duimnael|regs|200px|Dr. Elizabeth Conradie. duimnael|regs|200px|Nog 'n foto van dr. Conradie.
Dr. Elizabeth Johanna Möller (Bettie) Conradie (distrik Tulbagh, 10 Augustus 1903 – Amsterdam, 27 Oktober 1939)Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Conradie,_Elizabeth_(Johanna_M%C3%83%C2%B6ller) was 'n Afrikaanse lektor wat haar kort lewe aan die uitbouing van die Afrikaanse kultuur gewy het. Sy is veral bekend vir haar gesaghebbende navorsing oor Hollandse skrywers in Suid-Afrika. Prof. P.J. Nienaber het eenmaal vertel dat hy die woord "Africana" die eerste keer by Bettie Conradie gehoor het.
Lewe en werk Vroeë lewe en opleiding Elizabeth Johanna Möller Conradie is op 10 Augustus 1903 op ’n plaas naby Tulbagh in die Kaapkolonie gebore. Haar vader, Willem Stefanus Conradie, is oorlede terwyl sy nog klein was en haar moeder, Anna Gertruida Louw, trou later weer, met A. Tickner. Uit hierdie huwelik het sy ’n halfbroer en -suster. Sy word groot aan die huis van haar ouma, wat ’n vaderlandstrots en bereidwilligheid vir diens in haar wakker gemaak het. Ná haar ouma se dood keer sy terug na haar ouerhuis op Wellington om haar skoolopleiding voort te sit. In 1921 matrikuleer sy in die eerste klas aan die Hoër Meisieskool op Wellington en studeer daarna verder aan die Hugenote-universiteitskollege. In 1924 behaal sy hier die B.A.-graad en in 1926 die M.A.-graad met onderskeiding. In 1925 was sy lid van 'n studentegeselskap wat onder die vaandel van die National Union of South African Students (Nusas) Europa besoek en bring so haar eerste besoek aan Nederland.
Nagraadse studie en werk Sy was vyf jaar lank lektrise aan haar alma mater, eers in Engels en later in Nederlands en was in 1928 tydelik hoof van die departement van Nederlands. Die jaar daarna was sy weer assistente en einde 1929 gaan sy na Nederland vir verdere studie aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, waar sy Nederlandse letterkunde onder prof.. Prinsen en Stoett studeer. In 1931 het sy die doktorale eksamen in Nederlandse taal- en letterkunde met lof afgelê. Sy studeer daarna nog 'n jaar in Nederland terwyl sy verdere navorsing gedoen het vir haar proefskrif. In 1932 het sy ’n lektorskap in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein. Einde 1933 het sy haar proefskrif getiteld Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika, '’n kultuur-historiese studie, Deel I (1652–1875), voltooi en keer terug na Amsterdam, waar sy op 13 Februarie 1934 onder prof. Prinsen cum laude gepromoveer het tot doktor in die lettere. Daarna het sy teruggekeer na Bloemfontein, waar sy diens gedoen het as dosent en belangrike bydraes gelewer het met Afrikaanse opvoerings, op kunswedstryde as beoordelaar in voordrag en letterkunde opgetree het, voorlesings en toesprake gehou het en talryke artikels geskryf het vir tydskrifte soos Die Huisgenoot, Ons Eie Boek en ander. Sy is in hierdie tyd ook in 1935 as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Lettere en Kuns verkies en het as mederedaktrise van die orgaan van die Akademie, die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, opgetree.
Reeds in hierdie tyd beywer sy haar vir die erkenning van Hollands as afsonderlike vak op skool, maar is nie suksesvol in hierdie strewe nie. Sy streef egter nouer samewerking met die stamland Nederland na en doen verdere intensiewe navorsing oor die Nederlandse agtergrond en geskiedenis in argiewe en navorsingsbiblioteke, in Suid-Afrika sowel as in Nederland en Engeland. Sy verlaat Suid-Afrika in April 1938 met langverlof en vertrek na Nederland met die doel om ook Amerika te besoek en aldaar ondersoek in te stel in hoever die Amerikaanse letterkunde in skole en universiteite deur die Engelse letterkunde aangevul word. Hieruit wou sy vasstel wat die behoorlike verhouding tussen die Afrikaanse en die Hollandse in ons onderwysstelsel behoort te wees. In Nederland aangekom, word sy versoek om die Afrikaanse leerstoel aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam te aanvaar wat weens die siekteverlof van professor Gerrit Besselaar vakant gestaan het. Met kenmerkende onbaatsugtigheid laat vaar sy haar betrekking in Bloemfontein, omdat dit by haar vasstaan dat hierdie leerstoel wat ’n skakel tussen Suid-Afrika en Nederland is, gehandhaaf moet bly, al sou dit ten koste van haar eie versekerde toekoms wees.
Vanaf September 1938 beklee sy dan hierdie leerstoel. Sy behartig die aankondiging van Afrikaanse publikasies in Nieuwsblad voor den Boekhandel en Brinkmans Catalogus en in samewerking met prof. dr. Geyl en mnr. Jan Bouws beweeg sy die Nederlandse radio om Afrikaanse liedere, getoonset deur Nederlandse en Afrikaanse komponiste, uit te saai. Deur haar inisiatief kom die Kommissie vir verspreiding van die Afrikaanse Boek tot stand. Sy skryf ook talle artikels oor letterkundige en kulturele aangeleenthede en hou voorlesings nie alleen in Nederland nie, maar ook in Vlaandere. Sy is ook die dryfkrag agter die stigting van die Suid-Afrikaanse Instituut, ’n afdeling van die Universiteitsbiblioteek waar Afrikaanse boeke gehuisves word. Hierdie Instituut bestaan steeds en is op 30 Mei 1939 formeel geopen, waardeur die Afrikaanse kultuur en letterkunde bevorder word. In Vlaandere is sy behulpsaam met die oprigting van ’n dokumentasiesentrum oor Suid-Afrika en van ’n komitee wat Afrikaanse boeke versprei. Sy neem ook aktief deel aan die werksaamhede van verskeie vereniginge, as hoofbestuurslid van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging en die Algemeen Nederlandsch Verbond, terwyl sy ook lid is van die Historisch Genootschap te Utrecht en die Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden. Verder is sy adviserende bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Studentevereniging in Amsterdam en lid van die Dietschen Bond.
In 1939 hou sy voorlesings oor Suid-Afrika in Vlaandere waar sy ’n hele groep Vlaminge met belangstelling vir haar lewenstaak besiel. Hierdeur word die blad Dietsland-Suid-Afrika omvorm en verkry sy die samewerking van verskeie bekende skrywers vir hierdie blad. Intussen bly sy steeds in noue voeling met Suid-Afrika en word op 23 Augustus 1939 benoem tot prinsipale van die Hugenote-Universiteitskollege in Wellington, ’n pos wat sy vanaf 1 Maart 1940 sou beklee. In September 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog egter uit. Sy help diegene wat by haar kom aanklop om hulp met raad en daad en tref ook vir haarself reëlings vir ’n terugkeer na Suid-Afrika. Sy doen egter ’n ernstige verkoue op waaraan sy nie genoeg aandag skenk nie en dit verander gou in longontsteking. Op 27 Oktober 1939 is sy in Amsterdam aan longontsteking oorlede en sy word in die Nieuwe Oosterbegraafplaats in Amsterdam ter ruste gelê.
Skryfwerk Die belangrikheid van haar werk kan nie onderskat word nie, veral ten opsigte van die brug wat dit lê tussen die Diets-sprekende lande en die vestiging en handhawing van kultuurbande, wat vir hierdie tale ’n bolwerk vorm teen Engelse oorheersing. Sy neem ook sterk standpunt in teen die negering van die bydrae van die Nederlandse skrywers in Suid-Afrika se bydrae tot die vestiging en ontwikkeling van Afrikaans en die kunsmatige skeiding wat daar tussen Afrikaans en Nederlandse geskrifte uit Suid-Afrika gemaak word. Die klaarblyklike waarheid is dat daar ’n gestadige oorgang was van die een na die ander en dat die begin van Afrikaans dus nie aan ’n bepaalde datum gekoppel moet word nie, maar dat die totale nalatenskap van Suid-Afrikaanse skrywers hiervoor in aanmerking moet kom. Haar proefskrif word gepubliseer as Hollandse skrywers uit Suid-Afrika Deel 1 (1652–1875) en word steeds beskou as die standaardwerk op die gebied van die letterkunde uit Suid-Afrika in die tyd toe Hollands dominant was oor Afrikaans. Sy slaag goed daarin om die koppeling tussen hierdie vroegste geskrifte en die moderne Afrikaanse letterkunde uit te wys. Gedurende haar hele verblyf in Nederland werk sy onvermoeid voort aan haar laaste arbeid, “Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika, Deel II (1875–1905)” wat ’n voortsetting van haar proefskrif was. Hierdie werk ondersoek die letterkunde en skrywers in die tydperk toe Afrikaans op gelyke voet met Nederlands meegeding het en is ’n waardevolle toevoeging tot haar proefskrif. Dit word postuum gepubliseer, nadat dit deur dr. Anna de Villiers persklaar gemaak is. Dit was Conradie se mikpunt om ook ’n derde deel te skryf, wat die tydperk vanaf 1905 tot die hede sou behandel en hiervoor het sy ook reeds stof begin versamel. Sy skryf ook talle resensies en artikels wat in publikasies soos Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, Die Huisgenoot, Die Volksblad, De Dietsche Gedachte, Neerlandia, Zuid-Afrika en Ons Eie Boek verskyn.
PublikasiesDigitale bibliotheek voor Nederlandse Letteren: http://www.dbnl.org/auteurs/auteur.php?id=conr002 1934: Hollandse skrywers uit Suid-Afrika Deel 1 (1652–1875) 1949: Hollandse skrywers uit Suid-Afrika Deel 2 (1875–1905)
Lewenskets Anna de Villiers het in 1949 die volgende lewenskets oor Conradie geskryf vir Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875–1905), wat eers 10 jaar ná die skrywer se dood verskyn het. Aangesien die kopiereg op die teks reeds verval het, word dit min of meer onveranderd weergegee.
Elizabeth Johanna Möller Conradie is gebore op 10 Augustus 1903 op 'n plaas by Tulbagh. Haar vader, Willem Stefanus Conradie, is haar vroeg ontval en haar moeder, Anna Gertruida Louw het later weer in die huwelik getree met mnr. A. Tickner. Van besondere betekenis in die lewe van Elizabeth Conradie is die feit dat sy haar jeug in die huis van haar grootmoeder deurgebring het, 'n ou dame van die egte Afrikaanse stempel wat deur haar persoonlikheid en haar suiwere kyk op die lewe 'n soort invloed op haar kleindogter uitgeoefen het, wat die jong gemoed bevatlik sou maak vir opofferende volksliefde toe die rypheid daarvoor aanbreek. In die grootmoederlike huis is die aarde voorberei vir die skone plant wat uiteindelik tot 'n sierlike boom sou uitbloei en sulke weelderige vrugte sou dra. Bettie het ook altyd met die diepste eerbied hulde gebring aan die vrou uit wie se lewe soveel geestelike suiwerheid in haar eie gevloei het.
Na die dood van haar grootmoeder, toe sy na die ouderlike huis op Wellington teruggekeer het om haar skoolopleiding voort te sit, het sy haar volkome ingeleef in die huislike omstandighede van haar naasbestaandes, en feitlik as raadgeefster van elke lid van die gesin opgetree. Hulpvaardigheid en toewyding aan diegene wat sy liefgehad het, was van die opvallendste eienskappe van 'n uitsonderlike karakter, en haar gewilligheid om die laste van ander te dra het by haar feitlik tweede natuur geword. In die huislike kring was sy 'n kragtige invloed en haar woord het deurslag gegee waar 'n beslissing geneem moes word. Vir haar moeder was sy 'n kragtige steun, en vir halfsuster en halfbroer was sy 'n voorbeeld wat hulle altyd onvergeetlik sal bly.
Sy het die Matrikulasie-eksamen in 1921 in die eerste klas aan die Hugenote Hoërskool, Wellington, afgelê, en daarna as studente tot die Hugenote-Universiteitskollege toegetree, waar sy agtereenvolgens in 1924 die graad B.A. en in 1926 die graad M.A. met onderskeiding behaal het. Die gevoel wat sy teenoor haar Alma Mater gekoester het, blyk uit die groot liefde wat sy die inrigting toegedra het, sodat sy uiteindelik kon besluit om haar lewe daaraan te wy.