Die Rooi-ivoor (Berchemia zeyheri) is 'n middelgroot boom (tot 15 m hoog) wat inheems is in Botswana, Eswatini, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe. In Suid-Afrika word dit aangetref in klipperige bosveld vanaf die suide van KwaZulu-Natal, noordwaarts tot in die suide van Zimbabwe en weswaarts tot in Kimberley. Sy blare lyk net soos die bruinivoor s'n. Die hout van die boom is 'n dowwe rooi en kieries en knopkieries van die hout mag tradisioneel slegs deur Zoeloe-koninklikes gebruik word.

Die boom kom voor op die lys van Suid-Afrikaanse beskermde bome. Dit mag dus nie sonder amptelike toestemming verwyder of beskadig word nie.

Verspreiding Die rooi-ivoor groei hoofsaaklik in suidelike subtropiese gebiede. In Suid-Afrika kom die boom voor in die provinsies Limpopo, Noord-Kaap, Noordwes, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Aanplanting Die boom kan redelik maklik van saad gekweek word. Alhoewel dit stadig groei, kant dit ‘n hoogte van 15 m bereik. Dit is nie teen lae temperature opgewasse nie. In groot tuine kom die mooi boom goed tot sy reg. Voëls en vrugtevlermuise word gelok na die smaaklike geel, bruin, rooierige en soms selfs pers steenvrug.

Hout Die hardheid van die hout is ‘n besondere kenmerk, en het ‘n opvallende helder pienk tot rooi kleur. Dit word vir die maak van meubels en veral snoeker- en biljartstokke en hewwe van messe gebruik. Rooi-ivoor was tot die Anglo-Zoeloeoorlog die koninklike boom van die Zoeloe-volk. Gebruik van die hout was voorbehou tot lede van die koninklike familie en die hoofmanne. Dele van die boom is ook verwerk in tradisionele medisyne.

Name Wetenskaplike naam: Berchemia zeyheri. Tswanas verwys na die boom as die moye. Zoeloes ken dit as die umncaka.

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bome

Bronne Watter Boom is dit? Eugene Moll 2013 Plants of the World Online REDLIST Sanbi PlantZAfrica Landbouweekblad, 5 Mei 2022

Verwysings

Kategorie:Bome van Afrika Kategorie:Flora van Botswana Kategorie:Flora van Eswatini Kategorie:Flora van Mosambiek Kategorie:Flora van Namibië Kategorie:Flora van Suid-Afrika Kategorie:Flora van Zimbabwe