Hierdie artikel handel oor die Britse kolonie. Vir die Nederlandse kolonie, sien Nederlandse Kaapkolonie.
Die Kaapkolonie (Engels: Cape Colony) was 'n deel van Suid-Afrika onder Britse beset gedurende die 19de eeu. Dit het ooswaarts vanaf die Atlantiese Oseaan gestrek. Die finale oostelike grens, na vele oorloë teen die Xhosas, is by die Groot-Visrivier getrek. In die noorde het die Oranjerivier, ook bekend as die Garieprivier, vir lank as die grens gedien, hoewel grondgebied tussen dié rivier en die suidelike grens van Botswana later bygevoeg is.
Die geskiedenis van die Kaapkolonie begin in 1652 met die stigting van Kaapstad deur die Nederlandse kommandeur Jan van Riebeeck wat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) was.
Napoleon het die Sewe Provinsies van Nederland in 1795 beset wat die moederland van die VOC was. Dit het Groot-Brittanje aangespoor om die Kaap in 1795 om taktiese redes gedurende die Napoleontiese Oorloë te beset. Die VOC dra sy landgebiede oor na die Bataafse Republiek in 1798 en hou op om te bestaan in 1799. Die Britse mag gee die Kaapkolonie weer terug aan die Bataafse Republiek in 1803.
In 1806 word die Kaap weer deur die Britse mag beset gedurende die Slag van Blaauwberg in 'n poging om Napoleon uit die Kaap te hou, asook om handelsroetes na die Verre Ooste te beheer.
'n Britse kolonie word op 8 Januarie 1806 daargestel en die Kaapkolonie bly onder Britse beheer tot die vorming van die Unie van Suid-Afrika in 1910, waarna dit die Provinsie van Kaap die Goeie Hoop word, of beter bekend as die Kaapprovinsie.
In die loop van die 19e eeu het die Kaap 'n grondwetlike ontwikkeling soortgelyk aan dié van Brittanje se ander kolonies ondergaan. Die kroonkoloniebestuur wat aanvanklik toegepas is het al die mag in die hande van die goewerneur geplaas. Hy moes dikwels in regstreekse opdrag van die Britse regering optree sonder dat hy die geleentheid gegun is om sy eie diskresie te gebruik. Die verontagsaming van die plaaslike bevolking se wense het daartoe gelei dat baie griewe teen die Britse owerheid ontstaan het wat die grondliggende oorsaak van die Groot Trek geword het. Sedert 1834 het die koloniste geleidelik meer seggenskap in hul eie bestuursake verkry, maar die Imperiale regering se vetoreg op plaaslike wetgewing het eers in 1872 verdwyn.
Kroonkolonie (1806-1853)
Bestuur Met die Britse oorname in 1806, was die Kaap ekonomies en staatkundig sleg daaraan toe. Anders as die meeste Europese kolonies wat in die loop van die 17e en 18e eeu gestig is, het dit oor geen stapelproduk, soos byvoorbeeld suiker in Wes-Indië, beskik nie. Daar was inderdaad geen uitvoerprodukte van enige aard nie.
In terme van Brittanje se merkantiele beleid, waarvolgens kolonies uitsluitlik gestig is om as melkkoeie vir die moederland te dien, was die Kaap dus waardeloos. Die strategiese ligging van die Kaap was die enigste rede vir die anneksasie, en Brittanje het slegs in die hawens belang gestel. Selfs nadat die anneksasie in 1814 permanent geword het, het Brittanje die Kaap bloot as die poort tot Indië beskou en onwillig gebly om groot onkostes in die binneland aan te gaan. Die Kaap se Blanke bevolking het 'n ongunstige reputasie in die buiteland verwerf, hoofsaaklik as gevolg van onjuiste geskrifte soos John Barrow se Travels into the interior of Southern Africa (1797/98), waarin hulle van onmenslike wreedheid teenoor die inboorlingbevolking beskuldig is.
Die Britse houding teenoor veral die Blanke boere was dus uit die staanspoor bevooroordeeld. Die beleidvormers is verder beïnvloed deur filantropiese drukgroepe wat voortdurend die soeklig op die Kaap gewerp het. Brittanje het gevolglik minder toegeeflik teenoor die Kaap opgetree as teenoor sy ander kolonies. Sy enigste begeerte was die daarstelling van 'n sterk gesentraliseerde bestuur wat die "buitepos na Indië" in stand sou hou, en die moontlik opstandige Blanke bevolking in toom sou hou. Die bestuur wat in 1806 ingestel is, was saam met die van die bandiete-kolonie Nieu-Suid-Wallis die mees outokratiese in die Ryk.
Alle wetgewende en uitvoerende gesag het by die goewerneur berus. Hy was ook die militêre gesagvoerder. Daar was wel 'n afsonderlike regspleging in die vorm van 'n Raad van Justisie, maar die lede van die raad, met uitsondering van die voorsitter, is deur die goewerneur benoem en aangestel. Daar kon ook net na die goewerneur geappelleer word. Die goewerneur was slegs aan die Minister van Kolonies verantwoordelik. Op die platteland het die stelsel van landdroste en heemrade behoue gebly. In 1807 is generaal sir David Baird, wat as goewerneur waargeneem het, deur graaf James Caledon opgevolg. Hy het die administrasie en openbare diensverlening opgeknap en die plaaslike bestuur bevorder deur die ses distrikte na nege te vermeerder. Die nuwe distrikte wat hy gestig het, was Caledon, George en Clanwilliam.
In 1811 het hy 'n groot verbetering in die regspleging teweeggebring deur die instelling van ʼn rondgaande hof. Dit het uit twee of meer lede van die Raad van Justisie bestaan en het deur die platteland gereis om sake wat buite die bevoegdheid van die landdroste geval het, te verhoor. Caledon is in 1811 deur die militaris sir John Cradock opgevolg, wat in teenstelling met sy voorganger 'n kragtige Oosgrensbeleid gehandhaaf het en onder andere by 'n grensoorlog betrokke geraak het. In 'n poging om die rondtrekkery van die veeboere te bekamp, het Cradock in 1813 die leenpagstelsel deur die erfpagstelsel vervang, wat beteken het dat boere eiendomsreg op hul plase kon bekom. Sy streng maatreëls aan die Oosgrens, waardeur hy gepoog het om die absolute gebiedskeiding tussen Blankes en Xhosas te bewaar en veediefstalle aan bande te lê, is deur die filantrope as onmenslikheid teenoor die Xhosas bestempel. Hulle het petisies gerig aan die Britse Ministerie van Kolonies, wat gunstig daarop gereageer het. Cradock het sy ontslag aangevra en is in 1814 deur lord Charles Somerset opgevolg. In dieselfde jaar het Nederland die Kaap by die Kongres van Wenen permanent aan Brittanje afgestaan.
Die outokratiese optrede van die ultra-konserwatiewe Somerset (aan die bewind 1814- 1826) het hom in botsing gebring met die Britse immigrante wat volgens sy eie skema in 1820 in die Oosgrensdistrikte gevestig is. Die meeste setlaars het wel nie stemreg in Brittanje geniet nie, maar was gewoond aan parlementere instellings. Hulle het klagskrifte na Londen gestuur en danksy die ondersteuning wat hulle van invloedryke filantrope soos dr. John Philip en William Wilberforce ontvang het, is 'n kommissie bestaande uit Colebrooke en Bigge reeds in 1823 na die Kaap gestuur om ondersoek in te stel.
Hulle het aanbeveel dat die mag van die goewerneur ingekort word. Die Adviesraad, wat in 1825 ingestel is, het uit amptenare bestaan wat net oor raadgewende magte beskik het. Die Raad ken net sake bespreek wat deur die goewerneur aanhangig gemaak is, en van 'n beperking van die goewerneur se mag was daar nie veel sprake nie. Colebrooke en Bigge se verslag het in 1826 verskyn en in dieselfde jaar is Somerset na Brittanje ontbied. Hoewel hy amptelik tot in 1828 die goewerneur was, het Somerset nie weer na die Kaap teruggekeer nie, en is sy amp deur Richard Bourke waargeneem. Die eerste regsoktrooi wat as gevolg van die kommissarisse se verslag aan die Kaap toegestaan is, is in 1827 deur Bourke in werking gestel. Die goewerneur is sy regsplegende gesag ontneem.
Die Raad van Justisie is afgeskaf en het plek gemaak vir 'n onafhanklike Hooggeregshof bestaande uit ʼn hoofregter en drie regters. Strafregtelike sake is deur 'n regter en ʼn jurie verhoor, en daar kon na die Geheime Raad in Londen geappelleer word. Op die platteland het die stelsel van Landdros en Heemrade verdwyn en is residentmagistrate aangestel. Die rondgaande howe is ook verbeter. Hoewel van die beginsels van Britse regspleging ingevoer is, het die Kaapse regstelsel Romeins-Hollands gebly. Die Liberale Party, wat in 1830 in Brittanje aan die bewind gekom het en in 1832 die bekende Reform Act deurgevoer het, het ook 'n simpatieke oor aan die Kaapse pleidooie vir 'n groter mate van verteenwoordigende bestuur verleen.
In 1834 is 'n nuwe bedeling deur die goewerneur, sir Benjamin D'urban, in werking gestel. Dit het voorsiening gemaak vir 'n Uitvoerende Raad bestaande uit 4 amptenare en 'n Wetgewende Raad bestaande uit dieselfde amptenare plus 5 tot 7 koloniste wat deur die goewerneur benoem is. Hoewel die uitvoerende en wetgewende gesag steeds nie geskei was nie, was die Wetgewende Vergadering 'n groot verbetering op die ou Adviesraad. Geen ordonnansie was sonder die goedkeuring van die Wetgewende Raad geldig nie. Wetgewing kon egter steeds deur die goewerneur as verteenwoordiger van die kroon geveto word. In 1836 is munisipale rade ingestel, waarvan die van Beaufort-Wes (1837) die eerste was. Die mate van seggenskap wat die koloniste in hul eie landsake verkry het, het duidelik geblyk toe Brittanje die Kaap as 'n strafkolonie soortgelyk aan Nieu-Suid-Wallis wou gebruik.
In November 1849 het die Neptune, 'n skip met 282 bandiete aan boord, in Valsbaai aangekom. Lede van die Wetgewende Raad het uit protes bedank en vir 'n wyle het dit gelyk asof die koloniste die wapen sou opneem. Uiteindelik het die Neptune na 'n vertraging van 5 maande opdrag ontvang om na Australië te vertrek. Agitasie om 'n groter mate van verteenwoordiging in die landsbestuur het reeds in 1847 begin vrugte afwerp, toe goewerneur sir Harry Smith (aan die bewind 1847- 1852) opdrag ontvang het om voorstelle in die verband in te dien. Die daaropvolgende Cape of Good Hope Constitution Ordinance is as gevolg van die uitgerekte Agtste Grensoorlog (1850-1853) en gedurige regeringswisselings in Londen eers in Maart 1853 bekragtig, en op 1 Julie 1853 het dit in die Kaap in werking getree.
Op 30 Junie 1854 het waarnemende goewerneur Henry Darling die eerste Kaapse parlement geopen. Die grondwet van die Kaapkolonie het vir 'n Wetgewende Raad en 'n Wetgewende Vergadering voorsiening gemaak. Die Raad het uit die hoofregter en 15 lede (8 vir die Westelike Provinsie en 7 vir die Oostelike Provinsie) wat vir 10 jaar verkies is, bestaan. Die Vergadering, wat jaarliks moes byeenkom, het uit 46 lede bestaan wat vir 5 jaar verkies is. Stemreg is toegestaan aan alle manlike Britse onderdane b6 21 wat aan sekere eiendoms- of inkomstevereistes voldoen het. Engels sou die enigste voertaal in die parlement wees. Die goewerneur het nog oor uitgebreide magte beskik en wetgewing kon deur die kroon geveto word. Die uitvoerende gesag het berus by Brits aangestelde hoofamptenare; wat die sittings as hoofde van die "departement" bygewoon het maar geen stemreg gehad het nie.
Beleid van verengelsing Die beleid van verengelsing waarvan Caledon sowel as Cradock groot voorstanders was, kon eers na 1820 uitgevoer word. Vroeër was daar nie ʼn noemenswaardige Engelssprekende bevolking nie, en tot in 1814 was daar nie sekerheid of die Britse bewind blywend sou wees nie. Daar is wei 'n begin gemaak met die geleidelike verengelsing van die administrasie deur die aanstelling van Engelse amptenare. Na die koms van die Britse setlaars in 1820 het die proses van verengelsing met rasse skrede vooruitgegaan.
Skotse Presbiteriaanse predikante is ingevoer om die chroniese tekort aan predikante aan te vul. Engelse en Skotse leerkragte moes ook in die Afrikaners se stygende onderwysbehoeftes voorsien. In 1822 is gratis staatskole gestig, waar onderwys slegs in Engels sou geskied. In Julie 1822 het Somerset 'n taalproklamasie uitgevaardig wat voorsiening gemaak het vir verengelsing binne 'n periode van 5 jaar. Vanaf 1 Januarie 1823 kon korrespondensie met die koloniale sekretaris slegs in Engels gevoer word.