Portugal (Portugees: [puɾtuˈɣal], ), amptelik die Portugese Republiek (República Portuguesa, [ʁɛˈpublikɐ puɾtuˈɣezɐ]), is 'n demokratiese republiek geleë in die suidwestelike hoek van Europa op die Iberiese Skiereiland waarvan dit sowat 'n sesde beslaan. Portugal word begrens deur Spanje in die noorde en ooste, met 'n gemeenskaplike grens wat oor 'n afstand van sowat 1 300 km loop, en deur die Atlantiese Oseaan in die weste en suide. Wes van die hoofstad Lissabon lê Kaap Roca, die westelikste punt op die Europese vasteland. Ook die Asore- en Madeira-eilandgroepe maak deel uit van Portugal. Dit beslaan 'n oppervlakte van 92 090 km² en het in 2024 'n bevolking van 10 343 066 gehad.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Portugal in Januarie 2004 Die in die 12de eeu gestigte Koninkryk Portugal het in die 15de eeu die tydperk van ontdekkings geïnisieer en in die eerste globale koloniale ryk ontwikkel. Die Koninkryk het die eerste en een van die grootste koloniale ryke met besittings in Afrika, Asië en Suid-Amerika geword, met sy agteruitgang wat in die 17de eeu begin het. In 1910 is die Portugese monargie in 'n militêre opstand verwyder en koning Emmanuel II is in ballingskap gedwing. Die Eerste Portugese Republiek is op 5 Oktober 1910 uitgeroep en het tot en met generaal Gomes da Costa se staatsgreep in 1926 bestaan. Daarna was die land vir meer as 40 jaar onder die outoritêre diktatorskap van António de Oliveira Salazar. Die Angelierrewolusie op 25 April 1974 het dié regime omvergewerp en die pad gebaan vir die demokratiese Derde Portugese Republiek. Gelyktydig is die oudste koloniale ryk beëindig en in 1975 ontbind. Portugal is 'n lidstaat van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 4 April 1949), die Verenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961) en die Europese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986). In 1999 het die land by die eurosone aangesluit; sedert 2002 is Eurobanknote en -muntstukke in omloop.

Portugal was oor 'n lang tydperk 'n emigrasieland; belangrike sentrums van die Portugese kultuur in die diaspora bestaan in Frankryk en in die Verenigde State (met sowat een tot twee miljoen Portugese elk) asook in Brasilië, Angola, Mosambiek, Switserland en Luxemburg. Brasilië en Spanje is belangrike bilaterale vennote. Toerisme is 'n belangrike ekonomiese sektor. Met sowat 17 miljoen toeriste elke jaar (in 2015) is Portugal een van die mees besoekte lande wêreldwyd, gewilde bestemmings sluit in Algarve en die streek rondom die hoofstad Lissabon, maar ook die twee eilandgroepe Asore en Madeira. Die land is vir sy wynbou bekend, veral Portwyn, en 'n belangrike verskaffer van kurk.

Etimologie duimnael|links|Die Dom Luis I-brug oor die Dourorivier verbind Vila Nova de Gaia met Porto Die woord "Portugal" is afgelei van die saamgestelde Romeins-Keltiese pleknaam Portus Cale (op die plek van die huidige nedersettings Porto en Vila Nova de Gaia). Porto kom van Latyn vir hawe, portus; Cale se betekenis en oorsprong is onbekend. Die algemeenste verklaring is 'n etnoniem ontleen aan die Callaeci, ook bekend as die Gallaeci wat die noordweste van die Iberiese Skiereiland bewoon het. Volgens 'n ander teorie is Cale afgelei van die Keltiese woord vir "hawe". Volgens 'n ander teorie was Cala 'n Keltiese godin. Sommige Franse geleerdes meen dat dit dalk afgelei is van Portus Gallus, die "hawe van die Galliërs".

Teen 200 v.C. het die Romeine tydens die Tweede Puniese Oorlog Iberië van die Kartage verower. In dié proses het hulle Cale verower, dit in Portus Cale ("Hawe van Cale") hernoem en by die provinsie Gallaecia ingelyf. Tydens die Middeleeue het die Suebe en Wes-Gote na die gebied rondom Portus Cale verwys as Portucale. In die 7de en 8ste eeue is die naam Portucale verander in Portugale en teen die 9de eeu is dié term gebruik om na die gebied tussen die riviere Douro en Minho te verwys. Gedurende die 11de en 12de eeue is na Portugale, Portugallia, Portvgallo of Portvgalliae reeds verwys as Portugal.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis en oudheid duimnael|links|Die Romeinse Diana-tempel in Évora is een van die bes bewaarde in die land duimnael|Die Romeinse provinsie Lusitania in die suidweste van die Iberiese Skiereiland Volgens skattings is die gebied van die huidige Portugal reeds sowat 500 000 jaar gelede deur Homo heidelbergensis en later deur Homo heidelbergensis se nasaat Neanderdaller bewoon. Uit 'n grot (Lapa do Picareiro) naby die Atlantiese kus in Sentraal-Portugal kom die vroegste vonds in Wes-Europa van die anatomies moderne mens (Homo sapiens). Die ontdekte steengereedskap is op 'n ouderdom van 41 100 tot 38 100 jaar gedateer. Rotstekeninge uit die Paleolitikum, wat die belangrikste van hulle soort wêreldwyd is, is op 'n ouderdom van tussen 22 000 tot 8 000 jaar gedateer. Hoewel die oorgang na die Neolitikum laat gebeur het, het veral in Suid-Portugal die koperverwerking baie spoedig gevestig. Die eerste handelsbetrekkinge met ander Europese streke van Europa is uit hierdie tydperk gedokumenteer. Van 800 v.C. af het Fenisiërs handelsplekke langs die Algarve gestig. Van omtrent 600 v.C. het Grieke in die oostelike en noordoostelike gebiede talle klein nedersettings gestig. Teen die 6de tot die 3de eeu v.C. het in verskeie golwe Kelte geïmmigreer en met die Iberiërs gemeng. Naas die Kelte word ook die Lusitaniërs genoem, wat 'n besondere weerstand ontbied het teen die Romeine en waarvan die Latynse landsnaam afgelei is. Uit die vermenging van die Kelte met die inheemse kultuur het die Keltiberiërs ontstaan.

Van 450 v.C. af is die suidelike Iberiese Skiereiland deur Kartago gekoloniseer. Tot in 206 v.C. het die Romeine daarin geslaag om die Kartage te verdryf. Tydens die Tweede Puniese Oorlog, waarin talle Lusitaanse huursoldate vir Kartago geveg het, het Rome 'n teenaanval op die Iberiese Skiereiland geloods wat met 'n Romanisering gepaard gegaan het. Aanvanklik is die Portugese gebied deur die Romeine as deel van die provinsie Hispania ulterior bestuur en van Augustus se bewind af onder die naam Lusitania as 'n provinsie op sy eie wat naas 'n groot deel van die huidige Portugal ook gebiede in die weste van die huidige Spanje ingesluit het. In Noord- en Noordoos-Portugal het die Romeine hewige weerstand in die gesig gestaar; eers in 19 v.C. kon hulle die gebied onderwerp. Daarna is die gebied sterk geromaniseer, stede is volgens Romeinse voorbeeld aangelê, Romeinse strate, villae en myne het ontstaan, en saam met die setlaars is Vulgêrlatyn, waaruit later Portugees ontstaan het, en die Christendom saamgebring. Die Romeinse bewind het met die Volksverhuising geëindig; Suebe (van 409 af), Alane, Vandale en veral Wes-Gote (van 416 af) het binnegeval en op die gebied van die huidige Portugal kortstondige ryke gestig. Slegs die Suebe se ryk het ietwat langer bestaan, hul ryk rondom Braga is egter in 456 deur Teodorik II en in 585 vir 'n tweede keer deur Leovigild vernietig.

Van Moorse heerskappy tot Portugese Ryk

duimnael|Die Iberiese Skiereiland teen 1036; Portugal het nog nie bestaan nie In 711 het 'n Moorse leër onder Tariq ibn Zijad die Wes-Gotiese leër onder Roderik verslaan. Tot in 716 is die hele Wes-Gotiese Ryk deur die Omajjade verower, Lusitanië waarskynlik reeds in 713. Al-Andalus en veral die Emiraat, later Kalifaat Córdoba is deels deur uiters bekwame en suksesvolle heersers soos Abd al-Rahman I, Abd al-Rahman III en Al-Hakam II geregeer en was een van die mees vooruitstrewende ryke van sy tyd. Ná sy verbrokkeling in verskeie Taifas het die grootste deel van Lusitanië aan die Taifa Badajoz behoort, die suidelikste deel aan Sevilla en aan ander klein koninkryke. Berberse setlaars het hulle om klimaatsredes veral in die suide van die skiereiland gevestig. Die Moorse invloed op die Portugese kultuur en taal was sterk en blywend.

Die Koninkryk Asturië was vir die More van geen belang nie. Hiervandaan het in die 9de eeu die Christelike Reconquista van die latere Portugal se gebied begin. In 868, tydens 'n fase van swakheid van die Emiraat Córdoba, is Portucale verower (Presúria) en in 879 Coimbra. Met die Presúria van Portucale deur Vímara Peres het in die gebied rondom Porto as deel van die Koninkryk Asturië-León 'n eerste Graafskap Portucale (Condado Portucalense) ontstaan. Nasate uit Vímara Peres se gesin het tot in 1071 oor dié streek geheers; Braga is herbou en die kasteel Guimarães is opgerig. In 1071 is 'n rebellie deur die laaste graaf van Portucale, Nuno Mendes, teen die in 1065 tot koning van Galisië en Portugal gekroonde Garcia onderdruk. Die koning van León het teen 1095 Hendrik van Bourgondië met Portucale en Coimbra beleen. Die tweede Graafskap Portucale het ontstaan, wat ook Condado Portucalense genoem is, wat regstreeks gelei het tot die stigting van die onafhanklike Koninkryk Portugal.

duimnael|links|Die kasteel Guimarães, die bekendste simbool van Portugese onafhanklikheid Reeds Hendrik van Boergondië se seun, Alfons I, het in 1127 met ondersteuning van die plaaslike kleinadel (infanções) ná die dood van Hendrik in opstand gekom teen sy eie moeder, wie 'n in die huwelik met 'n Galisiese prins getree het. Nadat hy die Slag van Ourique kon wen, het hy baie aan aansien gewen, waarvolgens hy in 1143 met toestemming van Alfons VII van León en Kastilië die koninklike titel aangeneem het. In 1166 het León sy aanspraak op Portucale laat vaar, waarmee formele onafhanklikheid bereik is. Die heersers uit die Huis van Boergondië het daarna gestreef om hul gebied suidwaarts uit te brei en hulle het waarskynlik daarop gemik om hulle mag oor die hele Lusitanië uit te brei. Kastilië het dit egter verhinder. Tot in 1250 is die Reconquista met die verowering van die Algarve, onder sterk deelname van buitelandse ridders en ridderordes, afgesluit.

duimnael|Die Monument van die ontdekkings (Padrão dos Descobrimentos) in Lissabon In 1383 het die Portugese Huis van Boergondië uitgesterf. 'n Buite-egtelike seun, Johann van Aviz het homself tot koning uitgeroep, kon Kastiliaanse aansprake op die Portugese troon in die Slag van Aljubarrota (in 1385) afweer en het 'n tweede Portugese dinastie gestig, die Huis van Aviz. Onder die konings van Aviz (veral Emmanuel I – hy was aan bewind van 1495 tot 1521) het Portugal 'n leidende Europese handels- en seemag geword en 'n alliansie met Engeland gesluit (Verdrag van Windsor). Hendrik die Seevaarder (1394–1460) het ontdekkingsreise langs die Wes-Afrikakus geïnisieer, wat die grondslag gevorm het vir die Portugese Ryk, aanvanklik in Afrika, later in Suid-Amerika (Brasilië) asook Asië (Portugees-Indië, Ceylon, Malakka, Macau, Formosa, Oos-Timor e. a.) en die Europese uitbreiding. Die land het in 'n groot moondheid ontwikkel en veral danksy sy inkomste uit die Indiese handel een van die rykste Europese lande geword. Die land se kultuur het ook opgebloei (Luís de Camões).

duimnael|Die Iberiese Unie in 1640, Portugese gebiede in blou