duimnael|280px|Die voormalige gebou van Kreditbanken aan Norrmalmstorg-plein, Stockholm.

Stockholmsindroom is ’n beweerde versteuring in populêre sielkunde wat veroorsaak dat gyselaars geneig is om ’n sielkundige band met hulle ontvoerders te ontwikkel. Dit is genoem na ’n mislukte bankroof in 1973 in Stockholm.

Ondanks die prominensie van Stockholmsindroom in die populêre kultuur is dit nog nooit ingesluit in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM), die gesaghebbende gids vir die diagnose van psigiatriese toestande wat in Amerika gebruik word, nie. Sielkundiges beskou die bewyse vir die toestand oor die algemeen as twyfelagtig of niebestaande. Baie bekende voorbeelde van Stockholmsindroom is óf gedeeltelik óf geheel en al versin, insluitend baie besonderhede van die 1973-bankroof wat die sindroom sy naam gee.

Agtergrond

In 1973 het Jan-Erik Olsson, ’n veroordeelde misdadiger op verlof van die tronk, vier werknemers (drie vroue en een man) as gyselaars geneem tydens ’n mislukte bankroof van Kreditbanken, een van die grootste banke in Stockholm. Hy het onderhandel dat sy vriend Clark Olofsson uit die tronk vrygelaat word om hom te help. Hulle het die gyselaars ses dae lank (van 23 tot 28 Augustus) in een van die bank se kluise aangehou.

Nils Bejerot, ’n Sweedse kriminoloog en psigiater, het die term geskep nadat Stockholm se polisie hom gevra het om te help met die ontleding van die slagoffers se reaksies op die roof en hulle status as gyselaars. Bejerot het die gyselaars nooit ontmoet, met hulle gepraat of met hulle gekorrespondeer nie, hetsy tydens of ná die voorval, en tog het hy hulle gediagnoseer met ’n toestand wat hy self uitgedink het. Bejerot, wat tydens ’n nuusuitsending ná die vrylating van die gevangenes gepraat het, het die gyselaars se reaksies beskryf as die gevolg daarvan dat hulle deur hulle ontvoerders gebreinspoel is. Hy het dit Norrmalmstorgssyndromet ("Norrmalmstorg-sindroom") genoem (na die Norrmalmstorg-plein waar die rooftog plaasgevind het); dit het later buite Swede bekend geword as Stockholmsindroom. In 1980 het die psigiater Frank Ochberg geskryf oor die status van gyselaars wat in die Amerikaanse ambassade in Teheran aangehou is en voorgestel dat oordrag (transference) moontlik met die bestuur van gyselaarsituasies kan help.

Volgens Kristin Enmark, een van die gyselaars, was die owerhede nalatig en het hulle aanvanklike benadering tot die rowers byna die gyselaars in gevaar gestel. Enmark het Swede se eerste minister, Olof Palme, gekritiseer omdat hy hulle lewens in gevaar gestel het. Palme het geglo as Olsson een van sy naaste familielede sien, sou hy moontlik bereid wees om die gyselaars oor te gee; die polisie het egter ’n nalatige fout gemaak. Hulle het Olsson verkeerd geïdentifiseer en ’n 16-jarige seun wat nie aan hom verwant was nie, die bank ingestuur. Dit het verwarring veroorsaak en daartoe gelei dat Olsson skote op die seun afgevuur het, en dié het net-net ontsnap.

Olsson het oor die algemeen baie opgewonde geraak. Daarna was Enmark en die ander drie gyselaars bang dat hulle net so waarskynlik deur polisie-onbevoegdheid as deur die rowers doodgemaak kon word. Enmark het gesê sy was banger vir die polisie, wie se houding na haar mening ’n veel groter, direkte bedreiging vir haar lewe ingehou het as dié van die rowers. Enmark het dekades lank volgehou sy het geen affiniteit met haar ontvoerders gehad nie; sy het slegs gedoen wat nodig was om tydens die beproewing aan die lewe te bly.

Olsson het later in ’n onderhoud gesê hy kon die gyselaars in die begin maklik doodgemaak het, maar dat dit mettertyd moeiliker geword het aangesien hy ’n emosionele band met hulle ontwikkel het.

Patty Hearst Patty Hearst, kleindogter van die uitgewer William Randolph Hearst, is in 1974 ontvoer en as gyselaar aangehou deur die Simbioniese Bevrydingsleër (SBL), ’n "stedelike guerrillagroep”. Sy is opgeneem waar sy haar familie sowel as die polisie veroordeel. Met haar nuwe naam, “Tania”, en is later gesien waar sy saam met die SBL banke in San Francisco beroof. Sy het openlik haar “simpatieke gevoelens” teenoor die SBL en hulle doelwitte uitgespreek.

Ná haar inhgtenisneming in 1975 was haar pleidooi van Stockholmsindroom onvoldoende as verdediging in die hof; die term is toe nog nie gebruik nie weens die onlangse aard van die Norrmalmstorg-rooftog. Haar sewejaartronkstraf is later verkort, en sy is uiteindelik begenadig deur president Bill Clinton, wat ingelig is dat sy nie uit eie vrye wil opgetree het nie.

Simptome en gedrag Stockholmsindroom is 'n skynbare teenstrydigheid, omdat die gevoelens van meegevoel wat gyselaars teenoor hulle gevangenemers kan hê die teenoorgestelde is van die vrees wat 'n buitestander vir die gevangenemers sal hê.

De sindroom word geïdentifiseer deur die individuele of gesamentlike teenwoordigheid van die volgende:

negatiewe gevoelens by die gevangenes teenoor die polisie en ander owerhede; positiewe gevoelens by die gyselaars teenoor hulle gevangenemers; wederkerige positiewe gevoelens by die gevangenemers teenoor die gyselaars.

Dit is waarskynliker dat dit sal gebeur as gyselaars saam aangehou word en nie fisiek aangerand is nie.

DSM 5, 2013 Die DSM-5 word algemeen deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging gebruik as die klassifikasistelsel vir sielkundige steurings. Stockholmsindroom is nog nooit in die handleiding opgeneem nie, want baie glo dit val onder posttraumatiese stressteuring (PTSS) of traumabandsmeding.

Waardebepaling Robbins en Anthony (1982) Robbins en Anthony, wat 'n soortgelyke toestand met die naam "destruktewe kultussteuring" ondersoek het, het in 1982 in hulle studie opgemerk dat daar in die 1970's groot besorgheid oor die moontlike risiko van breinspoeling was. Hulle kom tot die gevolgtrekking die media se aandag aan breinspoeling in dié tyd het gelei tot die siening dat Stockholmsindroom 'n sielkundige toestand is.

FBI-bulletin oor wetstoepassing (1999) In 'n bulletin van 1999 deur die FBI oor 1 200 gyselaarsvoorvalle is bevind 8% van gyselaars het tekens van Stockholmsindroom getoon. Wanneer mense wat net negatiewe gevoelens jeens wetstoepassers gehad het, uitgesluit word, daal dié persentasie tot 5%. In 'n opname in 1989 deur 600 polisieagentskappe wat deur die FBI en die Universiteit van Vermont uitgevoer is, is bevind in nie 'n enkele geval met emosionele betrokkenheid tussen die gyselaar en die gevangenemer het dit 'n invloed op 'n aanval gehad nie. Dit lyk dus of Stockholmsindroom selde voorkom. Die sensasionele aard van dramatiese gevalle laat die publiek dink dié verskynsel is die reël eerder as die uitsondering. Die bulletin beveel aan krisisonderhandelaars moet Stockholmsindroom in die regte perspektief plaas.

Namnyak et al. (2008) 'n Navorsingsgroep onder Namnyak het bevind ondanks die feit dat die media baie oor Stockholmsindroom skryf, is daar min navorsing oor die verskynsel gedoen. Dié min navorsing weerspreek mekaar dikwels en stem nie saam oor wat Stockholmsindroom is nie. Die term het uitgebrei om nie net gyselaars in te sluit nie, maar alle definisies van mishandeling.

Volgens die groep is daar geen duidelike definisie van simptome om die sindroom te diagnoseer nie.

Jess Hill (2019) In haar verhandeling van 2019 oor huishoudelike geweld, See What You Made Me Do, beskryf die Australiese joernalis Jess Hill die sindroom as 'n "twyfelagtige patologie sonder diagnostiese kriteria" en sê sy "dit is deurtrek van vrouehaat en berus op 'n leuen". Sy merk op 'n oorsig van 2008 het onthul die meeste dianoses van Stockholmsindroom "word deur die media gemaak, en nie deur sielkundiges of psgiaters nie".

Hill se ontleding noem spesifiek Stockholm-owerhede het op die Norrmalmstorg-rooftog gereageer op 'n manier wat die gyselaars aan groter gevaar blootgestel het as die optrede van die rowers (die gyselaar Kristin Enmark, wat tydens die rooftog 'n telefoonoproep aan die eerste minister, Olof Palme, toegestaan is, het gesê Palme het vir haar gesê die regering sal nie met misdadigers onderhandel nie). Hill merk ook op dat Bejerot se diagnose van Enmark gemaak is sonder dat hy ooit met haar gepraat het.

Verwysings

Skakels

Radiolab: How Stockholm stuck; transcript

Kategorie:Geestesteurings Kategorie:Misdaad Kategorie:Stockholm