regs|duimnael|200px|Ds. Michiel Smuts omstreeks 1917.
Ds. Michiel Smuts (Malmesbury, 25 November 1869 - Bellville, 27 Mei 1938) was 'n predikant in vier gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1903 tot sy aftrede in 1935.
Afkoms en onderwysloopbaan Michiel Smuts was 'n seun van die Swartland en het sy eerste onderwys geniet aan die skool van mnr. A.P.W. Immelman op sy geboortedorp. Ná voltooiing van sy opleiding aan die Normaal School, Kaapstad (die onderwyskollege deur die NG Kerk gestig) van 1888 tot 1890, het hy sy onderwysloopbaan begin met 'n aanstelling in die personeel van die Hoër Jongenskool op Wellington, as onderwyser in Hollands. Vir die onderwys, veral in Hollands, sy lieflingsvak, het hy hom sodanig beywer, dat hy lid was van 'n kommissie saam met ds. S.J. du Toit (Paarl) en mnr. M.J. Stucki (Blouvlei), wat in 1892 besluit het tot die afneem van eksamens in Hollands en Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit was die begin van die latere Taalbondeksamens.
Mnr. Smuts was vervolgens hoof van die openbare skool op Vanrhynsdorp, en later was hy weer skoolhoof op Prins Albert; maar algaande het die begeerte by hom ál sterker geword om vir predikant te gaan studeer. Hy is toe na Stellenbosch, en terwyl hy aan die hoof gestaan het van die "Industria", 'n landbouskool vir behoeftige seuns, het hy met privaat studie sy Admissie-eksamen tot die Kweekskool afgelê. Gedurende sy vierjarige studiekursus aan die Kweekskool het hy en sy vrou nog opgetree as huishouers van Industria en het hy selfs deeltyds onderwys aan hierdie inrigting gegee.
Eerste gemeente duimnael|links|200px|Ds. Smuts was twee maal leraar van die NG gemeente Lindley, van 1903 tot 1906 en weer van 1917 tot 1922. Dié kerkgebou na die ontwerp van Wynand Louw is eers in 1928 gebou. Op 12 Desember 1902 is prop. Smuts tot die evangeliebediening toegelaat en in Oktober van die volgende jaar is hy op Lindley georden en bevestig. In hierdie eerste gemeente van hom het hy met eienaardige moeilikhede te kampe gehad. Die pas afgelope Anglo-Boereoorlog het groot verdeeldheid in die gemeente gebring en feitlik al die kerklike geboue is deur die vyand verwoes of verbrand. Deur sy taktvolle optrede as vredemaker het hy die eenheid en die gemeente weer herstel.
Op Darling duimnael|regs|210px|Die ou NG kerk op Darling soos dit in ds. Smuts se tyd gelyk het. Dit moes later plek maak vir 'n moderne kerkgebou ontwerp deur Wynand Louw. Nadat die gemeente Darling agt maande herderloos was, het hulle die voorreg gehad om hul nuwe leraar met sy gesin op 19 September 1906 te verwelkom. 'n Groot aantal rytuie het die Smuts-gesin by die stasie ingewag en daarvandaan in 'n lang stoet na die pastorie gegaan waar die gebruiklike adresse aangebied en gepas beantwoord is. Die bevestiging het die volgende dag plaasgevind. Uit Malmesbury het nie minder nie as 70 belangstellendes met 'n spesiale trein na Darling gekom. Onder die besoekers was ds. C. Rabie en eerww. S.B. Weich, F.N. van Niekerk en J.N. Murray. Ds. Steytler van die buurgemeente Hopefield het reeds die vorige dag aangekom. Die bevestigingsrede is deur ds. C. Rabie, die waardige ou leraar van Swartland, oor 2 Korintiërs 6:1 ("En wij, als medearbeidende, bidden u ook, dat gij de genade Gods niet tevergeefs moogt ontvangen hebben.") gehou, terwyl die bevestigde se intreepreek oor Ps. 122: 8,9 ("Om mijner broederen en mijner vrienden wil, zal ik nu spreken, vrede zij in u! Om des huizes des HEEREN, onzes Gods wil, zal ik het goede voor u zoeken.") gehandel het.
Sy meer as vyfjarige arbeid op Darling was 'n geseënde tyd vir die gemeente en in meer as een opsig ook 'n vrugbare, skryf ds. H.C. Hopkins in die gemeente se eeufeesgedenkboek. In die werk is hy getrou bygestaan deur sy eggenote wat die tweede predikantsvrou sou wees om haar laaste rusplek hier op aarde in die Darlingse kerkhof te vind. Mev. Miemie Smuts was 'n dogter van eerw. J.H.L. Schumann wat as sendeling en apteker werksaam was totdat hy in 1889 as leraar van die Independente Gemeente op Cradock skielik heengegaan het. Ook sy dogter sou later aan haar hart beswyk. Hoewel sy reeds lank lydende was, het haar einde onverwags in die namiddag van 25 Julie 1910 in die pastorie gekom. "Deur haar heengaan het ds. Smuts 'n troue lewensgesellin, die kinders 'n tere moeder en die gemeente 'n ywerige werkster verloor," volgens ds. Hopkins.
In 'n berig wat waarskynlik in die Kerkbode verskyn het, is indertyd geskryf: "Blymoedigheid en opgeruimdheid waren zeker trekken in het karakter van mevr. Smuts, die elkeen troffen. Welgemoed onder alle beproevingen, kon zy ze te gemakkeliker dragen. Met een zwak en lydend lichaam was zy steeds gewillig om te helpen, waar zy kon. Zy scheen een hart te hebben, dat liefde had voor allen en voor alle goede zaken binnen en buiten de gemeente. Haar arbeid in de gemeente was zonder bazuin. Haar leven bevatte geen biezonder grote daad, maar is te meer overvloedig in kleine daden, die een waarde en kracht eraan geven, die luider spreken dan vele daden, die de wereld in beweging zetten."
Die begrafnis het Dinsdagnamiddag plaasgevind. By die pastorie het eerw. C.J. Grové (Malmesbury) 'n kort woord tot die kinders gerig, waarna die skoolkinders voor die lykswa uit na die kerk geloop het wat tot oorlopens toe gevul is. Hier het di. F.X. Roome (Kaapstad) en J.H. van Aarde (Kruisvallei, die tweede gemeente op Tulbagh) opgetree, terwyl ds. C. Rabie (Swartland) by die graf gepraat het. Kerkraadslede het as draers opgetree en die broeders het ook later besluit om uit eie sak alle koste i.v.m. die begrafnis te dek as blyk van hul agting vir haar en van waardering vir haar werk en die geseënde invloed wat sy in die gemeente uitgeoefen het. Uit die huwelik van ds. en mev. Smuts is vier kinders gebore van wie drie met Darling se eeufeesviering nog gelewe het. Marius, in lewe assistentklerk van die Senaat, was toe reeds oorlede. Tydens sy bediening op Piketberg het ds. Smuts met mej. A.C. Beyers in die huwelik getree en die vader van nog 'n dogter geword. In 1912 het ds. Smuts 'n beroep na die naby-gelee Piketberg aangeneem en op 20 Maart ontvang hy demissie van dieselfde konsulent, ds. J. D. Retief (Moorreesburg), wat die akte aan sy voorganger oorhandig het.
Sy afskeidspreek het hy op Sondag 7 April 1912 met Nagmaal gehou. By die bediening van die sakrament het hy oor Mat. 28:6 ("Hij is hier niet; want Hij is opgestaan, gelijk Hij gezegd heeft. Komt herwaarts, ziet de plaats, waar de Heere gelegen heeft.") gepraat en toe het die afskeidswoord oor Hand. 20:32 ("En nu, broeders, ik bevele u Gode, en den woorde Zijner genade, Die machtig is u op te bouwen, en u een erfdeel te geven onder al de geheiligden.") gevolg. In nog 'n berig sonder bron of datum, is berig: "Hy vergeleek zyn scheiding van ons als die van echtgenoot en echtgenote, die elkander diep beminden en waar de liefde uit biddende harten riep om vereniging. 'Ik was naar Darling gekomen met een gevoel dat al steenigen my de menschen ook, dan ga ik nog daarheen, want ik heb toen geen goed gerucht van u vernomen. Doch nu moet ik waarlik zeggen, dat u myn weg met rozen heeft bezaaid.'"
Hoogtepunte op Darling duimnael|regs|300px|'n Verjaardagviering in die pastorie op Darling in ds. Smuts se tyd. Op die eerste kerkraadsvergadering met ds. Smuts as voorsitter (in 1907) is besluit om vir die gemeentewerk 'n paar perde aan te koop, maar die leraar wou dit goed verstaan hê dat dit nie sy eiendom sou wees nie. Aanddienste het in hierdie tyd waarskynlik gebruiklik geword want daar word 10 sjielings per maand gestem vir "een lichtaansteker en klokkenluider".
In die jaar van die ontstaan van die Mannesendingbond, en wel op 17 November 1908, het die kerkraad eenparig besluit om 'n tak van die MBS te stig. Dit sou onder toesig van die kerkraad staan wat voorlopig ook as bestuur sou optree. Op gevoelvolle wyse het ds. Smuts sy blydskap en dankbaarheid oor hierdie besluit uitgespreek.
Ds. Smuts het hom sterk beywer om die kerkskuld uit te wis en die gemeentelike finansies op 'n gesonder voet te bring. 'n Aansienlike som was in kleiner bedrae deur verskillende persone aan die kerk verskuldig en op allerlei maniere is getrag om hierdie skulde in te vorder. In April 1909 is daar 'n kommissie vir finansies benoem wat die geldelike sake van die gemeente moes help behartig. Die eerste lede van hierdie kommissie was dr. Nieuwoudt en die broers W.J. Spiers en. J.G. Loubser. Met 'n "kollekte reisje" deur die gemeente het die leraar so goed gevaar dat £300 op 'n skuldbewys van mnr. Fred. Duckitt (Waylands) afbetaal kon word. Toe die diakens in Februarie 1911 hul boekies inhandig, het die voorsitter met 'n spesiale woord van dank melding gemaak van die feit dat die £233 14s. 6d. wat die kommissie ingesamel het. die grootste bedrag was wat tot daardie tyd op kollektelyste ingekom het. Nogtans moes daar weer 'n skuldbewys vir £700 teen 5% rente aan mnr. Fred. Duckitt gegee word. Aangesien die geldelike sake van die gemeente toe in orde was, sou die kerkraad nie meer maandeliks vergader nie.
In Desember 1909 word besluit om met Kers- en Nuwejaarsdagdienste in die kerk te hou en op Nuwejaarsdag sou ook voortaan die voorstelling van nuwe Kerkraadslede plaasvind. Verder is die onwenslikheid bespreek van "dat algemeen gebruik in onze Kerk" om by Nagmaal "geld op de tafels te werpen." Hierdie ekstra gawes moes voortaan saam met die gewone kollekte in die bordjies geplaas word. Om die inkomste op te stoot is in 1910 besluit om voortaan in die eerste kwartaal van die jaar nog 'n basaar te hou, of anders sou die lyste uitgaan om die tekort van die jaar aan te suiwer. Nadat die leraar dit reeds geruime tyd vantevore vir die Kerkraad in bedenking gegee het, is daar toe egter in 1911 besluit om Dankofferfeeste pleks van basaars te hou en hy sou die nodige doen om daarvan 'n sukses te probeer maak.
Die kombuis van die pastorie het in 1908 'n plankvloer gekry en dit het £6 3s. gekos. In dieselfde jaar is die kerkplein weer met bome beplant en gemeentelede het werkvolk gestuur om eers die kerkhof en toe ook die kerkplein in orde te bring. Aan die broer Spiers is opdrag gegee om 'n werker teen 6d. tot 1s. per Sondag in diens te neem om van die tweede gelui tot ná die oggenddiens 'n oog oor die rytuie by die kerk te hou. Twee jaar later is daar weer op die noodsaaklikheid van so iemand te hê gewys en toe kon br. Van Niekerk ls. tot ls. 6d. per Sondag aanbied. Daar was ook kettings waaraan die perde vasgemaak kon word.
Net voor ds. Smuts se vertrek het mnr. Fred. Duckitt (Waylands) £100 geskenk vir die verligting van die kerkgebou en hy is saam met mnr. H.K.J. van der Spuy en die heer J.G. Loubser as komitee benoem om die saak deur te voer. Gasligte is in die kerk gebruik tot dat die kerkraad in 1930 'n eie elektriese verligtingstoestel teen £197 10s. aangekoop het.
Op Piketberg links|duimnael|290px|Ds. Michiel en mev. Smuts. duimnael|regs|270px|Die NG kerk op Piketberg is ontwerp deur Carl Otto Hager en ingewy in 1882. duimnael|270px|regs|Die Kerklike Wiid-Saal, so genoem na mej. Maria Elizabeth Wiid, wat dit onder sekere bepalings aan die gemeente Piketberg bemaak het. Ds. Smuts se bevestiging op Piketberg het plaasgevind 20 April 1912 deur die konsulent, ds. M.C. Mostert, bygestaan deur di. J.H. van Aarde, C.R. Ferreira, P. Brink en eerww. C. Bastiaanse en G. Enslin. Ds. Smuts het sy dienswerk, soos op Darling, aangevang met 'n rede oor Ps. 122:8,9 ("Om mijner broederen en mijner vrienden wil, zal ik nu spreken, vrede zij in u! Om des huizes des HEEREN, onzes Gods wil, zal ik het goede voor u zoeken.") en dit meer as vyf jaar lank met getrouheid, toegewydheid en merkbare seën voortgesit, volgens eerw. Andries Dreyer, wat die geskiedenis van die gemeente met sy eeufeesviering in 1933 te boek gestel het.