Hierdie artikel handel oor die soogdier van die familie Felidae, vir ander gebruike sien Leeu (dubbelsinnig).
Die leeu (Panthera leo) (IFA: ♂: 'le:u 'le:ou 'liu ♀: le:'uən le:'vən / le:uvəifi) is 'n soogdier van die familie Felidae en een van die vier "groot katte" in die genus Panthera. Dit is die naasgrootste katspesie ná die tier. Mannetjies kan maklik herken word aan hulle maanhare en weeg tussen 150 en 250 kg, terwyl wyfies tussen 120 en 150 kg weeg. Science & Nature – Wildfacts – Lion. URL besoek op 24 Oktober 2006. Leeus kom in hul natuurlike omgewing tans in Afrika suid van die Sahara en in Asië voor. In Asië word ’n kritieke bedreigde oorblywende bevolking in die Gir-woud Nasionale Park gehou, waar hulle reeds vroeër in Noord-Afrika en Suidwes-Asië uitgesterf het. Tot en met die laat Pleistoseentydperk, omstreeks 12 000 jaar gelede, was die leeu die mees wydverspreide groot landsoogdier ná die mens. Hulle was oor die meeste dele van Afrika versprei, regoor Eurasië, wat vanaf Wes-Europa tot Indië gestrek het, sowel as in die Amerikas tussen Yukon en Peru.
In die natuur word leeus tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, weens die beserings wat hulle gedurig in gevegte met mekaar opdoen en wat hul lewensduur verkort. Leeus geniet 'n warm klimaat en jag in groepe. Hul tipiese habitat is die savanne en grasvelde, hoewel hulle ook na die bosse en woude kan wend. Wat ongewoon van leeus is, in vergelyking met ander katsoorte, is dat hulle ’n sosiale spesie is. ’n Trop leeus bestaan uit bloedverwante wyfies en nakomelinge en ’n klein aantal volwasse leeumannetjies. Troppe leeuinne sal gewoonlik saam jag en groot hoefdiere as prooi aanval. Leeus is as roofdiere heel boaan die voedselketting, maar sal by geleentheid ook aas. Hoewel dit nie in leeus se aard is om mense te jag nie, is enkele gevalle opgeteken waar dit wel gebeur het.
Die leeu is ’n kwesbare spesie, aangesien ’n moontlik onherroeplike bevolkingsafname van tussen 30 en 50 persent die afgelope twee dekades slegs op die Afrika-vasteland plaasgevind het. Database entry includes a lengthy justification of why this species is vulnerable. Die leeubevolking is onvolhoubaar buite aangewese reservate en nasionale parke. Hoewel die oorsaak van die afname nie ten volle begryp kan word nie, speel habitatsverlies en botsings met die mens na bewering tans die grootste rol. Leeus is sedert die antieke Romeinse tyd al in dieretuine aangehou en bly vanaf die laat agtiende eeu van oraloor ’n groot aantrekkingskrag. Dieretuine span oor die wêreld heen saam om teelprogramme daar te stel met die oogmerk om die bedreigde Asiatiese subspesies van uitwissing te red.
Identifikasie By die eerste blik is die leeumannetjie hoogs onderskeibaar en maklik herkenbaar aan sy maanhare. Die leeu, veral die gesig van die mannetjie s’n, is een van die mees herkenbare diersimbole in die kultuur van die mens. Afbeeldings van leeus is deur feitlik elke antieke en Middeleeuse beskawing waar hulle teëgekom is gemaak; dit het alreeds vanaf die Bo-Paleolitiese tydperk bestaan, soos die rotstekeninge in die Lascaux- en Chauvetgrotte getuig. Leeus word grootskaals deur beeldhoukuns, snywerk, skilderye, tekeninge, op nasionale vlae en in die eietydse rolprente en letterkunde uitgebeeld.
Woordherkoms Die benaming “leeu”, soortgelyk met vele Germaanse en Romaanse tale, is afgelei van die Latynse leo en die antieke Griekse λέων (leon). Die Hebreeuse לָבִיא (lavi) kan ook verwant wees, sowel as die antieke Egiptiese rw. . Soos in die ander antieke geskrifte word slegs die medeklinkers in die antieke Egiptiese taal neergepen. Daar was geen verskil tussen die 'l' en 'r' nie. Dit was een van die verskeie spesies wat oorspronklik, as Felis leo , deur Carl Linnaeus in sy agtiende-eeuse werk, System Naturae omskryf is. Die genus-aspek van die wetenskaplike benaming, Panthera leo, word dikwels toegeskryf aan Griekse herkoms, pan- (alles) en ther (gedierte), wat as volksetimologie beskou kan word. Hoewel die benaming se herkoms glo van die klassieke tale afkomstig is, is daar ’n duidelike ooreenkoms met die Sanskritse pundarikam “tier”, wat op sy beurt weer afkomstig is van pandarah “wit-gelerig”.
Die plaaslike name wat in Suider-Afrika gebruik word sluit in: bubesi of ngonyama in Zoeloe, tau in Suid-Sotho, shumba in Shona en simba in Swahili.
Bevolking en verspreiding duimnael|links|Verspreiding van Panthera leo in Afrika en Eurasië, in die verlede en hede In historiese tye het die leeu se habitat tot in die suidelike dele van Eurasië gestrek, van Portugal tot Indië en die grootste deel van Afrika, buiten die sentrale reënwoudgebiede en die Sahara-woestyn. Aan die begin van die Christelike tydperk het hulle in Wes-Europa uitgesterf en teen 100 n.C. in Griekeland. In die Kaukasus, hulle laaste Europese habitat, het leeus tot ongeveer die 10de eeu oorleef. Tussen die laat 19de en vroeë 20ste eeu het hulle ook uitgesterf in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Tans kom die meeste leeus voor in Oos- en Suider-Afrika en hulle getalle is besig om drasties te daal. Huidige beramings van die Afrika-leeu se getalle is tussen 16 000 en 30 000 in die natuur, 'n daling van die beraamde 100 000 in die 1990's; toenemende kontak met die mens word as die hoofrede vir hierdie afname beskou. The Vanishing Lions by die PBS-webwerf. URL besoek op 28 Maart 2007. Die oorblywende bevolkings is geografies van mekaar geskei, wat tot inteling kan lei en, as gevolg daarvan, 'n gebrek aan genetiese diversiteit.
Die Asiatiese leeu (Panthera leo persica), wat in historiese tye van Turkye tot by Indië en van die Kaukasus tot by Jemen verspreid was, was teen die Middeleeue in Palestina uitgeroei en na die ontwikkeling van maklik verkrygbare vuurwapens in die 18de eeu in die grootste deel van die res van Asië. Die laaste leeu in Iran is in 1942 geskiet. Die subspesie oorleef tans slegs in en om die Gir-woud in Noordwes-Indië. Ongeveer 300 leeus kom voor in dié reservaat van 1 412 km² in die staat Gujarat, wat die grootste deel van die woud beslaan. Hulle getalle is op die oomblik stabiel.
Klassifisering en aanpassing Die leeu is ’n spesie wat onder die Panthera-genus ingedeel is en die naaste aan die ander grootkatspesies verwant is: die tier, die jaguar en die luiperd. Panthera leo het sy oorsprong sowat 800 000 tot 1 miljoen jaar gelede in Afrika gehad, waarna hierdie spesie na die Holarktiese gebied versprei het. Dit het sy eerste verskyning in Europa sowat 700 000 jaar gelede gemaak deur die subspesie Panthera leo fossilis wat by Isernië te Italië aangeland het. Uit hierdie leeu se lendene het die latere grotleeu (Panthera leo spelaea) voortgespruit, wat ongeveer 300 000 jaar gelede te voorskyn gekom het. Gedurende die Bo-Pleistoseentydperk het die leeu Noord- en Suid-Amerika bereik en tot die Panthera leo atrox, oftewel die Amerikaanse leeu, ontwikkel. Leeus het in Noord-Eurasië en Amerika teen die einde van die laaste ystydperk, omtrent 10 000 jaar gelede, uitgesterf; dit kon gevolg het net ná die massa-uitwissing van die Pleistoseen se megadiere.
Subspesies duimnael|Verspreiding van die leeu se algemeen aanvaarde subspesies in die laat twintigste eeu Volgens oorlewering is twaalf onlangse leeusubspesies erken, waarvan die Berberleeu die grootste was. Barbary Lion—Panthera leo leo—Largest Lion Subspecies Laaste besoek op 19 September 2007 Die kenmerkende verskille wat hulle van mekaar onderskei het, was die habitatligging, maanhaarvoorkoms, grootte en verspreiding. Met dié dat hierdie eienskappe so ’n geringe betekenis dra en van individu tot individu verskil, het die meeste van hierdie diere klaarblyklik nie aan egte, onafhanklike subspesies behoort nie. Dikwels is sulke onjuiste klassifiserings gemaak op grond van die leeus in dieretuine waarvan hul herkoms onbekend is en “opvallende, maar abnormale” liggaamlike kenmerke gehad het. Tans word slegs agt subspesies as eg beskou, hoewel een (die Kaapse leeu, vroeër as Panthera leo melanochaita benoem) waarskynlik ongeldig is.
Party taksonome reken die Kaapse leeu (wat uitgesterf het), die Kalaharileeu en die Krugerwildtuinleeu as onderskeie subspesies. Daar is egter nie genoeg getuienis wat hierdie onderskeidingsteorie kan staaf nie; alle leeus behoort dus aan een enkele spesie. Die Kaapse leeu het na bewering oor ’n groter maanhaar as dié van die Transvaalse leeu beskik, terwyl die Kalaharileeu ’n ligter pelskleur het as die Krugerwildtuinleeu. Diere wat aan soortgelyke spesies en subspesies behoort, kan meer hare ontwikkel indien hul habitat binne ’n kouer streek geleë is of kan ligter word sodra hulle binne ’n warmer en droë klimaat gevestig word. ’n Nuwe subspesie kan dus nie geskep word gegrond op hierdie fisiese eienskappe nie.
Maar selfs die oorblywende sewe subspesies kan oorskat wees. Mitochondriese afwykings onder Afrikaleeus is maar skraal, wat aan die hand doen dat alle leeus suid van die Sahara aan ’n enkele subspesie behoort, wat moontlik in twee hoofgroepe verdeel is: die een aan die weste van die Groot Skeurvallei en die ander aan die ooste. Die leeus van Tsavo in Oos-Kenia is baie meer geneties aan die leeus in die Transvaal (Suid-Afrika) verwant as dié in die Aberdare-tuisgebied in Wes-Kenia.
Onlangse klassifiserings duimnael|‘n Foto deur Marcelin Flandrin in 1925 is die laaste visuele rekord van ‘n Berberleeu in die natuur. Die foto is geneem gedurende ‘n vlug tussen Casablanca en Dakar oor die Atlasgebergte Agt hedendaagse (Holoseen) subspesies word tans erken: Panthera leo persica, bekend as die Asiatiese leeu of die Suid-Asiatiese, Persiese of Indiese leeu wat eens vanaf Turkye oor Suidwes-Asië tot in Pakistan, Indië en selfs Bangladesj wydverspreid was. Groot troppe en bedrywighede gedurende die dag het dit vir stropers makliker gemaak om op die Asiatiese leeu jag te maak as op tiere en luiperd; daar is nou omtrent 300 leeus binne of naby die Gir-woud oor. Panthera leo leo, bekend as die Berberleeu, het in die natuur uitgesterf as gevolg van buitensporige jagtogte, hoewel indiwidue in gevangenskap steeds mag bestaan. Die Marokkaanse Koninklike Leeus word deur party taksonome beskryf as 'n "voordiehandliggende oorblyfsel van die oorspronklike Berberleeu genepoel". Dit was een van die grootste leeusubspesies, met lengtes van tussen 3 tot 3,3 meter en massas onder die mannetjies van meer as 200 kg. Hulle het vanaf Marokko tot Egipte voorgekom. Die laaste gedokumenteerde bespieding van 'n Berberleeu in die natuur, het plaasgevind in 1942 in die Groot-Atlasgebergte van Marokko. LES GRANDS MAMMIFERES DU MAROC MERIDIONAL Deur middel van ‘n kwantitatiewe uitsterwings-tydlyn analise, postuleer sommige kenners dat die laaste Berberleeu waarskynlik uitgesterf het in 1958 tydens die woudsverwoesting noord van Sétif, Algerië, gedurende die Algerynse Onafhanklikheidsoorlog. Examining the Extinction of the Barbary Lion and Its Implications for Felid Conservation Panthera leo senegalensis, bekend as die Wes-Afrikaleeu, word in Wes-Afrika, vanaf Sengeal tot Nigerië, aangetref. Panthera leo azandica, bekend as die Noordoos-Kongoleeu, word in die noordoostelike gedeeltes van die Kongo aangetref. Panthera leo nubica, bekend as die Oos-Afrika of Masaileeu, word in Oos-Afrika vanaf Etiopië en Kenia tot Tanzanië en Mosambiek aangetref. Panthera leo bleyenberghi, bekend as die Suidwes-Afrika- of Katangaleeu, word in suidwestelike Afrika, Namibië, Botswana, Angola, Katanga (DRK), Zambië en Zimbabwe aangetref. Panthera leo krugeri bekend as die Suidoos-Afrikaleeu of Transvaalse leeu, word in die Transvaalstreek of Suidoos-Afrika aangetref wat die Nasionale Krugerwildtuin insluit.