duimnael|250px|Die groot krater Daidalos, wat deur Apollo 11 se bemanning gefotografeer is terwyl hulle in 1969 om die Maan gewentel het.

Sterrekunde (ook astronomie genoem, wat "die wette van die sterre" beteken) is 'n wetenskap wat die waarneming en verduideliking van gebeurtenisse buite die Aarde se atmosfeer behels. Die oorsprong/kosmologie, fisiese en chemiese eienskappe van voorwerpe wat in die hemelruim waargeneem kan word, word bestudeer. Waarnemings sluit die volgende in: mane, planete en eksoplanete, sterre, newels en sterrestelsels. Gebeurtenisse sluit in supernovas, gammastraaluitbarstings, die Oerknal en kosmiese agtergrondstraling.

Kosmologie is 'n onderafdeling van sterrekunde wat fokus op die studie van die oorsprong en evolusie van die heelal (dus, hoe alles begin en ontwikkel het) en behandel verskynsels wat buite die atmosfeer van die aarde voorkom, insluitend supernova-ontploffings, gammastraaluitbarstings, en kosmiese agtergrondstraling. Sterrekunde is een van die min wetenskappe waar amateurs steeds 'n rol speel, veral met die ontdekking en monitering van verskynsels van 'n verbygaande aard, soos komete en meteore.

Sterrekunde moet nie met astrologie verwar word nie. Laasgenoemde is 'n versamelnaam vir idees oor die verband tussen die lot van mense en gebeurtenisse op aarde en die stand van die hemelliggame. Al het die twee velde 'n gemeenskaplike oorsprong, verskil hulle baie: Sterrekunde is 'n wetenskap, terwyl astrologie meer as bygeloof met skynwetenskaplike fundering aangehang word.

Sterrekunde as wetenskap Sterrekunde behels die studie van materie in die talle vorme en bewegingspatrone waarin dit in die heelal voorkom. Die meeste inligting word verkry deur elektromagnetiese straling, waarvan sigbare lig net ʼn onderafdeling is. Hierdie straling word opgevang en verwerk met behulp van teleskope, radioteleskope, spektrograwe en ander sterrekundige instrumente.

Die ondersoek van die ruimte met behulp van ruimtesondes is net moontlik vir nabygeleë hemelliggame soos die maan en die planete. Die moderne sterrekunde is hoofsaaklik gerig op navorsing van die fisiese eienskappe van hemelliggame en van die ruimte (astrofisika). Dit lewer terselfdertyd ʼn belangrike bydrae tot die fisika omdat die uiterste toestande van die ruimte (baie hoe temperature, geweldige digthede, bykans algehele lugleegtes, ontsaglike magnetiese velde) nooit op aarde voorkom nie.

Die sterrekunde het ook te doen met die ontstaan en ontwikkelingsprosesse van alle soorte voorwerpe in die heelal, asook met die ontstaan van die heelal self. Die astrofisika het eers in die 20e eeu sedert die ontwikkeling van die tegnieke en beginsels van spektroskopie, atoomfisika, kernfisika en die relatiwiteitsteorie tot sy reg gekom. Sterrekundige navorsing en verwante sake word deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) gekoördineer.

Kort geskiedenis Sterrekundige studie was oorspronklik om politieke en godsdienstige redes van belang. Die praktiese aspekte het tydsbepaling en navigasie behels. Hiervoor was noukeurige waarnemings van die son, maan en sterre nodig. Op godsdienstige gebied was sterrekunde van belang omdat mense geglo het dat die bewegings en posisies van hemelliggame die gang van sake op aarde beïnvloed het. Die astrologie het hieruit ontwikkel.

In die vroeë geskiedenis het sterrekunde slegs waarnemings en voorspellings behels van hemelligame wat met die blote oog waargeneem kon word. Die Rigveda verwys na die 27 sterrebeelde wat met die beweging van die Son verbind word en die 12 sterrebeelde van die diereriem.

Die antieke Grieke het belangrike bydraes gemaak tot sterrekunde, onder meer die definisie van die helderheidstelsel. Die Bybel bevat 'n aantal stellings oor die posisie van die Aarde in die heelal en die aard van die sterre en planete, waarvan die meeste eerder digterlik as letterlik is. In 500 n.C. het Aryabhata 'n wiskundige stelsel voorgestel waarvolgens die Aarde om sy eie as draai en die beweging van die planete relatief tot die son oorweeg is.

Sterrekunde het gestagneer in die Middeleeuse Europa, maar het in die Arabiese wêreld gefloreer waar die belangrike werke van Brahmagupta in Arabies vertaal is. Laat in die 9de eeu het die Islamitiese sterrekundige Al-Farghani (Abu'l-Abbas Ahmad ibn Muhammad ibn Kathir al-Farghani) uitvoerig geskryf oor die beweging van hemelliggame. Sy werk is in die 12de eeu na Latyn vertaal. Laat in die 10de eeu is 'n baie groot sterrewag naby Teheran in Iran deur die sterrekundige Al-Khujandi gebou wat onder meer die skuinste van die aarde se wentelvlak (ekliptika) ten opsigte van die hemelewenaar bereken het.

In Persië het Omar Khayyam (Ghiyath al-Din Abu'l-Fath Umar ibn Ibrahim al-Nisaburi al-Khayyami) talle tabelle opgestel en 'n verandering van die kalender voorgestel wat akkurater was as die Juliaanse kalender en byna so akkuraat soos die Gregoriaanse kalender.

Tydens die Renaissance het Copernicus 'n heliosentriese model van die Sonnestelsel voorgestel. Sy werk is deur Galileo Galilei en Johannes Kepler uitgebrei, reggestel en verdedig. Galileo het teleskope begin gebruik om sy waarnemings te verbeter. Kepler het die eerste stelsel ontwikkel wat die bewegings van die planete om die Son as middelpunt in korrekte besonderhede beskryf het.

Kepler was egter nie suksesvol met die ontwikkeling van die toerieë vir sy wette nie. Newton se uitvinding van hemelligaamdinamika en sy swaartekragwet het eindelik die bewegings van die planete verduidelik. Die refleksieteleskoop is toe ook ontdek, wat waarnemings nog verder verbeter het.

Daar is bevind dat sterre verafgeleë voorwerpe was. Met die ontdekking van spektroskopie is bewys dat sterre soortgelyk aan ons eie Son is, maar met 'n groot verskeidenheid temperature, massas en groottes. Die bestaan van ons sterrestelsel, die Melkweg, as 'n aparte groep sterre is eers in die 20ste eeu bewys, saam met die bestaan van ander sterrestelsels. Die uitdying van die heelal soos waargeneem deur die oënskynlike uitwaartse beweging van die meeste sterrestelsels is ook ontdek. Kosmologie het in die 20ste eeu ’n reusevooruitgang beleef met die Oerknal-teorie wat sterk ondersteun word deur bewyse in sterrekunde en fisika, soos die kosmiese mikrogolfagtergrond en Hubble se wet.

Sterrebeelde Sterrebeelde, of konstellasies, was aanvanklik net groeperings van helder sterre in die hemelruim. Hoewel die sterre in ʼn groep niks met mekaar te make het nie, is dit 'n gerieflike manier om sterre te identifiseer. Die sterrekundiges van ouds (blykbaar met heelwat verbeelding) het allerhande figure in die stergroeperings gesien en op die manier het die sterrebeelde hul name gekry, Baie daarvan was mitiese figure, soos Orion die Jagter en Aquarius die Waterdraer.

Die benamings van die sterrebeelde het moontlik nou saamgehang met die astrologie. Sommige sterrebeelde het reeds 4 700 jaar gelede hul name gekry, waarskynlik in Mesopotamië of Egipte. Die Babiloniërs het oorspronklik die hemelbol in 12 dele verdeel - die sogenaamde diereriem of Sodiak- en dit na nabygeleë sterrebeelde vernoem. In 270 v.C. het die skrywer Aratos 'n lang gedig geskryf waarin 48 sterrebeelde volledig beskryf is.

Tot die 17e eeu is min sterrebeelde tot die oorspronklike 48, wat feitlik almal in die Noordelike Halfrond was, bygevoeg. Die Fransman Lacaille het van 1751 af sterrekundige waarnemings aan die Kaap gedoen en 13 nuwe beelde in die suidelike sterrehemel benoem. Hy het ook die enorme beeld Argo (Skip) onderverdeel in Carina (Kiel), Pyxis (Kompas), Puppis (Agterstewe) en Vela (Seil). Hy het ʼn klein sterrebeeldjie Mons Mensae (Tafelberg) genoem, maar deesdae staan dit net as Mensa (Tafel) bekend. In 1928 is die hemelbol, in opdrag van die Internasionale Astronomiese Unie, in 88 sterrebeelde ingedeel. Die ou indelings is sover moontlik behou, maar die grense loop loodreg of ewewydig met die deklinasiesirkels.

Sterrekunde in die Oudheid Die Chinese was 8 eeue v.C. reeds met waarnemings van verduisterings besig. Sedert die 2e eeu v.C. word daar in hul geskrifte melding gemaak van komete, planete, novas, sonvlekke, ensovoorts. Die supernova van 1054 n.C. is deur die Chinese waargeneem, maar daar is geen verwysing daarna in enige Westerse geskrifte gevind nie. In sommige lande is spesiale tempels en bouwerke opgerig om die sterre te bestudeer. Die konstruksie van Stonehenge, in Brittanje, het 24 eeue v.C. begin.

Stonehenge bestaan uit konsentriese rye van enorme klippilare en dit is blykbaar as 'n "kalender" gebruik, asook om verduisterings te voorspel. Soortgelyke kleiner konstruksies is ook in ander lande gebou: Woodhenge in die VSA en die druïdiese suile (menhirs) in Frankryk. Die oorsprong van die Westerse sterrekunde lê vermoedelik in die gebied tussen die Eufraat en die Tigris (Mesopotamië), waar koning Hammoerabi in die 18e eeu v.C. ʼn uitgestrekte ryk met Babilon as hoofstad tot stand gebring het.

Die beweging van hemelliggame het ʼn belangrike rol in die Babiloniërs se godsdiens gespeel en sterrekundige waarnemings is op kleitablette, waarvan talle bewaar gebly het, aangeteken. Die bewegings van die son en maan was so noukeurig bereken dat akkurate voorspellings van verduisterings gemaak kon word. In Egipte is studies van die son en maan se bewegings waarskynlik al in 3000 v.C. gedoen, hoofsaaklik om 'n kalender op te stel. Dit was belangrik omdat die jaarlikse oorstroming van die Nyl, waarvan die landbou afhanklik was, bepaal moes word.

Die Grieke se sterrekundige benadering was hoofsaaklik teoreties. Bespiegelings oor die aard en wese van die kosmos was van groter belang as wetenskaplike waarnemings. Pythagoras (500 v.C.) was die eerste persoon wat met die konsep van 'n bolvormige aarde vorendag gekom het. Philolaus van Tarente, 'n leerling van Pythagoras, het voorgestel dat die aarde om ʼn sentrale son beweeg, maar in die 2e eeu v.C. het Ptolemaeus (skrywer van die beroemde Almagest) verklaar dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat alle hemelliggame daarom beweeg.

Hierdie siening is eeue lank aanvaar, tot Copernicus dit in die 16e eeu bevraagteken het. Ongeveer 2 eeue v.C. het Eratosthenes op 'n vernuftige manier die omtrek van die aarde baie akkuraat bepaal. Hipparchos het in dieselfde tyd die eerste sterkatalogus saamgestel.

Middeleeue en Renaissance Gedurende die Middeleeue was daar in Europa geen of min belangstelling in die sterrekunde. Die Mayas van Sentraal-Amerika het in die tyd merkwaardige vooruitgang gemaak op die gebied van kalenders en tydsberekening. Die Arabiere het ook in omstreeks die 8e eeu in die sterrekunde begin belang stel en talle ou Griekse en Persiese geskrifte vertaal. Hoewel hulle nie veel meer tot die sterrekunde bygedra het nie, was hulle 'n belangrike skakel tussen die sterrekundige kennis van die ou beskawings en die oplewing in Europa na die Middeleeue.

Die Renaissance is gekenmerk deur 'n nuwe benadering: eksperimentele werk en waarnemings het teoretiese bespiegelings vervang. Dit was nogtans moeilik om van eeue-oue konsepte ontslae te raak en Nicolaus Copernicus (1473-1543) se De Revolutionibus (1543), waarin hy verklaar het dat die aarde en planete om die son beweeg, is met minagting en vyandigheid begroet. Tycho Brahe (1546-1601), ʼn Deense sterrekundige, het Copernicus se stellings aanvaar.

Hy het sy eie sterrewag by Uranienborg gebou en met behulp van eenvoudige instrumente baie noukeurige waarnemings gedoen. In 1572 het hy die supernova -uitbarsting in die konstellasie van Cassiopeia waargeneem. Sy werk het 'n omvattende studie van die sonnestelsel en die akkurate posisiebepaling van 777 sterre behels. Johannes Kepler (1571-1630) het voortgebou op Brahe se werk en 3 wette oor die bewegings van planete om die son geformuleer.