Switserland (Duits: Schweiz; Frans: Suisse, [sɥis(ə)]; Italiaans: Svizzera, [ˈzviːtːsera]; Romansch: Svizra, [ˈʒviːtsrɐ] of [ˈʒviːtsʁɐ], ), amptelik die Switserse Konfederasie (Duits: Schweizerische Eidgenossenschaft; Frans: Confédération suisse; Italiaans: Confederazione Svizzera; Romansch: Confederaziun svizra, ), is 'n klein landingeslote, federale staat in Sentraal-Europa, met Duitsland, Frankryk, Italië, Oostenryk en Liechtenstein as aangrensende lande. Die laasgenoemde vorm sedert 1923 'n monetêre en doeane-unie met Switserland, en ook sy buitelandse belange word deur die Konfederasie waargeneem. Switserland het 'n lang tradisie van politieke en militêre neutraliteit, maar word nogtans dikwels vereenselwig met internasionale samewerking aangesien dit die tuiste is van baie internasionale organisasies.
Confoederatio Helvetica (CH), die Latynse weergawe van die amptelike naam, vermy 'n keuse tussen die vier amptelike tale. Die afkorting word op soortgelyke manier gebruik – onder meer as Switserland se Internet-topvlakdomein, .ch.
Die bevolking van Switserland vorm geen etniese, taalkundige of godsdienstige eenheid nie. Hul identiteit word gevorm deur hul gemeenskaplike geskiedenis, die gemeenskaplike mites, die gemeenskaplike politieke oortuigings en beginsels (wat onder meer die federalisme, direkte demokrasie en neutraliteit insluit), die geografie en klein oppervlakte en ook die oortuiging dat hulle 'n uitsondering in Europa vorm.
Etimologie duimnael|links|Kanton Schwyz: Die Schwyzvallei, die stad Schwyz, die dorp Brunnen aan die Vierwoudstrekemeer, Rigi en die Lauerzermeer, soos gesien vanuit die Groot Mythenbergspits Die naam Schwyz is moontlik afgelei van Suito, 'n Alemanniese stamhoof of leërvoerder, wat hom volgens ou legendes aan die voet van die Mythenbergreeks gevestig het. Schweiz is die Nieuhoogduitse variant van die Alemanniese Schwyz.
Toe die troepe van die Switserse Konfederasie oorlog teen die Habsburgers gevoer het, het die troepe van die kanton Schwyz 'n besonder belangrike rol gespeel. Hulle het ook elders in Europa groot aftrek gekry as huursoldate. Ná die Slag van Sempach in die jaar 1386 het die naam Swiz of Sweiz legendaries geword, en die Duitse en Oostenrykse kroniekskrywers het begin om na alle inwoners van die Konfederasie as "Switsers" te verwys. Die eerste historiese bron is 'n regsdokument van koning Sigismund uit die jaar 1415 waarin na "Switsers" verwys word.
Die burgers van die Konfederasie het aanvanklik nie van hierdie naam gehou nie. In die Swabiese Oorlog van 1499 het die prentjie egter verander, en die Eedgenote het die skeldwoord "Switser" nou as 'n erenaam vir hulself gebruik, alhoewel in die amptelike taal nog steeds die voorkeur aan "Eedgenoot" gegee is.
In die 18de eeu begin die kroniekskrywer Johannes von Müller die term "Switserse Eedgenote" te gebruik, en hierdie naam is in die sogenaamde Mediasiegrondwet van die jaar 1803 vir die eerste keer ook amptelik gebruik. Die naam Helvetiese Republiek, wat deur Napoleon Bonaparte versin is, is vervang deur "Switserse Konfederasie".
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Behuising soos hierdie gerekonstrueerde paalhuise in Unteruhldingen, Duitsland het na die laaste ystydperk aan die oewers van Switserse mere ontstaan duimnael|Die menhirs van Clendy, kanton Vaud Die vroegste menslike nedersettings in die gebied van die huidige Switserland dateer uit die vroeë Steentydperk. Maar eers na die laaste ystydperk het groter getalle mense hulle in Sentraal-Switserland gevestig, veral in die gebiede rondom mere waar nedersettings met paalhuise ontstaan het. Danksy die meer gematigde klimaat was die landskappe van Switserland deur gemengde bosse, mere en moeraslande in die sentrale dele en witdenneboom-bosse in die Alpegebied gekenmerk. Die bosse het as natuurlike habitat vir rooi wild, bere, wolwe, wilde perde en baie spesies van klein soogdiere gedien.
Vanuit die Geneefse Meer het die sogenaamde Megaliet-beskawing van Wes-Europa ook na die sentrale gebiede van Switserland uitgebrei. Hierdie kultuur is na die groot steenblokke of megaliete vernoem wat vir die bou van tafelvormige grafkamers (sogenaamde dolmens of menhirs) gebruik is. Voorbeelde hiervan het in Petit Chasseur, kanton Valais en in Auvernier in die kanton Neuchâtel bewaar gebly. 'n Tweede groep immigrante, lede van 'n agrariese beskawing, het vanuit Suid-Duitsland na Oos-Switserland gemigreer.
In die Bronstydperk (vanaf omstreeks 1800 v.C.) is koper in Valais en Groubunderland ontgin. Vanaf 1100 v.C. het talle nedersettings, wat meestal beperk was tot kleiner stamgroepe, langs die oewers van mere bestaan. Argeologiese opgrawings het duisende artefakte opgelewer waarvan talle blykbaar uit ander dele van Europa ingevoer is. Daarnaas het nedersettings ook in heuwellande en in die Alpebergreeks ontstaan. Schweizer Geschichte
In die vroeë Ystertydperk (vanaf omstreeks 800 v.C.) het Keltiese setlaars na hierdie gebied gemigreer. Danksy belangrike argeologiese vondse naby La Tène in die kanton Neuchâtel is 'n hele periode van die Jong-Ystertydperk na daardie nedersetting vernoem. Die Keltiese bewoners het uitgebreide handelsbande met ander Europese gebiede, waaronder Griekeland, gevestig. In hierdie geskiedkundige periode het op Switserse gebied vroeë voorlopers van 'n skrifstelsel voorgekom wat egter nog geen alfabetiese karakter gehad het nie.
Keltiese en Alemanniese immigrasie duimnael|Switserland in die Romeinse tydperk Die Keltiese Helvetiërs wat hulle omstreeks 100 v.C. in die gebied tussen Jura en Alpe gevestig het, was die naamgewers van Helvetia wat in 58 v.C. deur Gaius Iulius Caesar verower en by die Romeinse Ryk ingelyf is. In 15 v.C. het ook die Raetiërs wat die Oos-Alpegebied bewoon het, onder Romeinse bewind gekom.
In die tydperk tussen die 3de en 6de eeu n.C. het Germaanse stamme hulle in die gebied gevestig. Die Boergondiërs het omtrent 445 vanuit die suidweste van die land uitgebrei en naas Wallis 'n gebied verower wat tot by die Aare-rivier gestrek het. Hulle is deur die inheemse bevolking geassimileer. Ook gebiede soos Ticino en Groubunderland is nie deur die Germaanse migrasie geraak nie, terwyl die res van die land uiteindelik deur Alemanniese stamme verower is en sedertdien by die Germaanse taalgebied behoort. Die huidige taalgrense het min of meer in hierdie vroeë periode ontstaan.
Die Middeleeue duimnael|Die Switserse Bondsbrief van 1291 In die 6de eeu is die huidige staatsgebied by die Frankiese Ryk ingesluit. In 843 is die oostelike Switserland by die Heilige Romeinse Ryk ingelyf, in die 11de eeu ook die weste van die land. Desondanks het 'n aantal selfregerende geweste begin ontwikkel, terwyl twee gebiede – Uri en Schwyz – saam met enkele stedelike nedersettings die status van Ryksvryheid verwerf het.
Die legendariese stigting van die Switserse Federasie – aanvanklik 'n koalisie van drie kantons wat hulle teen die bewind van die Huis Habsburg verset het – het op 1 Augustus 1291 op die Rütli-weiveld plaasgevind, en Switserland pronk dus met 'n demokratiese regeringstelsel wat meer as 700 jaar oud is. Die eerste dag in Augustus word nog steeds as die Nasionale Dag van Switserland (Duits: Bundesfeier, Frans: Fête nationale) herdenk.
Vroeë moderne tyd duimnael|Switserland in die vroeë Middeleeue Die Switserse Konfederasie het tydens die 15de eeu tot 'n eersterangse militêre moondheid ontwikkel, wat Aargau, Thurgau en die valleie van Ticino by sy magsgebied ingelyf het. Die Switsers het in 1476 en 1477 ook militêre oorwinnings teen Karel die Stoute van Boergondië en oor keiser Maksimiliaan I behaal. Die laasgenoemde het aan Switserland 'n groot mate van selfregering verleen.
Die Konfederasie is in 1513 deur die toelating van die kantons Appenzell, Basel, Fribourg, Schaffhausen en Solothurn aansienlik vergroot. Tot en met 1798 het die Konfederasie dus uit dertien kantons bestaan. Bern het in 1536 Vaud van Savoie verower, terwyl nou politieke bande met Groubunderland, Genève, St. Gallen en ander gebiede en stede gesmee is. Met die Franse oorwinning in die Slag van Marignano gedurende die Italiaanse Oorloë het Switserland egter sy rol as beduidende faktor in die Europese politiek grotendeels ingeboet. 'n "Ewigdurende alliansie" met Frankryk en politieke neutraliteit het nou as ankerpunte van Switserland se internasionale optrede gedien. Switserse huursoldate het egter nog sowat drie eeue lank in buitelandse diens gestaan.
Reformasie en onafhanklikheid duimnael|Die territoriale ontwikkeling van die Ou Konfederasie tot 1797 Switserland was danksy Johannes Calvyn in Genève en Ulrich Zwingli in Zürich een van die sentrums van die Reformasie, wat die konfederasie in godsdienstige opsig verdeel en 'n periode van politieke en godsdienstige konflikte ingelui het. Die Switserse Katolieke het onder die leiding van die Vier Woudkantons 'n Protestantse leër verslaan, en die Rooms-Katolieke godsdiens van die kantons Fribourg, Luzern, Schwyz, Solothurn, Unterwalden, Uri en Zug is in die Verdrag van Kappel in 1531 erken. Ten spyte van sy godsdienstige verdeling het Switserland gedurende die Dertigjarige Oorlog sy neutraliteit bewaar. Terwyl Duitsland verwoes was, het Konfederasie 'n welvarende gebly en met die Vrede van Münster (Wesfale) in 1648 ook volle onafhanklikheid van die Heilige Romeinse Ryk verkry.
Gedurende die Franse Rewolusie het Switserland enkele jare onder Franse bewind gekom en het in 1798 'n nuwe politieke bedeling onder die naam Helvetiese Republiek gekry. Die Kongres van Wene het in 1848 Switserland se onafhanklikheid erken en sy neutraliteit gewaarborg.
Demokratiese bewegings duimnael|Die geveg van Geltwil op 12 November 1847 was een van die min militêre gebeurtenisse in die Switserse burgeroorlog Reeds sedert 1838 het die demokratiese beweging van Switserland, wat hom vir 'n wysiging van die kantonale grondwette beywer het, steeds meer stukrag gekry. Die land was 'n toevlugsoord vir politieke vlugtelinge uit ander Europese lande. Vanaf 1830 is die grondwette in tien kantons, wat baie voorregte aan adellikes verleen het, deur nuwe demokratiese bedelings vervang wat voorsiening vir 'n indirekte algemene stemreg gemaak het. Republikeinse opstande in die Prinsdom van Neuchâtel was nogtans kortstondig en is maklik neergeslaan.
Terwyl 'n aantal kantons intussen ten gunste van 'n federale eenheidsstaat was, het die konserwatiewe Rooms-Katolieke kantons die voorkeur aan 'n losse konfederasie met vrywillige ooreenkomste tussen die verskillende kantons gegee. Die konflik het tot 'n aantal skermutselings en in November 1847 selfs tot 'n kortstondige burgeroorlog tussen die konserwatiewe Rooms-Katolieke (Sonderbund) en progressiewe Protestantse kantons gelei.
Die huidige Switserse bondstaat met Bern as sy administratiewe setel is ná die nederlaag van die konserwatiewe Sonderbund-kantons in 1848 gestig en bestaan tans uit 26 kantons. Die Switserse grondwet van 1848 is in baie opsigte op die model van dié van die Verenigde State geskoei – met 'n tweekamer-parlement as "Federale Vergadering" (Bundesversammlung of Assemblée fédérale) wat uit 'n Huis van Afgevaardigdes (Nationalrat of Conseil National) en 'n Raad van State (Ständerat of Conseil des États as verteenwoordiging van die kantons) bestaan. Die Federale Vergadering as wetgewende gesag verkies die Federale Raad (Bundesrat of Conseil fédéral) met sewe lede as uitvoerende gesag. 'n Federale hof het die laaste sê oor regeringsbesluite.
Switserland het sy neutraliteit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog bewaar en ook nie by die Europese Unie aangesluit nie. Dit het wél in 1960 'n lidstaat van die Europese Vryehandelsooreenkoms (EFTA) geword en in 2002 by die Verenigde Nasies aangesluit.
Geografie duimnael|Kaart van Switserland duimnael|'n Satellietfoto van die Middelland