duimnael|links|300px|In die loop van die sewentiger- en tagtigerjare het talle NG gemeentes gesluit wat deels of heeltemal in die omliggende tuislande geleë was: Butterworth, Pondoland, Du Plessis, Greykerk, Alice, Komga en Peddie. duimnael|regs|170px|Ds. W.A. Joubert, eerste leraar van Victoria en Peddie van 1872 tot 1878. duimnael|regs|170px|Ds. B.B. Keet, tweede leraar van Victoria en Peddie van 1879 tot 1898. duimnael|170px|Ds. J.P. Kriel, leraar Victoria en Peddie van 1898 tot 1920. Peddie-lidmate het eers ná sy vertrek begin werk vir 'n afsonderlike gemeente omdat daar tussen hulle en ds. Kriel 'n sterk liefdesband bestaan het.
Die NG gemeente Peddie was 'n klein gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met as middelpunt die dorp Peddie in wat teen die einde van die gemeente se bestaan die sogenaamde onafhanklike tuisland Ciskei was.
Agtergrond Die dorpie Peddie het sy ontstaan te danke aan die Sesde Grensoorlog van 1834 tot 1835. Tydens die oorlog het die Fingoes hulle aan die kant van die nedersetters geskaar en is daar gevrees dat die Xhosas ná die oorlog wraak op hulle sou neem. Die Fingoes is toe in die sogenaamde neutrale gebied tussen die Keiskamma en die Groot-Visrivier geplaas en om hulle te beskerm is in die nabyheid 'n militêre fort gebou ten einde hulle aartsvyande, die Xhosas, weg te hou. Dié fort is in 1835 gebou en Fort Peddie genoem na lt.kol. John Peddie. Hy het 'n leidende rol in die voorafgaande oorlog gespeel.
Lord Charles Glenelg se beleid het bepaal dat alle blanke nedersetters die gebied moes verlaat, maar die garnisoene van Fort Peddie, Fort Willshire en ander is behou. Hoe nodig dié voorsorgmaatreëls was, blyk uit die verrassingsaanval deur die Xhosas op 2 Augustus 1837 op die Fingoes. Die Fingo-hoofman is in die rug gesteek toe hy met die Xhosas onderhandel het en korp. Porter en 10 Fingoes is gedood. Die Xhosas het 400 stuks vee geroof en hulle uit die voete gemaak. Die Fingoes is later in 'n sekere mate hiervoor vergoed deur die koloniale owerheid. Die gevolg was dat die ander Fingoes wat ook na Fort Peddie oorgeplaas sou word, verkies het om liewer na die Transkei te verhuis.
Met die uitbreek van die Sewende Grensoorlog is die Fingoes by Bekastasie, sowat vier myl van Peddie af, aangeval, maar dié keer is die aanvallers verdryf. Op 28 Mei 1846 is Fort Peddie self aangeval, maar deur doeltreffende kanonvuur van die Fort af is die Xhosas se aanval gefnuik. Dit was egter 'n groot slag vir die garnisoen toe 43 konvooiwaens op pad na Fort Trompettersdrift oormeester is.
Ná die beëindiging van dié oorlog het die goewerneur sir Peregrine Maitland by Fort Peddie met die Xhosa-kaptein onderhandel en so is die gebied tussen die Keiskamma en die Groot-Visrivier by die Kaapkolonie ingelyf onder die naam Provinsie Victoria, na die indertydse Britse koningin. Die suidelike deel was die gebied het eers bekendgestaan as Victoria South, maar op 8 Maart 1848 is die landdorsdistrik Fort Peddie gestig. Eers 10 jaar later is die naam van die dorpie na Peddie verander, hoewel dit nog 'n tydjie geduur het voor die naam Fort Peddie in onbruik geraak het. Die noordelike deel van die gebied was van 1847 af as die distrik Victoria-Oos bekend en die magistraatsdorp was Alice.
Die eerste magistraat (die term landdros is eers 'n eeu later ingevoer) was die heer W.M. Eyde. Die dorpserwe is uitgemeet en weldra het behalwe die amptenare ook burgerlike, feitlik almal Engelssprekendes, hulle op die dorpie gevestig. Reeds in 1841 is ander geskiedkundige geboue naas die fort opgerig, waarvan sommige nog tot sowat 50 jaar gelede bestaan het. Die wagtoring, ou militêre hospitaal en die ou kavallerie-barakke is vandag blywende herinneringe aan die Grensoorloë. Met die oorlog van 1851 het daar 'n gevaarlike posisie by Fort Peddie ontstaan toe van die gekleurde soldate teen die blanke offisiere gemuit het. Die blanke soldate kon betyds padgee.
Ná dié oorlog het talle burgers uit Albanie, die distrik waarvan Grahamstad die setel is, en ook Engelse boere hulle in die nuwe distrikte Victoria en Peddie kom vestig. Voorkeur is gegee aan mense wat aan die oorlog deelgeneem het. Onder die Britse intrekkers was daar Edward Driver, Joseph Stirk, Frederick C. Webb en Richard Tainton. Saam met hulle het die Afrikaans-Hollandse burgers hulle intrek geneem. Hulle was die voorvaders van baie van die Afrikaners wat honderd jaar later nog in die gebied gewoon het, maar waarvan die meeste eindelik verhuis het weens die destydse regering se beleid om grond vir vestiging deur Xhosasprekendes in die omringende tuisland op te koop. Onder die tipiese grensfamilies het mense met die vanne Bosch, Koekemoer, Naudé, Erasmus, Goosen en Bezuidenhout getel. Sommige van die Bezuidenhouts stam af van Johannes (Hans) Bezuidenhout, wat sy lewe in die Slagtersnek-rebellie verloor het. Sy twee oorlewende seuns het hulle eers in die gemeente Albanie gevestig. Van hulle nageslag het die steunpilare van die latere gemeentes Victoria (Alice) en Peddie geword.
Danksy sy strategiese ligging op die grootpad van Grahamstad na King William's Town het Peddie toe begin ontwikkel. Die boere in die distrik moes na die dorpie gaan vir hulle sake. Mettertyd het enkele Afrikaanse gesinne hulle dan ook op die dorp gevestig. Die nuwe intrekkers het nog onder die gemeente Albanie (met sy setel op Riebeek-Oos en met Grahamstad as 'n tweede kernpunt) geressorteer. Hulle moes ver ry om hulle kerklike voorregte te geniet; daarom het die NG lidmate van die twee distrikte hul kragte saamgesnoer en by die Ring van Albanie aansoek gedoen om 'n eie gemeente. Die gebruiklike versoekskrif is opgestel en deur lidmate uit beide distrikte onderteken en aan die Ringskommissie voorgelê. Die meeste Hollands-Afrikaanssprekende boere was in die distrik Victoria saamgetrek, maar die lidmate van Peddie het nietemin daarop aangedring dat hulle dorp ook erkenning as kerksentrum kry.
Stigting van gemeente Victoria en Peddie Die Ringskommissie van Albanie het op 26 November 1862 vergader om oor die versoekskrif te beraadslaag. Die gevolg van die besprekings was dat die nuwe gemeente met die dubbeldoor-naam Victoria en Peddie gestig is. Die naam bewys dat Peddie uit die staanspoor nie as 'n onderdeel van Victoria beskou is nie, maar as 'n (junior) vennoot. Peddie se twee wyke destyds was Bokkraal en Beja. Feitlik van die begin af is Peddie in die sentrale kerkraad van die nuwe gemeente verteenwoordig. Vir die eerste 10 jaar was die gemeente herderloos en moes die konsulente die sakramente bedien. Hulle het nie net die Victoria-deel besoek nie, maar ook Nagmaal en doop op Peddie bedien.
Eers in 1872 het die nuwe gemeente sy eerste leraar in die persoon van ds. Willem Adolph Joubert ontvang. Hy het in die Victoria-deel gewoon, maar huisbesoek in albei dele gedoen. Twee maal per jaar het hy met perdekar na Peddie gekom om hier die Nagmaalviering en doopbediening waar te neem. By dié geleenthede het hy in die Peddie-hotel tuisgegaan omdat daar toe nog nie ander huisvesting beskikbaar was nie. Die dorpie was destyds oorweldigend Engels. Volgens statistiese opgawes van 1867 was al die amptenare van die magistraat tot by die tronkbewaarder Engelssprekend. Die enigste leraar wat in die jaar genoem word, is die Wesleyaanse predikant, ds. W. Halford. Selfs die eerste drie dopelinge op Peddie op 12 Augustus 1863 was nie Afrikaans-Hollands nie, maar Duits, naamlik ene Krull, Burkigt en Dobrowsky.
Victoria en Peddie was ds. Joubert se eerste gemeente. Hy was die regte man op die regte tyd op die regte plek, want die gemeente het so 'n jong man se werkywer en idealisme nodig gehad. Onder sy leiding het albei dele tor hulle reg gekom. Oral waar ds. Joubert predikant was, het hy kerke gebou, soos die sierlike kerkgeboue op Uniondale, Riversdal en in die Noorder-Paarl (die Toringkerk) getuig. Sy eerste bouwerk was op Peddie. Dié kerkie is in 1874 in gebruik geneem, nog voordat Alice se eerste kerk klaar was. Dié kerkgebou, wat later vergroot is, was sy hele bestaan lank die middelpunt van die gemeente se kerklike bedrywighede.
duimnael|regs|300px|Peddie se NG kerkgebou is in 1874 onder leiding van ds. W.A. Joubert opgerig en ingewy en in 1904 vergroot.
Die Alice-deel van die gemeente het die Wesleyaanse kerkgebou vir die dienste gehuur, maar Peddie het voor 1874, dus vir die eerste 12 jaar van die tweedelige gemeente se bestaan, geen ander gebou gehad nie. Van 1863 het die lidmate hier aan hul eie kerkgebou begin beplan. Op 19 April 1863 het Peddie se diaken G.J. Goosen meegedeel dat 'n erf op Peddie vir die bou van 'n kerk tot die kerkraad se beskikking gestel is. Om die een of ander rede het die bouplanne nie gevorder nie. Eers in 1870 meld Peddie se kerkraadslede dat 'n geskikte stuk grond vir die gebou aangekoop is en in die naam van die gemeente Victoria en Peddie geregistreer is.
Hulle vra die kerkraad se verlof om met 'n boufonds te begin. Dit is toegestaan, maar met die uitdruklike voorwaarde dat Peddie nie aan afstigting moes begin dink nie. Dit was dan ook die eerste voorspooksel van die wantroue wat later jare keer p keer sou kop uitsteek. Die getal lidmate van die verenigde gemeente was in elk geval so min dat daar geen sprake van 'n verdeling kon wees nie. In 1894, 32 jaar ná afstigting, was dit maar nog 425, terwyl baie gemeentes destyds met ver oor die duisend lidmate slegs een leraar gehad het, anders as in latere jare. Die algemene opvatting in albei dele van die gemeente was indertyd dat Victoria en Peddie soos 'n Siamese tweeling was wat, indien hulle geskei sou word, albei sou doodbloei. (Dié opvatting het later geblyk waar te wees, maar so erg was die ontvolking van dié gebied, dat ook 'n verenigde gemeente nie sou kon voortbestaan nie.)
Die bou van die kerkie op Peddie in 1874 het dus nie die eenheid van die gemeente in gevaar gestel nie. Peddie se goeie voorbeeld het Alice net die jaar daarna aangespoor om hul eie kerkgebou te voltooi en in te wy.
Ds. Joubert is, ná 'n kort vakature, in 1879 opgevolg deur ds. B.B. Keet, die vader van die digter A.D. Keet en die teoloog prof. B.B. Keet. Nes sy voorganger het ds. Keet op Alice gaan woon. Daarvandaan het hy Peddie twee maal per jaar vir Nagmaal en doopbediening besoek. Uit die kerkraadsnotule van 2 April 1883 blyk dit duidelik dat Peddie nie meer gelukkig met dié reëling was nie. Veertig Peddie-lidmate het 'n versoekskrif onderteken waarin hulle aandring op vier Nagmaaldienste per jaar, 12 gewone Sondagdienste pleks van net ses en dat elke deel van die gemeente sy eie kerkkas kon aanhou. Laasgenoemde versoek dui daarop dat die Peddie-lidmate gevoel het dat hulle proporsioneel meer tot die sentrale kerkkas bygedra het as die Alice-deel en dat die dienste wat hulle vir dié bydrae ontvang het, nie in verhouding met hul bydrae was nie. Hulle wou naamlik 'n kerkkas opbou uit die surplus wat oorgebly het nadat hulle hul proporsionele deel tot die kerkkas bygedra het. Die Peddie-kerkraadslede was egter ver in die minderheid en daarom is die versoek afgewys. Net 'n beroep is op die leraar gedoen om meer dienste op Peddie te gaan hou, as hy daarvoor kans gesien het. Die notule meld nie wat van die voorstel geword het nie.
Met die kerkraadsvergadering in April 1901 het die kerkraad effens skiet gegee. Aan Peddie is die voorreg verleen dat sy kerkraadslede voortaan op Peddie, pleks van Alice, voorgestel kon word.