Publius Vergilius Maro (15 Oktober 70 v.C. – 21 September 19 v.C.), of net Vergilius, was ’n Antieke Romeinse digter uit die Augustynse era. Hy is bekend vir drie belangrike Latynse letterkundewerke, die Eclogae, die Georgica en die epos Eneïde. ’n Aantal kleiner gedigte, saamgevat in die Appendix Vergiliana, word ook soms aan hom toegeskryf.

Vergilius word tradisioneel as een van Rome se vernaamste digters geag. Sy Eneïde word al vandat dit neergepen is tot vandag beskou as die Romeinse nasionale epos en is geskoei op die lees van Homeros se Ilias en Odussee. Dit volg die Trojaanse vlugteling Eneas in sy stryd ter vervulling van sy roeping en sy aanland op Italiaanse bodem – volgens die Romeinse mitologie die stigting van Rome. Vergilius se werke het ’n wye en groot invloed op Westerse letterkunde. Dit kan vernaamlik opgemerk word in Dante se Goddelike Komedie, waarin Vergilius verskyn as Dante se gids deur die hel en vaevuur.

Lewe en nalatenskap Geboorte en biografiese oorlewering Vergilius se biografiese oorlewering is na bewering gegrond op die verlore biografie deur Varius, Vergilius se redigeerder, wat opgeneem is in Seutomius se biografie, asook die kommentaar van Servius en Donatus. Servius en Donatus was die twee belangrikste kommentators op Vergilius se digkuns. Hoewel die kommentaar sonder twyfel heelwat feitelike inligting oor Vergilius bevat, bestaan daar tog bewyse dat gesteun is op gevolgtrekkings gemaak vanuit sy digkuns en allegorie. Sy biografiese oorlewering bly dus ’n tameletjie.

Volgens hierdie oorlewering is Vergilius op die dorpie Andes naby MantuaDie epitaaf op sy graf in Posolipo naby Napels lui Mantua me genuit; Calabri rapuere; tenet nunc Parthenope. Cecini pascua, rura, duces ("Mantua het aan my geboorte geskenk, Kalabrië het my weggevoer en nou hou Napels my vas; Ek het gesing van weivelde (Bucolica), die land (Georgica) en leiers (Aeneïde)"). in Gallia Cisalpina gebore.Kaart van Gaillia Cisalpina

Die ontleding van sy naam het gelei tot die idee dat hy van vroeëre Roomse setlaars afstam. Macrobius noem dat Vergilius se pa van eenvoudige agtergrond was. Moderne geleerdes dink egter eerder dat Vergilius uit ’n Roomse adellike familie kom wat grondeienaars was en sodoende ’n goeie opvoeding kon bekostig. Hy het skoolgegaan in Cremona, Mediolanum, Rome en Napels. Hy het daarna ’n kortstondige loopbaan in die regte en retoriek gevolg voordat hy hom tot die digkuns gewend het.

Vroeë werke Volgens kommentators begin Virgilius se opvoeding op vyfjarige ouderdom en is hy later na Cremona, Milaan en teen die einde na Rome. Daar wy hy hom toe in die retoriek, geneeskunde en sterrekunde, hoewel hy laasgenoemde gou verruil vir filosofie. Uit Vergilius se bewonderende verwysings na die neoteriese skrywers Pollio en Cinna kan afgelei word dat hy vir ’n tyd lank geassosieer is met Catullus se neoteriese kring. Skoolmaats beskryf hom, volgens Servius, as baie skaam en hy kry die bynaam "Parthenias" of "meisie" as gevolg van sy sosiale gereserveerdheid. Dit blyk dat Vergilius sy hele lewe lank gesukkel het met swak gesondheid en in ’n mate die lewe van ’n invalide gelei het. Volgens die "Catalepton" het hy in Napels, in die Epikuristiese skool van Siro die Epikuris, begin om poësie te skryf. ’n Versameling werke wat deur kommentators aan ’n jeugdige Vergilius toegeskryf word, het saam behoue gebly onder die titel Appendix Vergiliana. Dit word egter grootliks deur geleerdes beskou as nagemaak. Een hiervan, die Catalepton, bestaan uit veertien kort gedigte, waarvan sommige Vergilius s’n kan wees, en ’n ander kort narratiewe gedig, Culex ("Die Muggie"), is al in die 1ste eeu n.C. aan hom toegeskryf.

Die Eclogae duimnael|’n Bladsy uit die Eclogae in die 5de-eeuse Vergilius Romanus|links

In biografiese oorlewering word daarop aanspraak gemaak dat Vergilius in 42 v.C. aan die heksametriese Eclogae begin werk het. Daar word verder beraam dat die versameling werke rondom 39-38 v.C. gepubliseer is, hoewel die datums betwis word. Hierdie aanspraak word deesdae as ongegronde afleidings uit die Eclogae beskou.

Die Eclogae (van die Grieks vir "seleksies") bestaan uit ’n groep van 10 gedigte wat rofweg geskoei is op die bukoliese heksametriese digkuns ("herdersdigkuns") van die Hellenistiese digter Theokritos. Ná sy oorwinning in die Slag van Filippi in 42 v.C. teen ’n weermag wat gelei is deur Julius Caesar se sluipmoordenaars, poog Augustus om sy veterane af te koop met grond wat hy onteien het van dorpe in die noorde van Italia. Volgens tradisie sluit dit onder meer ’n landgoed in naby Mantua wat aan Virgilius behoort. Die verlies van sy familieplaas en ’n poging om die grond met poëtiese vertoë terug te wen, word tradisioneel beskou as Vergilius se dryfkrag agter die samestelling van die Eclogae. Tans word dit egter as ’n ongesteunde afleiding gesien, gemaak uit interpretasies vanuit die Eclogae.

In die Eclogae 1 en 9 dramatiseer Vergilius wel met herdersidioom die kontrasterende gevoelens wat veroorsaak word deur die brutaliteit van hierdie grondonteienings – hy lewer egter geen onbetwisbare bewys van die sogenaamde biografiese gebeurtenis nie. Hoewel sommige lesers die digter identifiseer met verskeie karakters en hul wisselvalligheid -- of dit nou ’n ou landbewoner se dankbaarheid is teenoor ’n nuwe god (Ecl. 1), of die gefrustreerde liefde van ’n plattelandse sanger vir ’n seun wat ver is (Ecl. 2), of selfs ’n meestersanger se aanspraak op die komposisie van verskeie eclogae -- verwerp hedendaagse akademici grotendeels sulke pogings om biografiese detail uit werke van fiksie af te lei. Dit is verkieslik om die outeur se karakters en temas te interpreteer as illustrasies van die kontemporêre lewe en diskoers.

Die tien Eclogae bestaan uit tradisionele herderstemas met ’n vars perspektief. Eclogea 1 en 9 gaan oor die grondonteiening en die gevolge daarvan op die Italiaanse platteland. 1 en 3 is erotiese herdersdigte en gaan oor homoseksuele liefde (Ecl. 2) en aangetrokkenheid tot albei geslagte (Ecl. 3). Eclogae 4, die sogenaamde Messiaanse Eclogae, wat opgedra is aan ’n mededigter, Gaius Asinius Pollio, gebruik beelde van die goue era in verband met die geboorte van ’n kind (wie die kind veronderstel is om te wees, is onbekend). 5 en 8 beskryf die mite van Dafnis in ’n sangkompetisie en 6 die kosmiese en mitologiese lied van Silenos. 7 is ’n driftige poësiekompetisie en 10 die lyding van die kontemporêre elegiese digter Gaius Cornelius Gallus.

Die Georgica duimnael|220x220px|Georgica Boek III, Skaapwagter met trop, Vergilius Romanus.

’n Tyd ná die publikasie van die Eclogae (waarskynlik voor 37 v.C.) word Vergilius deel van Gaius Maecenas se sfeer. Hy was Oktavianus se bekwame agent wat probeer het om simpatie vir Marcus Antonius onder die vername families teen te werk deur Roomse letterkundige persoonlikhede na Oktavianus se kant oor te wen. In die proses leer Vergilius baie ander belangrike letterkundige persoonlikhede van die tyd ken -- insluitend Horatius, wie se digkuns hy gereeld noem, en Varius Rufus, wat later help met die afhandeling van die Eneïde.

Op Maecenas se aandrang (volgens oorlewering) bestee Vergilius die daaropvolgende jare (moontlik 37-39 v.C.) aan die lang didaktiese heksametergedig Georgica (Grieks vir "om die grond te bewerk"). Hy dra die werk op aan Maecenas. Die oënskynlike tema van die Georgica is instruksies vir metodes om ’n boerdery te bestuur. Vergilius volg, met die hantering van dié tema, in die didaktiese spore van die Griekse digter Hesiodos se Werke en dae asook die verskeie werke van latere Hellenistiese digters. Die vier boeke van die Georgica fokus onderskeidelik op graanverbouing en bosbou (1 en 2); vee- en perdeteelt (3); en byeboerdery en die kenmerke van bye (4). Bekende gedeeltes sluit in die geliefde Laus Italiae uit Boek 2, die beskrywing van die tempel in Boek 3 se voorwoord en die beskrywing van die plaag aan die einde van Boek 3. Boek 4 sluit af met ’n lang mitologiese narratief in die vorm van ’n epyllion (epos in die klein), wat die ontdekking van byeboerdery deur Aristaios en die storie van Orfeus se reis na die onderwêreld duidelik beskryf. Antieke geleerdes soos Servius veronderstel dat die deel oor Aristaios ’n lang gedeelte in die ophemeling van Vergilius se vriend, die digter Gallus, vervang. Gallus is deur Augustus in oneer gebring en het in 26 v.C. selfmoord gepleeg.

Die toon in die Georgica wissel tussen optimisme en pessimisme, en dit het kritieke debat ontlok oor die digter se bedoelings. Die werk lê egter die grondslag vir latere didaktiese digkuns. Daar word gesê Vergilius en Maecenas het beurte gemaak om die Georgica aan Oktavianus voor te lees ná sy terugkeer en oorwinning oor Antonius en Cleopatra in die Slag van Actium in 31 v.C.

Die Eneïde

duimnael|220px|links|Eneas stel sy seun Ascanius voor aan koningin Dido van Kartago (Tiepolo).

Die Eneïde word algemeen as Vergilius se beste werk beskou en word gesien as een van die belangrikste gedigte in die geskiedenis van Westerse letterkunde. Hy werk gedurende die laaste elf jaar van sy lewe aan die Eneïde, volgens Propertius, in opdrag van Augustus.

Die epos bestaan uit 12 boeke in daktiliese heksameter en beskryf die reis van Eneas (’n kryger op vlug na die verwoesting van Troje in die Trojaanse Oorlog) na Italië, sy geveg met die Italiaanse prins Trunus en die lê van ’n stad se fondamente waaruit Rome sou ontwikkel. Die eerste ses boeke van die Eneïde beskryf Eneas se reis van Troje na Rome. Vergilius maak van verskeie modelle gebruik in die samestelling van hierdie epos; die invloede van die voortreflike klassieke epiese digter Homeros kan oral gevind word, maar Vergilius is ook beïnvloed deur die Latynse digter Ennius en die Hellenistiese digter Apollonios van Rhodos. Hoewel die Eneïde duidelik ’n epos is, poog die werk om die genre te verbreed deur die insluiting van elemente uit ander genres soos die tragedie en etiologiese poësie. Antieke kommentators merk op dat dit voorkom of Vergilius die Eneïde in twee dele opbreek in navolging van Homeros se werk. Die eerste ses boeke, so word gegis, kan met die Odussee vergelyk word en die laaste ses met die Ilias.

Boek 1 Vir ’n bondige opsomming gaan na Globalnet.co.uk (met die aanvang van die Odusseïese gedeelte) begin met ’n storm wat Juno, Eneas se vyand regdeur die gedig, oor die vloot laat woed. Die storm dryf die held tot aan die Kartaagse kus, tradisioneel Rome se dodelikste vyand. Die koningin, Dido, verwelkom die voorvader van die Romeine en raak onder invloed van die gode verlief op hom. Tydens die banket in Boek 2 vertel Eneas aan die betowerde Kartagers die storie van die verwoesting van Troje, sy vrou se dood en sy ontsnapping. In Boek 3 deel hy sy swerftogte oor die Middellandse See heen op soek na ’n gepaste nuwe tuiste. Jupiter roep die talmende Eneas in Boek 4 terug na sy plig om ’n nuwe stad te vestig. Hy glip weg uit Kartago, waarna Dido Eneas vervloek, wraak sweer en selfmoord pleeg in ’n simboliese voorsmaak van die fel oorloë tussen Kartago en Rome. In Boek 5 sterf Eneas se pa, Anchises, en word hy in begrafnisspele gevier. Nadat Eneas Cumae in Italië bereik in Boek 6, raadpleeg hy die Cumeense Sibille wat hom na die onderwêreld begelei. Hier ontmoet hy die afgestorwe Anchises en dié openbaar aan hom Rome se lot.