Barney Barnato was 'n mynmagnaat (Randheer) wat sy fortuin in Suid-Afrika tydens die diamant- en goudstormlope gemaak het. Barney is in 1852 in Londen as Barnett Isaacs gebore en was die seun van 'n kroegbaas in die Ooseinde. Hy word 'n verhoogkunstenaar en bokser saam met sy broer, Henry onder die naam Bernato. Hy volg sy broer in 1873 na Suid-Afrika. Hulle werk in Kimberley as delwers, diamantkopers, spekulante en word skatryk. Hulle was in beheer van verskeie belangrike myne en kom in aanraking met Cecil Rhodes. Na 'n stryd vir die beheer van die diamantveld volg 'n samesmelting van belange in 1888. Barney word 'n lewenslange president van De Beers Consolidated Mines.
Van 1889 tot 1897 verteenwoordig hy Kimberley in die Kaapse parlement. Na die ontdekking van goud verhuis hy na Johannesburg en stig die maatskappy Johannesburg Consolidated Investment in 1889. Hy het 'n senuwee-ineenstorting gekry en in 1897 pleeg hy selfmoord deur oorboord te spring op een van sy seereise tussen Kaapstad en Southampton. Sy boedel was gewaardeer teen net minder as ₤ 1 000 000.
Verwysings
Bron Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967.
Eksterne skakels
Kategorie:Suid-Afrikaanse entrepreneurs Kategorie:Suid-Afrikaanse immigrante uit Groot-Brittanje Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Kimberley Kategorie:Geboortes in 1851 Kategorie:Sterftes in 1897