Die Hoba-meteoriet is die grootste meteoriet in een stuk wat al ontdek is. Dit lê op die plaas Hoba-Wes, 19 km van Grootfontein in Namibië. Dit is oopgegrawe, maar vanweë sy groot massa van meer as 60 tonHoba in die Meteoritical Bulletin Database is dit nooit verwyder van waar dit geval het nie. Dit is ook sover bekend die grootste stuk natuurlike yster (eintlik ferronikkel) op die Aarde se oppervlak. Die naam "Hoba" kom van Khoekhoegowab en beteken "geskenk". Dit is in 1955 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Impak Die impak van die Hoba-meteoriet het vermoedelik maar so 80 000 jaar gelede plaasgevind. Daar is tot die gevolgtrekking gekomField Guide to Meteors and Meteorites - O. Richard Norton and Lawrence Chitwood. Springer Science + Business Media 2008, dat die Aarde se atmosfeer die voorwerp se snelheid so vertraag het dat dit die oppervlak teen terminale snelheid getref het – dit het veroorsaak dat dit nie in stukke gebreek het nie en net ’n klein uitholling veroorsaak het. As ’n weerstandskoëffisiënt van sowat 1,3 aanvaar word, het die meteoor se snelheid tot omtrent 0,32 km/s afgeneem (dit is gewoonlik 10 km/s vir soortgelyke voorwerpe). Die meteoriet is ongewoon deurdat dit aan albei groot oppervlakke plat is.
Ontdekking Die Hoba-meteoriet het feitlik geen krater gelaat nie en is per ongeluk ontdek. In 1920 het die eienaar van die plaas, Jacobus Hermanus Brits, dit gevind terwyl hy een van sy lande omgeploeg het. Brits het die meteoriet beskryf en sy verslag kan in die Grootfonteinse Museum in Namibië gesien word.
Dr. W.J. Luyten het in 1929 die eerste wetenskaplike beskrywing van die meteoriet gegee. Dit is nagenoeg vierkantig in vorm, die bokant is 2,7 x 3 m. Aan die een punt is dit 80 cm en aan die ander punt 1,2 m dik. Die eerste gepubliseerde foto daarvan is deur Friedrich Wilhelm Kegel geneem.
Beskrywing Die Hoba-meteoriet se massa is in 1920 op 66 ton geraam. Erosie, wetenskaplike monsters wat daarvan geneem is vir navorsing en vandalisme het die grootte oor die jare laat afneem. Die oorblywende stuk is sowat 60 ton swaar.
Die meteoriet bestaan uit omtrent 84% yster en 16% nikkel, met spore van kobalt, koper, chroom en ander minder bekende minerale. Dit word geklassifiseer as ’n ataksietystermeteoriet wat behoort tot die nikkelryke chemiese klas IVB.
Moderne geskiedenis In ’n poging om vandalisme te beëindig en met die toestemming van die toenmalige eienaar van die plaas het die regering van die destydse Suidwes-Afrika die meteoriet op 15 Maart 1955 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. In 1979 is ook ’n omringende stuk grond van 25 x 25 m by die gedenkwaardigheid gevoeg.
In 1985 het Rössing Uranium Ltd. geld beskikbaar gestel om die meteoriet verder te beskerm. In 1987 het die destydse eienaar die meteoriet en die terrein waar dit lê vir opvoedkundige doeleindes aan die staat geskenk. Later in die jaar het die regering ’n toeristesentrum op die terrein opgerig. Danksy dié ontwikkelings is vandalisme gekeer en besoek duisende toeriste dit jaarliks. Dit kan ook op satellietfoto's gesien word.Skakel na satellietfoto's: https://www.google.com/maps/@-19.5925701,17.9336854,51m/data=!3m1!1e3
Verwysings
Bibliografie
Afrikaanse Kinderensiklopedie, deel 8. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1971 Bulpin, T.V.: Discovering Southern Africa. Kaapstad: T.V. Bulpin Publications, 1980. Coetzee, Japie: Bakens na Brandberg (’n Kringtoer deur die Richtersveld en Suidwes). Kaapstad: Buren,1969. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 5. Kaapstad: Nasou, 1972. http://giantcrystals.strahlen.org/africa Hoba meteorite op die Engelse Wikipedia
Eksterne skakels
Kategorie:Landvorme van Namibië Kategorie:Meteoriete Kategorie:Wêreldrekords