken. Die naam was eers Mons Mensae ("Tafelberg"), maar is later saam met die name van ander sterrebeelde verkort. Die sterrebeeld word in middel Junie rondom middernag in die Suidelike Halfrond gesien, onder die Jagter.
Dit het sy naam gekry van die Franse sterrekundige Nicolas-Louis de Lacaille gedurende sy verblyf aan die Kaap in die middel 18de eeu.
Die kabelkar duimnael|links|180px|Tafelberg se kabelkar. Die Table Mountain Aerial Cableway bestuur ’n kabelspoor wat besoekers van die onderste kabelstasie, sowat 302 m bo die seevlak aan die westelike berghang, na die kruin van die 1 067 m hoë berg neem. Van daar is ’n asemrowende uitsig oor Kaapstad, Tafelbaai, Leeukop en Robbeneiland in die noorde, asook die Atlantiese kuslyn in die weste en suide. Op die berg is ’n restaurant, kuriowinkels en duidelik gemerkte wandelpaaie.
Die spoor is net in werking tydens goeie weerstoestande, omdat sterk winde dit gevaarlik kan maak. Besoekers moet hul uitstappie beplan vir mooiweersdae wanneer daar nie 'n "tafeldoek" bo-op die berg lê nie, omdat dit die uitsig belemmer.
Die eerste kabelkar, wat deur die wêreldwye maatskappy Adolf Bleichert & Co. van Leipzig, Duitsland, gebou is,Bleichert Passenger Cable Way Order Book: Order November 16, 1926 – Exhibit No.3013 is op 4 Oktober 1929 geopen. Sedertdien is die kabelspoor drie keer gerestoureer: in 1958, 1974 en 1996–1997. Verbeterde karre is op 4 Oktober 1997 ingewy, wat die dravermoë van 25 tot 65 persone elk vergroot het. Die nuwe karre is rond en draai in die rondte terwyl hulle beweeg om ’n goeie uitsig aan almal te bied. Hulle is deur die Switserse maatskappy Garaventa AG gebou.
Albei kabelstasies is egter nog die oorspronklikes, hoewel hulle aansienlik opgegradeer is.
Op 10 Januarie 2014 is 'n besondere mylpaal bereik toe die kabelspoor sy 23 miljoenste besoeker, Thamsanqo Welcome Peter, op die berg verwelkom het.
Van Hunks en die duiwel Jan van Hunks was glo ’n afgetrede Nederlandse seerower wat vroeg in die 18de eeu aan die hange van Tafelberg en Duiwelspiek gesit en die uitsig bewonder het terwyl hy gerook en rum gedrink het. Een somerdag, terwyl die suidoos kwaai waai, kom ’n vreemdeling verby en vra hom ’n stopsel tabak. Die vreemdeling prys die besondere tabakmengsel en Van Hunks spog met sy rookvermoë. Dit lei tot ’n uitdaging en ’n kwaai rokery wat dae aanhou en ’n dik rookwolk oor Tafelberg tot gevolg het.
Skielik laat die uitdager sy pyp val en stort ineen. Toe Van Hunks die vreemdeling se hoed van sy kop trek, sien hy die horings en besef hy het met die duiwel te doen. In ’n helder weerligflits verdwyn albei rokers – en laat slegs ’n groot rookwolk agter. Van Hunks word glo gedwing om elke jaar die kompetisie te herhaal, en dan word Tafelberg met sy "tafeldoek" bedek.
Die wetenskaplike verklaring is dat stuwingswolke gevorm word wanneer ’n suidoostewind teen die berghange opwaai na kouer lug, waar die vog kondenseer en wolke vorm.
duimnael|senter|900px|’n Panorama vanaf Tafelberg. Van links kan gesien word: Leeukop, Vlaeberg, Robbeneiland, die Kaapstadse middestad en Duiwelspiek, met Tafelbaai op die agtergrond.
Geskiedenis duimnael|Tafelberg uit kapt. Cook se skip, HMS Resolution, deur William Hodges (1772). duimnael|Die De Villiers-reservoir op Tafelberg.
Daar is baie bewyse dat mense in die voorgeskiedenis in die gebied gewoon het. Sowat 2 000 jaar gelede het die Khoi-sprekende volke uit die noorde na die Skiereiland migreer. Voorheen is die gebied deur nomadiese !Kwi-sprekers bewoon. Die koms van veeboere het gelei tot die instroming van troppe beeste en skape. Toe Europeërs die eerste keer op die Kaapse Skiereiland voet aan wal sit, was die !Uriǁʼaekua, of Goringhaiqua, die oorheersende plaaslike bevolking. Hulle is vermoedelik die voorouers van vandag se Korana-volk. Die Khoi-San het Tafelberg Hoerikwaggo ("Seeberg") genoem.
In 1796, tydens die Britse besetting van die Kaap, het generaal-majoor sir James Craig opdrag gegee dat drie blokhuise op Tafelberg gebou word: die Koning, Koningin en Prins se Blokhuis. Twee is vandag bouvallig, maar die Koning se Blokhuis is nog in ’n goeie toestand en maklik bereikbaar.
Tussen 1896 en 1907 is vyf damme, die Woodhead-, Hely-Hutchinson-, De Villiers-, Alexandria- en Victoria-reservoir, op Tafelberg geopen om water aan Kaapstad te verskaf. ’n Kabelspoor is na Kampsbaai gebou om materiaal en werkers te vervoer. Die kabelspoor is lank reeds verwyder, maar die ankerpunte van die ou boonste stasie kan steeds gesien word. Kaapstad se watervereistes het lankal die damme se kapasiteit oorskry. Hulle maak dus nie meer deel uit van die watervoorsiening nie.
Ernstige pleidooie vir ’n nasionale park op die Kaapse Skiereiland wat om Tafelberg gesentreer is, het in die middel 1930's begin. Ná ’n groot brand in 1986 het die koerant Cape Times ’n "red die berg"-veldtog begin en in 1989 is die Skiereilandse Beskermde Natuuromgewing (CPPNE)-gebied gestig. Omgewingsbestuur is egter steeds in die wiele gery deur die aard van grondeienaarskap op die Skiereiland. Ná nog ’n groot brand in 1991 is prokureur-generaal Frank Kahn aangestel om konsensus te bereik oor ’n plan om die bestuur van die CPPNE te laat realiseer. In 1995 het prof. Brian Huntley aanbeveel dat SANParke aangestel word om die CPPNE te bestuur, met ’n ooreenkoms wat in April 1998 onderteken is om sowat 16 000 ha aan SANParke oor te dra. Op 29 Mei 1998 het die destydse president, Nelson Mandela, die Skiereilandse Nasionale Park afgekondig. Dit is later hernoem tot die Tafelberg Nasionale Park.
Brande is algemeen op die berg. Die mees onlangse groot brande sluit in dié van Januarie 2006, wat groot hoeveelhede plante vernietig en tot die dood van ’n toeris gelei het (’n klag van brandstigting en strafbare manslag is later aanhangig gemaak teen ’n Britse man wat daarvan verdink is dat hy die brand gestig het), en van Maart 2015.
In November 2011 is Tafelberg in ’n openbare stemming aangewys as een van die wêreld se New7Wonders of Nature.
Geologie
duimnael|200px|Die geologie van Tafelberg in vergelyking met dié van die res van die Kaapse Skiereiland. Die boonste sowat 600 m van die 1 km hoë plat berg, of mesa, bestaan uit gesteentes uit die Ordovisium van sowat 450-510 miljoen jaar gelede. Dié gesteentes beslaan die boonste twee lae van die Kaapse Plooiberge, waarvan Tafelberg deel is. Die heel boonste, jongste laag bestaan uit uiters harde kwartssandsteen, wat die Skiereiland-formasie, of Tafelbergsandsteen-formasie, genoem word. Dit is uiters erosiebestand en vorm kenmerkende steil grys kranse. Die 70 m daaronder, bekend as die Graafwater-formasie, bestaan uit maroen moddersteen, wat in baie dunner strata afgeset is as die Skiereiland-formasie. Die Graafwater-gesteentes kan die beste gesien word net bo die kontoerpad aan die voorkant van die berg, asook om Duiwelspiek. Hulle kan ook aan die kante van Chapmanspiek-rylaan gesien word. Die gesteentes het vermoedelik ontstaan in vlak getyvlaktes waarin ’n paar fossiele uit die Ordovisium ontdek is, en fossielspore het behoue gebly. Die Graafwater-gesteentes lê op ’n basis van Kaapse Graniet. Duiwelspiek, Vlaeberg, die stadskom en ’n groot deel van die Kaapse Vlakte lê egter op geplooide en veranderde filliete en horingsteen, informeel bekend as Malmesbury-skalie. Die Kaapse Graniet en Malmesbury-skalie vorm die laer, sagter hange van die Tafelbergreeks op die Kaapse Skiereiland. Hulle kom uit die laat Prekambrium, wat minstens 40 miljoen jaar ouer as die Graafwater-gesteentes is.
duimnael|200px|links|Van die oostelike kranse van Tafelberg, bo die Universiteit van Kaapstad. Die Graafwater- en die Skiereiland-formasie kan duidelik onderskei word. duimnael|’n Geologiese deursnee van wes tot oos deur tafelberg, die Kaapse Vlakte (die landengte wat die Skiereiland met die vasteland verbind) en die Hottentots-Hollandberge op die vasteland. Dit wys hoe die Kaapse Plooiberge in hierdie streek deur erosie weggevreet is en net Tafelberg met sy plat bokant, wat eens die bodem van ’n vallei was, agtergelaat het.Compton, John S. (2004) The Rocks & Mountains of Cape Town. Cape Town: Double Story. duimnael|’n Satellietfoto van Tafelberg en Kaapstad.