Geenbewerkingsboerdery (ook zerobewerking of direkte besaaiing genoem; Engels: No-till farming) is 'n manier om gewasse van jaar tot jaar te verbou sonder om die grond deur bewerkings te versteur. Geenbewerking is 'n landboutegniek wat die hoeveelheid water en organiese materiaal (voedingstowwe) in die grond vermeerder en erosie verminder. Dit vermeerder die hoeveelheid en diversiteit van lewe in en op die grond, maar vereis moontlik die gebruik van onkruiddoders.

Agtergrond Deur middel van bewerkings word onkruid verwyder, word die grond in rye gevorm vir oesgewasse en in vore gevorm vir besproeiing. Dit lei tot ongunstige resultate, soos grondkompaktering; verlies van organiese materiaal; verswakking van grondversamelings; dood of ontwrigting van grondmikrobes en ander organismes, onder meer mikorrisa (swamwortels), geleedpotiges en erdwurms en gronderosie waartydens bogrond weggewaai of weggespoel word. Geenbewerkingsboedery voorkom hierdie gevolge deur bewerkings uit te sluit. Volgens hierdie boerderymetode word oesreste of ander organiese stowwe op die grondoppervlak behou en word daar gesaai/bemes met minimale versteuring van die grond. Voortdurende geenbewerking moet baie anders bestuur word om opbrengs op die landerye te handhaaf of te vermeerder. Reste, onkruid, landboutoerusting, oesrotasie, water, siektes, peste en bemestingbestuur is net 'n paar van die talle boerderybesonderhede wat verander wanneer oorgeskakel word na geenbewerking.

Die idee van moderne geenbewerking het in die 1940's met Edward Faulkner begin, maar dit was eers nadat etlike chemiese stowwe ná die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel is, dat 'n paar navorsers en boere die idee op die proef begin stel het. Die eerstes wat geenbewerking op die proef gestel het, was onder andere Kingman (Noord-Carolina), Edward Faulkner, L.A. Porter (Nieu-Seeland), Harry en Lawrence Young (Herndon, Kentucky), die Instituto de Pesquisas Agropecuarias Meridional (1971 in Brasilië) met Herbert Bartz ingesluit.

Kwessies

Wins, ekonomie, opbrengs Studies het getoon dat geenbewerkingsboerdery winsgewender kan weesD.L. Beck, J.L. Miller en M.P. Hagny "Successful No-Till on the Central and Northern Plains" kan wees as dit korrek uitgevoer word.

Minder grondbewerking verminder arbeid,Tyd wat gespaar word deur geenbewerking is te danke aan die feit dat daar minder aktiwiteite op lande plaasvind, en dat die individuele aktiwiteite minder tyd verg (bv. dit is vinniger om 'n sproeier oor 'n land te trek as om 'n ploeg daardeur te trek). brandstof, besproeiing en koste van masjinerie. Geenbewerking kan opbrengste vermeerder weens hoër waterinfiltrasie en -bergvermoë asook minder erosie. Nog 'n voordeel van geenbewerking is dat dit ekonomiese sin het om, weens die hoër waterinhoud, 'n ander gewas aan te plant eerder as om die land te laat braak lê.

Namate volhoubare landbou gewilder word, word subsidies en toekennings geredelik beskikbaar aan boere wat bewaringsbewerking toepas. Sommige groot energiemaatskappye wat van die meeste besoedeling veroorsaak weens hulle gebruik van fossielbrandstof, is bereid om koolstofkrediete te koop om boere aan te spoor om bewaringsbewerking toe te pas. Die boere se grond word in werklikheid 'n koolstofsinkput vir die kragopwekkers se vrystellings. Dit help die boer op etlike maniere, en dit help die energiemaatskappye om eise vir besoedelingsvermindering na te kom. Geenbewerkingsboerdery kan organiese materiaal in die grond vermeerder as 'n vorm van CO2-afskeiding en -berging.

Omgewing

Koolstof (lug en grond) en ander kweekhuisgasse Geenbewerking het potensiaal as CO2-afskeiding en -berging deur die berging van organiese materiaal in die grond van landerye.CO2-afskeiding en -berging in twee Brasiliaanse Cerrado-grondsoorte onder geenbewerking Bayer, C | Martin-Neto, L | Mielniczuk, J | Pavinato, A | Dieckow, J Soil and Tillage Research [Soil Tillage Res.]. Deel 86, no. 2, bl. 237-245. Apr 2006. Wanneer dit deur masjiene bewerk word, word die grondlae omgekeer, word lug deurgemeng en neem mikrobiese aktiwiteit drasties toe. Die gevolg is dat organiese materiaal in die grond baie vinniger afgebreek word, en koolstof word uit die grond in die atmosfeer vrygestel. Dit, tesame met die gasvrystellings van die plaastoerusting, vermeerder koolstofdioksiedvlakke in die atmosfeer.

Landerye is ideaal om as 'n koolstofsinkput gebruik te word, aangesien hulle in die meeste plekke nie meer koolstof bevat nie. Daar word geskat dat 78 miljard ton koolstof wat in die grond vasgevang was, vrygelaat is as gevolg van grondbewerking. Konvensionele boerderypraktyke wat op grondbewerking berus, het koolstof uit die ekostelsel van die grond verwyder deur oesreste soos oorblywende mieliestingels te verwyder, asook deur die byvoeging van chemiese bemestingstowwe wat die bogenoemde uitwerking op grondmikrobes gehad het.

Deur bewerkings uit te skakel, ontbind oesreste waar dit lê, en deur winterdekgewasse te kweek, kan koolstofverlies vertraag en uiteindelik omgekeer word.

Buiten om koolstof in die grond te hou, verminder geenbewerkingsboerdery distikstofmonoksied (N2O)-vrystellings met 40-70%, afhangende van rotasie.Study: No-till farming reduces greenhouse gas San-Francisco Chronicle Distikstofmonoksied is 'n kragtige kweekhuisgas wat 120 jaar lank in die atmosfeer bly.

Grond en water Geenbewerking verbeter grondgehalte (grondfunksie), koolstof, organiese materiaal, versamelings, wat die grond beskerm teen erosie, verdamping van water, en strukturele agteruitgang. As daar tydens bewerkings minder oor die grond gery word, voorkom dit kompaktering.

Onlangs het navorsers by die Amerikaanse landbounavorsingsdiens gevind dat geenbewerkingsboerdery grond baie stabieler maak as geploegde grond. Hulle bevindings is gegrond op 19 jaar van samewerkende bewerkingstudies. Geenbewerking berg meer koolstof in die grond, en koolstof in die vorm van organiese materiaal is baie belangrik om gronddeeltjies bymekaar te hou. Die boonste twee en 'n half sentimeter van geenbewerkingsgrond is twee tot sewe keer minder vatbaar as geploegde grond. Geenbewerkingsboerdery is besonder voordelig vir boere op die Groot Vlaktes (groot grasvlakte oos van die Rotsgebergte), aangesien dit erosie teëwerk.

Oesreste wat op die land gelaat word, help sowel natuurlike neerslag sowel as besproeiingswater om in die grond weg te sink, waar dit gebruik kan word. Die oesreste wat op die grondoppervlak gelaat word, beperk ook verdamping, wat water vir die plant bewaar. Grondkompaktering en geen ouklip laat grond meer water opneem, en plante se wortels kan dieper in die grond dring en meer water opsuig.

Grondbewerkings verminder die hoeveelheid water, deur verdamping, met 0,85 tot 1,9 cm elke keer as daar oor die grond gery word. Met geenbewerking bly hierdie water in die grond en beskikbaar vir die plante.

Grondbiota, dierelewe, ens. In geenbewerkingsboerdery word die grond onversteur gelaat en oesreste bly op die land lê. Gevolglik word grondlae, sowel as grondbiota, in hulle natuurlike toestand bewaar. Lande onder geenbewerking het meer nuttige insekte en erdwurms, hoër mikrobiese inhoud en 'n groter hoeveelheid organiese materiaal in die grond. Aangesien dit nie geploeg word nie, is daar ook minder stof in die lug.

Geenbewerking vermeerder ook die hoeveelheid en verskeidenheid diere. Dit is as gevog van die verbeterde dekking, verminderde verkeer en die kleiner waarskynlikheid dat die neste van voëls en diere op die grond vernietig word (as 'n land geploeg word, vernietig dit 100% daarvan).

Historiese artefakte Bewerking beskadig dikwels ou strukture onder die grond soos byvoorbeeld grafheuwels. In die VK is die meeste van die lang grafheuwels in Gloucestershire en byna al die grafheuwels in Essex beskadig. Volgens die organisasie English Heritage het moderne grondbewerkingstegnieke net soveel skade in die afgelope ses dekades aangerig as wat tradisionele bewerking in die vorige ses eeue aangerig het. Deur geenbewerkingsmetodes te gebruik, kan hierdie strukture bewaar word sodat dit behoorlik ondersoek kan word en nie vernietig sal word nie."Ripping Up History" July 2003 English Heritage

Voor geenbewerkingsboerdery gewild begin word het, het die jaarlikse bewerking van grond dikwels pylpunte en ander artefakte ontbloot. Ander artefakte sluit in koeëls, medaljes en knope, munte en ander metaalvoorwerpe uit huise en skure wat vernietig is.

Koste

Toerusting Geenbewerking vereis gespesialiseerde planttoerusting wat ontwerp is om sade in onversteurde oesreste en grond te plant. Dit is duur om nuwe toerusting (byvoorbeeld saadbore) te koop en hoewel die koste herwin kan word deur ploeë, ens., te verkoop, word dit gewoonlik nie gedoen totdat die boer besluit om heeltemal oor te skakel (nadat hy dit 'n paar jaar lank op die proef gestel het) nie. Dit het tot gevolg dat meer geld op die kort termyn belê word (totdat die ou toerusting verkoop word)."Kansas No-till handbook" Chapter 5

Dreinering As grond swak dreinering het, moet daar dalk tydens geenbewerking van dreineringstelsels gebruik gemaak word om van die oorskot water ontslae te raak. Boere moet onthou dat waterinfiltrasie ná 'n paar jaar van geenbewerking sal verbeter, en daarom moet hulle vyf tot agt jaar wag om te sien of die probleme voortduur voordat hulle besluit om in so 'n duur stelsel te belê.

Slote Slote kan op die lang termyn 'n probleem wees. Terwyl baie minder grond verskuif word wanneer geenbewerking toegepas word, sal enige dreineringslote wat vorm elke jaar dieper word aangesien hulle nie deur ploeg gelykgemaak word nie. Dit kan beteken dat sooidreineringsweë, waterweë, permanente dreineringsweë, dekgewasse, ensovoorts, gebruik moet word.

Moet verskillend bestuur word Sien bestuur-afdeling.

Meer chemiese stowwe word gebruik Een van die doelwitte van bewerkings is om onkruid te verwyder. Geenbewerkingsboerdery verander onkruidsamestelling drasties. Vinniggroeiende onkruid is moontlik weens groter mededinging nie meer 'n probleem nie, maar struike en bome sal moontlik uiteindelik begin groei.

Party boere pak hierdie probleem aan deur 'n baie sterk onkruiddoder soos glifosfaat te gebruik in plaas van bewerking om saadbeddings voor te berei en as gevolg hiervan word geenbewerking dikwels geassosieer met vermeerderde gebruik van chemiese stowwe in vergelyking met tradisionele metodes van gewasverbouing wat op bewerkings berus. Daar is egter baie agro-ekologiese alternatiewe tot vermeerderde gebruik van chemiese stowwe, soos winterdekgewasse en die deklaag wat dit voorsien of solarisasie.

Bestuur Geenbewerking verg verskillende vaardighede om dit suksesvol toe te pas. Soos met enige produksiestelsel, kan die opbrengs afneem as dit nie reg toegepas word nie. 'n Kombinasie van tegniek, toerusting, plaagdoders, gewasrotasie, bemesting en besproeiing moet gebruik word volgens plaaslike toestande.

Dekgewasse Dekgewasse word soms in geenbewerking gebruik om te help om onkruid te beheer en voedingstowwe in die grond te vermeerder (deur gebruik te maak van peulplante)"TIPS FOR NO-TILL PLANTING INTO COVER CROPS" Penn. State University of deur gebruik te maak van plante met lang wortels om mobiele voedingstowwe van die dieper grondlae na die oppervlak terug te voer. Boere wat met organiese geenbewerking eksperimenteer, maak gebruik van dekgewasse in plaas van bewerkings om onkruid te beheer en ontwikkel verskeie metodes om die dekgewasse dood te maak (rollers, stoppelkappers, ens.) sodat die nuut aangeplante gewasse genoeg lig, water, voedingstowwe, ens., kan kry.

Siektes, patogene, insekte en die gebruik van oesrotasie