Ds. Stefanus Jacobus Perold (10 Junie 1864 – Duplooysburg, 13 Maart 1940) was ’n predikant in agt verskillende gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in twee van die latere vier provinsies.

Ds. Perold in 1892 gelegitimeer. Eers is hy in 1893 as hulpprediker na die NG gemeente Oudtshoorn georden, waarna hy in 1893 in sy eerste vaste werkkring, die NG gemeente Dutoitspan (Kimberley), bevestig is. Ná Franschhoek, waarheen hy ná slegs 'n twee jaar lange dienstyd op Kimberley 'n beroep moes aanneem weens sy vrou se gesondheid, en Murraysburg, het hy ook nog die gemeentes Jacobsdal, Philippolis, Heilbron, Robertson en Duplooysburg bedien.

Ds. Perold is op 26 September 1892 in die huwelik bevestig met mej. Aletta Gertruida de Kock, wat hom getrou bygestaan het gedurende al die jare van sy bediening.

Dutoitspan duimnael|links|310px|Die NG gemeente Dutoitspan se sinkkerkie is op 1 Desember 1881 ingewy. Dit het 81 jaar diens in die gemeente gedoen: van 1 Desember 1881 tot Julie 1940 as kerk en van 1940 as kerksaal, waarna dit gesloop is.

Binne vier maande ná die vertrek van ds. Abraham Kriel, het die NG gemeente Dutoitspan verneem dat prop. Perold, tydelike hulpprediker op Oudtshoorn, die beroep na Dutoitspan aangeneem het. Op Vrydagoggend 30 Junie 1893 het ’n groot aantal gemeentelede op die Beaconsfield-stasie bymekaargekom om die jong leraar en sy eggenote te verwelkom. Alles in die natuur was nat en mooi, want dit het die vorige aand baie gereën. Ná die gebruiklike bekendstelling is almal na die Mission Hall. Ds. J.D. Kestell, die konsulent, het daar 'n gebed gedoen en daarna 'n kort welkomswoord tot hulle gerig. Namens die kerkraad het die skriba toe 'n adres aan hulle voorgelees. Die gemeentelike verwelkoming het die Vrydagaand in die Beaconsfield-stadsaal plaasgevind. Op die "tea meeting," te midde van die gemeente, vriende, ds. J.D. Kestell en ander besoekende predikante, het die burgemeester, namens die plaaslike stadsraad, ds. en mev. Perold baie hartlik verwelkom. 'n Aantal dames het gesorg vir 'n paar lieflike musieknommers.

Met die bevestiging, op Saterdagaand 2 Julie, het ds. P.J. Perold, die nuwe predikant se broer, van Warrenton die bevestigingsrede gelewer. Die volgende dag, Sondag, het die jong leraar 'n treffende intreerede na aanleiding van Heb. 10:7 gehou: "Kyk, ek kom om U wil, 0 God, te doen." Hy het dit baie duidelik gestel dat hy gekom het om te dien, solank die diens na die Wil van God is. In geen ander sin kon hy die dienaar van die gemeente wees nie. Almal teenwoordig was dankbaar dat die vakature so gou weer gevul is. Op sy eerste kerkraadsvervadering het hy in sy toespraak voor die kerkraadslede dit beklemtoon: "Dat wy ons van den Heere geroepen gevoelen moeten om Gods werk te doen." Daarna is al die belangrike boeke van die gemeente, soos die "wette en bepalinge", notules, registers en dokumente deur die kerkraad vir veilige bewaring aan ds. Perold toevertrou.

Behalwe sy gewone gemeentelike werk wat hy met toewyding verrig het, is die volgende belangrike besluite deur die kerkraad geneem is: In die toekoms sou daar twee tafels met die Nagmaalsviering wees, een vir dames. Verder sou daar in die vervolg twee maal per jaar katkisasie en aanneming gehou word; eenmaal elke ses weke sou hy 'n diens op Duplooysburg gaan hou; en een diens per maand, op 'n Sondagaand, sou in Engels gehou word. Verder is daar herstelwerk aan die pastorie goedgekeur; drinkwatertenks is voorsien; die preekstoel sou verander word en 'n nuwe musiekinstrument is uit Europa bestel. Die publieke skool, onder die bekwame leiding van die skoolhoof, mnr. R. Keating en sy vier assistente, is nog in die skoolgebou van die kerkraad gehuisves. Die leraar en sy kerkraad het opregte belangstelling in die vordering van die leerlinge getoon en jaarliks die is deur 15 onderwysers onderrig. Ook die twee jongeliede-verenigings in Dutoitspan en Duplooysburg het nog die belangstelling van die jong mense geprikkel.

Vroeg in 1895 het ds. Perold beroepe na Sutherland en Franschhoek ontvang. Tot groot teleurstelling van die gemeente besluit hy om na Franschhoek te gaan. Op 14 April, tydens 'n groot Nagmaal, word van Duplooysburg afskeid geneem. Die opkoms was buitengewoon groot omdat die band tussen Duplooysburg en die leraar "innig en nou was". Ná afloop van die diens is 'n adres en 'n beurs aan hom alleen aangebied, want weens siekte kon mev. Perold nie teenwoordig wees nie. In sy antwoord wat baie gevoelvol was, het hy almal baie hartlik bedank. Sy afskeidspreek in Dutoitspan is op Sondag 21 April gehou oor Fil. 4:9: "Hetgeen gy ook geleerd en ontvangen en gehoord hebt, doet dat, en de God des Vredes zal met uw zyn." Op daardie en die daarop volgende dae het hulle ook van die Sondagskole, die sendinggemeentes en die konsulentgemeente, Kimberley, afskeid geneem.

Die gemeentelike afskeid het in die stadsaal van Kimberley in die vorm van 'n "tea meeting" plaasgevind. In die teenwoordigheid van die burgemeester, vriende en leraars van naburige gemeentes is adresse en beurse deur die kerkraad en C.J.V. aan beide ds. en mev. Perold aangebied. In sy bedanking het hy verklaar dat hy altyd tot lof van die gemeente sou praat. Persoonlike omstandighede, waaronder die siekte van sy eggenote, was die enigste oorsaak waarom hy die gemeente so gou verlaat het. Iets wat hy nooit sou vergeet nie, was dat in die skaarstyd daar ruim £40 in beurse aan hul geskenk is. Op 'n gekombineerde kerkraadsvergadering gehou op Woensdagoggend 24 April 1895 het hy sy akte van demissie ontvang. Die bande sou egter nooit losgemaak word nie, want die gemeente het hulle liefgehad en seënwense het hom en sy huisgesin vergesel. Nadat hulle eers 'n paar dae by sy broer, ds. P.J. Perold, op Warrenton gekuier het, het hulle op Donderdag 9 Mei na die Boland vertrek.

Franschhoek duimnael|links|270px|Franschhoek se vergrote NG kerkgebou is op 3 Augustus 1883 in gebruik geneem, 12 jaar voor ds. Perold se koms.

Ds. Perold is op 16 Mei 1895 in die NG gemeente Franschhoek bevestig ná ’n vakature van ses maande. Die aand voor die dag van die plegtige bevestiging is daar 'n konferensie met die gemeente gehou oor die onderwerp: “De gemeente des Heeren.” By die geleentheid sowel as by die bevestiging was 'n hele aantal predikante teenwoordig. Hulle was di. M.C. Botha, die konsulent, J.H. Neethling, A. D. Lückhoff, Malherbe, De Beer, F.X. Roome en prof. De Vos van die Kweekskool. Laasgenoemde het die bevestigingsrede uitgespreek na aanleiding van 2 Korintiërs 2:16: “Dezen wel een reuk des doods ten dode; maar genen een reuk des levens ten leven. En wie is tot deze dingen bekwaam?” Ds. Perold se intreepreek het gegaan oor die woorde : “Zie ik kom om uwen wil te doen, o God.” Op 6 Oktober 1895 is die nuwe preekstoel ingewy wat 'n kosbare geskenk is van die heer Gideon Hugo en sy eggenote. By geleentheid van die inwyding was prof. Marais die feesredenaar.

Ds. Perold was 'n geestelike man en vir hom moes gelowiges hulle meer aan geestelike werk in die gemeente wy, want dit sou vir die geestelike lewe bevorderlik wees. Met die oog op die aankweking van die geestelike lewe het ds. Perold ook 'n weeklikse samekoms by die pastorie in die lewe geroep waarheen elkeen wat daartoe lus gehad het, kon kom om deel te neem aan die onderlinge lees en bespreking van Gods Woord asook om saam te bid. Daar was ook geleentheid dat mense hul geestelike ondervindinge kon meedeel. Daar is nooit by mense aangedring om die byeenkomste by te woon nie en die gemiddelde opkoms was van 12 tot 15. Die samekomste was egter van groot waarde vir diegene wat daarvan gebruik gemaak het. Dit wil voorkom asof die samekomste later uitgebrei is en vir jong mense toeganklik gemaak is, want in 1898 word meegedeel dat daar elke Maandagaand in die pastorie 'n Bybellesing gehou word en dat die bloeiende samekoms veral baie jongmense getrek het. Benewens hierdie byeenkoms was daar nog die weeklikse gemeentebiduur, die sustersbiduur elke Dinsdag, die biduur vir jongmense elke Donderdag en dan ook 'n biduur vir seuns elke Sondag.

Ná 'n driejarige verblyf op Franschhoek het ds. Perold ’n beroep na Murraysburg aangeneem en op 28 Augustus 1898 afskeid geneem met 'n rede oor 2 Korintiërs 13:13: “De genade van den Heere Jezus Christus, en de liefde van God, en de gemeenschap des Heiligen Geestes, zij met u allen. Amen.” Gedurende die laaste week van ds. Perold se verblyf in die gemeente is daar vanaf Woensdag elke aand dienste gehou.

Ds. Perold het in die kort tyd van drie jaar veel vir die gemeente gedoen en daar is swaar van hom en mev. Perold afskeid geneem.

Murraysburg duimnael|regs|270px|Daar was tydens ds. Perold se dienstyd op Murraysburg dikwels sprake van die vergroting van die kerkgebou, maar dis eers ná sy vertrek uitgevoer.

Nadat ds. J.H. van Wyk van die NG gemeente Murraysburg afskeid geneem het, is die volgende predikante agtereenvolgens beroep: di. J.P. van Heerden(Richmond), C.D. Bam (Fauresmith), A.F. Louw (Graaff-Reinet), C.D. Bam (vir die tweede maal) en S.J. Perold (Franschhoek).

Ds. Perold het die beroep aangeneem en met sy aankoms is hy op die gebruiklike wyse te Blaauwpoort ontmoet waar ds. J.P. van Heerden, die konsulent, 'n welkomsadres namens die gemeente voorgelees het. In die dorp was daar ereboë met die woorde: “Welkom en Brengt ons de oude tijding” daarop. By die pastorie het ander liggame adresse aangebied. Die bevestiging het op 12 Oktober 1898 plaasgevind, maar ‘’De Kerkbode’’ het behalwe die kennisgewing, geen ander berig oor die plegtigheid nie.

Die Murrayburgse kerkgebou Die vergroting van die kerkgebou waarvoor daar in ds. Van Wyk se tyd al planne beraam is, het nou ná ds. Perold se koms weer aandag geniet. Aan die begin van 1899 het ’n gemeentevergadering eenparig besluit om die Kerkraad te versoek om 'n argitek en 'n orrelbouer te laat kom van wie die nodige inligting ingewin kon word omtrent die moontlikheid om die kerk “inwendig" te vergroot, as ook wat die koste sal wees om die orrel af te breek, te herstel en weer op te bou.

In April van dieselfde jaar is daar egter weer 'n gemeente-vergadering gehou waarop besluit is om die vergroting van die kerk uit te stel tot wanneer die boufonds “door jaarlijksche dankfeesten, als ook door speciaal gevraagde kollecten door een commissie van kerkraadswege benoemd, zoodanig versterkt zal zijn" dat met die gewenste veranderinge 'n aanvang gemaak kon word. Ten opsigte van die orrel is besluit om die ou orrel aan te hou en slegs herstelwerk te laat aanbring tot tyd en wyl die vergroting van die kerkgebou voltooi sal wees.

Die Driejarige Oorlog duimnael|links|200px|Ds. Perold as jong predikant.

Weens die Anglo-Boereoorlog wat nog in 1899 uitgebreek het, is alle planne in verband met die vergroting van die kerk in die wiele gery. Op Murraysburg self het die oorlog groot ontwrigting gebring. Die Engelse militêre reëls het bepaal dat 'n dorp uit eie beweging ten minste 25 “Town Guards” moes oplewer voordat van militêre kant 75 soldate verskaf word om die dorpsverdediging tot die erkende minimum van 'n honderdtal te bring. Op Murraysburg kon daar egter nie 25 man gevind word nie, met die gevolg dat die dorp onbeskerm gebly het, en die Burgerkommando's kon vry heen en weer deurtrek. En so is daar geskryf: “Hierdie dorp sal in ons geskiedenis die erenaam van ‘rebeldorp' behou omrede daar nooit 'n ‘Defence Force' kon opgerig word nie."

Die toestand op Murraysburg het sodanig ontwikkel dat daar van 8 Oktober 1900 tot 21 Julie 1902 geen kerkraadsvergaderinge gehou is nie. Ds. Perold het ook in Julie 1901 uit die gemeente vertrek. Daar was naderhand geen kos in die dorp te kry nie. By geleentheid toe lt.kol. Douglas op die dorp was, het hy bevel gegee dat feitlik alles “the shape of food and clothing” vernietig moes word. En D.C. Theron en Faure moes in 1902 na Richmond gaan om reëlings met die militêre te tref om kosvoorrade na Murraysburg te stuur.